Die Rooibosroete is ’n unieke toevoeging tot die bekende N7 wat mense al dekades lank ry op soek na Namakwaland se daisies, kosmos en die soetste sitrusvrugte in Suid-Afrika.

Die roete is ’n verering van die Aspalathus linearis-plant, of sommer net Rooibos soos ons dit ken. Dié plant word verwerk tot daardie bekende oranjerooi tee met so ’n lekker Fynbos smaak — dis so eg Suid-Afrikaans soos biltong en braaivleis en kom boonop net hier voor!

Rooibos deur David Pritchard (Flickr)

Dié roete is ideaal vir Rooibosliefhebbers en is ’n sirkelroete met Clanwilliam as die spilpunt. Dit beteken dat jy noord, suid, oos of wes kan ry en oral ewe lekker Rooibosprodukte sal aantref. LekkeSlaap het besluit om die Rooibosroete van suid na noord te takel, en dus is ons wegspringpunt vandag Citrusdal!

CITRUSDAL

Al het Citrusdal sy naam te danke aan die soet sitrusvrugte waarvoor Suid-Afrikaners so lief is, het tee-entoesiaste ’n ander, ewe oranje, rede om dié plekkie te besoek. Die Carmién-teefabriek, wat net duskant Citrusdal op ’n Rooibosplaas langs die N7 geleë is, is die perfekte wegspringplek vir jou unieke Rooibos-ervaring! Dié oulike tee-mekka bied ’n plaastoer waartydens jy deur die hele Rooibosproses geneem word — van saadjie tot ’n heerlike koppie tee. Julie is plantseisoen en dis daarom ’n goeie idee om sommer nou al jou toer te begin beplan. So, kliek gerus hier om jou eerste stilhouplek te bespreek!

Rooibos-plantasie | Foto: rooibos-route.co.za

As die toer verby is en die buitelug bietjie koeler raak, kan jy na binne keer waar jy ’n heerlike tee-, kos- en wynparing kan geniet voor jy jou beursie leegmaak in die winkeltjie wat allerlei Rooibosprodukte verkoop — alles waaraan jy kan dink, van doodgewone Rooibos, gegeurde Rooibosteesakkies in grootmaat tot tee-bybehore soos teepotjies en die oulikste blikkies en houers.

Verskillende tipes Rooibos | Foto: Pieter Wolhüter

As jy nou genoeg opwinding vir een dag gehad het, kan jy jou gaan tuismaak by Aan d’Oewer B&B in Citrusdal waar jy met ’n koppie Rooibostee verwelkom sal word en die volgende oggend weer afgesien sal word met die beste wat Citrusdal kan bied — vars lemoensap en Rooibostee-muffins. Kliek hier om oornagverblyf by Aan d’Oewer B&B te bespreek waar jy ’n stewige ontbyt kan nuttig waarna jy weer die volgende Rooibos-aangedrewe dag kan aanpak.

Avonturiers moet hul 4×4’s se petroltenke al op Citrusdal volmaak, want net 24 km verder wag Marcuskraal — ons volgende Rooibosstop vir die hardebaarde. Hiér kan jy uitsien na ’n 4×4-roete wat deur bergfynbos, Rooibosplantasies en die ruwe Sederberge kronkel. Daar is makker paadjies ook, maar ’n paar van die roetes sal selfs gesoute 4×4-bestuurders se vernuf tot die uiterste beproef. Die roete loop tot reg bo-op Osberg waar asemrowende uitsigte op jou wag en op ’n helder dag kan jy selfs die Atlantiese Oseaan in die verte sien blink!

Road Trip, South Africa deur Floor (Flickr)

Die 4×4-roete neem ongeveer vier uur en as jy daarna moeg geskud is, kan jy die avontuur voortsit deur in Marcuskraal se kampeerterrein tent op te slaan en ’n vuurtjie aan te steek. As jy voel jy’t nou vir eers genoeg stof gesluk, kan jy tot by Skimmelberg Getaway ry wat net ’n klein entjie verder is. Skimmelberg se ou plaashuis is lieflik opgeknap, dateer uit 1880 en is op ’n Rooibos-, boegoe- en sitrusplaas tussen Citrusdal en Clanwilliam geleë. Dié huisie is vol karakter en jy sal heerlik in die natuur kan uitrus voor jy die Rooibostoer verder voer. Boonop bied Jannie en Ria Slabbert ook interessante plaastoere en proesessies van die organiese Rooibos- en boegoeprodukte wat hier verbou word. Vir meer inligting oor Skimmelberg se toere en produkte, kliek gerus hier.

Die plaastoere by Skimmelberg.

WUPPERTHAL

Wupperthal mag dalk soos die middel van nêrens voel, maar dié plekkie het ’n ryk geskiedenis en is die volgende stilhouplek op die Rooibosroete. Dié prentjiemooi dorpie is al ’n sendingstasie sedert 1965 en is vernoem na die Wupperrivier in Duitsland waar die dorpie se twee stigter-sendelinge, Theobald von Wurmb en Johan Gottlieb Leipoldt, vandaan kom. Leipoldt is ook toevallig die beroemde Afrikaanse digter C. Louis Leipoldt se oupa.

