Min lande het soveel stories om te vertel soos onse Suid-Afrika. En Suid-Afrikaners is mal daaroor om stories te vertel – die bewyse staan om elke kampvuur. Ons land is ‘n smeltkroes van kulture wat elk help weef het aan die unieke tapisserie stories wat ons vandag ken (en tientalle wat ons nog nie ken nie, of al lankal vergeet het). Ek het dit goed gedink om ‘n paar van Suid-Afrika se spookstories na te vors en neer te pen.

De Vliegende Hollander

Die Flying Dutchman spookstorie is veral deur die Pirates of the Caribbean film-trilogie bekend gemaak. Spookskepe van ander dele van die wêreld word dikwels ook die Flying Dutchman genoem, maar dié spookskip van Kaptein Hendrik van der Decken wat steeds die Kaap probeer omseil, is die ware Jakob.

Kaptein Hendrik van der Decken en sy bemanning was in 1641 so haastig om by die huis te kom, dat hulle nie omsigtig genoeg met die sterk wind en onheilspellende wolke omgegaan het nie. Dit was te laat om terug te draai, al het van der Decken se bemanning ook hóé gesmeek. Die Kaptein het geweier en het gesweer dat hy die Kaap van Goeie Hoop sal omseil, al moet hy tot die oordeelsdag toe probeer – en dis presies wat hulle steeds doen. Die Flying Dutchman is gedoem om tot in ewigheid op die see te vaar. Hul probeer nodeloos boodskappe aan ander skepe oorhandig vir hul families by die huis, maar as jy een van die briewe aanvaar, is jy verseker gedoem.

Van der Decken het misluk in sy poging om die Kaap te omseil, maar word tot vandag toe nog gesien deur ander skepe aan die Kaapse kus. Die bekendste besigtiging van die skip is in 1881 op die HMS Bacchante deur die man wat later Koning George V van Brittanje sou wees. In 1939 het ‘n groep mense duidelik gesien hoe die Flying Dutchman langs die kus by Muizenberg seil, en in 1959 het die skip Straat Majelhaen gesien hoe die spookskip vinnig op hulle afkom en toe weer skielik verdwyn.

Die Kasteel

Dis redelik vanselfsprekend dat die oudste gebou in Suid-Afrika wat nog steeds in gebruik is, die tuiste van ‘n paar spoke sal wees. Veral in ‘n fort soos dié waar honderde gevangenes oor die jare aangehou en gemartel is. ‘n Besoek aan die Donker Gat, waar gevangenes in donkerte en koue aangehou is, terwyl die branders woes teen die Kasteelmure breek, is genoeg om jou rillings te gee. Die Donker Gat sowel as ander selle en martelkamers in Die Kasteel kan tot vandag toe nog besoek word.

Die een spook wat al hier gesien is, is ‘n grys dame wat baie hartseer lyk. Sy is ook al in die Tuynhuys gesien, want daar is blykbaar ‘n geheime tonnel wat die twee geboue verbind. Daar is in die 1900’s ‘n vrou se geraamte naby die ou uitvalpoort van die Kasteel opgegrawe, en sedertdien is die dame se spook nog nie weer gesien nie.

Verder is daar ‘n groot, swart hond met bloedrooi oë wat in die gange van die Kasteel spook. Die bekendste spook in die Kasteel is dié van Goewerneur Pieter Gysbert van Noodt, ‘n wrede man wat bekend was vir sy mishandeling van die slawe en soldate. Hy het een aand skielik en onverwags in die Kasteel heengegaan in April 1729. Dalk het sy skuldige gewete gemaak dat hy nooit rus kon vind nie …

Die grusame verhaal van Jan Prinsloo se Kloof

Jan Prinsloo se Kloof is ‘n weggesteekte stuk aarde in die Gamtoosriviervallei in die Oos-Kaap. Hierdie klein kloof is meer as 10 km van die naaste pad af en kan slegs deur ‘n rowwe, gevaarlike bergpas bereik word. Die kloof is sedert die 1860’s onbewoon, maar die ruïnes van die groot plaashuis en perdestalle staan steeds as herinnering van die ysingwekkende gebeure wat hier plaasgevind het.

Die storie loop as volg … in September 1860 het ‘n jong Engelse setlaar met die naam Stephen Goodrick by die kloof aangekom. Hy het Van der Meulen se plaas aangeskaf teen ‘n spotgoedkoop prys en kon nie sy gelukslag glo nie. Van der Meulen het verduidelik dat hy ‘n plaas in die Transvaal aangebied is, maar binnekort sou die jong Engelsman regtig verstaan waarom dié pragtige plaas en sy vrugbare grond so goedkoop was.

