Dis seweuur op ’n Vrydagoggend en jy sit al weer in die verkeer. Die enigste vooruitsig wat jy vandag het, is gisteraand se oorskiet-pasta in jou kosblik en bykans ’n miljoen e-posse wat lê en wag. Klink dít vir jou bekend? As jy moeg is vir swoeg en sweet om jou brood en botter te verdien, dan is dit hoogtyd dat jy jou stadshuis vir ’n huisie in die berge verruil en ’n behoorlike blaaskans neem. Met die winter wat wink, het LekkeSlaap 10 berghuisies opgespoor wat perfek is vir ’n lekker winterwegbreek. Loer gerus hier:

Bergsicht Country Farm Cottages, Tulbagh

Dié lekker kuierstoep bied asemrowende uitsigte op die berge | Foto: LekkeSlaap.

As jy moeg is vir die lewe in die Moederstad, lok Bergsicht Country Farm Cottages net buite Tulbagh jou gulhartig nader. Dié kothuisies lê in ’n kommetjie tussen die majestueuse Winterhoek-, Obikwa- en Witzenberge net 120 km buite Kaapstad. Vergeet van al jou sperdatums en kom ontspan op die lekker kuierstoep — die berg-uitsigte sal sowaar jou asem wegslaan!

Ontspan voor die kaggel en vergeet van al jou sorge (links); Slaap salig in dié pragtige bed (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Slaapplek: 2 tot 6 gaste per eenheid.

Geriewe: Jetmaster-kaggel, braaiplek, gratis WiFi, elektriese komberse.

Doendinge in die omgewing: Perdry, visvang, voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsroetes, swem.

Matjiesvlei Cottages, Calitzdorp

Hiér tussen niks en nêrens kry jou siel weer rus | Foto: LekkeSlaap.

17 km buite Calitzdorp kronkel ’n grondpad tot in die hartjie van die Gamkariviervallei waar Matjiesvlei Cottages skuil en die Swartberge oor ’n mens waghou. Dié gasteplaas beskik oor 3 selfsorg-kothuisies — Middelplaas, Die Stalle en Bokwagtershuis. Elke kothuisie is keurig ingerig met antieke meubelstukke en bied gehalteverblyf tussen niks en nêrens. Trek jou stapstewels nader of spring op jou bergfiets en gaan verkyk jou aan die helderpers vygies en reuse-aalwyne wat plek-plek tussen die karoobossies opslaan.

Dié plaasstoep is perfek vir heerlike samesyn | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek:

Middelplaas: 4 gaste.

Die Stalle: 6 gaste.

Bokwagtershuis: 4 gaste.

Geriewe: Kaggels, WiFi, lugversorging, braaiplek en spesiale piekniekplek langs die Gamkarivier.

Doendinge in die omgewing: Voëlkyk, kunsvlieghengel, visvang, baarshengel, bergfietsry en swem.

Midlands Eco Lodge, KZN Middellande

Die Nhlosane-berge rondom dié berghuisie sal jou bekoor | Foto: LekkeSlaap.

Midlands Eco Lodge is ’n omgewingsvriendelike toevlugsoord in die KwaZulu-Natalse Middellande wat perfek geleë is om asemrowende uitsigte op die Nhlosane-berge te bied. Die eienaars roem hul op ’n volhoubare, outentieke leefstyl en nooi gaste om aan te sluit by die jogaklasse, pizza-aande en musiekvertonings wat soms hier plaasvind. Hiér, tussen die golwende groen heuwels en waterstroompies, sal ál jou sorge soos mis voor die son verdwyn.

Die golwende groen heuwels lê wyd voor 'n mens uitgestrek | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek: 8 gaste.

Geriewe: ’n Gasbraaier, pooltafel, onderdak-veranda en ’n moderne kombuis.

Doendinge in die omgewing: Perdry, kunsvlieghengel, forelhengel, baarshengel, wynproe, wildritte, wildkyk, bergfietsry en swem.

