Het jy ook ’n paar droomwegbreke wat iewers in jou agterkop gestoor is? Elkeen se emmerskoplysie lyk anders, maar LekkeSlaap het ’n paar gaan uitsoek wat beslis op daardie lysie hoort, of dit nou iets unieks, vreemds, luuks of knus is wat vir jou wink, dié twaalf voorstelle sal beslis jou oë laat blink!

The Stargazing Cube

Stormsrivier, Oos-Kaap

Heel bo aan jou lys hoort hierdie glanskamp-eenheid wat jou en die hemelruim slegs met ’n deursigtige dak skei. The Stargazing Cube is een van drie spoggerige eenhede wat deel van die Misty Mountain-reservaat in Tsitsikamma is. Hierdie unieke eenheid bied slaapplek aan twee volwassenes wat die stad se gedruis vir natuurklanke wil verruil sonder om luuksheid en gemak prys te gee. Daar is ’n toegeruste kombuisie en gordyne wat vir privaatheid sorg en die beste deel is die bed wat na binne of buite kan skuif sodat jy steeds een met natuur kan wees, ongeag die weer. Buite is daar ’n houtdek met stoele, ’n hangmat en nabygeleë roetes wat verken kan word. 

Loer gerus ook na die ander luukse eenhede, naamlik The Dome en The Pyramid, wat in dieselfde reservaat wegkruip.

Stonewood Mountain Cabin

Bainskloof, Wes-Kaap

Ontsnap na hierdie unieke houthuis in die Mount Bain Privaat Natuurreservaat in die beeldskone Breederiviervallei. Stonewood Mountain Cabin is net ’n uur en ’n half se ry vanaf Kaapstad en spog met ’n panoramiese uitsig oor die fynbos en op die berge. Daar is twee slaapkamers en twee badkamers wat óf ’n pootjiesbad óf ’n groot instapstort met ’n uitsig deur ’n glasmuur oor die lowerryke omgewing het. Die sitkamer spog met ’n klipkaggel en ’n solder-leeshoekie met ’n biblioteek en die leefarea se glasdeure lei na ’n groot dek wat reg rondom strek waar julle die gasbraai kan benut, op die hangmatte kan ontspan en ’n ongeëwenaarde uitsig kan bewonder — of dit nou die perskleurige berge in die somer of die sneeu-kombers in die winter is. 

Waterfront Houseboats

V&A Waterfront, Wes-Kaap

Wil jy jou klassieke see-wegbreek nuwe lewe gee? Laat die gewone opsie agter en vaar die see in met onvergeetlike verblyf by Waterfront Houseboats! Hierdie unieke verblyf is in die hartjie van Kaapstad in die V&A Waterfront geleë en bied ’n uitsonderlike ervaring waar julle deur nuuskierige robbe, visse en die betowerende melodieë van voëllewe betower word. Die slaapkamer het ‘n badkamer met ‘n stort, wasbak en ‘n toilet en die kombuisie is met die nodige kook- en eetgerei toegerus. Daar is ook ’n dek buite vanwaar ’n mens die lewendige Kaapstad van ’n ander perspektief kan bekyk. Die huisboot is ’n gesellige toevlugsoord wat slaapplek aan twee volwassenes en twee kinders bied. 

Ocean Dunes

Durban, KwaZulu-Natal

Hierdie bekoorlike eenslaapkamerwoonstel op die Ocean Dunes Estate in Durban is maar net 600 m van die Umdloti-Suidstrand af! Die woonstel spog met ’n oopplan-uitleg en geriewe soos lugversorging, DStv en gratis WiFi. Ocean Dunes kombineer moderne argitektuur met die buitelewe en skep ’n natuurparadys met swembaddens, ’n dek met kokonstoele en ’n see-uitsig, asook spa-geriewe op die perseel. Julle het ook toegang tot braaigeriewe en ’n rustige tuin en sal naby besienswaardighede soos die Umhlanga-vuurtoring en Kings Park-stadion wees. 

Aviary Hills Luxury Hideaway

Heidelberg, Wes-Kaap

Aviary Hills Luxury Hideaway se bekoring maak hierdie intieme toevlugsoord perfek vir paartjies. Die moderne selfsorgkothuis is sewe kilometer vanaf Heidelberg geleë wat beteken dat die kenmerkende berge en valleie van die Tuinroete op jou voorstoep is. Binne word jy met ’n kaggel voor die rusbank bederf en buite wag daar ’n houtvuurwarmbad en ’n hangmat waar jy van al jou bekommernisse kan vergeet. 

Eagle View 2

Dullstroom, Mpumalanga

Dié eenheid doen sy naam gestand — die uitsig vanaf Eagle View 2 laat jou voel asof jy soos ’n arend oor die landskap sweef. Die luukse wegbreek naby Dullstroom is die perfekte wegkruipplek vir paartjies en is een van drie selfsorg-eenhede wat op die Beumont Plaas in die Steenkampbergreeks skuil. Bewonder dié landskappe vanuit die houtvuurwarmbad of groet die dag met ’n skemerkelkie op die dek soos die son die Highlands Meander met ’n kleurvolle palet inkleur. As julle liefs op ’n koeler dag binnenshuis wil deurbring, kan jul  steeds die “vier mure” laat verdwyn deur die enorme glasdeure oop te skuif en die vars bergbriesie verwelkom. Die huis is so ontwerp om ’n minimale impak op die omgewing te hê en is nie van die tradisionele kragnetwerk afhanklik nie. Dit gebruik ’n natuurlike waterbron en die elektrisiteit word deur ’n battery- en gasstelsel verskaf.

