Die Valentynsgevoel is tasbaar in die lug ─ die winkelrakke kreun al onder bosse bloedrooi rose, vonkelwyn, sjokoladebederfies en wollerige teddiebere. Daar word wyd en syd piekniekmandjies gereël en romantiese wegbreekplekke bespreek. As jou Valentynsdag vanjaar ’n Gautengse draai maak, het LekkeSlaap vyf voorstelle vir lekker doendinge om jou wederhelf mee te bederf. Loer gerus waar julle dié Valentynsdag kan rinkink sodat jou liefie se oë weer blink.

Cullinan se stoomtrein (links); ’n Bekoorlike koffieplekkie in Cullinan (regs bo); Die stasie (regs onder).

Neem jou geliefde op ’n nostalgiese stoomtreinrit na die bekoorlike diamantdorpie Cullinan. Die trein vertrek vroegoggend vanaf die Hermanstadstasie in Pretoria en besorg jou laatmiddag weer terug. Wandel in Cullinan se strate, snuffel in die antiekwinkels rond en geniet ’n koppie boeretroos by een van die oulike koffieplekkies op die dorp. Ná die treinrit kan jy by een van LekkeSlaap se tientalle blyplekke gaan uitspan. Kliek hieronder vir spoggerige blyplekke naby die Hermanstadstasie.

 Akanani Apartments | Monte De Dios | Duke & Duchess Boutique Hotel | 214 On Freesia

Pret en plesier in die Magaliesberge.

As jou kêrel die Bear Grylls-tipe is, kan jy gerus saam met hom op ’n boomtop-avontuur in die Magaliesberge gaan. Sit jou veiligheidshelm op, trek jou harnas styf en maak gereed vir ’n ervaring wat die adrenalien behoorlik sal laat pomp! Sluit dié onvergeetlike avontuur af met ’n heerlike nagrus by een van LekkeSlaap se lekker plekke in die Magaliesberg-omgewing.

De Hoek Country Hotel | Budmarsh Private Lodge | Steynshoop Valley Lodge

French Toast Koffie Kafee in Hartbeespoortdam.

Gaan smul gerus dié Valentynsdag aan Pain grillé à la banane, beurre d’arachides, oftewel Franse roosterbrood met piesang en grondboontjiebotter, by die French Toast Koffie Kafee in die oulike dorpie Hartbeespoort. Neem ’n paar kiekies by hul Eiffeltoring en kyk ’n romantiese fliek onder die sterre. Kies sommer vir ’n naweek koers uit die stadsgewoel en bespreek by een van dié blyplekke:

Stillwaters Waterfront Apartments | Thaba Khaya Lodge | Stornoway Lodge

Sweef tussen hemel en aarde in AirVentures se warmlugballonne.

Wat is nou meer romanties as ’n warmlugballonvaart? Teug aan vonkelwyn terwyl jy sorgeloos in die lug rondsweef en uitkyk oor die asemrowende Wieg van die Mensdom of Hartbeespoortdam. Dié vaart beloof om ál jou liefie se Valentynsdrome te bewaarheid. Daar is ’n paar blyplekke lekker naby die lanseerplek, so bespreek sommer gou!

The Warehouse | Milly’s Touch B&B Studio | Kloofzicht Lodge & Spa

Duncan Yard

Nooi jou geliefde om Duncan Yard, ’n boetiek-leefstylsentrum in die hartjie van Pretoria, se straatjies rooi te verf. Geniet ’n kersligete in die binnehof of reël ’n fotosessie sodat julle vanjaar se Valentynsdag vir ewig kan onthou. Pretoria het ook pragtige blyplekke te kies en te keur:

Celtis House | Osborne House | Vintage on Main

Daar het julle dit! Vyf doendinge wat jou liefie se hart warm sal laat klop. Maak gerus by dié plekke ’n draai en bespreek sommer ook vroegtydig jou Valentynswegbreek vir volgende jaar.

Hooffoto: “Hearts” deur Jessicahtam (Flickr)