Droom jy van ’n luilekker vakansie op ’n tropiese eiland met kristalhelder, blou water en spierwit strande so ver as wat die oog kan sien? Wat van magiese staptoere deur ’n digte reënwoud iewers in Suid-Amerika? Óf ’n avontuur oor die duine van ’n woestyn? Maar net die gedagte van paspoorte, visums en die wisselkoers maak jou lendelam…

Daarom het LekkeSlaap ’n lys van eksotiese vakansiebestemmings in Suid-Afrika saamgestel! By hierdie lekker bestemmings kan jy jou vinnig-vinnig verbeel jy is elders oor die grens sónder die ongerief van internasionale reisplanne. Hiér kan jy in ons pragtige land die son langs ’n potblou see inneem, deur woude bekoor word en ’n woestynagtige avontuur hê!

Eiland-geïnspireerde bestemmings

Cape Vidal, St. Lucia
KwaZulu-Natal

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Cape Vidal
Foto: M op/on Flickr

Cape Vidal is in die asemrowende iSimangaliso-vleilandpark geleë en is sowat 30 kilometer vanaf St. Lucia. Hiér is ongerepte wit sandstrande so ver as wat die oog kan sien en die see helderblou terwyl die son se strale oor die branders blink soos hulle breek. Dit spog met ’n verskeidenheid seelewe, soos walvisse, walvishaaie, marlyne, seilvisse en dolfyne, en bied direkte toegang tot ’n natuurreservaat met olifante, renosters, buffels, krokodille, seekoeie en nog vele meer. Aktiwiteite wat jy hiér kan doen, sluit die volgende in: wandel op die strand, swem in die baai, snorkel in die rotspoel tydens laagwater, hengel aan die kus en op ’n boot, daar is ses selfry-roetes, wild- en voëlkyk, walviskyk tydens die winter en dolfynkyk regdeur die jaar, asook begeleide staptogte na skilpadneste.

Kom bly hier

Daar is ook sommer lekker verblyf-opsies in hierdie area. Jy kan by die luukse Nibela Lodge of die pragtige Umngazi Hotel & Spa bly. Beide sal jou sommer gou-gou laat voel asof jy in ’n oord op ’n tropiese eiland bly.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Nibela Lodge
Foto: LekkeSlaap

Nibela Lodge is in die iSimangaliso Vleilandpark geleë en jy kan tussen 27 luukse grasdakhout-chalets kies. Hierdie lodge spog met ’n restaurant, twee swembaddens, ’n kroeg-area en spa-geriewe. Voetslaan-, bergfiets- en vierwielmotorfietsroetes kan ook op die perseel geniet word. 

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Umngazi Hotel & Spa
Foto: LekkeSlaap

Umngazi Hotel & Spa is teen Umngazi se heuwels geleë en dié oord het ’n uitsig oor die Mngazi-rivier én die see. Daar is verskeie beeldskone bungalows om van te kies en alle etes is ingesluit. Hierdie oord het ’n kroegarea, kinderoppasdiens, kindereetarea, speletjies- en kuierarea, gimnasium, wassery met ’n strykdiens, ’n vulstasie, kuriowinkel, spa, gesondheidsentrum, swembad, TV-kamer en ’n tennisbaan — wat meer het jy nodig?

Paternoster
Weskus

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Paternoster
Foto: LekkeSlaap

Hoe klink ’n vakansie op ’n Griekse eiland? Paternoster is sowat 150 kilometer vanaf Kaapstad en hierdie bekoorlike dorpie met sy witgekalkte huise, blou see en wit strande sal jou vinnig-vinnig en sakpas na Griekeland wegvoer. Aktiwiteite wat jy hiér kan geniet sluit die volgende in: besoek die strand, kajakvaar in die see, besoek Cape Columbine Natuurreservaat, blommekyk tydens lente, walvis-, dolfyn-, rob- en pikkewynkyk en perdritte op die strand. 