Desert Whisper

Hardap, Namibië

Dit lyk dalk soos ’n ruimtetuig, maar Desert Whisper is ’n unieke, kontemporêre woestynwegbreek in die middel van die Namibwoestyn en word deur die natuur se materiale en kleure geïnspireer. Die selfsorg-eenheid se styl smelt met die goue vlaktes van die woestyn saam en daar is ’n houtpaadjie wat na ’n privaat plonspoel met ’n asemrowende uitsig oor die horison lei. Hoewel ’n mens algehele privaatheid by hierdie oase geniet, het julle te alle tye radio-kontak met die gasheer indien daar navrae is. 

Angels View Hotel

Graskop, Mpumalanga

Die dromerige ligging van hierdie hotel laat jou voel asof jy ’n ander wêreld betree — ’n wêreld waar jy hoog bo seespieël ontspan met golwende heuwels wat eindeloos voor jou stoep uitrol. Daar is verskeie B&B-eenhede, maar die tien eksklusiewe eenhede op die randjie van die plato bied elk slaapplek aan twee volwassenes en het luukse geriewe soos lugversorging, TV’s met DStv-kanale en haardroërs. Daar is ook drie swembaddens, ’n spa, gimnasium, amfiteater en selfs ’n troukapel waar die bruidspaar hul nuwe lewe met ’n asemrowende agtergrond kan begin. 

Lindsay Castle

Knysna, Wes-Kaap

Het jy nog altyd gewonder hoe dit voel om in ’n kasteel te woon? Bespreek hiér en voel soos ’n koninklike! Nie net is Lindsay Castle met kenmerkende kasteel-dekor en -elemente getooi nie, maar dis in die gewilde Knysna geleë, reg op die strand waar die golwe op die kasteel se drumpel dans. Hierdie sprokieskasteel is met klip gebou en die middeleeuse boustyl word in die kamers en binnehuiseversiering weerspieël wat ’n bekoorlike gevoel skep en jou terug in tyd neem. Daar is ook geen tekortkominge rakende geriewe nie, want dié huis spog met ’n toegeruste kombuis, kaggel, TV, WiFi en ’n braai-area wat dit die perfekte vakansiehuis vir ’n groep op soek na ’n nuwe Tuinroete-ervaring maak. 

Sea Shack

Paternoster, Wes-Kaap

Wat is ’n emmerskoplys sonder ’n Paternoster-plekkie wat daarop pronk? Sea Shack bied ’n omgewingsvriendelike glanskamp-ervaring op die randjie van die water in die Cape Columbine Natuurreservaat — só naby dat die gedruis van die branders jou aan die slaap sal sus. Elke huisie bied slaapplek aan twee, toegang tot gemeenskaplike kombuisgeriewe en julle kan lekke stories in die gemeenskaplike boma sit en uitruil. Boonop sluit die tarief ook die toegangsfooi tot die natuurreservaat in. 

Kuname Lodge

Hoedspruit, Limpopo

Luukse lodges met die Groot Vyf op jou stoep is altyd ’n droombestemming, maar nie almal se droombegroting nie. Tog maak Kuname Lodge seker julle kry waarde vir julle geld deur ’n verskeidenheid geriewe soos alle maaltye, ’n oggend- en aand-wildrit met ’n gratis skemerkelkie en skoonmaakdienste in te sluit. Daar is ook ’n swembad waarin ’n mens kan afkoel as die Afrika-son té warm bak. Dié eksklusiewe safari-lodge is op 9000 hektaar se ongerepte bos in die Karongwe Privaat Wildreservaat geleë, net 45 minute se ry vanaf die wêreldbekende Krugerwildtuin.

Cape Recife Lighthouse Villa

Somerstrand, Oos-Kaap 

’n Beter see-uitsig gaan ’n mens nie sommer kry nie! Cape Recife Lighthouse Villa is ’n luukse villa wat deel van die vuurtoring in die Cape Recife-natuurreservaat in Somerstrand vorm. Elkeen van die twee slaapkamers en die leefarea spog met besonderse uitsigte oor die see en gee jou die geleentheid om die natuurlewe soos voëlspesies en biodiversiteit te bewonder. Daar is ook ‘n goed toegeruste kombuisie en ‘n etenstafel wat sitplek vir ses het. Met talle aktiwiteite wat wag om verken te word, is hierdie wegbreek ’n unieke ervaring wat ’n mens nie kan misloop nie. 

As hierdie unieke verblyf vir jou na ’n opwindende avontuur klink, loer ook gerus na ons ander vuurtoringverblyf in Kaap St. Francis, Seal Point Lighthouse.

As jy ook jou reistasse ná hierdie blog hoor ritsel het, is dit beslis tyd om daardie emmerskoplysie-wegbreke te begin aftiek. Moenie een van hierdie unieke wegbreke misloop nie en begin sommer nou aan jou volgende vakansie beplan.

Hooffoto: Angels View Hotel


Lees ook:

By hiérdie plekke wil LekkeSlapers die graagste bespreek!

Nóg vreemde (maar fantastiese) verblyf

Instagram-plekke wat jy móét bespreek