Droom jy daarvan om uiteindelik uit die stad te ontsnap en êrens langs ’n rivier af te saal? Dan is dit nou tyd dat jy na hierdie lekker plekke langs die Vaalrivier kyk! Die Vaalrivier is die grootste syloop van die Oranjerivier en vorm die grens tussen Mpumalanga, Gauteng en Noordwes in die noorde en die Vrystaat in die suide ─ jy kan dus in vier provinsies die prag en rustigheid van die rivier ervaar. Die immergewilde Vaaldam vorm deel van die Vaalrivier en dis ’n ou gunsteling onder Gautengers. LekkeSlaap het ’n lys van tien lekker blyplekke naby die Vaalrivier saamgestel waar jy ’n behoorlike wegbreek in die noorde kan geniet!

R’new Pecan Farm & Wellness Centre

Deneysville, Vrystaat

As jy na verblyf vir ’n groot groep langs die Vaaldam op soek is, dan is R’new Pecan Farm & Wellness Centre se luukse selfsorg-eenhede net die plek vir jou! Daar is drie eenhede op die perseel: Vaal Dam Home in a Distillery met slaapplek vir twaalf gaste, Villa on Vaal Dam – The Homestead met slaapplek vir twintig gaste en Vaal Dam Home in a Wellness Centre met slaapplek vir ses gaste. Gin-werkswinkels en spa-behandelinge is op die perseel beskikbaar en daar is ook braaigeriewe en ’n swembad.

Monet House

Parys, Vrystaat

’n Huis op ’n eiland in die Vrystaat? Dis reg ja! Monet House is ’n pragtige selfsorghuis op ’n eiland op die Parys Gholflandgoed wat aan die Vaalrivier grens. Dié eiland word deur bome omring en dit voel asof jy ver van die stad af is. Die groot grasperk voor die huis bied ’n ononderbroke uitsig oor die rivier en julle kan lekker daar ontspan of saam met die kinders speel. Daar is slaapplek vir agt gaste in dié ruim huis en dis die ideale plek vir ’n groep vriende of familie.

La Best Vaal Manor

Vaal Marina, Gauteng

Hoe klink ’n luukse gastehuis op die oewer van die Vaaldam? La Best Vaal Manor bied verskeie kamers in dié pragtige huis en is die ideale plek vir ’n waterliefhebber. Daar is ’n lieflike eetarea buite waar julle kan sit en die sonsondergang geniet, ’n swembad, vuurput en ’n lewensgrootte-skaakbord. Die perseel bied toegang tot ’n privaat strand en ’n jetty. Jy kan op die perseel visvang en kajakke is te huur. 

Old Willow N07 Houseboat Charters

Sasolburg, Vrystaat

Wat is dan nou beter as om op ’n huisboot op die Vaalrivier te bly? Dié huisbote bied ’n unieke ervaring waar jy die kaptein van jou eie boot kan wees en die opwinding van ’n riviervaart kan geniet. Elke huisboot het slaapplek vir vyf gaste en is met selfsorggeriewe en ’n badkamer toegerus. Daar is selfs ’n braai-area onder ’n afdak en dekstoele op die boonste dek, en as jy nie lus is om self kos te maak nie kan jy by een van die restaurante langs die rivier vasmeer en ’n happie daar geniet. Dit klink na die ideale rivierwegbreek!

Vaal De Grace – Villa on Fairways

Parys, Vrystaat

Gholfentoesiaste sal veral mal wees oor dié luukse selfsorg-villa op die Vaal de Grace Gholflandgoed naby die Vaalrivier. Die villa is tussen die neënde putjie en eerste setperk op dié gholfbaan net buite Parys geleë. Daar is slaapplek vir agt gaste, ’n plonspoel om in af te koel en ’n balkon met ’n pragtige uitsig oor die natuurskoon.  

Heaven On Vaal

Vanderbijlpark, Gauteng

Net ’n uur se ry vanaf Johannesburg wag Heaven On Vaal op die oewer van die Vaalrivier op jou. Daar is verskeie selfsorg-eenhede om van te kies en elkeen bied ’n uitsig oor die rivier. Jy kan net rustig op jou stoep sit en die pragtige omgewing aanskou of ’n entjie in die rivier af vaar en die natuurskoon om jou geniet. Wagter is ook welkom om saam by die rivier te kuier, dit moet net vooraf gereël word. 

Breathe River Retreat

Parys, Vrystaat

Hierdie lieflike toevlugsoord skuil op ’n plaas naby Parys en dis die perfekte plek vir natuurliefhebbers. Die lodge spog met vyf losstaande selfsorg-eenhede met braaigeriewe buite en ’n stoep met ’n uitsig oor die rivier of die tuin. Daar is ook ’n gemeenskaplike lapa met ’n kombuis naby die rivieroewer as julle ’n bietjie nader aan die water wil kuier. Julle kan ook in die swembad op die perseel afkoel, visvang, kajakvaar of riviervlotvaar. 

Umfula Resort

Parys, Vrystaat

Umfula Resort is die ideale plek vir ’n gesinsvakansie langs die Vaalrivier. Dié oord is op ’n plaas aan die buitewyke van Parys geleë en bied selfsorg-chalets en lieflike kampeerplekke. Daar is iets vir elkeen in die gesin om te doen met twee swembaddens, ’n vlugbalbaan, putt-putt-baan, ’n speelarea vir kinders, ’n kroegarea en voetslaanroetes op die perseel. Julle kan ook visvang in die rivier of ’n boot te water laat by die jetty op die plaas. 

Rus & Vrede on Vaal

Parys, Vrystaat

As jy na rus en vrede op soek is, dan is Rus & Vrede on Vaal net die plek vir jou! Dié prentjiemooi gastehuis skuil op die oewer van die Vaalrivier en bied lieflike en suite-kamers waar julle behoorlik kan ontspan. Elke kamer bied slaapplek aan twee gaste, so dis perfek vir ’n romantiese wegbreek uit die stad. Kuier lekker op die grasperk voor die huis en geniet die uitsig oor die rivier. Julle kan ook op die gras piekniek hou of op die rivier kajakvaar. 

Riparian Retreat

Parys, Vrystaat

Wil jy saam met jou vriende of familie uit die stad ontsnap en ’n lekker naweek langs die Vaalrivier geniet? Kies dan Riparian Retreat, ’n luukse huis op ’n wildsplaas naby Parys. Dié luukse huis spog met slaapplek vir tien gaste, ’n swembad en ’n gazebo waar julle soggens ontbyt kan geniet. Daar is ook ’n boma op die rivieroewer waar julle saam kan kuier en die helder sterrehemel kan aanskou. Daar is ’n privaat visvangplek vir visvang-entoesiaste, so bring net jou toerusting saam. 

So, as die stad se geraas te veel raak, bespreek jou wegbreek langs die Vaalrivier en kom ontspan vir ’n slag in die natuurskoon!

Hooffoto: Breathe River Retreat (LekkeSlaap)