Big Sky Cottages, Breedekloof

Kom verkyk jou aan die Mosterthoekberge en die Witzenbergvallei | Foto: LekkeSlaap.

Big Sky Cottages lê hoog teen die hange van die Mosterthoekberge en kyk uit oor die Witzenbergvallei. Dié 67 hektaar-plaas in die Breedekloof is die perfekte plek vir stadsjapies om die stadsgedruis vir ’n naweek vaarwel te roep. Kom ontspan op die stoep en bewonder die wingerde, boegoelande en vrugteboorde wat soos ’n lappieskombers oor die berge vou.

Elke kothuis het 'n privaat stoep met lieflike berg-uitsigte (links); Die oopplan-leefvertrek is gerieflik ingerig sodat jy lekker kan rus (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Slaapplek: 2 gaste per eenheid.

Geriewe: Kaggels, braaiplek, gratis WiFi en ’n swembad.

Doendinge in die omgewing: Perdry, wynproe, voëlkyk, voetslaan en fietsry.

Elephant Leisure Resort, Citrusdal

Elephant Leisure Resort is die perfekte uitspanplek in die Citrusdalvallei | Foto: LekkeSlaap.

As jy nog nooit in Citrusdal se geweste gaan anker gooi het nie, is dit hoogtyd dat jy Elephant Leisure Resort besoek. Dié oord is op ’n sitrusplaas in die Olifantsrivierberge geleë en bied besonderse uitsigte oor die Citrusdalvallei, die Olifantsrivier, roesbruin rotsformasies en geilgroen bergfynbos. Verruil jou skoene vir snoesige sokkies en kom ontspan met ’n drankie voor die gesellige kaggel.

Die braai-area bied pragtige uitsigte oor die rivier (links): Dié kaggel skep 'n gesellige winteratmosfeer (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Slaapplek: 6 gaste.

Geriewe: Kaggels, ’n Jacuzzi, braaiplek en konferensiegeriewe.

Doendinge in die omgewing: ’n 4 km lange staproete op die plaas, gholf, bergfietsry, perdry, kanovaart, 4×4-roetes, voëlkyk en visvang.

Dumbe Cottages, Bergville

Dis majestueuse berge net waar jy kyk | Foto: LekkeSlaap.

As Pretoria se stadsliggies té helder begin skyn, kan jy maar gerus die Retiefpas in die noordelike Drakensberge tot by Dumbe Cottages kom aandurf. Ná jou tog sal ’n knetterende kaggelvuurtjie jou begroet en sal jy in salige stilte gehul word. Dié kothuise het heerlike stoepe met uitsigte oor die bruin bergspitse wat raak-raak aan die blouselblou lug. Bring sommer die hele gesin vir ’n winteravontuur, want in Junie lê die sneeu gewoonlik lekker dik!

Dumbe Cottages is die perfekte plek om in die sneeu te baljaar | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek: 2 gaste per eenheid.

Geriewe: Kaggels, braaiplek, olielampe, elektriese komberse en heerlike hoekbaddens.

Doendinge in die omgewing: Bergfietsry, vierwielmotorfietsry, 4×4, voëlkyk, kunsvlieghengel en voetslaan. Die Kaalvoet Vrouemonument is stapafstand hiervandaan.

Protea Farm se Panorama-huis, Montagu

By Protea Farm wag daar 'n besonderse sonsondergang op jou | Foto: LekkeSlaap.

Kom klop by Protea Farm in die Koovallei aan as jy op soek is na lafenis in die Langeberge. Dié ongekunstelde huis is lekker privaat en spog met ’n knus kaggel wat dit perfek maak vir ’n blaaskans in die bibberweer. Gaan wandel op die plaas rond of geniet ’n trekkerrit by die berg op — die uitsigte 1500 m bo seespieël is regtig iets om te aanskou!

Dié kliphuis het slaapplek vir die hele familie | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek: 13 gaste.

