As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
in die veld pluk ek ’n wandelstaf van die naaste doringboompie af,
en sing my wandellied, en sing my wandellied.

So lui die Afrikaanse volksliedjie wat die meeste van ons uit ons kinderdae onthou. Die nuwe jaar is hier en alhoewel baie van ons reeds ons nuwejaarsvoornemens laat vaar het, is hier nou vir jou ’n lekker nuwe uitdaging om aan te pak!

Suid-Afrika se weer is ideaal vir verskeie avonture, veral staptoere en daar is meer as genoeg om van te kies regoor die land. As jy nie fiks genoeg is om ’n vyfdagroete aan te pak nie, is daar ook daguitstappies by die meeste van dié plekke gemáák vir jou. Maar as jy eerder jou rugsak wil pak en ’n heerlike week saam met jou vriende of gesin wil deurbring, het ons ook ’n paar lekker voorstelle wat ieder en elk sal pas. Dié lys is egter net vir gesoute stappers, so maak seker dat jy behoorlik voorberei en iemand met ’n paar staptoere agter die rug saamnooi.

1. Fanie Botha  
Sabie, Mpumalanga

A photo posted by shemoneking (@shemoneking) on


Die Fanie Botha Staptoer is een van die bekendstes in die noorde van Suid-Afrika. Dié roete het drie verskillende wegspringplekke en daar is ses hutte waarin jy kan oornag langs die pad. Jy kan dit in twee tot vyf dae voltooi (afhangend van jou wegspringplek).

#PretFeit: Dié staproete bied ongelooflike uitsigte. Die Mac Mac-poele en -waterval is ’n móét om werklik die skoonheid van die omgewing te kan waardeer. Mount Moody en die Lone Creek-waterval is nog twee plekke om te sien op die roete. Beide die Mac Mac-valle en Lone Creek-waterval is nasionale monumente.

Die drie wegspringplekke is by Ceylon, President Burger en Graskop. Die ses hutte langs die pad is Ceylon, Maritzbos, Stables, Mac Mac, President Burger en Graskop. Daar is drie roetes om van te kies op die laaste dag, indien jy by Ceylon begin. Die langer roete is 22,3 km lank, en volg die platorand verby die Mac Mac-poele. Die korter roete is 11 km lank. ’n Alternatiewe roete van slegs 6 km wat eindig by President Burger, is ook ’n opsie vir die laaste skof.

Die moeiliker roete is 58,8 km lank en sal jou vier dae en vyf nagte neem om te voltooi:

  • Dag 1: 8,1 km. Ceylon tot by Maritzbos.
  • Dag 2: 12 km. Maritzbos tot by Stables.
  • Dag 3: 16,4 km. Stables tot by Mac Mac.
  • Dag 4: 22,3 km. Mac Mac, via die Mac Mac-poele, tot by Graskop (óf 11 km indien jy die korter roete deur die “Bonnet” tot by Graskop neem.)

Lees gerus hier meer oor die roete. Ons het ook ’n lekker keuse van blyplekke waar jy kan oornag voor en na jou staptoer.

2. Magoebaskloof Roete 
Tzaneen, Limpopo

A photo posted by Cameron Jamie Hay (@cami_hay) on


Dié staptoer het ook ’n verskeidenheid opsies om van te kies; van 1 tot 2 uur lange roetes tot daguitstappies. Dié vyfdagroetes is definitief vir die meer gesoute stapper, maar bied ’n ongelooflike wegbreek vir avonturiers. Dit kronkel van hut tot hut deur plantasies en bied ’n diverse wild- en plantlewe ─ én dis ’n paradys vir voëlkykers met meer as 70 voëlspesies. Kyk gerus uit vir samango-ape, bosbokke en bosvarke. Die roete is steil en die woud is onherbergsaam tydens die reënseisoen, dus is die beste tyd om dit aan te pak van September tot November en tussen Maart en April.

#PretFeit: Iets om voor uit te kyk op dié roete is die unieke “huilklip”. Hierdie buitengewone klip maak ’n harde “gong” geluid as ’n klip dit tref. 

Die Magoebaskloof-roete neem 5 dae en 5 nagte en is 62,4 km lank:

  • Dag 1: 15 km. Woodbush tot by Broederstroom.
  • Dag 2: 18 km. Broederstroom tot by De Hoek.
  • Dag 3: 8,4 km. De Hoek tot by Woodbush.
  • Dag 4: 12,5 km. Woodbush tot by Dokelewa Pools.
  • Dag 5: 10,5 km. Dokolewa Pools tot by Woodbush.

Lees meer oor die roete hier. Hier is ’n paar lekker plekke in die omgewing waar jy voor en na die tyd kan oornag.

3. Die Otter Staptoer 
Tuinroete, Oos-Kaap

A photo posted by Philippa Dods (@philippadods) on


Die Otter Staptoer is seker een van die heel bekendste roetes in Suid-Afrika, maar glad nie die enigste een in dié omgewing nie. Daar is ook die
Outeniekwa-Harkerville en die Strandloper in die Wes- en Suid-Kaap. Deesdae word daar ook jaarliks ’n resies op die Otter gehou en hardlopers van heinde en verre kom toets hul uithouvermoë só. Dié roete is bekend vir sy ongelooflike landskappe en is vernoem na die Kaapse otter wat dikwels in die omgewing gewaar word.