Kom bly hier

Ná ’n pragtige dag langs die see kan jy jou ideale Mediterreense lewe by Pearl of Abalone Hotel gaan uitleef. Hier kan jy jou in ’n Griekse eilandvakansie-ervaring verdiep!

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Pearl
Foto: LekkeSlaap

Pearl is ’n bekoorlike Mediterreense-styl-selfsorgeenheid in Paternoster wat met tradisionele vissersargitektuur spog. Dit bied slaapplek aan twee gaste en hiér kan jy met die gedruis van die branders en seemeeue in die agtergrond ’n skemerkelkie op die stoep geniet.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Abalone Hotel
Foto: LekkeSlaap

Abalone Hotel is ’n luukse boetiekhotel met verskeie suites wat slaapplek aan twee gaste elk bied. Hiér kan jy aan heerlike maaltye in die restaurant op die perseel smul en die hotel spog ook met twee warmswembaddens, ’n sauna en ’n spa.

Reënwoud-geïnspireerde bestemmings

Magoebaskloof
Limpopo

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Magoebaskloof
Foto: South African Tourism op/on Flickr

Waar die Drakensberge tot sy noordelike punt uitloop, vind jy die majestueuse Magoebaskloof – ’n bergagtige omgewing in Limpopo wat as Die Land van Silwer Mis bekendstaan omdat die berge en woude gereeld in sagte wolke van mis omvou word. Hiér is die pragtige Woodbush-staatswoud, die grootste inheemse woud in die Limpopo-provinsie, asook die Swartboswoud. Hierdie woude is vol liaans, swamme en varings, en kristalhelder strome kronkel deur die woud. In hierdie magiese woude sal jy jou maklik in ’n reënwoud-avontuur van Suid-Amerika kan inleef. Sommige van die aktiwiteite wat jy hier kan geniet sluit die volgende in: Staproetes, boomtop-toere, tjoepry, Zipline-toere deur die woud, visvang, bergfietsry en besoek Zwakala Brouery, Blueberry Heights-plaas en Sequoia Garden Retreat.

Kom bly hier

Kom skuil by Viewpoint Estate en Sequoia Garden Retreat tussen die natuur se wolkekrabbers met die woud net buite jou kamervenster.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Viewpoint Estate
Foto: LekkeSlaap

Viewpoint Estate bied magiese verblyf tussen die bome van Magoebaskloof. Daar is sewe bekoorlike dubbelverdieping-houthuisies en ses luukse kamers in die gastehuis waarvan jy kan kies, met ontbyt ingesluit. Hiér kan jy jouself in die saligheid van die woud verdiep en selfs jou viervoetige kinders saambring.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Sequoia Garden Retreat
Foto: LekkeSlaap

Sequoia Garden Retreat skuil in ’n vallei tussen reuse-bome waar die woud se bekoring jou gou-gou sal insluk. Verblyf word in ’n lieflike ou klipplaasgebou, Croft Cottage, en ’n knus kothuis, Meadow Cottage, gebied. Op die perseel kan jy visvang, piekniek hou en daar kronkel ook twee bergfietsroetes hier deur.

Knysna
Wes-Kaap

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Knysna
Foto: Forest Valley Cottages op LekkeSlaap

Die Knysna-woud is op sommige plekke so dig dat dit byna ondeurdringbaar is. Oeroue bome is hier te sien en boomvarings, rankplante, blomme en die roep van die Knysna-loerie dra tot hierdie woud se magiese bekoring by. Die sprokiesagtige woud is ryk aan voël- en dierelewe en die outeniekwageelhoutbome wat hier voorkom staan as die reuse van die bos bekend omdat dit die hoogste boomspesie in Suid-Afrika is. As jy hiér tyd deurgebring het, sal jy dit nie eers hoef te oorweeg om ’n Suid-Amerikaanse reënwoud te gaan besoek nie. Jy kan ook meer oor die interessante geskiedenis van die Knysna-woud hiér lees. Van die aktiwiteite wat jy kan geniet, sluit die volgende in: staproetes; verskeie woudtoere, soos die Rooted in Time-toer; voëlkyk; bergfietsry en afhangend van die spesifieke area is daar ook ’n rits wateraktiwiteite, soos kanovaar, kajakvaar, rivier-tjoepry, snorkel en skubaduik in Stormsriviermond, asook bootvaarte.

