Bly hiér in Mosselbaai: Lekke verblyf vir alle reisigers

Nanje Lourens, 26 Februarie 2026

Leestyd: 7 minute
Bly hiér in Mosselbaai: Lekke verblyf vir alle reisigers

Mosselbaai is een van die gewildste kusbestemmings op die Tuinroete en bied ’n wenkombinasie van pragtige strande, avontuuraktiwiteite, ryk geskiedenis en uitstekende waarde vir jou geld. Of jy nou ’n romantiese wegbreek, ’n gesinsvakansie, ’n groepuitstappie of ’n ruskans by die see saam met jou troeteldier beplan, daar is geen tekort aan uitstekende verblyfopsies in Mosselbaai nie.

Van strandfrontwoonstelle en knus gastehuise tot ruim selfsorghuise, Mosselbaai het iets vir elke tipe reisiger en begroting. In hierdie blog wys ons jou die beste blyplekke in Mosselbaai, afhangend van waar jy wil wees en saam met wie jy reis.

Waarom almal van Mosselbaai hou

Mosselbaai kom kort-kort op reisigers se lyste van gewildste Tuinroete-bestemmings voor, en dis maklik om te sien waarom. Dit is ideaal vir enige iemand wat ’n rustige vakansie by die see wil hê, met genoeg om te doen en sonder die skares of hoë pryse van ander nabygeleë bestemmings.

Gewilde areas in Mosselbaai

Die regte area kan ’n groot verskil aan jou verblyf maak. Hier is ’n opsomming van die gewildste areas en vir wie hulle meer geskik is.

Santosstrand

Santosstrand is perfek as jy naby die strand wil wees en maklik restaurante en besienswaardighede wil bereik. Hiér sal jy strandfrontwoonstelle en gesinsvriendelike verblyf sien en die strand se waters is lekker kalm vir ’n rustige afkoelsessie.

Diazstrand

Diazstrand is ’n gunsteling onder branderplankryers en avontuurlustiges en bied strandfrontwoonstelle en vakansie-eenhede naby ’n lang sandstrand en die gewilde Diaz Water Park. Dit maak dit ’n uitstekende keuse vir gesinne én avontuurlustige reisigers.

Die middedorp

Verblyf in die middedorp verseker dat jy naby die hawe, museums, winkels en restaurante is. Hierdie area is ideaal vir gastehuise, B&B’s en reisigers wat graag naby die aksie wil wees.

Danabaai

Vir ’n rustiger wegbreek bied Danabaai en die omliggende area verblyf wat deur natuurskoon en see-uitsigte omring word en ’n stadiger lewenswyse wat perfek vir paartjies en langer vakansies is.

Mossel Bay Golf Estate

Hier sal jy luukse villas, vakansiehuise en woonhuise rondom die Mosselbaai-gholfbaan raakloop. Dit is ideaal vir golfspelers, gesinne en paartjies vir wie gerief, mooi uitsigte en agteroorlê belangrik is.

Pinnacle Point

Dié landgoed is die tuiste van die wêreldklas-18‑putjie-gholfbaan op ’n krans wat vir die ongelooflike uitsigte oor die see bekend is. Verblyf hiér is perfek vir kranige golfspelers, of paartjies en groepe wat ’n skilderagtige, aktiewe en luukse ervaring wil hê.

Waar om in Mosselbaai te bly

Dit maak nie saak hoe en saam met wie jy reis nie, Mosselbaai het beslis verblyf wat by jou behoeftes pas.

Plekke vir paartjies in Mosselbaai

Daar is romantiese verblyfopsies in Mosselbaai te kies en te keur. Wees op die uitkyk vir woonstelle met see-uitsigte, boetiekgastehuise en privaat eenhede met balkonne, kaggels of warmbaddens wat ideaal vir salige skemerkelkies met sonsondergang is.

Betty’s Boutique Hotel, Middedorp

Dié boetiekhotel loop oor met geskiedenis en ouwêreldse bekoring. Betty’s Boutique Hotel is ’n romantiese toevlugsoord vir paartjies wat karakter en styl waardeer. Die knus gastehuis is ’n pragtig bewaarde kalksteenhuis uit 1903 en bied luukse suites, rustige tuine, ’n sprankelende swembad en ongelooflike detail soos ’n Edwardiaanse kaggel en die lewendige Speakeasy Bar.

201 @ Golf Estate, Mossel Bay Golf Estate

Paartjies wat ’n stil plek soek om te ontspan ná ’n lang dag van die dorp plat stap, sal mal wees oor 201 @ Golf Estate wat ’n moderne selfsorg-eenheid op een van Mosselbaai se mees gesogte landgoedere is. Die oopplan-uitleg, sonkrag en rustige sitarea buite maak dit ’n uitstekende keuse vir ’n sorgelose wegbreek naby die dorp en strande.

African Oceans Manor on the Beach, Bay View

Vir dié wat droom van ’n luukse naweek by die see bied African Oceans Manor on the Beach vyfsterverblyf reg op die strand. Die gastehuis spog met stylvolle suites, see-uitsigte, ’n swembad en Jacuzzi en is absoluut ideaal vir spesiale geleenthede en wittebrode waar ontspan nommer een op die lys van aktwiteite is.

Gerieflike gesinsverblyf in Mosselbaai

Reis jy saam met kinders? Mosselbaai is ’n fantastiese bestemming vir gesinne. Selfsorgeenhede naby die strand, vakansiewoonstelle met genoeg spasie om te speel en verblyf naby besienswaardighede vergemaklik reis saam met kinders.

