Topverblyf in Gqeberha (Port Elizabeth): Jou gids tot die Vriendelike Stad
Bea Punt, 3 Maart 2026
Leestyd: 7 minute
Om die perfekte verblyf in Gqeberha (Port Elizabeth) te vind, is die eerste stap na ’n onvergeetlike Oos-Kaapse avontuur. Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), staan ook as die “Vriendelike Stad” bekend en is een van Suid-Afrika se mees veelsydige bestemmings – of jy nou na ’n sonnige gesinsvakansie, ’n luukser romantiese toevlugsoord of ’n gerieflike basis as enkelreisiger soek, hierdie kusdorp bied ’n leefstyl waar alles net ’n klein ent se ry van mekaar af is. In hierdie gids wys ons jou die topverblyf in Gqeberha (Port Elizabeth) met die beste woonbuurte vir jou spesifieke behoeftes.
Waarom Gqeberha (Port Elizabeth)?
Reisigers kies Gqeberha (Port Elizabeth) as gevolg van die balans tussen ’n rustige kuswegbreek en opwindende avontuur-aktiwiteite. Dit bied toegang tot die Tuinroete en die Sonskynkus en is die perfekte wegspringplek vir ’n Suid-Afrikaanse roetereis. Dit is een van die min plekke op aarde waar jy die “Groot Sewe” kan ervaar – bewonder die Groot Vyf op ’n oggendwildrit én wees op die uitkyk vir walvisse of haaie in die baai teen die middag. Gesinne is veral lief vir die rustige swemstrande en warm water, en sommige waardeer weer die stad se luukshede waar hulle kan rondloop sonder om hulle hande té diep in hulle sakke te steek!
Topdinge om in Gqeberha (Port Elizabeth) te doen
Oorweeg hierdie gewilde aktiwiteite in die omgewing en maak die beste gebruik van jou tyd hiér:
Addo-olifant Nasionale Park: Net 30 minute vanaf die dorp en die tuiste van meer as 600 olifante.
Boardwalk Waterfront: ’n Middelpunt vir uiteet, inkopies en gesinsvermaak in Somerstrand.
Sardinia Bay-strand: ’n Versteekte juweel met massiewe sandduine en kristalhelder water.
Roete 67: ’n Kunstige en historiese roete wat uit 67 openbare kunswerke bestaan wat Nelson Mandela se jarelange diens aan Suid-Afrika simboliseer.
SANCCOB Gqeberha (Port Elizabeth): ’n Seevoëlrehabilitasiesentrum waar jy brilpikkewyne van naderby kan sien.

Waar om in Gqeberha (Port Elizabeth) te bly
Somerstrand
As Gqeberha (Port Elizabeth) ’n hoofvenue gehad het, sou dit Somerstrand wees. Hierdie luukse, lewendige voorstad is ’n gewilde keuse omdat dit die tuiste van die stad se topstrande (Pollok, Hobie en Humewood) en die Boardwalk Casino is. Dit is waar die stad se goue kuslyn sy moderne leefstyl ontmoet – ’n ervaring wat moeilik is om te klop.
Beachwalk B&B

Vir diegene wat in die hartjie van al die doendinge wil wees, is Beachwalk B&B ’n top-4-ster-keuse. Dié B&B is slegs 60 meter vanaf gewilde strande en naby die Boardwalk Mall en Casino en is perfek vir reisigers wat privaatheid soek, aangesien elke kamer sy eie privaat ingang het wat na ’n welige tuin of die swembadarea lei. Dit sluit ook ontbyt in en bied ’n stil, veilige omgewing met WiFi, maklike toegang tot die lughawe en die Boardwalk Waterfront.
Wilmot Cottages

As jy die onafhanklikheid van selfsorgverblyf verkies, bied Wilmot Cottages ’n bekoorlike en huislike atmosfeer in ’n stil buurt van Somerstrand. Hierdie kothuise is troeteldiervriendelik en ’n uitstekende opsie vir gesinne of langtermynreisigers wat daarvan hou om hul eie maaltye voor te berei, maar steeds die opsie het om ontbyt (teen ’n ekstra koste) te bestel. Elke eenheid het ’n privaat ingang en braaigeriewe, en laat jou toe om ’n ontspanne aand in jou eie ruimte te geniet.
6 Selwyn Court

6 Selwyn Court bied ’n voorry-sitplek om die uitsig oor die Indiese Oseaan te bewonder. Dit is direk oorkant die ikoniese Hobie-strand en Shark Rock Pier geleë en ’n droom vir fotograwe, asook vir paartjies en enkelsakereisigers wat ’n veilige basis stapafstand van strandfrontrestaurante en die Boardwalk af soek. Die balkon se uitsig is beslis ’n wenner – die perfekte plek om jou eerste koppie koffie te geniet terwyl jy die sonsopkoms oor die baai dophou.
Walmer & Sardinia Bay
As jy jou beste voetjie by jou geliefde wil voorsit, is Walmer die perfekte plek vir gesofistikeerde boetiekverblyf. Verkies jy eerder meer privaatheid met bekoorlike piekniekplekke en perdritte op die strand? Bespreek dan by Sardinia Bay.
All Aboard Charlie’s Cabin

