Sodra jy die wit klippe gewaar wat “Williston” teen die droë koppie uitspel, moet jy sommer reeds na ’n laer rat oorskakel. Nes jy om die draai ry, is dié dutjiesdorp sommer net hier voor jou en as jy jou oë ’n oomblik te lank knip is jy alweer anderkant uit ─ en dít sal nou ’n jammerte wees!

Dit lyk dalk nie met die eerste oogopslag so nie, maar dié dorp is ’n puik gasheer en weet beslis hoe om fees te vier! Williston hou vanjaar weer Winterfees en LekkeSlaap het gaan uitvind waarom hierdie dorp ’n kuiertjie werd is.

Winterfees

Vanjaar vier Williston van 31 Augustus tot 2 September sy 8ste Winterfees. Die dorpsmense vier die dans, musiek en kos van die kontrei, en sommer ook die einde van die winter by die Williston Mall. Die hoogtepunt by dié fees is natuurlik die Nama Rieldansers, maar daar is ook optredes deur ’n paar groot name en ander plaaslike kunstenaars. Vir diegene wat self wil probeer stoftrap, is daar rieldans-klasse en ’n kompetisie vir die amateurs. Bring die kleingoed saam, want die kaskarwedren en mini-gholfbaan sal vir ure se pret sorg. Só ’n paartie het natuurlik ook verversings, so kom smul gerus aan al die heerlike Karoo-disse en ander lekker eet- en drinkgoed.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Go Northern Cape (@gonortherncape) on

Williston Mall

Vergeet van hordes mense, blink plastieksakke en kitskoskafees ─ dié mall is nie sommer enige mall nie. Dit is met goeie rede die dorp se grootste trekpleister vir besoekers en ’n lekker rusplek vir reisigers wat honger mae wil vul en bene wil rek. Kom wandel gerus tussen die buitengewone winkeltakke: Woolies, X-Klusiv Books, Stirns and Bord Mans. Hiér sal jy alles kry: van boeke, antiekware en speelgoed tot tuisgemaakte lekkernye en kunsvlyt.

Williston Mall

Daarna kan jy kom aanklop by die mall se Doppies-kroeg en -restaurant vir iets te drinke en te ete ─ die moerkoffie is baie gewild en die melkskommels word beskou as die beste in die Noord-Kaap! Gesels gerus met die eienaars, Pieter en Elmarie Naude, en hoor waarom hulle so mal is oor dié plek.

Doppies-kroeg by Williston Mall

Wenk: Pieter en Elmarie se Ark Gastehuis is op dieselfde perseel geleë en is die ideale verblyf vir reisigers en feesgangers.

Ark Gastehuis en B&B

NG Kerk

Die pragtige Nederduitse Gereformeerde Kerk is een van slegs 11 sandsteenkerke in Suid-Afrika en skuil in ’n tuin vol Karoo-vetplante en groen grasperke in die middel van die dorp. Die hoeksteen is in 1912 bo-op ’n Nederlandse Bybel en ’n gesangeboek gelê, en omtrent ’n jaar later is die kerk voltooi. Vandag word dié kerk as ’n Nasionale Monument beskou en is ’n moet vir geskiedenis-foendi’s.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Hardus🇿🇦 (@hardus4) on

Korbeelhuise

Dié koepeldak-kliphuisies sal jy net rondom Fraserburg, Carnarvon en Williston sien. Die boere van die vroeë 1800’s kon nie enige hout, behalwe bossies, in die hande kry nie en het toe maar besluit om huisies van doleriet en sandsteen te bou. Dis eintlik ’n vreemde affêre, maar die dik klipmure hou die hitte binne in die winter en hou dit koel gedurende die somer. Vandag is ’n paar van die huisies in gastehuise omskep en bied beslis die ideale wegbreek in die Karoo.

Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse

Grafsteenroete

As jy lief is vir geskiedenis is die grafsteenroete nóg ’n moet. Dié roete volg die handewerk van Cornelius de Waal ─ ’n grafsteenkerwer van formaat. Net na die Suid-Afrikaanse Oorlog het ’n Britse klipkapper, James Wright, die jong Cornelius touwys gemaak. Daarna het hy sy wa op kliënte se plase getrek en tot 9 maande daar deurgebring om een grafsteen te voltooi. Moenie verbaas wees as jy ’n spelfout of twee op dié stene raaksien nie ─ Cornelius kon nie spel nie, maar kerf kon hy kerf. As jy dié volkskuns wil bewonder, kontak gerus die gids, Elsa van Schalkwyk, vir ’n toer: 053 391 3069 / 072 074 0919.

Cornelius de Waal se handewerk - Foto: Elsa van Schalkwyk

Nadat jy jou gate uit geniet het by die fees en die dorp plat gestap het, kan jy rustig by een van ons lekker blyplekke in en om Williston gaan ontspan:

Ark Gastehuise and B&B | Annie’s Inn | Dorpshuis | Lord Willis | Die Kuierhoekie | Zakrivier Guest Farm | Witfontein Plaas Gastehuis

Saal gerus hier in Williston af as jy jou weer op die R63 bevind hier is beslis meer as net stofstrate wat wag!

HooffotoArk Gastehuis en B&B (LekkeSlaap.co.za)