Smag jy na ’n wegbreek om uit die stad se gedruis te ontsnap, maar jy wil nie jou viervoetkinders agterlaat nie? Met LekkeSlaap.co.za se handige troeteldiervriendelik-filter is daar geen rede waarom Wagter nie saam met jou kan reis nie! Ons het ’n paar voorstelle versamel waar jy, jou geliefdes en troeteldier lekker kan rus! So, rol af en kyk ’n bietjie watter blyplek jou oog vang.

49-on-Cherry Bed & Breakfast

Randburg

Bederf jouself en jou vierbeenvriend met luukse B&B-verblyf in Johannesburg. Ontspan in ruim suites met koninggrootte-beddens, privaat stoepe met lieflike tuin- en swembad-uitsigte en geniet ’n daaglikse ontbyt van vars bestanddele wat direk by jou suite afgelewer word. WiFi, ’n TV met DStv-kanale en Netflix verseker vermaak en daar is USB-koppelpunte vir ekstra gerief. Die perseel spog met pragtige Jakarandabome wat tot die bekoring bydra en jy is boonop net ’n entjie se ry vanaf Randpark-kampioenskapgholfbaan en Cresta-winkelsentrum.

Home Suite Hotels Rosebank

Johannesburg

Ontsnap na dié sjiek en moderne hotel in Johannesburg se opwindende Rosebank-distrik. Hierdie hotel sluit ontbyt in en is ideaal vir sakereisigers en vakansiegangers met troeteldiere. Elke kamer of woonstel bied en suite-slaapkamers met lugversorging en WiFi, die swembaddek bied ’n uitsig oor die bome en die hotel het ’n koffiewinkel met ’n seisoenale spyskaart. Die hotel spog ook met ’n Virgin Active-gimnasium op die perseel. 

Acacia Rock

Midrand

Acacia Rock is ’n bekoorlike selfsorgkothuis in die rustige Glen Austin-omgewing en bied ’n huislike atmosfeer wat ideaal is vir paartjies of alleenreisigers. Dit het ’n privaat balkon met ’n panoramiese uitsig, ’n gerieflike sit- en eetarea en ’n goed toegeruste kombuis waar jy maaltye van die vars produkte uit die tuin op die perseel kan voorberei. Kom ontspan by die rotsplonspoel of verken nabygeleë bestemmings soos die Mall of Africa en Gallagher Convention Centre. 

Die Wit Hangmat

Cullinan

Wie kan ooit nee sê vir ’n vinnige wegbreek net buite die stad? Die Wit Hangmat is perfek vir jou, jou geliefdes en, natuurlik, jou troeteldier! Ontsnap na ’n rustige bosveldparadys in die Leeuwkloofvallei wat jou alles bied om daardie welverdiende blaaskans te benut. Boonop maak dit van sonkrag gebruik, dus is beurtkrag nóg ’n bekommernis wat jy kan agterlaat. Kom ontspan in die Jacuzzi, steek die braaivleisvuur onder die lapa aan, reël ’n piekniek of verken die perseel se stap- en fietsroetes. Die area is besonders ryk aan voëllewe en ook verskeie kleinwildspesies, so gaste kan op die perseel rond stap, by die piekniekplekke in die veld stop,  of ’n bietjie verder na Dinokeng Wildreservaat vir ’n Groot Vyf-ervaring reis. 

Cheerful Farmhouse

Wieg van die Mensdom

’n Plaashuis in die hartjie van die Wieg van die Mensdom! Hierdie bekoorlike verblyf bied ’n troeteldiervriendelike toevlugsoord vir ses gaste en beskik oor ’n leef- en kuierarea met ’n kaggel, ’n volledig toegeruste kombuis en wasgoedgeriewe. Ontspan saam met jou vierbeenvriend op die stoep, sit in die Jacuzzi agteroor of benut die braaigeriewe en gooi ’n vleisie op die kole terwyl die omliggende bosgeluide jou ’n unieke ervaring beloof.

Dolphin Whisper Premier House

Cullinan

Roep al jou troeteldier-liefhebbers nader en bespreek ’n wegbreek by Dolphin Whisper Premier House! Hierdie pragtige erfenishuis in Cullinan het slaapplek vir agt en bied geriewe soos ’n kaggel in die sitkamer en toegang tot die swembad en spa-fasiliteite by die nabygeleë Dolphin Whisper Guest House & Spa – ’n ideale bederf vir jou, jou vriende en troeteldier! 

