Daar is baie unieke dinge waarmee Suid-Afrikaners kan spog: elf amptelike tale, unieke natuurskoon, die eerste suksesvolle hartoorplanting, Mimi Coerste, die Kreepy Krauly en nog vele meer! Maar een ding waarmee ons die meeste kan spog is beslis Suid-Afrikaanse kos! LekkeSlaap het ondersoek ingestel om uit te vind watter eetgoed uniek is tot elk van ons nege provinsies, en dié disse gaan jy vir seker nie op ’n Woolies-rak vind nie! 

 

Wes-Kaap

Gatsby

Die Wes-Kaap is die tuiste van die wêreld se langste wynroete, die Indiese én Atlantiese Oseaan en Tafelberg. Dié streek spog ook met heerlike Kaap-Maleise disse, soos bobotie en koesisters, maar as jy ’n egte Wes-Kaapse eetding wil verorber is ’n gatsby net die ding! Dié toebroodjie het in die 1970’s in die Kaapse Vlakte ontstaan en bekend geword as ’n vullende sakpas-ete. ’n Gatsby is ’n lang broodrol wat met masala-biefstuk, Russiesewors of polonie, gebakte eiers, slaptjips en blaarslaai gevul is. Dis gemaak om gedeel te word en dis ’n absolute sonde om dit met ’n mes en ’n vurk te eet! 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by J’Something™ (@jsomethingmusic) on

 

KwaZulu-Natal

Bunny chow

In die provinsie met twee UNESCO-wêrelderfenisgebiede kraai die bunny chow koning. Dit mag dalk ’n cliché wees, maar ’n besoek aan KwaZulu-Natal is beslis nie volmaak as jy nie ’n ordentlike bunny chow geëet het nie! Die oorsprong van die bunny chow dateer uit die 1940’s en daar word bespiegel dat Indiese werkers op die suikerrietplantasies ’n manier nodig gehad het om hul kos werk toe te vat. ’n Uitgeholde brood was die mees praktiese opsie. Deesdae is hierdie dis om elke hoek en draai beskikbaar en ’n móét vir enige besoeker aan Durban.  

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Nardia Adams (@fudartbynardia) on

 

Gauteng

Shisa nyama

Dis ’n feit soos ’n koei dat Suid-Afrikaners daarvan hou om te braai. Ons sal in die wind en die weer, binne, buite en met steenkool of rooikranshout braai. Braai sal ons braai. Shisa nyama (ook tshisanyama) gaan egter ’n bietjie verder as net vriende en familie wat saam braai. Dit het in township-slaghuise begin om meer verkope aan te hits, maar vandag is dit veel meer as net gebraaide vleis en pap, en dié ontmoetingsplekke word al hoe meer gewild vir ’n Sondagkuier. Vind jou weg na Meat Lounge in Sunning Hill, Chaf Pozi in Soweto of Imbizo Shisamyama in Midrand as jy in een van dié ervarings wil deel. 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Meat_lounge (@meat.lounge) on

 

Noordwes

Mogodu en ting

Ek het nog altyd gesê dat mense wat nie met afval grootgeword het nie, dit tien teen een nie uit vrye wil sal eet nie. Maar die snaakse ding is dat afval meer algemeen is as wat ons dink en glad nie vreemd is nie. Mogodu is skaap- of beesafval en word vir ure lank gekook totdat dit sag is. Dit word saam met ting, wat suur, gefermenteerde pap is, bedien. 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Zwashu (@zwashufood) on

 

Noord-Kaap 

Roosterkoek

Die Noord-Kaap is waar die Namakwalandse madeliefie pronk en die Kalahari die Weskus ontmoet. ’n Mens is soms geneig om van roosterkoek te vergeet weens die gewildheid van braaibroodjies, maar dis dié einste ding wat ’n Kalahari-kombuis uniek maak en afrond. Roosterkoek vorm ’n groot deel van die Nama-kultuur en die Nama’s het die kuns om hierdie braaibroodjies, wat hulle ook askoek noem, te braai, vervolmaak. Wat is dan nou lekkerder as ’n vars roosterkoek met gesoute botter en appelkooskonfyt? 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Klipheuwel Farm (@klipheuwelfarm) on

 

Oos-Kaap

Pap en wors

Die Oos-Kaap is meer as net Jeffreys se gewilde branders, Addo se olifante en die tuiste van die enigste ski-oord in Suid-Afrika. Dit is ook die tradisionele tuiste van die amaXhosas. Hiér kan ’n mens ’n heilsame bord pap en wors geniet en dit alles met umqombothi, ’n bier wat van mielies gemaak word en ’n hoë vitamien-inhoud het, afsluk. 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Frankie Fenner Meat Merchants (@frankiefennermeatmerchants) on

 

Vrystaat

Potjiekos

Potjiekos het op die groot trek saam gegaan
Oor die Blouberge tot by ou Dingaan
Ou miesies Victoria het dit self verklaar
“Die lekkerste van alles is die potjiekos daar”
Potjiekos, Anton Goosen

Buiten die Vrystaatse Cheetahs, die Vredefortkoepel en die land se regterlike hoofstad, bied die Vrystaat ’n ryk en interessante geskiedenis en smullekker kos! As daar ’n provinsie is wat baie ernstig oor vleisbraai is, veral lamsvleis, is dit die Vrystaat. ’n Mens kan argumenteer dat potjiekos deel van die Vrystaatse erfenis is en dat dit die Groot Trek oor die Blouberge tot by ou Dingaan oorleef het! Daar is geen potjiekosresep op klip geskryf nie, maar met ’n pot vol lamsvleis, groente, knoffel, en lekker rooiwyn, voorgesit met rys, samp of pap kan ’n mens nie verkeerd gaan nie. 

View this post on Instagram

A post shared by Weg-tydskrif (@menseselense) on

 

Mpumalanga

Sorghum

Het jy geweet dat die naam Mpumalanga “waar die son opkom” in Zoeloe beteken? Talle toeriste beweeg deur Mpumalanga onderweg na die Krugerwildtuin sonder om dié pragtige provinsie te verken. Buiten die Krugerwildtuin is daar ook die Blyderivierspoort, Echo-grotte, God’s Window en Chrissiesmeer ─ Suid-Afrika se grootste varswatermeer. Mielies is ’n stapelvoedsel in dié geweste en daarom is mieliepap so gewild. Sorghum is ’n graansoort wat tawwe weersomstandighede kan weerstaan. Dié graan word gebruik om mabele a ting, ’n pap wat met melk bedien word, te maak. Sorghum se proteïeninhoud is effens hoër as mielies en word ook gebruik om bier te maak. 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Masego.M (@mealswithmasego) on

Limpopo

Mopaniewurms

Limpopo is ons provinsie in die verre noorde en is veral bekend vir sy Afrika-landskappe en meer as 50 provinsiale en privaat reservate. Dus is dit geen verrassing dat die eetgoed in dié provinsie meer natuurlik van aard is nie. Die meeste mense mag dalk gril vir ’n mopaniewurm, maar dié goggas vorm deel van die stapelvoedsel in Suider-Afrika. Dis nie net ’n ekonomiese versnappering nie, maar ook baie gesond omdat dié wurms drie keer meer proteïene as beesvleis bevat! 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Dinner@Matloha’s (@dinneratmatlohas) on

Suid-Afrika is ’n land met kleurryke kulture en ryk erfenis, en die beste manier om haar mense te leer ken is deur middel van kos! So, verken gerus jou plaaslike erfenis en geniet dié interessante maaltye.

 

Hooffoto: Bigstock