By die Twelve Apostles Hotel and Spa in die mooie Moederstad kan jy uitstekende diens, vyfster-geriewe én ’n wêreldklas uitsig te wagte wees. Maar al kyk hierdie indrukwekkende hotel oor Suid-Afrika se duurste kuslyn uit, hoef jy nie ’n bank te beroof om ook dié luukshede te ervaar nie.

LekkeSlaap gee twaalf redes waarom hierdie bekroonde hotel beslis ’n besoek werd is. 

1. Die perfekte ligging om die Kaap behoorlik te verken

Die middestad is net 11 kilometer ver. Boonop bied die hotel ’n pendeldiens wat gaste daagliks tussen 08:00 en 21:00 so ver as die V&A Waterfront en terug karwei. Só spaar Twelve Apostles jou die frustrasie van die Kaapse verkeer-en-parkeer-nagmerrie.

Ry jy in die teenoorgestelde rigting is jy ook naby talle doendinge in die Suidelike Skiereiland, soos Houtbaai se eklektiese markie, Bouldersstrand, Kaappunt, en Kalkbaai se kleurvolle winkeltjies.

Clifton en Kampsbaai se beroemde wit sandstrande is net ’n entjie vanaf die hotel. Hiér kamp die mooistes van die mooi daagliks uit met groot flair.

Twelve Apostles is lekker naby die Kaapse middestad én die skiereiland.

2. Uitsigte om van te droom

Twelve Apostles is in ’n natuurreservaat aan die voet van die Twaalf Apostelberge waar staproetes tussen fynbos kronkel. Gaste in die Mountain Facing Rooms kan dus ’n uitsig op dié skouspelagtige kranse geniet. Aan die voorkant van die hotel kan gaste weer vanuit die Sea Facing Kamers sien hoe die Atlantiese Oseaan 180° voor hulle uitstrek in haar mooiste kobaltblou rok.

‘n Asemrowende uitsig vanaf die hotel.

3. Drie restaurante op die perseel

Jy hoef nie jou voet van die perseel af te sit vir ’n feesmaal nie. Vir geurige hartskos of soesji wat soos kunswerkies lyk, sit by The Café Grill vir middagete aan. Soggens word ’n vyfster-ontbyt in Azure, die hotel se fynproewersrestaurant, bedien waarná dié spogrestaurant regmaak vir aandete met die Kaap se beste wyne en vars oesters op ys! En, as jy net lus is vir ’n drankie en kroegkos met ’n uitsig, klop by die Leopard Bar aan. 

Azure restaurant
Azure restaurant

4. Galery verleiding

Die hotel se eienares is ’n groot kunsliefhebber en -versamelaar en die mure pryk met pragstukke van onder meer Pierneef, Tretchikoff en Cecil Skotness. Gaste met ’n sweempie kunskennis sal dié versameling kan waardeer. En as jy meer wil weet, kan jy ’n kunstoer vooraf bespreek.

5. Jou eie privaat teater

Jy’t reg gelees, die Twelve Apostles het sy eie privaat filmteater ─ kompleet met springmielies, malvalekkers en warm sjokolade. Daar is sestien sitplekke en ’n groot verskeidenheid films om van te kies, en as jy alleen in die teater is, is die afstandbeheer joune en kan jy na hartelus tussen kanale spring.

Dié teater kan ook vir ’n romantiese, privaat kyksessie bespreek word.

6. Proe ’n bietjie hier

Oornaggaste én dagbesoekers kan van die hotel se proesessies geniet. Dit sluit proesessies vir gin, boetiekbier en canapés, en appelwyn in wat in die Leopard Bar of konservatorium aangebied word. Soos dit enige spoghotel betaam, het Twelve Apostles ook ’n daaglikse high tea wat hulle “Tea by the Sea” noem. Besprekings vir proesessies is noodsaaklik.

Kom geniet ’n swierige proesessie!
Kom geniet ’n swierige proesessie!