Die plaas het oorspronklik aan ‘n man met die naam Jan Prinsloo behoort, hy het selfs die kloof na homself vernoem. Hy het bekend gestaan as ‘n wrede, gevoellose man. Hy het geen familie gehad nie, en sy enigste vriende was boewe wat van tyd tot tyd kom wegkruip het op die plaas. Prinsloo het sy plaaswerkers soos gemors behandel en dit sou uiteindelik tot sy ondergang lei … Hy het eendag teruggekeer na sy plaas toe, en verneem dat 2 van die vrouens wat by hom werk hul kinders geneem het om besoek af te lê aan ‘n siek familielid in ‘n nabygeleë dorpie. Prinsloo was so ontsteld dat hulle sonder sy toestemming gegaan het, dat hy hulle mans vasgebind het, en met ‘n sambok geslaan het tot hulle nie meer kon loop nie. Daarna het hy die mans se vrouens aan die bome in die binnehof vasgebind en hulle ook met ‘n sambok beetgekry. Toe die kinders begin huil het hy hulle geskiet sonder om te skroom.

Na hierdie wreedhede het Prinsloo, soos gewoonlik, troos in ‘n bottel brandewyn gevind. Deur die loop van die aand besef Jan Prinsloo die werf is heeltemal te stil; elke liewe een van sy slawe het die plaas verlaat en hulle het Prinsloo se perde ook saamgeneem. Prinsloo het toe besluit om ook die pad te vat, voordat die slawe terugkeer om wraak te neem, maar dit was te laat. Sewe slawekrygers het op hom toegesak en hom op só grusame wyse vermoor en onthoof dat ek dit eerder nie hier sal noem nie. 

Die absolute gewelddadigheid van daardie aand het die plaas ewig bygebly, en elke aand op die 15de Januarie speel die toneel weer af. Menige boer het sedertdien die plaas probeer bewoon, maar Godrick was die laaste een. Toe hy en sy gesin die herhaling van Prinsloo se gruweldood daardie aand aanskou, het hulle ook so gou as moontlik die plaas verlaat, en tot vandag toe nog is die plaas onbewoon en het die spoke nog nie rus gevind nie.

 Die Spook van Uniondale

Geen versameling spookstories sal volmaak wees sonder om hierdie bekende duimgooier se verhaal mee te deel nie. Net buite Uniondale op die Nasionale Pad is daar ‘n afdraai na Barendas. Jy sal sukkel om iemand te oortuig om hier ‘n ryloper op te tel – veral nie oor Paasfees nie! Dit is om en by hierdie tyd wat die spook van Uniondale, ‘n meisie met ‘n donker langbroek en hemp sal duimry. Sy het al by menige niksvermoedende motoris ingeklim, maar sy verdwyn altyd skielik en onverklaarbaar 17 km verder by die volgende afdraai na Barendas.

Ons vermoed die spook van Uniondale was ‘n jong verpleegster in Riversdale. Een stormagtige Paasnaweek was sy en haar verloofde op pad na Bloemfontein om vir haar ouers te kuier. By die eerste afdraai na Barendas het die meisie aan die slaap geraak, en by die tweede afdraai was hulle in ‘n aaklige ongeluk gewees wat op slag haar lewe geëis het. Dis waarskynlik die skielike oorgang van slaap na die dood wat maak dat sy nog steeds daar talm. Die meisie is nog altyd op pad huis toe na 2 Porterstraat, hoewel sy nooit sê in watter dorp nie …

Tokai Herehuis

Die Tokai Herehuis is in 1796 opgerig. Die huis is so vernoem na die wyne wat hier verbou is wat geproe het soos dié van Tokay in Hongarye. In die vroeë 1800’s is die herehuis besit deur meneer Hendrik Oswald Eksteen. Hendrik, en sy seun Frederik, was mal daaroor om mense te onthaal en Nuwejaar was veral ‘n groot gedoente by die Tokai Herehuis. Die wyn het gevloei! Frederick het by die gaste gespog oor watter goeie ruiter hy is, tot iemand hom uitgedaag het om dit te bewys deur sy perd by die styl trappe op in die huis in te ry. Die jong man was al te gretig en nie lank daarna het die gaste gehoor hoe hy die verskrikte perd by die trappe op ry en by die eetkamer inbars! Daar het hy sommer nog ‘n bottel wyn oopgemaak en selfs vir die perd ‘n sopie aangebied, maar die arme dier wou niks weet nie. Die vervaarde perd het by die huis uit gehardloop en saam met Frederick by die stoep afgespring die ewigheid in.

Tot vandag toe is Nuwejaar nie ‘n goeie tyd om by Tokai Herehuis te vertoef nie, mense hoor nog altyd die geluid van perdehoewe en daardie aand se geselligheid. Die enigste blywende bewys is die merk van ‘n perdehoef wat nog steeds op die eetkamervloer van die Herehuis sigbaar is.

Daar is nog honderde spookstories om van te kies, so hou jou oë oop vir ons volgende spookstorie-blog.

Wat is jou gunsteling spookstorie? Het jy dalk al ‘n spook gesien?