Die ideale stoep het genoeg sitplek vir ’n groot groep vriende of die hele familie, ’n asemrowende uitsig, gemaklike meubels, braaigeriewe om saans ’n vleisie oor die kole te gooi, en speelplek naby vir die kinders. LekkeSlaap het dié lysie in gedagte gehou en ’n paar gesellige kuierstoepe gaan uitsoek waar jy en jou kroos sommer behoorlik kan uitspan!

Abrahamskraal Guest Farm, Leeu-Gamka

Dié skaapplaas is sowat 18 km van die naaste dorp, Leeu-Gamka, af geleë. Dis nie moeilik om te sien waarom dié ou Karoo-plaashuis se stoep die lys gehaal het nie! Dié stoep strek reg rondom die huis, so of jy nou soggens op dié stoep met ’n koppie koffie sit en luister hoe die skape in die verte blêr, en of jy saans saam met vriende ’n Karoo-skaaptjoppie geniet – hier sal jy behoorlik kan kuier!

Kuierstoep-kenmerk: Die uitsig oor die Karoo-vlaktes, natuurlik!

At 85 on Church, Prince Albert

Dié bekoorlike plattelandse huis is lekker naby al die eetplekkies, winkels en kunsgalerye geleë. Bedags kan jy die dorpie gaan verken voor jy saans jou skoene op die stoep kom uitskop. Dis duidelik dat die stoep ’n fokuspunt in die huis is – al die kamers lei dan na die stoep! Stel jou net voor: Terwyl die kinders lekker swem, kan ma kruie uit die tuin pluk en pa solank die vuur aansteek.

Kuierstoep-kenmerk: Die feit dat elke kamer na die stoep lei.

Casablanca, Kommetjie

Casablanca is die perfekte kuierhuis vir ’n groot groep – of jy nou die familie saambring of net saam met jou vriende wil kuier. Die strandhuis is in ’n Marokkaanse styl versier en is stapafstand vanaf die gewilde branderplankry-strand in Kommetjie. Kom span uit op die gemaklike rusbanke of sit by die etenstafel op die stoep aan vir ete – as dit koeler raak, kan julle eenvoudig die stapeldeure toetrek en steeds die uitsig geniet!

Kuierstoep-kenmerk: Die stapeldeure laat jou toe om in die winter ook lekker te kuier.

Cecelia’s Holiday Manor, Zinkwazi Beach

Dié plek is die perfekte kombinasie tussen ’n plaashuis en ’n vakansiehuis by die see. Die kinders sal mal wees oor die oerwoudagtige tuin met meer as genoeg speelplek. Bedags kan julle die kort entjie na die strand aanpak of op die sondek ontspan en saans kan almal om die boma-braai kuier. Dis die ideale kuierhuis vir ’n familie!

Kuierstoep-kenmerk: Daar is sommer ’n paar stoepe om van te kies!

Glen Sunsets Villa, Kampsbaai

As jy lief is vir moderne meubels en dekor, is Glen Sunsets Villa se kuierstoep vir jou bedoel. Dié villa is stapafstand van Kampsbaai se strand af geleë, so jy kan na ’n lang dag van son, see en sand op die houtdek uitspan, die sout in die swembad afspoel, of as dit bietjie koeler is, in die Jacuzzi ontspan terwyl jy die uitsig oor die see bewonder.

Kuierstoep-kenmerk: Die Jacuzzi op die houtdek.

Kaaimanskloof House, Wildernis

Dié huis is ideaal vir ’n gesin wat gehaltetyd saam wil deurbring en op soek is na ’n plekkie waar hulle rustig vakansie kan hou. Die huis is in ’n privaat reservaat geleë, so jy kan maar seker wees die uitsig gaan asemrowend wees. Vanuit die leefarea loop jy uit op ’n houtdek wat reg rondom die huis strek. Die kleingoed kan lekker in die randvloeiswembad baljaar terwyl pa ’n paar tjoppies oor die kole gooi en ma in die sonnetjie bak.

Kuierstoep-kenmerk: Die stoep strek reg rondom die huis!

Moon River House, Pringlebaai

Hengelaars sal sommer baie in hul noppies wees met dié vakansiehuis aan die rivieroewer. ’n Mens kan so te sê op die stoep staan en lyn natmaak. Gooi die skuifdeure van dié houthuis behoorlik oop en dit sal voel asof die hele huis jou stoep is! En as jy steeds nie na genoeg aan die rivier is nie, kan jy afstap na die huis se privaat houtdek-jetty en daar sonbaai en visvang.

Kuierstoep-kenmerk: Dit is letterlik op die rivier!

De Bruine Huis, Marlothpark

Verbeel jou jy sit op die stoep en ’n sebra stap doodluiters daar verby. Dis glad nie ’n ongewone storie by De Bruine Huis nie ─ gaste vertel gereeld hoe die wild kom groet terwyl hulle in die plonspoel afkoel of om die braai kuier. Omdat dié bekoorlike boshuis in Marlothpark geleë is, loop die wild vrylik rond en aangesien die Krokodilrivier aan dié vakansiedorp grens, sal jy dalk selfs die olifante in die water sien baljaar.

Kuierstoep-kenmerk: Moenie skrik as die wild sommer by jou plonspoel kom suip nie.

