Kom maak jou boomhuis-droom uit jou kinderjare hiér waar! Net omdat ons nie meer kinders is nie, beteken nie ons wil ook soms net ’n bietjie tussen die boomtoppe gaan wegkruip nie. LekkeSlaap.co.za het ons gunsteling-boomhuisblyplekke reg oor die land bymekaargemaak en ’n lekke lys met die nodige inligting opgestel, sodat jy jou volgende wegbreek saam met jou wederhelfte of die hele gesin, een vir die boeke kan maak! 

Ballots Tree House, Wes-Kaap

Hierdie sprokiesboomhuis is tussen melkhoutbome teen die Ballots Bay-heuwel op die Tuinroete geleë. Ballots Bay is in ’n privaat natuurreservaat geleë en die afgesonderde ligging van dié boomhuis verseker ’n luilekker wegbreek vir natuurliefhebbers en ’n hele rits wild-, voël- en fynbosspesies om voor uit te kyk. Die ten volle toegeruste selfsorgboomhuis het slaapplek vir vier volwassenes en twee kinders, en spog met ’n groot dek wat ideaal is vir skemerkelkies met sononder én privaat toegang tot ’n ongerepte strand waar julle heerlik kan swem en visvang ─ en as die vis byt, kan julle dit sommer by die klipbraaiplek op die strand braai!

Let wel dat kinders van alle ouderdomme welkom is, maar die huis is nie kleutervriendelik nie.

Pezulu Tree House Game Lodge, Limpopo

Dié lodge is ’n klein, eksklusiewe boomhuis-wildplaas in die Guernsey Privaat Natuurreservaat en elke boomhuis is tussen die boomtoppe versteek om by die omgewing in te pas. Stewige houtpaadjies lei tot by die boomhuise en elkeen het  ’n groot balkon vanwaar jy die troppe diere wat onder wei, kan dophou. Ontbyt en aandete is by die tarief ingesluit en word in die eetarea by die hooflodge bedien.

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation, KwaZulu-Natal

’n Boomhuis so reg uit ons kinderdrome! Sycamore Avenue bied ses unieke en kunstig ontwerpte boomhuise op die Midlands Meander. Elke boomhuis het ’n en suite-badkamer met ’n spa-bad, en ’n paar van hulle het knus kaggels en privaat balkonne met uitsigte op die Drakensberge. Die boomhuise is nie vir selfsorg toegerus nie, maar ontbyt en aandete is ingesluit en word deur die inwonende sjef voorberei.

Misty Mountain Reserve, Oos-Kaap

Misty Mountain Reserve is 230 meter bo die ongerepte Tsitsikamma-kuslyn in ’n marine-reservaat op die Tuinroete geleë. Die Dome-eenheid vir twee gaste is ’n deursigtige borrel-eenheid wat deur die natuur omring word en met ’n ongelooflike uitsig oor die Indiese Oseaan spog. Daar is ook ’n yskassie, mikrogolfoond, tee- en koffiemaakgeriewe, battery-lanterns, kerse, WiFi, ’n eko-vriendelike verwarmer, én ’n wynvat-bad wat 40 jaar oud is!

Luara Wildlife, Limpopo

Luara Wildlife is op ’n prentjiemooi plaas in die buitewyke van Thabazimbi, naby Marakele Nasionale Park geleë. Die wildsplaas bied verblyf in drie eenhede, waarvan een ’n boomhuis vir twee volwassenes en twee kinders is. Die Meerkat Manor-boomhuis bestaan uit ’n oopplan-slaapkamer en ’n en suite-badkamer, en op die grond onder die boomhuis is daar ’n toegeruste kombuisie, ’n braai-area en ’n plonspoel.

Tree House, Kunene

Hierdie merkwaardige tentboomhuis in ons buurland is aan die westelike grens van die Etosha Nasionale Park in Namibië geleë. Daar is slegs slaapplek vir twee gaste wat op soek is na ’n rustige toevlugsoord in die bos. Hiér ontvang jy ’n radio om met die lodge-personeel te kommunikeer, ’n koelboks met verversings en aandete. Bespreek ook ’n nagwildrit teen ’n ekstra koste en maak dié wegbreek ekstra spesiaal!

Bushwa Game Lodge, Limpopo

Bushwa Game Lodge is ’n luukse wildlodge op ’n koppie met ’n uitstekende uitsig op die Waterberge. Die lodge se rustieke boomhuis-eenheid bied ’n uitsig oor ’n watergat en is ongeveer twee kilometer vanaf die hooflodge geleë. Die boomhuis het ’n koningingrootte-bed en ’n buite-badkamer. Ontspan op die privaat houtdek op die water of bespreek ’n begeleide boswandeling of wildrit saam met ’n ervare veldwagter. Al jou maaltye, wildritte en staptogte is ingesluit!

Bona Ntaba Tree House Lodge, Limpopo

Kry jou vriende en familie bymekaar vir ’n unieke wegbreek by Bona Ntaba Tree House Lodge naby Hoedspruit. Daar is vier selfsorgboomhuis-chalets op stelte wat apart of saam vir ’n groep bespreek kan word. Elke chalet het ’n en suite-badkamer, ’n privaat dek en toegang tot ’n sentrale lodge tussen die chalets, met ’n ten volle toegeruste kombuis, boma-braai en ’n plonspoel. Kom sit op die dek agteroor en kyk hoe die kameelperde en sebras deur die kamp wandel.

Vindoux Guest Farm & Spa, Wes-Kaap

Dié gasteplaas in die Tulbaghvallei is ’n vrugte- en wynplaas aan die voorheuwels van die Saronsberge. Bespreek een van die vier boomhuis-suites wat ideaal is vir ’n romantiese wegbreek of die selfsorg-boomlodge wat al die geriewe vir ’n gesinswegbreek bied. Jy kan ook ’n fiets op die perseel huur en die plaas verken, of ’n natuurlike fynbosbehandeling by die spa geniet. Maak gerus ook by die kombuis ’n draai ─ piekniekmandjies, tuisgemaakte lekkernye en plaaslike wyne word hiér verkoop.

Avoca River Cabins, Oos-Kaap

Avoca River Cabins is in die Sondagsriviervallei naby die Addo-olifantpark geleë. Die Tree Tops-selfsorgkothuis tussen die bloekombome is ideaal vir ’n gesin en het twee slaapkamers wat direk na die dek met braaigeriewe en ’n uitsig oor die plaas lei. Alhoewel dit ’n selfsorgeenheid is, kan maaltye op versoek voorsien word, én kano’s kan teen ’n ekstra koste gehuur word.

***

Wat wil ’n mens dan nou meer hê? Bespreek een van dié bekoorlike boomhuisblyplekke en maak jou volgende wegbreek een van jy nooit sal vergeet nie!

Hooffoto: Luara Wildlife (LekkeSlaap.co.za)