Dis moeilik om nie verstom te staan voor die mensdom se vermoë om asemrowende wonings uit beton, staal, glas, en klip te skep nie. Dink maar aan die Burj Khalifa en die Burj Al Arab in Dubai, One World Trade Centre in New York, Sydney se Operahuis, en die Petronas Twin Towers in Kuala Lumpur. Millennia het verloop sedert mense besluit het om hul grotwonings vir hutte en huise te verruil. Tog is daar iets romanties en tydloos aan blyplekke wat deur Moeder Aarde self geskep is. LekkeSlaap het ’n paar grotte opgespoor waar ’n prehistoriese atmosfeer met moderne geriewe gekombineer word. Dié sonderlinge wegkruipplekke is gemáák vir stadsjapies wat wil wegkom van alles en almal, en hul heeltemal met die natuur wil versoen!

Weskus Grotjie, Lambertsbaai

Weskus Grotjie is uitgekerf in ’n rotsblok op die plaas Steenbokfontein, net 8 km vanaf Lambertsbaai. Al wat die stilte van die veld nou en dan onderbreek, is die klank van branders en voëls in die verte, en die skape en wind op die plaas. Hierdie skuilplek is uitgeknip vir paartjies wat skuilplek soek teen die eentonigheid van die alledaagse lewe. Gaan maak gerus ’n draai by die plaaskombuis vir varsgebakte brood en konfyt, maar moenie jou proviand by die huis vergeet nie!

Doendinge: Visvang, kreefduik (binne seisoen), voëlkyk, wynproe, wildkyk en rooibostoer
Besienswaardighede: Voël Eiland Natuurreservaat
Eetplekke: Weskus Kombuis, Muisbosskerm, Isabella’s Restaurant, Funky Tastebuds

Kagga Kamma Nature Reserve, Citrusdal

Kagga Kamma Natuurreservaat is bekend vir sy skilderagtige natuurskoon en dramatiese rotsformasies wat só eie is aan die Sederberge. Hierdie wêreld lok vakansiegangers met rotskuns, ongelooflike inheemse plantegroei en ’n helder sterrehemel snags. Die grot-suites is  tussen die sandsteenformasies verskans en die grasdakhutte herinner ’n mens aan die tradisionele huise waarin die Khoi-San gebly het. Kagga Kamma spog met heelwat wild en is ideaal vir avontuurlustige natuurliefhebbers.

Doendinge: Rotsklim, voetslaan, sterrekyktoere wat deur personeel by die lodge gelei word, wildkyk, rotskunstoere, Ceres Zipslide Adventures en 4×4
Besienswaardighede: 
Kagga Kamma Natuurreservaat, Cederberg Privaat Kelder, The Baths en Saronsberg
Eetplekke: Kagga Kamma Restaurant, Readers Restaurant (Tulbagh), Mama Cucina (Riebeek-Kasteel), Royal Restaurant (Riebeek-Kasteel), Du Vlei (Riebeek-Kasteel), Beans About Coffee (Riebeek-Kasteel), The Grapevine Coffee Shop (Vredendal) en Hebron (Citrusdal)

Kwa Madwala Private Game Reserve – Manyatta Rock Camp

Kwa Madwala skuil in die bosveld naby Swaziland en Mosambiek se grense, en dis net 30 km vanaf die Krugerwildtuin se Malelane-hek. Manyatta Rock Camp se eenhede is slim ontwerp om saam te smelt met die natuur. Die eenhede lyk soos reuse-rotse wat rofweg in die lowerryke bosse gerangskik is. Elke eenheid het ’n houtdek met ’n buitestort en ’n wonderskone uitsig oor die bosveld. Legio doendinge is beskikbaar en daar is ’n eetdek, kroeg, dag-spa, en ’n uitsigdek.

Doendinge: Wildritte snags en bedags, stapsafari’s, olifant-interaksies en mikrovliegtuigsafari’s
Besienswaardighede: 
Krugerwildtuin, Leopard Creek Country Club en Sasekile Africa
Eetplekke: Jabula Lodge (Marloth Park), Hamilton’s Restaurant (Malelane) en Tambarina Guesthouse & Restaurant (Komatipoort)

Antbear Drakensberg Lodge, Sentraal Drakensberge

Antbear bied sakpasverblyf tussen Estcourt en Mooirivier aan die voet van die Drakensberge. Dié lodge se luukse grot het ’n 180º-uitsig oor Giants Castle, die Amfiteater, en die Boesmanriviervallei. Wittebroodpaartjies kan van die wêreld vergeet danksy die intieme atmosfeer van hierdie grot met sy koninggrootte-bed, kaggel, en Jacuzzi-bad. Plus, sy ligging maak dit baie maklik om vinnig na die Middellande te rits!

Doendinge: Perdry, kunsvlieghengel, visvang, baarshengel, voëlkyk, fietsry, boomtoptoere en kanovaarte
Besienswaardighede: 
Maloti-Drakensberg Park, Middellande Meander, San-rotstekeninge, en The Wine Cellar
Eetplekke: Hartford House (Middellande), Rosetta Hotel Restaurant (Rosetta), Linga Lapa (Langs die N3)

Verruil ’n slag jou mensgemaakte blyplek vir ’n skuilplek wat deur Moeder Natuur sélf ontwerp is. Bespreek ’n romantiese wegkruipgrotjie vir jou en jou wederhelf!

Al die foto’s is van LekkeSlaap-instansieprofiele verkry.

Hooffoto: Kagga Kamma Nature Reserve