Wynproe en bierproe is altyd pret, maar ons land bied soveel ander unieke proe-ervarings waarvan baie van ons nie eers weet nie! Wie sê jy moet in die Wynlande kuier of naby ʼn brouery bly? Ons wys jou waar jy interessante dinge te proe kan kry!

1. Whisky-proe by Wild about Whisky in Dullstroom:

Wild about Whisky in Dullstroom spog met die grootste verskeidenheid whiskey in die Suidelike Halfrond! Hulle fokus veral op Skotse enkelmout-whisky en versnitte, maar verkoop ook Ierse, Japanese, Amerikaanse, Indiese, Australiese, Walliese, Belgiese, Kanadese en Suid-Afrikaanse whiskeys.

Met soveel verskillende whiskeys onder een dak is dit nie verbasend dat hulle meer as 30 verskillende proe-sessies bied nie! Daar is iets vir almal ‒ van whiskey-leke wat nie kans sien vir kliphardehout nie, tot 30 jaar oue whiskey waaroor fynproewers gaande sal wees. Elke sessie duur tussen 60-90 minute en pryse wissel van R160 tot R1800, afhangend van die kombinasie wat jy kies.

Tel. 013 254 0066 | www.wildaboutwhisky.co.za | Facebook | Twitter@WildAboutWhisky | Adres: Auldstone House, 506 Naledi Drive, Dullstroom

2. Kaasproe by Fairview in die Paarl:

Fairview in die Paarl is baie meer as net ʼn wynplaas. Hulle produseer ook meer as 20 verskillende kase en kaasprodukte van koei- en bokmelk wat bloukaas, fetakaas en roomkaas insluit. Die stylvolle proelokaal bied 3 verskillende kaasproe-sessies:

  • Formele proe-sessie in die Beryl Back-proelokaal: R75 per persoon vir 8 wyne, kase en olyfolies
  • Standaard: R30 per persoon vir 6 wyne en kase
  • Slegs kaasproe: R15 per persoon vir 6 kase

Ná die proe-sessie kan jy al jou gunsteling-kase by die deli langs die proelokaal koop. Die deli verkoop ook allerhande lekkernye, soos varsgebakte brode, heerlike souse, kruidery, ingelegde bederfies en kakao-botter vir diegene wat nie kaasliefhebbers is nie.

As die kaasproe jou eetlus aangewakker het, stel ons voor jy en jou gesin gaan maak ’n draai by The Goatshed Restaurant. Maak ook seker jy neem ʼn foto van die bekende “Goat Tower” buite die restaurant waar ʼn paar van Fairview se bokke hulself tuisgemaak het!

Tel. 021 863 2591 | E-pos: tasting@fairview.co.za | www.fairview.co.za | Facebook | Twitter@FairviewWine | Adres: Suid-Agter Paarl Pad, Suider-Paarl 

3. Sjokoladeproe by Cocoá Fair in Kaapstad:

Cocoá Fair in Kaapstad is enige sjokoholis se droom! Hier kan jy leer hoe sjokolade van rou kakao-bone vervaardig word en, natuurlik, die heerlike resultate proe. Die sjokoladetoer sluit ʼn hele paar doendinge in:

  • ʼn Toer deur die fabriek waar jy leer hoe die smaak van geroosterde bone uit verskillende lande verskil
  • ʼn Proesessie om te onderskei tussen sjokolades met ʼn kakao-inhoud van 56%, 71%, 85% en 95%
  • ʼn Lipleklekker afsluiting waar jy warmsjokolade, die beste sjokoladeroomys in die wêreld, of ʼn kombinasie van die twee kan proe

Dié toere word Saterdae tussen 10:00 en 14:00 teen R50 per persoon aangebied en duur sowat 40 minute. Hulle bied ook twee kursusse vir sjokoladeliefhebbers aan wat self die kuns van sjokolade maak wil bemeester!

Tel. 021 447 7355 | E-pos: admin@cocoafair.com | www.cocoafair.com | Facebook | Twitter@cocoafair | Adres: 373-375 Albert-weg, Woodstock

4. Jenewer-proe by Inverroche in Stilbaai:

Inverroche is ʼn distilleerdery net buite Stilbaai wat jenewer van Kaapse fynbos maak. Boegoe, salie, suikerbossie, rooibos, aalwyn, en tradisionele botaniese bestanddele, soos bessies en kruie, word vernuftig gemeng en gedistilleer om hemelse jenewer te produseer.

Kies tussen die volgende twee proe-ervarings en beleef hoe Inverroche jenewer tot ʼn fyn kuns ontwikkel het:

  • ʼn Toer deur die distillery en ʼn proe-sessie teen R50 per persoon (60 minute).
  • Net ʼn proe-sessie teen R30 per persoon (30 minute).

Dié proe-sessies is van Maandag tot Sondag van 10:00 tot 15:00 beskikbaar, maar moet vooraf gereël word. Bespreek sommer lekker vroeg!

