’n Avontuurvakansie is nie volmaak sonder om die kontoerlyne van berge op ’n bergfiets aan te pak nie. Suid-Afrika is ’n skilderdoek van opwindende roetes wat vir Jan Alleman én Jan Kenner geskik is. ’n Bergfietsroete bied avontuurlustiges ’n eerstehandse ervaring van die fauna en flora van ’n streek en is ook ’n eko-vriendelike manier om ’n gebied te verken. Boonop beloon Moedernatuur elke ryer met beeldskone uitsigte van die omliggende area wanneer hulle die kronkelpaaie aandurf. LekkeSlaap het nege lekke-plekke reg oor Suid-Afrika gaan uitsoek waar jy en jou tweewiel-vriend die bergfietsroetes sommer óp die perseel kan verken. 

Sani Valley Lodge

Suidelike Drakensberge, KwaZulu-Natal

Moeilikheidsgraad: Professioneel

Drakensberg stay in KZN

Die luukse Sani Valley Lodge skuil tussen die Drakensberge en is die lodge naaste aan die bekende Sanipas. Hierdie pas, met sy steil en uitdagende kronkelpad, is moontlik reeds op enige bergfietsliefhebber se emmerskoplysie. Die volgehoue opdraand van tagtig kilometer altesaam laat fietsryers harde bande trap, maar ryers word met ’n skilderagtige uitsig op die Drakensberge bederf.

Die lodge is die beginpunt van die Sanipas en bied verskeie verblyfopsies ─ van selfsorg tot alles-ingesluit. Die privaat ligging is perfek vir paartjies, gesinne of ’n groep vriende. Die uKhahlamba-Drakensberg-park, ’n Wêrelderfenisgebied, is op die hierdie lodge se voorstoep en bied avontuurlustiges makliker bergfietspaaie. Dit grens ook aan ’n meer wat gereeld deur verskillende wildsbokke, sebras, bobbejane en ander diere besoek word.

Sequoia Garden Retreat

Magoebaskloof, Limpopo

Moeilikheidsgraad: Beginner tot professioneel

Magoebaskloof stay in Limpopo

Dié romantiese selfsorgverblyf is na die bekende Dawn Redwood-bome in die tuin vernoem en bied woud en weelde in die pragtige Magoebaskloof. By die Sequoia Garden Retreat ry fietsryers deur ’n inkleurboek van fauna en flora en is daar verskillende bergfietsroetes wat vir enige bergfietsryer geskik is. Die drie hoofroetes is altesaam sestig kilometer lank, maar kan afsonderlik volgens moeilikheidsgraad aangepak word.

Dit is egter nie nét bergfietsryers wat met pragtige natuurtonele omring word nie. Gaste wat die wandelpaadjies volg kan kersiebloeisels, lelies en Asaleas tydens die lente en somer bewonder. Daar is ook bordjies met oor die 200 boomspesies reg deur die Sequoia Garden Retreat se tuine opgesit sodat wandelaars elkeen kan uitken.

Affi Lande Boetiek Gasteplaas

Fouriesburg, Oos-Vrystaat

Moeilikheidsgraad: Beginner tot gemiddeld

Fouriesburg stay in Eastern Free State

Affi Lande Boetiek Gasteplaas doen sy naam gestand deur ’n privaat wegbreek-ervaring in pragtige sandsteengeboue te bied. Hier ry fietsryers op die ritme van die natuur tussen die Witteberge, Rooiberge en die Malutiberge wat die gasteplaas omring. Die bergfietspad, wat ook te voet aangepak kan word, lei deur die dennewoud na die Rebellie-gedenkteken.

Die chalets is almal van sandsteen en het óf ’n spitssinkdak, óf ’n grasdak om gaste die volledige ‘affi lande’-ervaring te bied. As die winterweer ’n speek in jou wiel steek, hoef jy egter nie te bekommer nie, aangesien die bekende AfriSki-oord net tagtig kilometer vanaf die instansie is. Hiér kan gaste ’n dag in die sneeu deurbring!

Gecko Rock Private Nature Reserve

Kaapse Wynlande, Wes-Kaap

Moeilikheidsgraad: Beginner tot professioneel

Cape Winelands stay in Western Cape

Is jy op soek na iets meer eko-vriendelik? Dan bied Gecko Rock Private Nature Reserve die perfekte verblyf! Hierdie eko-avontuurbestemming is in die Nougaspoortvallei naby Touwsrivier en bied ’n lieflike buitelug-ervaring in die Karoo.

Die bergfietsroetes volg eeue-oue wildpaadjies wat vir beginners en gesoute ryers geskik is. Die roetes is duidelik gemerk volgens hul moeilikheidsgraad en diegene wat nie ’n uitdagende rit wil hê nie, sal die groenroetes maklik kan volg. Hoe ook al dit sy, ’n bergfietsrit is ’n móét.