#PretFeit: Buiten die Kaapse otter, kan jy ook uitkyk vir robbe, rooikatte, muskeljaatkatte, luiperds, duikertjies, dassies, bosbokke, bosvarke, blouapies, bobbejane, dolfyne, walvisse en volop voëllewe.

Die Otter is 41 km lank:

  • Dag 1: 4,8 km. Stormsriviermond tot by Ngubu Hut.
  • Dag 2: 7,9 km. Ngubu tot by Scott Hut.
  • Dag 3: 7,7 km. Scott tot by Oakhurst Hut.
  • Dag 4: 13,8 km. Oakhurst tot by André.
  • Dag 5: 6,8 km. André tot by Nature’s Valley Hut.

Lees meer oor die Otter of kliek hier vir ’n paar lekker plekke waar jy kan bly in die omgewing.

4. Oorlogskloof Natuurreservaat 
Nieuwoudtville, Noord-Kaap


Dié lekker uitdagende roete is 52,2 km lank en kan as ’n vier- of vyfdagstap gedoen word. Die Oorlogskloof Natuurreservaat is 16 km buite Nieuwoudtville geleë en spog met diep klowe en berge waardeur die Oorlogskloofrivier vloei. Dié area is die oorgangsone vir die Fynbos- en Karoo-biome en dus bied die area ’n wye verskeidenheid plant- en dierlewe. Kyk gerus uit vir die Waboom (Protea nitida, voorheen Protea arborea), ’n protea-spesie wat in dié area voorkom.  

Die Klipduif-roete sal jou vyf dae neem om te voltooi en is 52,2 km lank:

  • Dag 1: 4 km. Groot Tuin tot by Brakwater.
  • Dag 2: 8,5 km. Brakwater tot by Driefontein.
  • Dag 3: 12 km. Driefontein tot by Doltuin.
  • Dag 4: 17 km. Doltuin tot by Pramkoppie.
  • Dag 5: 10,7 km. Pramkoppie tot by beginpunt.

#PretFeit: Daar is nog ’n vyfdagroete in die Oorlogskloof Natuurreservaat en 2 korter daguitstappies. Stappers moet uiters fiks wees om dié roetes aan te pak aangesien die omgewing uiters onherbergsaam is.

Lees hier meer oor die roete en bespreek gerus ’n lekker blyplek om uit te rus na afloop van jou staptoer.

5. Amatola  
Hogsback, Oos-Kaap

A photo posted by Gavin Silber (@cities_etc) on


Dié 100 km lange roete is uiters uitdagend, en selfs gesoute stappers is baie versigtig om dit aan te pak. Dit sal jou ses dae neem om te voltooi.

#PretFeit: Tydens jou staproete sal jy op ’n plek kom waar dit lyk of daar hope en hope vars hondemis rondlê, maar moenie bekommerd wees nie! Dis wat gebeur wanneer die grond verwerk word deur reuse erdwurms. Hulle kan tot 1 m lank word!

Dié roete is 100 km lank, afhangend van hoe jy die roete aanpak:

  • Dag 1: 11 km of 15,3 km. Madendam tot by Gilligwili Hut.
  • Dag 2: 18 km of 19,6 km. Gilligwili Hut tot by Dontsa.
  • Dag 3: 16,8 km of 19 km. Dontsa tot by Cata Hut.
  • Dag 4: 13,5 km. Cata tot by Mnyameni Hut.
  • Dag 5: 18,2 km. Mnyameni tot by Zingcuka Hut.
  • Dag 6: 15 km. Zingcuka tot by Tyumerivier.

Lees gerus hier meer oor die roete en bespreek hier jou verblyf.

6. Giant’s Cup Staptoer
Maloti Drakensberg Park, KwaZulu-Natal

A photo posted by @liezeldupreezz on


Die Giant’s Cup staptoer is ’n vyfdagstaptoer in die suidelike deel van die Maloti Drakensberg Park. Die roete strek oor 60 km en jy klim tot 2000 m bo seespieël. Dit begin 6 km duskant die
Sani Pas Hotel en eindig by die Boesmansnek-hut, 2,5 km vanaf Boesmansnek in Underberg. Die langste skof is net oor die 13 km.

Die  roete is net meer as 60 km lank:

  • Dag 1: 13,3 km. Sani Pas tot Pholela Hut.
  • Dag 2: 9 km. Pholela tot by Mzimkhulwana.
  • Dag 3: 12,2 km. Mzimkhulwana tot by Winterhoek.
  • Dag 4: 12,8 km. Winterhoek tot by Swiman.
  • Dag 5: 12,8 km. Swiman by die Boesmansnek-hut.

#PretFeit: As die vooruitsig van ’n hele week in ’n tent, met jou eie proviand op jou rug, so bietjie rof klink, is slenterstap vir jou! ’n Pendeldiens kom laai jou elke middag op sodat jy heerlik kan uitrus by verskillende lodges langs die pad vir die volgende dag se stap. Dié roete is slegs drie dae en 42,2 km lank.