Tel. 028 754 2442 | E-pos: distillery@inverroche.co.za | www.inverroche.co.za | Facebook | Twitter@Inverroche | Adres: Laurenskirk Landgoed, Ou Riversdalpad, Stilbaai

5. Heuningproe by Bee & Kie in Kleinmond:

Te danke aan die Overberg se walvisse, wyn en unieke dorpies was dit nog altyd ’n gewilde bestemming, maar het jy geweet jy kan nou selfs heuning proe in dié streek? Bee & Kie in Kleinmond verkoop 100% rou heuning van bloekom, fynbos en veldblomme.

ʼn Proe-sessie van meer as 11 tipes heuning is gratis beskikbaar van Maandag tot Vrydag (09:00 tot 17:00), Saterdag (10:00 tot 16:00) en Sondag (10:00 tot 15:00).

Dis ʼn heerlike uitstappie as jy in die omgewing vakansie hou, of selfs as jy net deur die dorp ry. As jy nie lief is vir rou heuning nie, kan jy ook in die winkel rondsnuffel vir handgemaakte geskenke, organiese tee, lekkers, kerse en nog baie ander produkte wat alles van die heuning self gemaak word.

Tel. 0282714334 | E-pos: info@beeandkie.co.za | Facebook | Adres: Hawestraat 4, Kleinmond

6. Mampoer-proe in Groot Marico:

Groot-Marico is ʼn klein dorpie met ʼn groot naam wat bekend staan as ʼn gewilde mampoer-mekka. Die inligtingsburo in Groot-Marico bied ʼn paar verskillende toere waarop besoekers kan gaan om die storie agter dié dorp se mampoergeskiedenis te leer ken en self hul lippe aan ʼn glasie vuurwater te waag. Jy kan tussen 3 toere kies:

Voldag-mampoertoer (10:00 tot 17:00):

  • ʼn Glasie heuning-mampoerlikeur
  • ʼn Besoek aan die kunsfabriek
  • Koffie, tee en verversings
  • ʼn Natuuruitstappie langs die Marico-rivier saam met ʼn gids
  • ʼn Tradisionele plaasmiddagete met Herman Charles Bosman se storie oor die Marico wat in die agtergrond speel
  • ʼn Besoek aan die Oog van die Marico-rivier
  • Tradisionele melktert en gemmerbier by Ouma se Kombuis (op ʼn ou Marico-plaas)
  • ʼn Toer na een of twee mampoerplase waar jy die distilleerproses kan aanskou en na hartelus mampoer kan proe

Halfdag-mampoertoer (10:00 tot 14:00): Dit is basies dieselfde as die voldagtoer, maar die besoek aan die Oog en Ouma se Kombuis is nie ingesluit nie. ʼn Begeleide besoek aan die Herman Charles Bosman Living Museum, ʼn storielees-sessie en roosterkoeke op die vuur is wel ingesluit.

Kort toer wat die volgende insluit: ʼn Besoek aan ʼn mampoerplaas, middagete by ʼn ou plaas, verversings en heuningmampoer-proe-sessie by die inligtingsburo. Jy kan besluit of dit ʼn begeleide toer na die Herman Charles Bosman Living Museum, ʼn storielees-sessie en roosterkoeke op die vuur moet insluit.

South African Tourism Groot Marico, North West, South Africa Flickr

Kontak gerus Groot-Marico se inligtingsburo vir die nuutste tariewe en spesiale tariewe vir groot groepe. Hulle kan selfs vir jou ʼn unieke toer volgens jou voorkeure reël!

Tel. 083 2722 958 | E-pos: info@marico.co.za | www.marico.co.za | Adres: Groot Marico

7. Koffieproe op die Sabie Valley Coffee Tour in die Sabie-vallei:

Is jy ʼn koffieliefhebber op pad na die Krugerwildtuin? Saal gerus af by Sabie Valley Coffee net buite Hazyview. Die aroma van varsgemaalde koffie omhels jou sodra jy die gebou binnetree soos die koffiemeule stadig maar seker ʼn verskeidenheid koffiebone maal.

Op die koffietoer sal jy meer leer oor dié proses, die koffiebome besoek, kyk hoe die eienaars, Tim en Kim, vars bone rooster, en dan self van dié verskillende koffiesoorte proe. Die kersie op die koek is om jou middag af te sluit met ʼn quiche, burger, slaai, of broodjie en dan ʼn koppie koffie en ’n snytjie koek.

Geskeduleerde toere begin Woensdae om 14:00 en duur ongeveer 2 ure lank. Die toer sal jou R70 uit die sak jaag en sluit onder andere koffie en koek ook in. Hou darem nog ʼn paar minute oop en ʼn geldjie oor vir die winkel op die perseel, waar jy allerhande koffieprodukte en geskenke soos koffiedompelpotte en -lepels, melkskuimers, koffielekkernye, erdeware, glasware en skinkborde kan koop.

