Min dinge is so mooi soos ’n Karoo-sonsondergang of -vlakte en Coenie de Villiers en Deon Meyer bekoor OPTOG!-gehore reg oor Suid-Afrika met pragtige musiek en stories oor die Karoo! Dié twee manne het elkeen ’n sagte plekkie vir die Karoo, en ek kan nie aan iets beter dink as om hulle unieke uitbeeldings van dié onopgesmukte landskap in Karoo Suite te aanskou nie.

Leer Coenie eers ’n bietjie beter ken deur ons handjievol vrae, terwyl jy jou verbeel jy sit op ’n klipstapel op ’n koppie in die droë Karoo en kyk hoe ’n warrelwindjie oor ’n stofpad in die verte draai.  

LS: Jy maak in die unieke produksie, Karoo Suite, musiek saam met Deon Meyer wat voorlees uit tekste wat hy oor die Karoo geskryf het. Wat staan vir jou uit oor die Karoo en wat is jou gunsteling-Karoodorp?

CdV: Ek dink die Karoo se eerlikheid. Dis onopgesmuk ─ dit wat jy sien is wat jy kry. Maar soos ’n effe onaantreklike vrou met ’n fantastiese persoonlikheid, wys sy skugter haar beste eienskappe as jy dit die minste verwag: Kyk maar na ’n Karoo-sonsondergang of die naghemel in die Karoo. Elke plekkie in die Karoo is spesiaal, maar Loxton is ekstra spesiaal en dan natuurlik Oudtshoorn in die Klein-Karoo, waar ons ’n kliphuisie het.

LS: Gepraat van Deon Meyer, watter boek lees jy op die oomblik?

CdV: Lessons for the 21st Century deur Yuval Noah Harari. Genade, die man laat ’n mens anders na dinge kyk!

LS: Die treffer, Wonder bo Wonder, wat jy saam met Die Heuwels Fantasties geskryf en gesing het was uiters suksesvol, net soos soveel ander van jou collaborations. Is daar nog opwindende collaborations in die pyplyn?

CdV: Ek dink die grote is Karoo Suite 2 waaraan ek en Deon Meyer tans werk. Ons hoop dit sal aan die begin van 2020 gereed wees, en het nogals ’n verrassing vir gehore in die mou! Ek en André Schwartz gaan ook ’n intieme tweemanvertoning doen met die naam Grensloos. Ons dreig al lank om dit te doen, maar ’n mens moet dit takel terwyl jou gesondheid hou…

LS: Jy tree gereeld in teaters reg oor Suid-Afrika op ─ op watter dorp is jou gunsteling-teater?

CdV: Dis moeilik om te kies want elke teater het iets wat hom spesiaal maak. In Gauteng sou ek meen die Atterbury Teater is my musiek-tuiste, en ek het in die Kaap nou maar eenmaal ’n sagte plekkie vir die Oude Libertas in die middel van die mooiste wingerde…

LS: Suid-Afrika het 17 jaar lank vasgenael voor die kassie gesit toe jy Kwêla op kykNET aangebied het. Wat is die grootste flater wat jy voor die kamera begaan het wat kykers nooit gesien het nie?

CdV: ’n Mens praat nooit uit nie, maar dit het te make met ’n man se ritssluiter wat nie so lekker wou saamspeel nie!

LS: Jy het tot dusver ’n merkwaardige loopbaan gehad waarin jy baie bereik het. Wat is daardie een ding wat jy nog graag wil bereik of ervaar?

CdV: Ek hoop maar net ek kan nog skep vir solank daar gehore is om te luister. En dan, as ek laaaaaank op ’n eiland kan gaan sit, sal ek moontlik my hand aan daai ontwykende roman waag.

LS: Wat is jou gunsteling-wegbreekplek saam met jou gesin in Suid-Afrika?

CdV: Ons plekkie in Oudtshoorn, op die rand van die Groot-Karoo en ’n klipgooi van die see af.

LS: Het jy ’n spesifieke plek waar jy sit en musiek skryf? As jy het, waar is dit?

CdV: Ek sal dikwels gewoon sit en werkskaf met liriek in ’n koffiewinkel as die geleentheid hom voordoen, maar ek skep die musiek in die middel van die nag ─ ek vermoed tot die frustrasie van my gesin en my bure!

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …

CdV: Op ’n Sondagoggend wakker te word en net so in jou pajamas koffie en croissants in die kombuis te gaan haal.

LS: Jou nuutste album, Pure Coenie, vind aanklank by ’n groot verskeidenheid Suid-Afrikaners ─ wat is jou wens vir Suid-Afrika?

CdV: Ek hoop ons kan hierdie skip so bestuur dat ons korrupsie hokslaan, en dat alle landsgenote hulle veilige en regmatige deel van die koek kan kry. Dit bly ’n wonderlike land met wonderlike mense…

Nou is dit tyd om self die mooie Karoo te verken! Kies koers na Loxton, Prins Albert of sommer Willowmore en gaan kyk wat maak dié dorpies só spesiaal.

 

Hierdie week se program

Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe | 8 Mei | Kimberley | Bespreek hiér | Bly hiér
Elvis Blue | 9 Mei | Polokwane | Bespreek hiér | Bly hiér
Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe | 9 Mei | Upington | Bespreek hiér | Bly hiér
Elvis Blue | 11 Mei | Kemptonpark | Bespreek hiér | Bly hiér

Volgende week se program

Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe | 14 Mei | Sasolburg | Bespreek hiér | Bly hiér
Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe | 15 Mei | Kroonstad | Bespreek hiér | Bly hiér
Pietman Geldenhuys en Wicus van der Merwe | 16 Mei | Welkom | Bespreek hiér | Bly hiér
Sandra Prinsloo | 16 Mei | Oos-Londen | Bespreek hiér | Bly hiér
Elvis Blue | 17 Mei | Pretoria | Bespreek hiér | Bly hiér
Sandra Prinsloo | 17 Mei | Port Elizabeth | Bly hiér
Sandra Prinsloo | 18 Mei | George | Bespreek hiér | Bly hiér

Moenie volgende week se unieke onderhoud met Pietman Geldenhuys in ons volgende OPTOG!-blog misloop nie!

Hooffoto: Verskaf