Kom bly hier

By Forest Song Farm en Hide Away Cabin kan jy na die natuur terugkeer en jouself in die woud verloor. Beide hierdie opsies is perfek vir woudliefhebbers!

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Forest Song Farm
Foto: LekkeSlaap

Forest Song Farm is ’n idilliese toevlugsoord in die woud wat in die Fisanthoek-boerderygebied geleë is. Daar is twee kothuise om van te kies waar jy in plonspoele agteroor kan sit. Met ’n paadjie wat direk na die pragtige inheemse woud en stroompie lei, kan jy maklik op ’n magiese wandeling gaan.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Hide Away Cabin
Foto: LekkeSlaap

Hide Away Cabin is ’n lieflike huisie op ’n plaas in Spurwing wat deur majestueuse groen woude omring word. Hiér kan jy Moedernatuur in haar volle glorie ervaar en perdritte op die plaas geniet. Die huisie tussen die bome is ideaal vir twee gaste en maak van sonkrag gebruik.

’n Woestyn-geïnspireerde bestemming

 Kalahari
Noord-Kaap

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Kalahari
Foto: South African Tourism op/on Flickr

Witsand Natuurreservaat is ’n woestynagtige bestemming in die Noord-Kaap. Hierdie pragtige reservaat het ’n ryk voëllewe, ’n verskeidenheid wildspesies en spog met golwende wit duine. Hierdie duine is 20 tot 60 meter hoog en word deur koperrooi Kalahari-sand, Acacia-bosveld en die Langbergreeks omring. Die duine is bekend vir die brulgeluid wat dit maak wanneer dit in warm, droë weer deur die wind versteur word. In hierdie skilderagtige omgewing sal jy jou grootste woestyn-geïnspireerde drome en avonture kan uitleef! Van die aktiwiteite wat jy hier kan geniet, sluit die volgende in: piekniek hou, wild- en voëlkyk, staproetes, die huur van duinplanke en fietse, sterrekyk, swem, selfry-roetes en begeleide toere.

Kom bly hier

Drumsheugh Farmstead and Cattle Farm en Tutwa Desert Lodge bied die perfekte verblyf in hierdie woestynagtige omgewing. Ná ’n dag propvol avontuur kan jy by een van hierdie opsies kom ontspan en die stof afwas. 

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Drumsheugh Farmstead and Cattle Farm
Foto: LekkeSlaap

Drumsheugh Farmstead and Cattle Farm is sowat 60 kilometer oos van Askham en bied bekoorlike plaas-verblyf op die Kalahari-vlaktes. Jy kan tussen ’n romantiese kothuis vir vier gaste of die moderne Farmstead met slaapplek vir 26 gaste kies. Die Farmstead spog met ’n unieke plonspoel op die swembaddek. Hiér kan jy die rooi duine uitklim en begeleide wildritte op die plaas geniet.

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika_Tutwa Desert Lodge
Foto: LekkeSlaap

Tutwa Desert Lodge bied luukse verblyf in die woestynagtige landskap van Augrabies. Daar is twee suites om van te kies en drie etes is by die verblyf ingesluit. Elkeen van die suites het ’n privaat stoep of ’n balkon en spog met ’n uitsig oor die landskap en op die berge. Avonture soos wildritte, boswandelinge, visvang en riviervlotvaar is op die plaas beskikbaar.

So, spaar jou rande en senuwees en geniet ’n eksotiese vakansie hiér in Suid-Afrika!