Lees gerus hier meer oor “slenterstap” en bespreek jou volgende avontuur. Ons het ook ’n paar heerlike lêplekke waar jy kan oornag in dié omgewing.

7. Vredefort Koepel  
Venterskroon, Vrystaat

A photo posted by kcole5 (@kcole5) on


Hierdie wêrelderfenisgebied is een vir die boeke en jy kan dagtoere doen of die tweedagroete aanpak en in jou tent oornag. Die Rooi Haas Staptoer is in Venterskroon, ’n historiese goudmyndorpie in die hartjie van die Vredefort-koepel. Jy kan ook sommer by die beginpunt oornag en vroeg die volgende oggend wegspring.

Die roete is 21 km lank en neem 2 dae om te voltooi:

  • Dag 1: 12 km. Venterskoon tot by Boplaas/Bundu.
  • Dag 2: 9 km. Stap terug na Venterskroon.

#PretFeit: Die Vredefort-koepel is ’n krater wat meer as 300 km wyd is. Die meteoriet het sowat 2023 miljoen jaar gelede geval. Die meteoriet was blykbaar so groot soos ’n berg (met ’n deursnee van meer as 5 km) en het die aarde teen ’n spoed van 10 km per sekonde getref!

Lees gerus meer oor die staproete hier. Ons bied verskeie verblyf-opsies in dié omgewing.

8. Suikerbosrand Natuurreservaat 
Heidelberg, Gauteng

A photo posted by Lyle Jeacocks (@lyleguy) on


Dit is een van die minder bekende roetes, maar lekker naby vir die stadsjapies van Gauteng. Dié oornagroete strek oor ’n groot gedeelte van die Suikerbosrand Natuurreservaat. Die paadjie na die eerste hut is byna 5 km lank, so maak seker dat jy vroeg genoeg begin stap sodat die donker jou nie vang nie. Daar is ses oornaghutte in die reservaat, en jy kan jou eie roete beplan en een tot ses aande daar deurbring.

#PretFeit: Daar is ’n teerpad van ongeveer 60 km vir toeriste wat die omgewing in hul motors wil verken. Dis ook ’n lekker roete om met jou fiets aan te durf!

Ons het ook heelwat heerlike verblyfplekke in dié omgewing beskikbaar.

9. Golden Gate  
Clarens, Vrystaat

A photo posted by Kado Cloete (@kado_kat) on


Moenie dink die Ribbok Staptoer is maklik omdat dit net 2 dae lank is nie. Alhoewel dit ’n moeiliker roete is, is dit uit-en-uit die moeite werd om die ongelooflike uitsigte oor die Vrystaat en Lesotho te aanskou.

Totale lengte: 29,1 km.

  • Dag 1: 16 km. Glen Reenen tot by Ribbok Hut.
  • Dag 2: 14 km. Terug na Glen Reenen Ruskamp, maar eers nadat jy Generaalskop uitgeklim het (’n ekstra 1000 m bo seespieël).

#PretFeit: Die Golden Gate Hooglande Nasionale Park het sy naam gekry as gevolg van die  sandsteenkranse wat helder en goud verkleur word deur die son ─ veral op die magiese Brandwagrots. Wanneer die son sak, word Generaalskop, die hoogste piek in die park, in ongelooflike skakerings van rooi, geel en pers gedoop.

Ons het ook ’n paar pragtige blyplekke in dié omgewing.

10. Walvisroete  
Bredasdorp, Wes-Kaap


Die Walvisroete is soortgelyk aan die Otter met dié dat groot dele langs die kuslyn gestap word. Maar dit is tog ’n heel unieke ervaring. Dié vyfdagroete kronkel deur die De Hoop Natuurreservaat digby Bredasdorp en is ’n fees vir enige natuurliefhebber.

Totale lengte: 54 km van Potberg tot by Koppie Alleen.

  • Dag 1: 14,7 km. Potberg tot by Cupidoskraal.
  • Dag 2: 14 km. Cupidoskraal tot by Noetsie.
  • Dag 3: 9 km. Noetsie tot by Hamerkop.
  • Dag 4: 11 km. Hamerkop tot by Vaalkrans.
  • Dag 5: 7 km. Vaalkrans tot by Koppie Alleen.

#PretFeit: Noorkapperwalvisse besoek die Suid-Afrikaanse kus tussen April en November elke jaar. As jy dié roete tydens die walvisseisoen aanpak is jou kans om dié groot reuse op die roete te sien uiters groot.

Lees gerus meer oor die roete of bespreek verblyf in die omgewing hier.

As jy moeg is vir die stad, is dit hoogtyd om jou wandelstok vas te vat, jou stapstewels af te stof en ’n staptoer te beplan. LekkeSlaap se lekke blyplekke sal sorg dat jou reis een vir die boeke is. Laat staan die rusbank vir ’n slag en raak ’n bietjie aktief in 2016!

Hoe om jou sak te pak:

©-ANkia-Wolf

Addisionele inligting van www.footprint.co.za en www.trailsforafrica.com.