Pragtige, kristalhelder water, sprokiesagtige berge en spierwit sand is maar net ván die beelde wat die meeste mense oproep wanneer hulle aan ’n vakansie in die Wes-Kaap dink, maar so heerlik soos wat dit klink, weet ons ook dat die koue water wat ysblokkies van jou tone maak nie almal se idee van ’n ontspannende vakansie is nie. LekkeSlaap bied waarlik iets vir almal en hierdie keer het ons vir julle ’n paar plekke op plase met pizza-oonde gaan soek. Hier kan julle heerlik met ’n glas wyn in die hand agteroorsit terwyl julle ’n sonsondergang bewonder en af en toe oor jou skouer na die pizza-oond loer om seker te maak dat die kaas mooi smelt. 

Rockjumper Country House

Rooi-Els

Ons skop sterk af met slaapplek vir sewe op ’n plaas naby die rustige kusdorpie, Rooi-Els. Dié vakansiehuis bied geriewe reg uit jou eie huis, soos ’n TV met DStv en ’n DVD-speler, ’n speletjieskamer met bordspeletjies en selfs ’n klavier vir die musikale lot. Buite wag daar net soveel pret, want die swembad verseker ’n heerlike tydjie in die son waarná julle die pizza-oond op die stoep kan benut. Die huis spog ook met ’n kroegarea en braaigeriewe op die stoep vir gesellige aande voor die vuur terwyl julle die pragtige omgewing indrink. Rockjumper Country House is ideaal vir ’n onvergeetlike gesinswegbreek waaroor almal nog lank na die vakansie sal gesels.

Monifay‘s Farm Cottage

Elgin

Monifay‘s Farm Cottage bied lieflike, rustige verblyf naby fietsroetes, wynplase en restaurante in Elgin, wat dit perfek maak vir dié wat die omgewing wil verken, maar steeds na stille sielsrus verlang. Die kothuis spog met ’n kaggel waar julle in die winter knus aande voor die vuur kan deurbring. Buite wag ’n onderdakstoep met gemaklike sitplek, ’n pizza-oond en ’n ingeboude braai op dié wat vuur en vlam vir vuurmaak is. Julle kan sommer die Margherita-pizzas en skaaptjops gelyk aanpak aangesien die oond en die braai langs mekaar lê — briljant! Asof dit nie genoeg is nie, is julle ook welkom om van die vrugtebome en groentetuin op die plaas te gebruik.

Bahia Formosa

The Crags

Kom verkeer voëlvry by Bahia Farmosa in The Crags in een van twee kothuise en verlustig jou in die panoramiese uitsigte oor die omliggende fynbos en op die berge. Buite is daar ’n beskutte stoep met draagbare braaigeriewe vanwaar julle die natuur in al sy prag en praal kan beleef, of kuier binne en benut die pizza-oond in die sitarea waar geen wind of weer julle sal kan keer om liplek-lekker pizzas te bou nie. Verder is die kothuise onafhanklik van die tradisionele kragnetwerk, so beurtkrag staan nie ’n kat se kans nie. Die donkerte is tog nie heeltemal onwelkom nie, want met ’n sterrehemel soos dié, skakel julle dalk sommer met opset al die ligte af! 

Sionshoop Guest Farm

Vanwyksdorp

Met ’n uitsig op die Langeberge, olyfbome, groentetuine, piekniekplekke, voetslaan- én bergfietsroetes is hierdie eenhede by Sionshoop Guest Farm naby Vanwyksdorp loshande die regte plek vir ’n genotvolle blaaskans saam met vriende of familie. Span die spitbraai in of prop ’n pizza in die ingeboude pizza-oond terwyl die kinders op die trampolien baljaar. Nou ja, julle kan hierdie stryd onbeskaamd gewonne gee en sommer dadelik plek op hierdie plaasparadys met sy rustige atmosfeer en netjiese grondpaaie bespreek. 

Drecaso Self-Catering Chalets

Bonnievale

Drecaso Self-Catering Chalets sal sorg dat julle nog dae lank oor die salige stilte en onoortreflike uitsigte oor die vallei se wingerd en boorde op dié spoggerige plaas tussen Bonnievale en McGregor gesels. Stof solank jou gunstelingboek af, want dis by een van hierdie vier verhewe chalets waar julle uiteindelik agteroor sal kan sit. Buiten dat daar oorgenoeg speelplek vir kinders op hierdie stuk grond skuil, is daar ook ’n klubhuis met ’n swembad, ’n binnebraai en braaigeriewe op die stoep, asook ’n volledige kroeg en die hoofrede vir die besoek — ’n pizza-oond! 

