Die beste verblyf in Johannesburg: Vir sakereisigers tot vakansiegangers
Dominique Fuchs, 27 Februarie 2026
Leestyd: 3 minute
Suid-Afrika se geliefde Jozi is vir die ryk geskiedenis en lewendige atmosfeer bekend. Ons het die perfekte verblyf vir jou volgende reis na Johannesburg, hetsy jy op soek is na ’n selfsorgwoonstel in Sandton of ’n troeteldiervriendelike wegbreek in Krugersdorp.
Hoekom Johannesburg?
Johannesburg is ’n besige stad waar alles vinnig gebeur, maar tog is daar ook rustige buurte propvol lowerryke bome. Daar is soveel geskiedenis om te verken – van museums tot begeleide toere van Soweto, asook ’n opwindende kuns-scene, ’n klomp koffiewinkels, markies en restaurante. Wil jy die winkels invaar in Sandton, ’n maaltyd by ’n dakkroeg geniet of liewer die Wieg van die Mensdom besoek? Johannesburg sal jou verbaas, want dit het werklik iets vir almal.
’n Pragtige uitsig: La Casa Blanca, Emmarentia

Hierdie B&B-verblyf spog met ’n pragtige uitsig oor Johannesburg en die omliggende area. Daar is vier slaapkamers, elk met ’n en suite-badkamer. Gaste kan in die welige tuin ontspan, ’n boek by die biblioteek kry of in die gemeenskaplike swembad afkoel.
Die beste vir sakereisigers: Reserved Suites Illovo, Sandton

Dié hotel is perfek vir ’n romantiese wegbreek of ’n sakereis. Gaste kan tussen verskeie luukse woonstelle kies en keur wat elk slaapplek aan twee gaste bied. Elke woonstel het ’n kombuisie of ’n volledig toegeruste kombuis, ’n Nespresso-masjien en onbeperkte WiFi. Die gebou bied ook ’n gimnasium, ’n randvloeiswembad met ’n ongelooflike uitsig oor die stad, ’n sauna en ’n joga-studio.
Troeteldiere en natuur: Windsong Living, Krugersdorp

Windsong Living in Krugersdorp het drie eenhede wat elk slaapplek aan twee tot vier gaste bied. Hierdie lodge is in die berg se voorheuwels geleë en elke eenheid spog met ’n Jacuzzi, braaigeriewe, ’n dek en ’n vuurput. Nóg ’n hoogtepunt is dat jou viervoetvriende ook welkom is en die eenhede heeltemal vir hulle veiligheid omhein is.
Gesinne en groepe: Lavender Villa, Kempton Park

Dié selfsorgeenheid in Kempton Park is op die boonste verdieping van ’n dubbelverdiepinghuis en is ideaal vir ’n gesin of ’n groep vriende. Dit bied slaapplek aan sewe gaste en beskik oor drie slaapkamers en twee badkamers. Gaste kan in die sitarea ontspan, saam in die goed toegeruste kombuis maaltye voorberei of ’n tjoppie op die kole gooi.
Verblyf vir ’n paartjie: Melville Estates 22, Melville

Melville Estates 22 is ’n knus selfsorgwoonstel in ’n kompleks wat slaapplek aan twee gaste bied. Gaste het ook toegang tot die kompleks se geriewe wat ’n braai-area, gemeenskaplike swembad en ’n gimnasium insluit. Boonop is die woonstel naby restaurante en kroeë geleë.
Golfspelers en sakereisigers: Nine Loch, Bryanston

Hierdie gastehuis in die hartjie van Bryanston is net ’n hanetreetjie vanaf die Bryanston-buiteklub. Dit is ideaal vir sake- of ontspanningsreisigers en spog met drie suites wat elk slaapplek aan twee gaste bied. Gaste kan maaltye in die gemeenskaplike kombuis voorberei of ontbyt, middagete en aandete teen ’n ekstra koste bestel. Daar is ook ’n swembad en tuin waar gaste lekker kan ontspan.
Naby die lughawe: Afrique Boutique Hotel OR Tambo, Beyerspark

Afrique Boutique Hotel OR Tambo spog met 24 kamers wat elk slaapplek aan twee gaste bied. Elke kamer het ’n privaat stoep wat deur ’n pragtige tuin omring word. Gaste kan in die swembad afkoel, by die braai-area kuier of in die restaurant op die perseel vir ete aansit. Die hotel is rolstoelvriendelik en bied ook konferensiegeriewe.
Is jy reg om Johannesburg te ervaar? Kyk gerus na al ons lekker verblyf in Johannesburg en bespreek jou wegbreek vandag!
Hooffoto: La Casa Blanca
Lees ook:
Troeteldiervriendelike verblyf in Gauteng
Topverblyf in Tshwane (Pretoria): Die beste opsies vir sakereisigers én vakansiegangers
Kies dié plekke vir jou volgende naweekwegbreek naby Gauteng








