Daar is min dinge so hartseer soos om vir Wagter, Sokkies, Bessie of Buksie agter te laat wanneer jy met vakansie gaan. Daarom het LekkeSlaap ’n lys van lekke Wildekus-blyplekke saamgestel, waar jy saam met jou gesin, vriende én troeteldier kan kuier! 

Mainstay Beach House and Bennet’s Place Gxarha (Morganbaai)

Mainstay Beach House and Bennet’s Place is twee aparte huise langs mekaar op Gxarha se strand. Die huise kan apart of saam bespreek word wat dit perfek vir ’n groot groepswegbreek maak! Die een huis het slaapplek vir twaalf en die ander huis het slaapplek vir tien. Elke huis het vyf slaapkamers met badkamers, ’n selfsorgkombuis en braaigeriewe. 

Mainstay Beach House and Bennet's Place

Rainbow’s EndSeafield

As daar regtig ’n pot goud aan die einde van die reënboog is, vermoed ons dit sal presies soos Rainbow’s End lyk! Dié lieflike selfsorgkothuis langs die rivier is ’n paar minute se stap vanaf die strand en bied slaapplek aan ses gaste. Die sitarea lei na ’n stoep, wat weer na ’n houtdek lei. Dit beteken dat die Wildekus se skoonheid vanuit elke rigting besigtig kan word. Daar is ook braaigeriewe op die stoep en soggens is dit die ideale plek om die sonopkoms met ’n koppie koffie te verwelkom. 

Rainbow's End

Ocean Pearl Holiday HomePort Alfred

Hierdie vakansiehuis is stapafstand vanaf die strand en is luuks en smaakvol versier. Die vier slaapkamers is op die derde verdieping en jy word met ’n ononderbroke see-uitsig betower. Julle kan ook lekker op die eerste verdieping waar die kombuis en twee oopplan-leefareas is, kuier. Een van dié areas het glasstapeldeure wat na nog ’n balkon met buitesitplek lei en vanwaar jy die branders kan hoor breek. As jou troeteldier nie van hoogtes hou nie, is daar ’n lekker groot tuin waarin hy kan rondhardloop. 

Ocean Pearl Holiday Home

Clifton Cottage Keimond

Nader aan Keimond se strandfront kan ’n mens nie kry nie. Hierdie pragtige selfsorg-vakansiehuis het slaapplek vir sewe en spog met twee ruim areas waar jy en Wagter kan uitspan ná ’n opwindende dag by die see. Daar is ook ’n groot stoep met ’n see-uitsig en buitebraaigeriewe om die dag met ’n vleisie oor die kole af te sluit. Die omgewing het baie opwindende aktiwiteite wat voetslaan, perdry, hengel en branderplankry insluit. Let asb. dat die perseel nie omhein is nie en daarom word net goedgemanierde troeteldiere toegelaat.

Clifton Cottage

Myne Beach HouseChintsa-Wes

Hierdie selfsorghuis het ’n ruim uitleg en ’n lekker groot grasperk wat jou vierbeenvriend eindelose genot sal bied! Daar is slaapplek vir ses en julle kan jul dae by die see, op die dek of in die gemeenskaplike swembad deurbring. Die toegeboude braai is vir alle weersomstandighede geskik en die eindelose see-uitsig skep ’n rustige vakansie-atmosfeer. Chintsa-Wes bied ’n 120 kilometer-kuslyn en verskeie aktiwiteite soos perdry, vierwielmotorfietsritte, abseil, wildritte, gholf en visvang.

Myne Beach House

Neptune’s CoveKeimond

Volgens Greg sal hy “enige dag weer daar gaan afpak en goed uitrus” en ons stem volkome saam! Net ’n paar trappe is al wat jou en die strand hiér skei. Hierdie selfsorgeenhede is teenaan die strand en ook stapafstand vanaf winkels, restaurante en kroeë. Die grootste eenheid het slaapplek vir ses en is op die boonste verdieping met ’n balkon wat ’n pragtige see-uitsig bied. 

Neptune's Cove

Kenton HavenKenton-on-Sea

As julle ’n tikkie luuksheid soek, is hierdie vierslaapkamer-selfsorghuis perfek. Aangesien hierdie huis net 700 meter van Kariegastrand en Middelstrand af is, kan julle van vroegoggend tot laat in die aand op die strand baljaar. En as julle klaar die sand en soutwater afgespoel het, kan julle lekker op die balkon kuier terwyl die son agter die mooie Wildekus se horison groet. Die huis het slaapplek vir agt, is smaakvol versier en is met geriewe soos ’n gasstoof, wasmasjien, skottelgoedwasser, ingeboude kaste en ’n motorhuis toegerus sodat jy van jou dag-tot-dag verantwoordelikhede kan vergeet. 

Our Beach Home Port Alfred

Our Beach Home is ’n  selfsorg-meenthuis in ’n kompleks net 100 meter vanaf die strand, wat beteken dat dit ’n ongelooflike uitsig bied. Daar is slaapplek vir sewe gaste en van die kamers spog met balkonne wat ’n uitsig oor die tuin of see het. Die leefarea lei na ’n onderdakstoep en ’n klein tuin-area met ’n ingeboude braai.

Our Beach Home

Schafli Manor Wild Coast Chintsa-Oos

Hierdie herehuis kombineer luuksheid met die Wildekus se ongerepte natuur. Die eenhede kan elkeen tussen vier en vyf gaste akkommodeer en spog met ’n besonderse uitsig. Elke eenheid lei na ’n stoep met braaigeriewe en kinders (jou vierbeenkinders ook) kan op die grasperke, klimrame en in die tuine baljaar.

Schafli Manor Wild Coast1

Nqabara Eco River Lodge Willowvale

Hierdie lodge is op die Nqabara-rivier se oewer en bied toegang tot ’n tien kilometer lange ongerepte strand. Daar is drie kothuise wat elkeen slaapplek vir vier gaste het, maar die hooflodge het slaapplek vir tien en is dus ideaal vir ’n groot groep. Dié eenheid het ’n groot dek vanwaar julle die riviermonding en 1800 hektaar van natuurlike woud kan bewonder. Hierdie eko-lodge is ook omgewingsvriendelik en gebruik slegs sonkrag en watertenke.

Nqabara Eco River Lodge

The Dune 2 Glengariff

Dié selfsorghuis is op ’n toegangsbeheerde landgoed met ’n elektriese heining geleë. Hierdie landgoed het ’n gemeenskaplike braai-area, twee direkte toegangspunte na die rivier en die strand, en ’n speelplek vir kinders. Daar is plek vir jou vierbeenkinders ook. Al die kamers spog met uitsigte oor die rivier en julle kan rustig om die piekniektafel op die onderdakdek en tuinstoep kuier terwyl Wagter veilig op die landgoed rondsnuffel. 

The Dune 2

Pak volgende keer daardie leiband ook in sodat ál jou geliefdes met jul volgende wegbreek saam herinneringe kan maak! 


Gebruik LekkeSlaap se troeteldiervriendelik-filter:

Indien julle nóg plekke soek, kan julle op ons webtuiste die volgende stappe volg:

  • Vul die area in wat jy wil besoek, gevolg deur jou in- en uitklokdatums en die aantal gaste;
  • Kliek op “Soek akkommodasie” om jou soektog te begin;
  • Sodra jy by die resultateblad is, rol aan die linkerkant van die skerm af om al die filters te sien (en kliek op die troeteldiervriendelik-filter).

Lees ook ons ander blogs wat troeteldiervriendelike verblyf in die Oos-Kaap en aan die Weskus lys!

Hooffoto: Unsplash