Suid-Afrikaners is miskien vertroud met die N17 wat deur Mpumalanga se Chrissiesmeer na Swaziland loop, maar die storie agter dié pad strek meer as 150 jaar terug. Chrissiesmeer is die middelpunt van die sogenaamde Reënboogroete wat vanaf Kriel, deur Bethal, Ermelo, Amsterdam, Piet Retief, Vryheid, Melmoth tot in Mtunzini strek. LekkeSlaap het in dié geweste gaan rondkrap en deel graag ’n paar verhale.

Agter die kap van die byl: ’n Skot, ’n president en ’n groot droom

In die vroeë 1800’s het die Skot, Alexander McCorkindale, verlief geraak op die omgewing omdat dit hom aan Skotland herinner het. Hy was baie filantropies en het die destydse regering oortuig om 200 plase suidwes van Swaziland aan hom te verkoop. Dié transaksie se doel was om ’n Skotse nedersetting, New Scotland, te stig en die area as ’n poort na die see via Swaziland en Mosambiek te gebruik sodat hulle minder op Natal en sy hawe hoef te steun. New Scotland se hoofkwartier, Roburnia (vandag Amsterdam), Industria (vandag Chrissiesmeer) en Londonia (vandag Derby naby Piet Retief) het na aanleiding van McCorkindale se onderneming ontstaan. 

In 1866 vertrek McCorkindale en sy vrou na Brittanje om fondse vir die projek in te samel. Christina, die eertydse president Marthinus Pretorius se dogter, vergesel hulle aangesien hulle dol oor haar was.

Die reis was suksesvol en McCorkindale keer terug na Suid-Afrika en stig die Republiek van New Scotland, wat Industria en die Groot Zeekoepan insluit. Dié pan word later na Christina Pretorius vernoem ─ Miss Chrissie’s Lake. Soos die area meer Afrikaans geraak het, is die dorpie en meer na Chrissiesmeer herdoop.

Die mense van Chrissiesmeer het aanvanklik ’n moeilike bestaan gevoer en McCorkindale en sy vrou het selfs ’n ruk lank in ’n grot gewoon voor hulle ’n kothuis daar naby kon bou. Dié grot kan vandag nog besoek word. Die setlaars in Chrissiesmeer en die area se grootste aanwins was sekerlik die Australiese Wattel-aalwyn wat aangeplant is en gebruik is om dierevelle te behandel. Gevolglik is ’n looiery gevestig.

McCorkindale se uitspattige planne is tot halt geroep toe hy in 1872 tydens ’n ekspedisie na Delgoabaai en die Pongolarivier, malaria opdoen en sterf. Vandag is die dorpies rondom Chrissiesmeer ál wat van McCorkindale se oorspronklike Skotse en Europese invloed oorgebly het. Die dorpe, Lothair, Amsterdam en Derby, kan vandag McCorkindale se nalatenskap met trots dra. 

Oorlog, geloof en hartsake: ’n Ware liefdesverhaal

Chrissiesmeer is nie net ryk aan erfenis nie, maar ook aan stories. Besoekers aan die dorp kan, onder andere, die verskeie rotstekeninge in die area, die 130 jaar oue sandsteen Dumbarton Oaks Hotel (waar die berugte Daisy de Melker al oorgebly het) of Chrissiesmeer se bekende begraafplaas met grafte van soldate uit die Anglo-Boereoorlog besoek. ’n Begraafplaas is gewoonlik ’n somber plek om te besoek, maar dié begraafplaas is spesiaal.

Arthur Swanston, ’n soldaat wat sy lewe in 1900 verloor het toe hy ’n ander soldaat wou red, is híér te ruste gelê. Wat Arthur se storie so besonders maak, is die feit dat sy verloofde (haar naam is onbekend), 65 jaar lank elke Oktober blomme aan die posmeester op Chrissiesmeer gestuur het en gevra het dat dit op Arthur se graf gesit word. Die posmeester het ook die graf se instandhouding behartig. 

Toe Arthur se naamlose verloofde in haar tagtigs was, het sy steeds blomme gestuur en verduidelik dat dit moontlik die laaste keer sou wees, aangesien haar gesondheid besig was om agteruit te gaan. Sy het slegs een keer daarna weer blomme gestuur. Dié liefdestorie het vir jare talle harte aangegryp.

Dekades later het Arthur se familie besluit om meer lig te werp op wat, heel moontlik, gebeur het. Arthur het blykbaar in die oorlog gaan veg om weg te kom van sy ouers en die feit dat hulle nie sy verlowing goedgekeur het nie. Dis dan heel waarskynlik hoekom haar naam ook nooit in die familie se briewe verskyn nie. Arthur se pa was nou by die kerk betrokke en daar word bespiegel dat sy verloofde dalk nie aan die familie en die tyd se geloofsvereistes voldoen het nie ─ sy was moontlik Iers en gevolglik ’n Katoliek. Haar identiteit sal vir ewig verlore wees.

Waarom Arthur se familie ook al teen sy verloofde was, is Chrissiesmeer se inwoners dit eens: Sy is ’n voorbeeld vir ons almal.

Chrissiesmeer in haar fleur: Doen en woel in en om die dorp

As jy lief is vir ’n bietjie avontuur, kan jy een van die 4×4-roetes in die Holnek Wild- en Natuurreservaat aandurf. 

Dié omgewing is ook bekend vir talle rotsformasies soos Goliat se Voetspoor, die Natuurlike Brug en Adam se Kalender, wat skynbaar een van die oudste mensgemaakte strukture in die wêreld is. Volgens wetenskaplikes is dié rotsformasies sowat 75 000 jaar oud en jy kan dit saam met ’n gids van die Blue Swallow Nasionale Erfenisgebied besoek.

As jy op soek is na ’n gesinsvriendelike uitstappie, kan jy en jou gesin julle aan Randell’s Ranch Museum in Lothair gaan verkyk. Hier kan julle van ou motors, trokke, motorfietse, ou enjins en ou kerkorrels, tot ’n Beechcraft Bonanza 35-vliegtuig sien. Dit is beslis ’n besoek werd!

Diegene wat net ’n rustige piekniek wil geniet, kan by die einste grot waar McCorkindale en sy vrou aanvanklik gewoon het gaan piekniek hou. Ligte etes en braaipakke is op versoek beskikbaar en jy moet verkieslik bespreek.

Kontak Chrissiesmeer se toerismeburo by 082 3789488 of 013 759 5300 om meer inligting oor enige van hierdie doendinge te kry.

Kuier in die kontrei: Blyplekke in Chrissiesmeer en die omgewing

Om Chrissiesmeer se mense en die omgewing behoorlik te ervaar, sal jy ’n nag of twee móét oorbly ─ dié lekker blyplekke is presies wat jy nodig het om na hartelus te verken en snags heerlik te rus!

John Jack Inn accommodation (Chrissiesmeer)

Tolderia Resort (Lothair)

Welgekozen Country Lodge (Piet Retief)

Dié dorpies se skatte is eindeloos en jy sal dit beslis self moet kom ontdek ─ Veral as jy wil uitvind waarom Chrissiesmeer een van die Reënboogroete se potte goud is!

Hooffoto: envatoelements