Montpellier De Tulbagh

Tulbagh

Hier is nou ’n plekkie met ’n rapsie romanse óók vir paartjies wat graag die vierbeenbaba wil saambring — ja, dis troeteldiervriendelik! Verlustig jou in luukse B&B-verblyf in dié ou Kaapsestylhuis met ongeëwenaarde berguitsigte by Montpellier De Tulbagh. Skep naby die wingerd asem in die skadu van dennebome, gaan groot by die onderdakbraai-area en die pizza-oond wat aan die einde van ’n groot tuin versteek lê of maak die meeste van die wynproesessies in die herehuis. Dis hier waar julle die perfekte plattelandse wegbreek kan bespreek. 

Sanjika Escapes Boshuis

George

O, hoe lieflik lyk hierdie selfsorgverblyf aan die voet van die Outeniekwaberge waar jy met die klanke van voëlgesang en die kabbelende rivierstroompie heerlik kan uitrus? Sanjika Escapes Boshuis is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en daar is verskeie wandelpaadjies op die perseel waarvan sommige deur die inheemse woud of langs die Modderrivier loop en by die waterval en varswaterpoel eindig — idillies. Na ’n vol dag van verkenning kan julle stories om die vuur by die vuurput deel. Om te verseker dat julle die meeste van die pragtige pizza-oond maak, moet julle genoeg bestanddele pak vir die tydjie op hierdie sprokiesagtige plaas. 

The Cottage and Cabins at Nuwejaarsrivier Farm

Kleinmond

Bly in ’n kothuis op ’n werkende plaas naby ’n gholfbaan by The Cottage and Cabins at Nuwejaarsrivier Farm. Met geriewe soos ’n kaggel, houtvuurwarmbad en ’n binne- en buitebraai is dit vir enige seisoen en tyd van die jaar geskik. Bespreek sonder om te blik of te bloos hiér om iets van die egte plaaslewe te ervaar en die asemrowende skoonheid van die Overberg se kusstreek te verken. Die Cabins at Nuwejaarsrivier Farm is twee kothuise wat saam bespreek kan word en met ’n pizza-oond spog wat die hele groep versadig sal hou sodat julle eerder vir avontuur honger sal bly.

House on the Hill

Heidelberg

Bring vir Snippie saam na dié skaapplaas vir ’n verkwikkende paar dae op die platteland by House on the Hill naby Heidelberg. Verblyf beskik oor drie eenhede op die oewer van die plaasdam en elke eenheid lei na ’n houtdek met ’n houtvuurwarmbad en manjifieke uitsigte oor die plaas en op die berge in die verte. Vars koeimelk en plaaseiers is daagliks beskikbaar. Wat is dan meer “plaas” as dít? Verder kan die meer avontuurlustige lot ook op die plaasdam roei of die Gymanshoekpas wat op die plaas begin, aanpak. Moet net nie vergeet om jou gunstelingbestanddele saam te bring nie, want julle kan behoorlike bobaas-pizzas in die gemeenskaplike pizza-oond optower of ’n gesellige tyd by die braai-area deurbring.

Avemore Manor House

Stellenbosch

Avemore Manor House skuil in ’n skaduryke buurt in Stellenbosch en spog met skilderagtige uitsigte oor die olyfboorde en wingerd en op die Helderberge. Die huis is ’n skitterende opsie vir almal wat langs ’n swembad wil ontspan of rustig deur ’n olyfboord wandel terwyl hulle die sonsondergang bewonder en aan die einde van ’n idilliese dag voor die tradisionele pizza-oond wil kuier. Hierdie unieke wegbreekplek in die hartjie van die Devon-vallei sal besonders lank ná julle vertrek in almal se drome bly. 

Noudat julle weet waar die pragtigste, prettigste verblyf met pizza-oonde op Wes-Kaapse plase is kan julle gerus vir eers die golwe groet en soos blits een van dié plekke bespreek waar volkome ontspanning en sielsrus sit en wag — salig. 

Hooffoto: Sanjika Escapes Boshuis (LekkeSlaap)

Lees ook:

Sakpas-plaasverblyf buite Kaapstad

Someraktiwiteite in die Wes-Kaap

Die Robertson-wynroete