Die jaar is ryp met April se amberblaarkomberse wat die strate bedek en OPTOG! se kombi-vloot staan slaggereed om die landspaaie tot in Bloemfontein met roomyskleure te verf! Nataniël se fluweelmantels en blink rokke hang reg om jou in swierige styl te laat skaterlag en Sandra Prinsloo se verhoogpolvye staan blink gepoets om jou met haar nuwe eenpersoonstuk te bekoor.

Op 12 April vermaak Sandra Prinsloo Bloemfontein se gehore met haar nuutste eenpersoonproduksie, Moedertaal. Dié vertoning beloof om die Wynand Mouton Teater in vervoering te laat en teatergangers beter opskud om hul sitplekke betyds te bespreek!

Bloemfontein mag dalk die hoofstad van reg en geregtigheid wees, maar teater is dikwels effens dun gesaai in dié geweste. Daarom het die OPTOG!-span besluit om die Rosestad met ’n tikkie kultuur te vermaak. As jy dus ’n ware Suid-Afrikaanse ster soos Sandra Prinsloo in lewende lywe wil sien skitter, beter jy na die Wynand Mouton Teater koers kies. Besoek ook gerus die Vrystaat Nasionale Botaniese Tuine of die Nasionale Museum terwyl jy in die Rosestad kuier!

Sedert haar dae as jong aktrise by TRUK tot haar groot deurbraak as Hedda Gabler in The Gods Must Be Crazy,  is Sandra Prinsloo ’n aktrise van formaat by wie ’n mens nie sommer kan kers vashou as dit by toneelspeel kom nie. Ons het met Sandra gesels om meer uit te vind oor haar talle dekades se ervaring as Suid-Afrikaanse aktrise.

LS: Een van jou prysenswaardigste verskynings op die silwerdoek is beslis jou vertolking van Kate Thompson in The Gods Must Be Crazy. Wat is jou gunsteling-herinnering van jou tyd op die stel van hierdie film?

SP: My interaksie met Xi op die stel en alles wat ek van die San-kultuur geleer het sal my altyd bybly en is tot vandag nog iets waarin ek geweldig belangstel. Ook die feit dat ons soveel maande in die natuur was tydens die verfilming en dat ek dele van ons land gesien het wat op daardie stadium vir my totaal onbekend was, was baie opwindend.

LS: Jy is veral bekend daarvoor om karakters te vertolk wat baie hartseer en trauma ervaar, soos in jou driekuns eenpersoon-produksies, Die Naaimasjien, Oskar en die pienk tannie en nou, Moedertaal. Hoe kry jy dit reg om hierdie emosies op die verhoog te vertolk, sonder dat dit jou in jou alledaagse lewe volg?

SP: Ek het vroeg in my loopbaan, destyds toe ek ’n jong aktrise by TRUK was, besef dat ek nie bedags een rol kon repeteer en saans ’n ander rol speel wat ’n totaal ander karakter was en dan nog een van daardie karakters saam met my huis toe vat nie. Dit sou tot totale skisofreniese gedrag gelei het! So my karakters los ek in die kleedkamer agter en gaan aan met my lewe.

LS: Moedertaal is die derde van jou uiters suksesvolle eenpersoon-produksies. Is dit makliker om alleen op die verhoog te wees, of mis jy ander akteurs se energie wanneer jy die verhoog alleen betree?

SP: Die ervaring van ’n eenpersoonstuk is baie anders as ’n stuk met ander spelers in. Dit kan soms eensaam voel, veral in die kleedkamer, maar as ek eers op die verhoog is word die gehoor vir my my medereisiger in ’n verhaal. Al my energie word toegespits op die storie en die gehoor wat ek saam met my wil neem om al die nuanses van daardie vertelling te kan beleef. In ’n veelpersoonstuk het jy baie medereisigers: die ander karakters op die verhoog sowel as die gehoor. Kom ons sê maar die ondervinding van ’n eenpersoonstuk is ’n gedistilleerde, een-fokus ondervinding.

