Die top-10-blyplekke wat op jou wenslysie hoort
Bea Punt, 17 Desember 2025
Leestyd: 6 minute
Of jy nou ’n plaaslike inwoner of ’n besoeker is, ons almal weet verblyf is meer as net ’n bed en ’n lampie. Ons platform gons die hele jaar lank met unieke Suid-Afrikaanse verblyf wat bo-aan almal se wenslysies pronk. Van bekoorlike boomhuise tot moderne pods in die woestyn, julle het hierdie blyplekke oor en oor gekies! So, hier is die lys gunstelingblyplekke wat julle dié jaar by jul wenslysies gevoeg het.
De Nest – Clear Glass Tree Cabin
Montagu, Wes-Kaap

Hierdie plek het ’n klomp harte gesteel en dis maklik om te sien waarom – dit word heeltemal deur die natuur omring, maar gee geensins luuksheid prys nie. Die glaskoepel bied ’n 360-grade-uitsig oor die omliggende bome en laat jou blootgestel, tóg privaat voel. Die uitblinker is die buitebad onder die feetjieligte wat ’n onvergeetlike romantiese ervaring verseker en jou deel van ’n sprokiesverhaal laat voel.
Reverie Kalahari Pod
Hardap, Namibië

Daar is iets omtrent ’n luukse pod en die gevoel van afsondering wat harte vinniger laat klop. Dié pod se privaat stoep spog met ’n uitsig oor die watergat en gee jou ’n voorrysitplek wanneer kameelperde, gemsbokke en ander wild ’n draai kom maak. Die sitkamer se kaggel gee ’n knus gevoel tydens die kouer maande en buite is daar braaigeriewe, sonstoele en ’n plonspoel om op warm somersdae te geniet.
Ballots Bay Treehouse
George, Wes-Kaap

Hierdie unieke blyplek het talle oë gelok omdat dit die elemente van ’n boomhuis met die rustigheid van ’n afgeleë strandwegbreek perfek kombineer. Dit is ’n ware toevlugsoord vir natuurliefhebbers wat privaatheid soek en met die branders se gedruis en ’n vars seeluggie wil wakker word. Die houtvuurwarmbad op die dek en die perfekte see- en rivieruitsig skep ’n romantiese ruimte vir paartjies en vir die aktiewe gaste is daar talle stap- en wandelroetes deur Magic Forest, asook piekniekplekke, om te verken.
Boomhuis Farm Stay
George, Wes-Kaap

Die Tuinroete kraai gewoonlik koning op reisigers se wenslysies en toe dié unieke wegbreek op ons platforms verskyn, was dit weereens liefde met die eerste oogopslag. Alles omtrent die argitektoniese mengsel van natuur en ’n ultramoderne ontwerp is ’n prentjie so reg uit ’n storieboek – iets wat jy moét besoek! Die huisie aan die voet van die Outeniekwaberge spog met ’n vloer-tot-plafon-uitsig oor die woud vanuit elke hoek, asook luukshede soos ’n houtvuurwarmbad, buitestort en ’n sonkragselsel wat ’n ononderbroke wegbreek verseker.
Serenity Mountain and Forest Lodge
Malelane, Mpumalanga

’n Gunsteling vir paartjies wat rustigheid naby die Krugerwildtuin soek. Dié lodge se roem lê in die afgesonderde ligging in ’n ou rivierwoud binne-in ’n Wêrelderfenisgebied en dis ’n móét-besoek vir kranige voëlkykers en lepidopteroloë (vlinderkenners). Vorige gaste was veral mal oor die natuurlike besienswaardighede van die lodge, soos die gemerkte staproetes na watervalle en ongerepte natuurlike rotspoele waar ’n mens vir ’n oomblik vanaf die bosveld se hitte kan ontsnap.
Mountain Magic 2
Wildernis, Wes-Kaap