Die reservaat bied verskeie verblyfopsies, van kamp tot moderne selfsorghutte wat ekovriendelik is. Gaste kan bedags onbelemmerde uitsigte bewonder en saans deur ’n skitterende Karoo-sterrehemel betower word. Dagbesoekers wat die bergfietsroetes wil ry, betaal R150 vir ’n dagpas, maar inwoners ry gratis.

Wildehondekloof

Klein Karoo, Wes-Kaap

Moeilikheidsgraad: Gemiddeld tot professioneel

Wildehondekloof bied B&B-verblyf op ’n wildreservaat in die hartjie van die Klein-Karoo se Swartberge. Dié reservaat het bergfietsroetes van ongeveer veertig kilometer en is geskik vir kranige ryers én ryers wat darem nie meer in die beginnerkategorie val nie. Die bekende Swartbergpas (wat deel vorm van die MTB-roetes op hierdie reservaat) beklemtoon die “berg” in bergfietsroete en fietsryers wat hierdie roete aandurf sal ’n dag op die konsertina-grondpad moet deurbring. Hierdie roetes neem jou ook verby talle wildspesies wat op die reservaat woon waarvan sebras, elande en koedoes net ’n paar is.

Saans kan gaste voor die dubbel-kaggel in die leefarea opkrul of buite om die boma saamkuier terwyl ’n pizza in die pizzaoond bak. 

Sperrgebiet Lodge

Springbok, Noord-Kaap

Moeilikheidsgraad: Beginner

Springbok stay in Northern Cape

Diegene wat hul hart in Namakwaland verloor het, kan hul fietswiele solank oppomp! Sperrgebiet Lodge se bergfietsroetes is tussen die kokerbome in ’n semi-woestyn geleë wat beteken fietsryers word bederf met ’n ononderbroke uitsig op die berge en koppies van hierdie Noord-Kaapse juweel. Talle roetes vleg deur dié 300 hektaar-plaas en die verblyf bied ’n stil ruskans ver van die stad se gejaag.

Die eenhede is rustiek-sjiek en die argitektuur pas in die bosveld-styl.

Ezemvelo Nature Reserve

Bronkhorstspruit, Gauteng

Moeilikheidsgraad: Gemiddeld tot professioneel

Bronkhorstspruit stay in Gauteng

Dit is vir seker dat elke stadsbewoner na ’n stil wegbreek vanuit die besige Gauteng-alêng smag en hierdie wegbreek is net om die draai! Ezemvelo Nature Reserve is ’n uur en twintig minute se ry van O.R. Tambo Internasionale Lughawe af en spog met ’n bergfietsroete van 45 kilometer! Daar is min dinge wat beter is as om ’n wildreservaat op ’n bergfiets te verken. Die roetes is ’n kombinasie van enkelbane en Jeep-bane, maar Ezemvelo se heuwels bied fietsryers ’n ordentlike uitdaging. Aanhouers wen egter met ’n lang kronkel-afdraand en ’n praguitsig oor die omgewing. Daar is ook toegekende alternatiewe roetes wat ryers se pad terug lodge toe verkort.

Die Ezemvelo Nature Reserve ondersteun groen, volhoubare ekotoerisme en bewaringsbewustheid en verblyf bestaan uit grasdak-chalets wat tot hierdie bewustheid bydra.

Boschendal Wine Estate

Pniel, Wes-Kaap

Moeilikheidsgraad: Beginner tot professioneel

Pniel Stay in Western Cape, Franschhoek

As daar één plek is wat sinoniem met landskaproetes is, is dit beslis die Franschhoek-vallei. Boschendal Farm Estate is tussen die Simons- en Drakensteinberge geleë wat prentjiemooi uitsigte waarborg. Die toegekende roetes begin net binne die sekuriteitshek. Daar is ’n Geelroete van 4 km, ’n Groenroete van 9 km, ’n Blouroete van 11km, ’n Rooiroete van 15 km en die Swartroete van 23 km. Fietsryers wat stamina van staal het kan die Black XL-roete aandurf wat drie tot vier afdelings by die Swartroete voeg. Gaste kan navraag oor die verskillende roetes by die Trail-sentrum op die perseel doen en diegene wat nie hul eie fietse kan bring nie, kan fietse huur.

Sonder om die biodiverse plaasomgewing te versteur, bied Boschendal luukse verblyfopsies vir enige ervaring  – van ’n romantiese wegbreek, ’n gesinsnaweek of ’n oornagplek vir sakereisigers.

Daar is min dinge wat ’n hart laat klop soos Suid-Afrika se natuurskoon, maar gelukkig is daar oneindige geleenthede om dit met jou tweewiel-vriend te verken. Hoe dit ook al sy, stel daardie remme in, stof daardie wiele af en laat trap!  

Hooffoto: Gecko Rock Private Nature Reserve
Alle ander foto’s: LekkeSlaap