Beacon Wharf Selfsorg Seefront Akkommodasie, Beacon Point (Die Punt)

Beacon Wharf is ideaal reg teen die see geleë en bied ruim selfsorgverblyf aan gesinne wat naby alles wil wees. Daar is eenhede met drie slaapkamers en ononderbroke see-uitsigte wat stapafstand vanaf die winkels, restaurante en strande is – perfek as ’n maklike basis vir ’n regte gesinsvakansie in Mosselbaai.

De Bakke Terrace 26, Santosbaai

Gesinne wat ’n veilige en gerieflike rusplek naby die strand soek, sal De Bakke Terrace 26 geniet. Die goed toegeruste woonstel vir ses is naby Santosbaai en stapafstand vanaf De Bakke-strand geleë, en spog met kindervriendelike slaapplek en ’n balkon met ’n see-uitsig waar julle gehaltegesinstyd ná ’n dag by die strand kan deurbring.

The Bay Lodge, Bay View

Met ’n uitsig oor Bayview-strand is The Bay Lodge ’n uitstekende B&B-keuse vir gesinne wat gerief en maklike toegang tot die strand verkies. Die ruim kamers, ’n swembad, braaigeriewe en ’n swemstrand met lewensredders tydens skoolvakansies maak dit ’n veilige én gerieflike opsie vir ouers.

Selfsorghuise vir groepe in Mosselbaai

Vir groepe vriende of familie is selfsorgverblyf in Mosselbaai ’n gewilde keuse. Vakansiehuise en groter woonstelle beskik dikwels oor braaigeriewe, dekke met see-uitsigte en oopplan-leefareas waar groepe gesellig kan kuier.

Pinnacle Point Lodge 21, Pinnacle Point

Pinnacle Point Lodge 21 is ’n luukse vakansiehuis wat ideaal vir groepe, gesinne of golfwegbreke is, want dit is ontwerp vir gerief en maklike kuiers. Daar is vier en suite-slaapkamers, oopplan-leefareas en ’n onderdakstoep met ’n ingeboude braai en ’n see-uitsig. Gaste het ook toegang tot die landgoed se geriewe en skilderagtige staproetes.

Cape St. Blaize, Linkside

Verbeel jou ’n ononderbroke uitsig oor Mosselbaai en die omliggende berge, want dit is wat Cape St. Blaize jou bied. Dié ruim, pragtige huis het ’n sentrale ligging naby strande, kusroetes en die St. Blaize-staproete wat dit ’n uitstekende basis maak vanwaar om die omgewing te verken, én die stoep en braai-area sorg vir rustige kuiers tuis. En ja, jou viervoetkinders is ook welkom!

Sea View 18, Beacon Point (Die Punt)

Naby die middedorp en net ’n entjie se stap vanaf die strand bied Sea View 18 gerieflike selfsorgverblyf aan groepe van ses. Die woonstel spog met slaapkamers met lugversorging, ’n goed toegeruste kombuis en ’n balkon met braaigeriewe en ’n see-uitsig in die verte – ’n praktiese opsie vir groepvakansies.

Troeteldiervriendelike tuistes in Mosselbaai

Mosselbaai is ’n uitstekende keuse vir reisigers wat nie hul troeteldiere by die huis wil los wanneer hulle met vakansie gaan nie. Baie troeteldiervriendelike verblyfopsies bied omheinde tuine, maklike toegang tot staproetes en is naby hondevriendelike strande geleë.

Lekker Leef, Middedorp

Lekker Leef is ’n knus, rolstoelvriendelike selfsorg-eenheid in die hartjie van Mosselbaai en ideaal vir klein gesinne of paartjies. Die sentrale ligging maak dit maklik om strande, restaurante en staproetes te bereik en is perfek as jy op soek is na ’n praktiese en gerieflike basis vir ’n kort wegbreek op die Tuinroete.

Gasteria Cottage, Danabaai

Dié oulike kothuis word deur ’n inheemse tuin omring en bied ’n rustige, troeteldiervriendelike toevlugsoord met genoeg spasie, privaatheid en veiligheid in Danabaai. Gasteria Cottage se tuin is heeltemal omhein, die onderdakstoep het ’n braai en dis naby strande en staproetes vir uitstappies saam met jou hond.

Notre Petit Paradis, Beacon Point (Die Punt)

Notre Petit Paradis spog met ’n ononderbroke see-uitsig en ’n ruim leefarea vir gesinne of groepe. Die moderne strandfrontwoonstel lei na ’n groot balkon met ’n ingeboude braai, en dit bied veilige parkeerplek.

Nie gesien waarna jy soek nie? Kyk gerus na al ons troeteldiervriendelike verblyfopsies in Mosselbaai hier.

Bespreek jou perfekte blyplek in Mosselbaai

Met ’n pragtige kuslyn, uiteenlopende aktiwiteite en ’n groot verskeidenheid verblyfopsies bied Mosselbaai werklik iets vir elke tipe reisiger. Of jy nou ’n romantiese wegbreek, ’n gesinsvakansie of ’n ontspannende naweek by die see beplan, met Lekkeslaap is dit altyd maklik om jou droomblyplek te soek en te bespreek.

Hooffoto: Beresheet The Bachelor

Alle ander foto’s: LekkeSlaap.co.za


Lees ook

Ontdek Hermanus: ’n Gids vir strande, wynplase en besienswaardighede

Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete

Hessequa: Die Tuinroete sonder die skares

App download page
© 2026 Tripco (Pty) Ltd. t/a LekkeSlaap.co.zaBepalings en VoorwaardesWerfkaart