Geriewe: ’n Kaggel, ’n lieflike balkon en braaiplek.

Doendinge: Voëlkyk, voetslaan, bergfietsry, swem en trekker ry.

Bush House @Doornkloof, Robertson

Kies koers na dié moderne huis in die berge | Foto: LekkeSlaap.

Bush House @Doornkloof lê in ’n vallei in die Doornkloof Privaat Natuurreservaat halfpad tussen Worcester en Robertson. Met die berge wat hier só sierlik bo ’n mens uittroon, voel jy behoorlik afgesonderd en na aan die natuur. Die voëllewe en kleinwild in dié bergwêreld is oorvloedig en jy sal miskien gelukkig genoeg wees om ’n luiperd te gewaar!

Die kamers is stylvol ingerig sodat jy lekker kan uitrus (links); Die kuierarea langs die swembad bied pragtige uitsigte (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Slaapplek: 4 gaste.

Geriewe: ’n Jetmaster-kaggel, elektriese komberse en warmwatersakke, verekomberse, gasverwarmers en braaiplek.

Doendinge in die omgewing: Perdry, voëlkyk, bergfietsry, wildritte, wildkyk en wynproe.

Boesmanskloof Eagle’s Nest, McGregor

Almal wil 'n huisie in die berge hê | Foto: LekkeSlaap.

Boesmanskloof Eagle’s Nest is ’n luilekker lêplekkie wat omring word deur die Riviersonderendberge tussen die tweelingdorpies McGregor en Greyton. Dié bergagtige omgewing met sy klowe en kranse, rotspoele en watervalle is ’n lushof vir enige natuurliefhebber. Die Eagle’s Nest-kliphuis het ’n houtdek wat uitkyk oor die fynbos in die berghange en die Gobosrivier. Los al jou bekommernisse by die huis en kom asem weer ’n slag die vars berglug in!

Hiér, aan die hange van die Riviersonderendberge, sal jy behoorlik kan ontspan | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek: 10 gaste.

Geriewe: ’n Wynkelder, ’n reuse-eetkamertafel, braaiplek binne en buite, en ’n swembad.

Doendinge in die omgewing: Voëlkyk, wynproe, bergfietsry, voetslaan en swem.

River Edge Akkommodasie, Breederiviervallei

Kom kyk hoe die sneeu mildelik oor die bergpieke gestrooi word | Foto: LekkeSlaap.

Die leikliphuisies by River Edge Akkommodasie in die Breederiviervallei is die perfekte plek vir ’n moeë stadsjapie om sy siel te kom verkwik. In die winter lê die sneeu soos versiersuiker op bergpieke gestrooi en die asemrowende uitsigte is die beste agtergrond vir stoepkuiers. Die River Edge-huisies is ook troeteldiervriendelik, so jy kan gerus jou dierekinders saambring!

Kom skop nes hier aan die oewer van die Breederivier | Foto: LekkeSlaap.

Slaapplek: 6 tot 10 gaste per eenheid.

Geriewe: Kaggels, ’n Jacuzzi, ’n wynkelder, braaiplek, donsveer-duvets en elektriese komberse.

Doendinge in die omgewing: Visvang, voëlkyk, wynproe, bergfietsry, voetslaan en swem. Daar is ook ’n koffiewinkel op die plaas waar jy soggens ’n smullekker ontbyt kan gaan eet.

Dis vyfuur op ’n Vrydagmiddag en die enigste verkeer wat jy teëkom is bokke en skape wat saam met jou die bergpaadjies aandurf. Vanaand gaan jy ’n vleisie oor die kole gooi en dan met ’n glasie rooiwyn voor die kaggel opkrul. Dít klink perfek, of hoe?

Bespreek sommer nóú ’n berghuisie vir ’n blaaskans-naweek. Ná ’n winterwegbreek sal jy sommer weer berge kan versit!

Hooffoto: Bergsicht Country Farm Cottages (LekkeSlaap).