All Aboard Charlie’s Cabin sal jou laat voel asof jy iewers ver van die stad se gewoel wegkruip. Dié huisies word met ’n fynboslandskap naby die kuslyn omring en is perfek vir paartjies wat van die digitale wêreld wil ontsnap. Die dek laat jou toe om agteroor te sit en die getjirp van voëllewe en die gedruis van die see geniet. Dié unieke verblyf is een van vele op Chelsea Farm wat rustieke gerief teenoor meer tradisionele hotelverblyf bied.
The Stables on Sandpebbles Estate

The Stables on Sandpebbles Estate is die toonbeeld van rustigheid en bied ’n elegante toevlugsoord vir diegene wat die stadsgeraas vir die natuur se geluide wil verruil. Hierdie landgoed is op ’n plaas met organiese groentetonnels, eende en hoenders geleë en ’n topkeuse vir gaste wat daarvan hou om perd te ry of die gewilde duine te verken. The Stables is een van twee huise op die perseel en beskik oor twee slaapkamers, ’n braai-area op die stoep en toegang tot die swembad.
Weaver’s Nest

Weavers Nest is perfek vir paartjies of enkelreisigers wat op soek is na ’n stil plek om te herlaai. ’n Unieke kenmerk van hierdie eiendom is die onbelemmerde uitsig oor die welige fynbos-omgewing wat jy vanaf die privaat dek kan bewonder. Verder kan gaste die buite-area met ’n vuurput, ’n houtvuurwarmbad en ’n groot tuin ten volle benut.
Seaview
Hierdie area is ideaal vir diegene wat uit die stad se gewoel wil ontsnap sonder om ure lank op die pad deur te bring, want dit is slegs ongeveer 20 minute se ry vanaf die stadskern. Die area spog met ’n ruwe, rotsagtige kuslyn met getypoele en gaste sal die kleindorpie-atmosfeer met vriendelike plaaslike inwoners waardeer. Dit is ook een van die gewildste walviskykplekke in die Oos-Kaap! Probeer om ’n paar boggelrugwalvisse of suidelike noordkappers vanaf jou balkon te sien. Lees meer oor ons walviskykbestemmings hier.
Ocean Breeze

Dié moderne gastehuis beskik oor vier pragtig gemeubileerde suites wat elk met ’n ononderbroke see-uitsig vanaf ’n privaat balkon spog. Dit is ’n fantastiese opsie vir paartjies of enkelreisigers wat op soek is na ’n afgesonderde, rustige toevlugsoord. Die gastehuis spog met ’n swembad, sondek, gemeenskaplike vuurput en ’n braai-area, en elke suite sluit ’n en suite-badkamer en ’n selfsorgkombuisie in. Die see is basies op jou drumpel en daarom is hierdie opsie een van die beste plekke in die omgewing vir walvis- en dolfynkyk.
Sun Villa

’n Ruim dubbelverdieping-vakansiehuis met ’n see-uitsig en dus ’n absoluut ideale wegbreekplek vir groter gesinne of groepe vriende. Daar is slaapplek vir tien gaste en al vier slaapkamers spog met pragtige uitsigte oor die Indiese Oseaan. Die huis beskik oor ’n kombuis wat met ’n skottelgoedwasser en ’n wasmasjien toegerus is, ’n groot sitkamer met ’n kaggel en ’n TV met DStv. Die toppresteerder is egter die ingeboude braai wat na ’n groot dek met ’n swembad en ’n panoramiese see-uitsig lei – dís nou wat ons ’n een-uit-’n-miljoen-wegbreek noem.
Elizabeth House

Hierdie ruim, selfsorgvakansiehuis is ’n fantastiese opsie vir gesinne of groepe van agt gaste. ’n Mens kan vir dae sit en dié ononderbroke 180-grade-see-uitsig bewonder. Die huis spog met ’n binne- en buitebraai, asook ’n volledig toegeruste kombuis. Die rotsagtige kuslyn en getypoele is net ’n paar treë ver en daarom is hierdie wegbreek ideaal vir natuurliefhebbers en kinders wat daarvan hou om te verken.
Van sondeurdrenkte gesinsvakansies tot stiller toevlugsoorde, Gqeberha (Port Elizabeth) is gereed om jou met plaaslike bekoring en ope arms te verwelkom. Verseker jou perfekte verblyf deur jou volgende wegbreek hier te bespreek.
Hoofoto: Sun Villa
Lees ook:
Die beste verblyf in Johannesburg: Vir sakereisigers tot vakansiegangers
Bly hiér in Mosselbaai: Lekke verblyf vir alle reisigers
Topverblyf in Tshwane (Pretoria): Die beste opsies vir sakereisigers én vakansiegangers