Buiten die sendingdorpie se interessante geskiedenis is Wupperthal ook ’n vooraanstaande Rooibos-bestemming. Hiér kan jy die Wupperthal Original Rooibos Cooperative besoek wat bestaan uit ’n groepie kleinskaal-boere wat deesdae Rooibos in die Sederberge se droë en rotsagtige grond plant. Dié grondtipe veroorsaak dat die plant stadiger groei en dat minder Rooibosopbrengs gelewer word, wat op die ou end beter gehalte tee verseker. Vandag word 98% van al ons Rooibos in plantasies gegroei, en dit is waarom Wupperthal se boerbedryf so spesiaal is.

Rooibos deur Het Theecamp (Flickr)

Na ’n besoek aan die Wupperthal Original Rooibos Cooperative kan jy gerus by Red Cedar op Wupperthal gaan aanklop. Red Cedar gebruik Rooibos om natuurlike gesondheidsvelprodukte te maak wat te koop is. Hul reeks sluit lyf- en gesigroom, badskuim, sjampoe en seep in. Rooibos is ’n natuurlike wonderproduk wat baie help vir velprobleme. 

CLANWILLIAM

Clanwilliam staan bekend as die hartjie van die Rooibosroete en daarom kan jy sommer ’n hele paar dae hier vertoef om alles wat dit bied te beleef. Hiér kan jy gerus by Ndedema Lodge aanklop waar hulle jou sal bederf met ’n goeie nagrus en ’n ontbyt wat bestaan uit tuisgebakte Rooibos-muffins en gestoofde droëvrugte met Rooibosstroop. As dit jou mond laat water, kliek dan hier om sommer nóú jou bespreking te maak!

Ndedema Lodge | Foto: LekkeSlaap

Begin jou dag se avontuur met ’n besoek aan Rooibos Ltd, ’n vervaardiger van Rooibosprodukte. Hulle het ’n fabriek en bied ’n oudio-visuele ervaring wat Rooibos se geskiedenis, vervaardiging, gesondheidsvoordele en veelsydigheid dek. Daarna kan jy die Old Gaol-museum besoek waar die Rooibos-industrie se geskiedenis uitgebeeld word, asook die masjinerie wat in die vroeë 1900’s gebruik is om dit te vervaardig.

As die geskiedenis ’n bietjie te veel raak, suiker oor na Salon Nicola om te sien hoe dié produk op ’n moderne manier gebruik word. Hier kan jy ’n lyfmassering en voet- en hand-behandeling geniet en net heeltemal ontspan terwyl hulle jou met Rooibosprodukte pamperlang!

Rooibos Teahouse | Foto: Pieter Wolhüter

Nou dat jy heeltemal ontspanne is, kan jy na nóg ’n Rooibosgevulde dag gerus by Rooibos Teahouse ’n draai gaan maak. Hier kan jy Rooibostee na hartelus proe, met meer as 100 verskillende soorte en geure, terwyl jy ’n soetigheidjie geniet en ’n paar geskenkies vir geliefdes in jou mandjie laai.

Sluit jou Clanwilliam-besoek af by A Red Teapot, ’n oulike selfsorgplekkie reg langs Rooibos Teahouse, en maak jou gereed vir die roete se volgende deel. Jy kan gerus hier kliek om verblyf by A Red Teapot te bespreek.

KLAWER

Sit die Rooibosroete voort met ’n 60 km-rit na Klawer waar die enigste stop op dié dorpie die wynkelder is — nuttig maar ’n stewige ontbyt in Clanwilliam! Klawer Wynkelders is bekend vir muskadel aangesien die warm en droë klimaat hier langs die Olifantsrivier vir ’n lekker hoë suikerinhoud en sterk kleure en geure sorg.

Klawer Hotel | Foto: LekkeSlaap

Klawer African Ruby is die wynkelder se beste muskadel en kan jy raai wat dié wyn so spesiaal maak? Dis natuurlik die Olifantsrivier se ander inheemse spesialiteit — Rooibos! Winter is dan nou juis die beste tyd om muskadel te geniet, opgekrul voor ’n kaggelvuur in een van Klawer se knus blyplekkies. Kliek hier om nou jou lêplekkie te bespreek!

VANRHYNSDORP

In Vanrhynsdorp kom ons Rooibosreis ongelukkig tot ’n einde — saal af by Letsatsi Lodge en sluit jou toer op ’n hoë noot af. Hier kan jy in weelde slaap en saans oor al die opwindende dinge wat jy op die Rooibosroete beleef het gesels, terwyl julle om die boma se vreugdevuur kuier. Voor jy weer koers kies huis toe, besoek hul restaurant, Red Ox, waar jy vir oulaas kan smul aan ’n verskeidenheid Rooibos-gegeurde disse. Bespreek sommer nóú hier!

Letsatsi Lodge | Foto: LekkeSlaap

Die Rooibosroete is lank en propvol interessante plekkies om te besoek en baie Rooibos om te proe. As jy by die huis kom en van jou Rooibosroete-inkopies in jou eie kombuis wil inspan, stel ons dié lekkerbek-melktertresep voor. Floris Smit, die executive-sjef van Bushmans Kloof Wilderness Reserve & Wellness Retreat kikker dié klassieke Suid-Afrikaanse nagereg met ’n Rooibos-kinkel op.

 

Nou toe nou, wie sou ooit kon raai dat ’n koppie tee só aanloklik kon raak? Kom kyk self waaroor gaan die bohaai, en maak gerus op die Rooibosroete ’n draai!

Hooffoto: “If you are cold, tea will warm you. If you are heated, it will cool you. If you are depressed, it will cheer you. If you are excited, it will calm you.” deur Gloria Garcia (Flickr)