LS: In die Suid-Afrikaanse konteks is dit maar ’n feit dat kunstefeeste akteurs se brood en botter is, en dikwels moet akteurs maande of selfs jare lank dieselfde produksie opvoer. Raak jy ooit moeg vir ’n karakter?

SP: Ek raak nooit moeg vir ’n karakter nie, want ’n karakter ontwikkel die hele tyd net soos wat jy as speler baie kan ontwikkel in jou vertolking oor ’n lang periode. As jy ’n lang pad met ’n karakter stap begin jy wegstroop en mik daarna dat net die essensie oorbly. Dis geweldig opwindend!

LS: Watter akteur/aktrise saam met wie jy nog nie gewerk het nie, sou jy graag die verhoog mee wou deel?

SP: Dit voel vir my of ek al met amper almal saamgewerk het, maar dis natuurlik nie waar nie. Daar is ’n hele paar jong en ouer en baie talentvolle spelers waarmee ek nog nie die verhoog gedeel het nie en ek hoop ek sal nog die geleentheid hê om dit te doen.

LS: Suid-Afrika is vol klein dorpies wat smag na kultuur. Watter klein dorpie is jou gunsteling om met ’n produksie te besoek?

SP: O nee, in daai strik gaan ek nie trap nie! Ek is mal oor die plattelandse gehore en ek het al die wonderlikste ervarings op klein dorpies gehad.

LS: Jy het oor die jare heen baie noue bande met van jou mede-akteurs gesmee, waarvan jou verhouding met Marius Weyers en John Kani beslis uitstaan. Wat is jou gunsteling-verhoogherinnering saam met hierdie twee akteurs?

SP: Saam met Marius is my gunsteling-verhoogherinnering seker die eerste soen wat hy my gegee het. Ons lag nou nog daaroor, want daai soen was alles behalwe ’n professionele verhoogsoen! Saam met John was dit sy ondersteuning en kalmte gedurende Miss Julie toe daar bomdreigemente by die Mark Teater gemaak is tydens ons optrede daar. John het gesê dat dit my besluit was of ons sou voortgaan met die vertoning en dat hy my sou steun in watter keuse ek ook al maak. Dit was ’n baie mooi gebaar.

LS: Wat is jou gunsteling-vakansiebestemming en hoekom?

SP: Moeilike een die vir my! Enige plek op ’n seiljag, maar veral Griekeland en Italië. Maar dan ook die Weskus hier by ons en die Namibwoestyn is my hart se punt.

LS: As jy enige ander beroep kon volg buiten die kunste, wat sou jy graag wou doen?

SP: Ek sou ’n ekologiese avonturier wou wees wat die uithoeke van die aarde gaan verken of dalk ’n marine-bioloog.

LS: Voltooi asseblief die sin: “Dis die lekke’ste lekke om …”

SP: Dis die lekke’ste lekke om na ’n lang afwesigheid tuis te kom en my twee Labradors, Romeo en Olga, verwelkom my met soveel liefde en blydskap. Dan bokspring my hart!

Die einde van Sandra se vertoning behoort beslis nie die einde van jou besoek aan Bloemfontein te wees nie. Bloemfontein bied oornagplekke vir ’n ieder en ’n elk. As jy dus ’n OPTOG!-konsert in die Rosestad bywoon, bespreek slaapplek en ry die volgende oggend uitgerus huis toe.

Ons topkeuse

Ander lekke opsies

Hierdie week se program

Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | 10 April | Roodepoort | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 10 April | Kuruman | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 11 April | Upington | Bespreek hiér | Bly hiér
Sandra Prinsloo | 12 April | Bloemfontein | Bespreek hiér | Bly hiér
Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | 14 April | Rustenburg | Bespreek hiér | Bly hiér

Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe maak ook op 16 April in Hermanus ’n draai en neem op 18 April Hartenbos op horings, so bespreek gerus jou kaartjie vir ’n bietjie vermaak kort voor die Paasnaweek.

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop om te sien met watter kunstenaars ons later dié maand gesels en wanneer OPTOG! ’n draai op jóú tuisdorp kom maak!

Hooffoto: Deur OPTOG! verskaf