Retreat on Cliff, Knysna

Met só ’n ligging op die kranse en tussen die fynbos is ’n ongeëwenaarde uitsig ’n gegewe! Dié luukse B&B het 3 kamers, maar as jy alleen wil wees kan jy ook die hele huis bespreek. Daar is braaigeriewe buite op die hoofstoep, so moenie die kans laat verbygaan om op die stoep aan te sit vir ete nie. As jy tydens die walvisseisoen hiér bespreek, sal jy waarskynlik ’n ongelooflike blik op dié majestueuse menere kry!

Kuierstoep-kenmerk: Dit is ongelooflik privaat en ideaal vir ’n romantiese kersligete.

Rocky Point, Rooiels

As die gedruis van die branders en die geroep van ’n rob of twee jou idee van hemel is, is Rocky Point nét die wegbreekplek vir jou. Dié huis het sy eie skiereiland waar walvisse, dolfyne en robbe gereeld gewaar word. Daar is gemaklike buitemeubels op die houtdek waar jy ’n salige middagslapie kan vat nadat jy heel oggend die rotspoele voor die huis verken het.

Kuierstoep-kenmerk: Die luukse dagbeddens op die houtdek is ideaal vir luilekker rondlê.

Lekkerklip, Leopard Rock Privaat Natuurreservaat

Die reservaat is ’n tuiste vir buffels, wildsbokke, kameelperde en ander kleinwild, so bring gerus jou fiets saam en verken die omgewing. Die selfsorghuis se L-vormige stoep sluit ’n swembad en braaigeriewe in. Jy en jou bosveld-vriende kan lekker met skemerkelkies in die hand op die luukse stoep uitspan en die aand behoorlike afskop soos die son oor die bosveld ondergaan.

Kuierstoep-kenmerk: Die stoep is perfek geleë om asemrowende sonsondergange oor die bosveld te bewonder.

Slip Slops, Kommetjie

Slip Slops is ’n heerlike vyfslaapkamer-kuierhuis in Kommetjie wat ideaal is vir ’n groep vriende wat van die buitelewe hou ─ met doendinge soos staproetes, branderplankry, swem en uitstekende kreefvang-geleenthede sal julle nooit verveeld wees nie. Die huis se groot dek is behoorlik uitgekiet vir ’n somervakansie en spog met buitemeubels, ’n sonsambreel, sonskerms en braaigeriewe – daar is selfs ’n kroeg op die stoep!

Kuierstoep-kenmerk: Die houtdek het sy eie kroegie.

The White House at Grotto Bay, Grottobaai

As jy rustig vakansie wil hou, ver van die alledaagse geroesemoes, kan jy gerus hier kom wegkruip. Dié wit huis skuil in ’n privaat reservaat in Grottobaai en spog met onbelemmerde uitsigte oor die see en reservaat. Die sitkamer lei soomloos na ’n enorme onderdakstoep met buitemeubels – dit lyk so gemaklik, ’n mens sou dink dis binnenshuis! Hiér kan jy nou lekker agteroor sit, braai, swem en die uitsig bewonder.

Kuierstoep-kenmerk: Die groot onderdakstoep is so te sê nog ’n sitkamer in die buitelug.

Kolobe Lodge, Bela-Bela

Dis nou die ideale vakansiehuis vir wildliefhebbers! Die huis skuil in die Mabalingwe Wildreservaat en is baie afgeleë. Van die houtdek af kyk jy oor die vallei en heuwels tot in die verte, en daar is ook ’n swembad, ingeboude braai en boma op die dek. Steek jou vuurtjie aan en spits jou ore vir die leeu se gebrul in die verte.

Kuierstoep-kenmerk: Die kans is goed dat jy sommer van jou stoep af wild raaksien.

Volstruis-Paleis, Ladismith

As jy nog altyd soos ’n dame namiddag-teetyd op ’n Victoriaanse huis se stoep wou geniet het, is dít nou jou kans! Volstruis-Paleis in Ladismith se prentjiemooi stoep lyk soos iets uit ’n film. Buiten vir teetyd is dit ook perfek vir wakker word met ’n koppie koffie in die hand, of sommer om net jou skoene uit te skop en met ’n goeie boek te ontspan.

Kuierstoep-kenmerk: Die Victoriaanse stoep lyk eenvoudig soos iets uit ’n film.

Pringle Bay Villa, Pringlebaai

Dié luukse villa is teenaan Pringlebaai se lang, wit strand geleë en op ’n mooi helder dag sal jy dalk net vir Tafelberg in die verte raaksien. Op die onderdakstoep kyk jy oor ’n inheemse tuin en ’n natuurlike poeletjie in die see uit. Wanneer jy klaar geswem is, kan jy in die randvloeiswembad, die buitebad of die buitstort die sout afspoel en daarna heerlik op die stoep kuier, braai en die uitsigte geniet.

Kuierstoep-kenmerk: Dit sal voel asof julle sommer op die see kuier.

Of jy nou op soek is na ’n gesellige kuierstoep vir jou en jou vriende, ’n stoep waar jy snoesig met jou boek kan opkrul, ’n stoep waar jy ’n glasie kan klink op die mooi uitsig, of ’n stoep by die see met ’n hele rits doendinge in die omgewing – een ding is seker, uit dié lysie sal jy beslis ’n lekker kuierstoep kry wat ideaal is vir jou volgende wegbreek!

Hooffoto: Casablanca (LekkeSlaap)