Dynasty Forest Sandown Accommodation

Sandton

Beskou jy jou en jou troeteldier meer as stylvolle stadsjapies? Dan is hierdie luukse hotel naby Sandton perfek! Die hotel is in ’n veilige kompleks geleë en spog met geriewe soos lugversorging, WiFi, ’n gimnasium en ’n swembad. Julle hoef ook nie oor beurtkrag te bekommer nie aangesien ’n kragopwekker jul verblyf vlot sal laat verloop. Verder kan julle die area propvol winkels en restaurante verken.

Its Anners

Cullinan

Is jy lus om ’n bietjie “iets anders” te probeer? Hierdie unieke gastehuis is ideaal vir natuurentoesiaste en hulle vierbeen-metgeselle! Dié kunstige gastehuis wat aan Dinokeng Wildreservaat grens, beskik oor ’n gesinskothuis wat slaapplek aan vier bied en die vyf gastekamers is na die vyf elemente vernoem. Die ruim perseel gee jou troeteldier kans om in ’n rustige bewarea rond te snuffel terwyl jy lekker in die 25 meter-swembad kan ontspan. Skop ’n opwindende dag met ’n heerlike ontbyt af, soek die Groot Vyf tydens ’n wildrit en sluit dit af deur aan ’n skemerkelkie op die stoep te teug. 

Golden Candle Guest House

Randburg

Golden Candle Guest House bied ’n verwelkomende omgewing vir troeteldiere en hul eienaars in Honeydew, Gauteng. Die perseel is omhein wat troeteldierveiligheid verseker en spog ook met ’n groot speelarea vir kinders. Dié plattelandse wegbreekplek bied ’n verskeidenheid en suite-gastekamers wat voorsiening vir oornag- en vakansiereisigers maak. Julle kan by die sprankelende swembad in die welige tuin ontspan of aan ’n heerlike ontbyt smul. Verder bied die gastehuis se gerieflike ligging maklike toegang tot nabygeleë besienswaardighede soos Eagle Canyon Gholflandgoed, die Wieg van die Mensdom en Lanseria Lughawe.

Brooklyn Self Catering

Pretoria

Wie sal nou dink dat ’n mens ’n ontspannende wegbreek in die hartjie van die stad kan geniet? Brooklyn Self Catering sal jou verkeerd bewys! Hierdie pragtige, middestadse juweel bied drie en suite-slaapkamers met slaapplek vir ses gaste. Daar is gerieflike geriewe soos lugversorging, ’n rugsteunkragstelsel, ’n toegeruste kombuis met selfs ’n Nespresso-masjien, asook Netflix, Showmax en gratis WiFi. Laat jou troeteldier die welige, omheinde tuin verken terwyl jy op die onderdakstoep braai.

The Elegant Lodge

Pretoria

The Elegant Lodge se Kaaps-Hollandse argitektuur laat gaste en hul troeteldiere nie net na ’n groen oase in die stad wegbreek nie, maar bied ook ’n unieke interieur waar elke kamer met kenmerkende kunswerke spog. Die kamers het elk slaapplek vir twee en is met lugversorging, WiFi en ’n TV toegerus. Die eetkamer het ’n bekoorlike uitsig oor die sierfonteintjie, maar gaste kan ook vra dat hul ontbyt in die kamer bedien word. Vir sakereisigers bied The Elegant Lodge konferensiegeriewe met moderne tegnologie wat ideaal vir vergaderings of spesiale geleenthede is.

Waarvoor wag jy? Deel solank die goeie nuus met Ore en pak daardie leiband in sodat álmal met jul volgende wegbreek saam herinneringe kan maak! 

Gebruik LekkeSlaap se troeteldiervriendelik-filter:

Indien julle nóg plekke soek, kan julle op ons webtuiste die volgende stappe volg:

  • Besoek die tuisblad;
  • Vul die area in wat jy wil besoek, gevolg deur jou in- en uitklokdatums en die aantal gaste;
  • Kliek op “Soek akkommodasie” om jou soektog te begin;
  • Sodra jy by die resultateblad is, rol aan die linkerkant van die skerm af om al die filters te sien, kliek op die troeteldiervriendelik-filter en voilà — al die troeteldiervriendelike blyplekke wat aan jou vereistes voldoen op een plek!

Hoofoto: Unsplash


Lees ook:

Wagter gaan Weskus toe: Troeteldiervriendelike Blyplekke

Kies dié plekke vir jou volgende naweekwegbreek naby Gauteng

Troeteldiervriendelike verblyf naby Johannesburg