Tel. 013 737 8169 | E-pos: sales@sabievalleycoffee.com | www.sabievalleycoffee.com | Facebook | Adres: Op die R536, 10 km van Hazyview af

8. Olyfproe by Rhebokskraal Olyflandgoed en Villagers Plaasstal in McGregor:

Olywe val dalk nie in almal se smaak nie, maar as jy wel van hierdie godsgawe hou, is Rhebokskraal in McGregor ʼn móét. Die landgoed produseer ʼn groot verskeidenheid geurige olyfprodukte soos gedroogde en gerookte olywe, olyfblatjang, olyf-quiche, olyfsop en olyfsout met kruie.

Daar is drie leersame opsies om van te kies:

  • ʼn Toer op die plaas, proe-sessie en ʼn platter by Villagers teen R250 per persoon vir ʼn minimum van 2 mense (bespreking is noodsaaklik).
  • ʼn Toer, interaktiewe kook- en proe-sessie op die plaas kos R350 per persoon vir ʼn minimum van 4 mense (bespreking is noodsaaklik).
  • ʼn Toer op die plaas, proe-sessie en driegangete onder die akkerboom is R450 per persoon vir ʼn minimum van 4 mense (bespreking is noodsaaklik).

Die proe-sessies en toere is van Maandae tot Sondae tussen 08:00 en 17:00 beskikbaar en elke toer sluit gehoute rooidruiwesap as deel van die ete in. Rhebokskraal is ideaal vir ʼn gesinsuitstappie in die Robertson-wynvallei en die plaas bied nog heelwat ander doendinge om die jongspan ook besig te hou.

Tel. 0828960429 of 0236251739 | E-pos: info@rhebokskraalolives.co.za | www.rhebokskraalolives.co.za | Facebook | Adres: Villagers Plaasstal: Voortrekkerstraat, McGregor. Rhebokskraal Olyflandgoed: Buitekantstraat. Volg die grondpad tot by die landgoed se hek.

9. Brandewynproe by Bezalel Wine and Brandy Estate naby Upington: 

Ons land het ʼn paar uitstekende bestemmings vir brandewynproe, soos Van Rhyn’s in Stellenbosch en Klipdrift in Robertson, maar ons het dit goed gedink om die kollig te werp op dié juweel van ʼn plek. Bezalel Wine and Brandy Estate buite Upington produseer wyn, enkelvatbrandewyn, mampoer en hemelse likeur, soos sjokolade-, koffie- en dadellikeur met ’n tikkie brandewyn.

Gaste kan kies tussen die volgende doendinge:

  • ʼn Gratis begeleide toer op die plaas waartydens gaste meer leer oor die distilleerproses
  • ʼn Proe-sessie van die beste brandewyn, port, rooiwyne, mampoer en likeur teen R15 per persoon

Kom kuier gerus by Bezalel in die hartjie van die Kalahari vir ʼn proe-ervaring met skop! Gaste is welkom om ʼn draai te maak van Maandag tot Vrydag van 8:30 tot 17:00 en Saterdae tot 13:00. Maak seker jy bespreek as julle 10 of meer mense is.

Tel. 054 491 1325 | E-pos: info@bezalel.co.za | www.bezalel.co.za | Facebook | Adres: Plot 10, N14, Dyasonsklip-vestiging naby Upington

10. Kersieproe by Ionia Kersieplaas naby Ficksburg:

Ficksburg is bekend vir sy Kersiefees en as die kersiehoofstad van Suid-Afrika. Ons kan nie aan ʼn beter manier dink om dié dorp te verkenas ʼn kersietoer op die Ionia Kersieplaas nie. Dié plaas het meer as 15 000 kersiebome wat 13 rooi en 4 geel kersievariëteite produseer.

Op dié toer kan jy jou eie kersies pluk, tussen die boorde rondstap en selfs kersielikeur proe. Kersietoere kos R150 per persoon en besoekers is welkom om van Maandag tot Vrydag (08:00 tot 17:00) en Saterdag (08:00 tot 15:00) in te loer. Let asseblief daarop dat kersieplukseisoen in die tweede week van Oktober begin en einde November eindig.

Tel. 072 585 3684 | E-pos: ioniacherryfarm@gmail.com | Facebook | Adres: Op die R26 tussen Ficksburg en Fouriesburg.

10547465_1391345994447570_4297215086844615042_n-horz

Laat weet gerus in die kommentaar hieronder as jy van nog lekke proeplekke weet en deel jou proe-foto’s met ons op Twitter of Instagram.

Pryse was korrek ten tyde van die publikasie van dié blog.

Hooffoto:

Links bo: Bee and Kie (Facebook-blad)

Links onder: Ionia Cherry Farm (Facebook-blad)

Middel onder: cocoafair (Instagram)

Regs bo: Kathryn Rossiter (Becoming You)

Regs onder: Bezalel Wine and Brandy Estate (Facebook-blad)