7. Topklasdiens

Met ’n roterende personeel van 270, is daar altyd iemand om te help. Soos van ’n 5-ster-hotel verwag kan word, is daar ’n 24 uur-kamerdiens en concierge. Maar personeel kan ook met voorafkennisgewing saam met gaste langs die Atlantiese Seekus draf, ’n staproete op die perseel onderneem of tot by 2 piekniekplekke teen die berg opstap en ’n ete regsit vir ’n romantiese geleentheid.

Personeel kan ’n piekniek met ’n uitsig regsit.
Personeel kan ’n piekniek met ’n uitsig regsit.

8. Geriewe om jou te bederf en te vermaak

Al is daar soveel doendinge rondom die hotel, het dit ook geriewe op die perseel wat dit byna onnodig maak om elders vir vermaak en ontspanning te soek.

Daar is 2 swembaddens met sonstoele waar gaste kan sonbaai terwyl hulle ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan geniet. Gaste wat gepamperlang wil word kan die spa op die perseel besoek en diegene wat wil fiks bly kan by die gimnasium aanklop of ’n staproete in die hotel se natuurreservaat-agterplaas onderneem.

Daar is twee spoggerige swembaddens met sonstoele op die perseel.
Daar is twee spoggerige swembaddens met sonstoele op die perseel.

9. Pamperlangsessies by die spa

Die spa op die perseel het sewe toegeruste spa-kamers, hidroterapie-swembaddens, ’n stoomkamer, ’n reënstort en ’n rustige sitarea. Gekwalifiseerde terapeute sal na elke behoefte omsien en daar is twee grasdakkamers met groot vensters teen die berg wat bespreek kan word vir ’n spa-sessie met ’n besonderse uitsig.

Hierdie grasdakkamer kan vir ’n spa-sessie ingespan word.
Hierdie grasdakkamer kan vir ’n spa-sessie ingespan word.

10. Reg vir romanse

Twelve Apostles is die ideale romantiese wegbreekplek of wittebroodbestemming. Die luukse kamers spog met pragtige uitsigte, daar is ’n fynproewersrestaurant met die beste wyne en oesters op ys, al fresco-piekniekmaaltye kan in die berg reggesit word, die privaatteater kan vir ’n romantiese aand bespreek word en daar is spa-pakette vir paartjies. Boonop kan troues ook op die perseel in die tuin of in die banketsaal gehou word.

Troues word op die perseel gehou.
Troues word op die perseel gehou.

11. ’n Gesinswegbreek werd

As jy egter die hele gesin Kaap toe wil bring, maak dié hotel ook voorsiening vir ’n lekker gesinsvakansie. In suites wat ook ’n sitarea het, kan kinders onder twaalf jaar gratis geakkommodeer word op ’n rusbank of ’n enkelbed. Hulle kry dan hulle eie kinderbederfies, soos pantoffels en ’n kinder-ontbyt, om te verseker dat hulle net so spesiaal voel soos ma en pa!

En, as jy hondekinders het, is daar ook twee troeteldiervriendelike eenhede met ’n klein tuintjie wat op aanvraag beskikbaar kan wees.

Kinders word met spesiale bederfies verwelkom en jou hondekinders sal op die hande gedra word.

12. Die prys

Gegewe al die ekstra bederfies en die luukshede wat jy in die aanbod wen, is die tarief per nag – veral in die Classic Room – ’n wegbreek werd! Wees ook slim en kyk na die tariewe in die winter wanneer hulle effens goedkoper is.

Kom lewe soos ’n koning vir ’n aand of twee!
Kom lewe soos ’n koning vir ’n aand of twee!

Ons sou nóg redes kon verstrek waarom hierdie hotel op jou reislysie moet wees, maar pak solank hierdie twaalf in jou sak en kom kuier by die luukse Twelve Apostles Hotel and Spa.

Erkennings:

Dankie aan Tamsyn Wiggill van Red Carnation Hotels vir die uitstappie Twelve Apostles toe.

Alle foto’s en hooffoto: LekkeSlaap

Foto van spa: Twelve Apostles Hotel and Spa