Die kans is goed dat jy al vandag na ’n video op een of ander sosialemediaplatform gekyk het en dit vir iemand aangestuur of gestoor het, aangesien video-inhoud al hoe meer gewild raak en basies oral om ons is. Volgens Hubspot het die gemiddelde mens in 2023 sowat 17 ure se video-inhoud per week aanlyn gekyk. Mense reageer meer op video-inhoud op sosiale media omdat dit aanloklik, informatief en kort is. In die reisindustrie deel inhoudskeppers graag kort video’s op Instagram, TikTok en Facebook oor reiswenke, inspirerende en unieke plekke en aktiwiteite tydens hul reise om ander sosialemediagebruikers aan te moedig om ook te reis en die plekke te besoek. 

In hierdie blog gee ons vir jou ’n paar wenke oor hoe om jou eie video-inhoud tydens jou volgende wegbreek te skep, al is dit net om spesiale herinneringe vas te vang en te stoor. 

Wat het jy nodig:

Die goeie nuus is dat jy net ’n slimfoon nodig het om video’s te neem. Deesdae se slimfone neem uitstekende video’s en jy kan dit maklik op die slimfoon verwerk om sekere dele uit te sny en aan mekaar te sit. Daar is talle gratis apps om video’s te verwerk, of jy kan dit sommer op Instagram, TikTok of Facebook doen. Jy kan selfs ’n bypassende liedjie byvoeg om dit nog meer uniek te maak. 

Indien jy meer professionele video-inhoud wil skep, kan jy dit met enige goeie kamera wat ’n video-funksie het neem en dit op ’n rekenaar, skootrekenaar of slimfoon verwerk. ’n Hommeltuig is ’n goeie opsie as jy landskappe en natuurtonele van bo wil afneem (let wel dat jy nie oral ’n hommeltuig mag vlieg nie). Jy kan ook goeie video’s met ’n aksiekamera soos ’n GoPro neem.

Om ’n stabiele beeld te verseker, kan jy ’n kompasbeuel (gimbal) of driepoot gebruik wat die kamera of slimfoon se beeld stabiliseer terwyl jy beweeg. 

Wenke: 

  • Neem vertikale video’s. Aangesien die meeste gebruikers video-inhoud op hulle slimfone kyk, vaar vertikale videos beter as horisontale video’s. ’n Vertikale video vertoon beter op ’n slimfoon se lang skerm en apps soos Instagram, TikTok en Facebook bevorder vertikale video’s. 
  • Maak seker dit wat jy afneem is goed belig. 
  • Die lig is die beste tydens golden hour, die kort tydjie nadat die son opkom of voor dit ondergaan. Neem dan die landskap, gebou, braaivleisvuur of mense af. 
  • Beweeg jou slimfoon of kamera stadig rond om ’n stabiele beeld te kry. 
  • Neem kort videogrepe wat jy later aanmekaar kan sit om ’n volledige video te skep. 
  • Vertel ’n storie deur middel van jou video. 
  • Neem tonele en voorwerpe vanuit ’n unieke perspektief af. Speel ’n bietjie rond met dit wat jy in die voorgrond of agtergrond plaas.

Top-blyplekke vir video-inhoud:

Buff and Fellow Eco Cabins

Die unieke en pragtige eenhede by Buff and Fellow Eco Cabins naby George is enige videograaf se droom. Die binnenshuise versiering en oorspronklike argitektuur sorg vir uitstekende inhoud, en boonop bied die buffelteelplaas eindelose natuurtonele en uitsigte om af te neem. Daar is selfs ’n houtvuurwarmbad en braaigeriewe by elke eenheid om die gesellige atmosfeer tydens julle besoek vas te vang. Moenie vergeet om die diere rondom die dam tydens golden hour af te neem nie. 

The Stables and The Loft @ Glenogle Farm

Van een unieke plaas in die Wes-Kaap, na nog ’n unieke plaas in Limpopo. The Stables and The Loft @ Glenogle Farm bied luukse verblyf tussen perdestalle en denneplantasies in Magoebaskloof! Die eenhede is gerieflik ingerig en die groot vensters bied elkeen ’n baie mooi uitsig oor die natuurskoon. Julle kan die kamera op ’n driepoot plaas en julle afneem terwyl julle skemerkelkies op die dek by die dam geniet of voor die kaggel aan ’n glasie wyn teug.  

Eagle View 1

Elke gedeelte van Eagle View 1 naby Dullstroom sal uitstekende inhoud vir jou video maak. Dié huisie bied nie net onvergeetlike verblyf nie, maar spog ook met ’n besonderse boustyl en panoramiese uitsigte oor die vallei. Dis die ideale plek om ’n romantiese wegbreek te geniet en julle kan die dag sien begin terwyl julle nog in die bed lê en ook die son vanaf die houtdek aan die einde van die dag groet. Die houtvuurwarmbad voor die huisie bied sekerlik een van die beste uitsigte wat ons al gesien het! 

Rocklands Eco Retreat

Die Cederberge in die Wes-Kaap is een van die gewildste bestemmings vir fotograwe, videograwe, voetslaners, rotsklimmers en 4×4-entoesiaste as gevolg van die ongelooflike oranje rotsformasies wat oral om jou uittoring. Rocklands Eco Retreat is ’n gerieflike skeepsvraghouer vir twee in die middel van hierdie unieke berge en dit spog met ’n bed wat buitentoe kan skuif, ’n groot stoep met braaigeriewe en ’n buitebad, en eindelose uitsigte. Daar is beslis nie ’n tekort aan videogeleenthede hier nie en jy kan jou videovernuf op die proef stel met die helder sterrenag!

The Pods @ Thaba eNtle

The Pods @ Thaba eNtle in Thabazimbi is die ideale verblyf as jy die natuurskoon in die Bosveld wil gaan afneem. Dié houthuisies se unieke boustyl is opsigself iets om af te neem en julle kan lekker op die stoep ontspan en die bosveldsonsondergang met jou kamera vasvang. Daar is ook ’n houtvuurwarmbad en ’n vuurput tussen die bome en julle kan via ’n wildrit die verskeie wildspesies op die perseel sien en afneem. 

Met al hierdie lekke wenke kan jy tydens jou volgende wegbreek jou eie reisvideo afneem en saamstel sodat jy dit ook op sosiale media met al jou vriende kan deel. Bespreek vandag nog verblyf by een van die unieke eiendomme wat jy al vir ’n tydjie dophou en gaan maak daardie video! 

Loer gerus na die kreatiewe video’s op LekkeSlaap se Instagram- en TikTok-profiele vir ’n bietjie inspirasie.

Hooffoto: Unsplash

Lees ook:

Rotsklim: Jou beginners-handleiding tot dié avontuur

Someraktiwiteite in die Wes-Kaap

Prettige aktiwiteite aan Natal se Suidkus