Mountain Magic 2 is perfek vir die kreatiewe avonturiers wat volhoubaarheid en natuurskoon waardeer. Die verblyf bestaan uit opgeknapte skeepsvraghouers wat ’n stylvolle wegbreek met ’n panoramiese uitsig oor die see en riviere en op die berge bied. Daar is geriewe soos lugversorging, ’n kombuis, WiFi en ’n sitkamer, en die houtvuurwarmbad op die dek is die ideale plek vir ’n skemerkelkie terwyl jy die Tuinroete se kuslyn bewonder.
The Loft @ Glenogle Farm
Magoebaskloof, Limpopo

Hierdie huisie kruip in die woud weg en behoort op elke paartjie se romantiese-wegbreekwenslysie. Die atmosfeer in Magoebaskloof se dennewoud laat jou voel asof jy in ’n sprokiesverhaal is, waar tyd stilstaan en jy van al jou bekommernisse kan vergeet. Die huisie se geriewe sluit ’n kaggel en ’n pragtige uitsig oor die privaat dam in en julle kan in die foreldam visvang of deur die woud wandel.
Vicbay House
Victoriabaai, Wes-Kaap

Seeliefhebbers het hul harte op hierdie strandhuis verloor die oomblik toe hulle die pragtige uitsig sien. Dit is ’n gesinsvriendelike villa met direkte toegang tot Victoriabaai se strand, net ’n paar tree vanaf een van Suid-Afrika se gewildste branderplankryplekke. Die huis bied slaapplek aan agt gaste en beskik oor vier slaapkamers en vier badkamers, en dit spog met ’n ononderbroke see-uitsig vanaf die swembad.
Melozhori Treehouse
Bonnievale, Wes-Kaap

Dié unieke cabin in die Melozhori Privaat Wildreservaat is net twee uur se ry vanaf Kaapstad en ideaal vir diegene wat nie lief is vir langpadry nie. Geriewe soos die houtvuurwarmbad, pizza-oond en boma is die uitblinkers wat al die aangdag trek en dit word perfek saam met die bosveld se natuurskoon gekombineer. Hiér kan jy weer mens word — lê in die hangmat agteroor, bewonder die wild wat naby die cabin wei en verkyk jou aan die naglug wat stadig met ’n miljoene sterre verlig word.
MBIZI lagoon house
Fisherhaven, Wes-Kaap

Hierdie strandhuis is veral gewild onder groepe wat ’n kuswegbreek soek. Die ruim oopplan-ontwerp laat dit voel asof die meer sommer neffens jou voorstoep begin, die randvloeiswembad dra tot prentjiemooi sonsondergange by en die kans om flaminke of die bekende wilde perde raak te sien maak dié huis ’n moet-besoek. Daar is ook ’n houtdek met hangstoele, ’n groot eetkamertafel en ’n gasbraai waar julle onvergeetlike gesinsherinneringe kan skep.
Sunset Dome
Tulbagh, Wes-Kaap

Dome-verblyf het vanjaar ordentlik op die voorgrond getree en is beslis ’n wegbreektipe wat op jou wenslysie hoort. Dié dome is op ’n rivieroewer op die pragtige La Bruyère-plaas geleë en bied privaat verblyf wat heeltemal deur die natuur omring word. Geriewe soos die buitebad en -stort wat met damuitsigte spog en die sonsondergang vanaf die dek wat vir skouspelagtige foto’s sorg, skep ’n romantiese atmosfeer en oomblik wat vir altyd ’n spesiale plek in jou hart sal hê.
Jou volgende avontuur begin hier!
Hoeveel van hierdie unieke blyplekke het jy by jou lysie gevoeg? Daar is soveel besonderse blyplekke wat net wag om verken te word. So, moenie volgende keer weer by die bekende roetes bly nie – draai ’n bietjie af en verken iets nuuts sodat jou sosialemedia-drome ’n werklikheid kan word!
Hooffoto: MBIZI lagoon house








