Die Tuinroete kronkel al langs die suidelike kus van Suid-Afrika, vanaf Mosselbaai in die Wes-Kaap tot by Stormsrivier in die Oos-Kaap, en spog met welige woude, ongerepte strande en bekoorlike kusdorpe wat die ideale resep vir ’n onvergeetlike wegbreek is. In hierdie blog wys ons vir jou ’n rits opsies wat pasgemaak is vir paartjies en ’n mengsel van luuksheid, privaatheid en romanse bied. Of jy nou na ’n afgesonderde boomhuis met ’n uitsig oor die see of ’n knus kothuis in die woud op soek is, hierdie blog neem jou op ’n reis deur die Tuinroete se oulikste blyplekke wat ontwerp is vir paartjies om herinneringe te skep.

Buff and Fellow Eco Cabins 

Bespreek ’n romantiese wegbreek by Buff and Fellow Eco Cabins op ’n buffelteelplaas net ’n entjie se ry vanaf George. Hierdie ekovriendelike pod-eenhede langs die rivier het elkeen ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer met ’n groot bad en ’n buitestort, ’n toegeruste kombuis, knus sitarea en ’n privaat stoep met ’n ingeboude braai en ’n houtvuur-warmbad. Daar is ’n verskeidenheid wild wat langs die plaasdam wei en dit skep ’n rustige agtergrond terwyl julle op die stoep ontspan. Kom proe wyn saam met die eienaars, verken die plaas met ’n fiets, sluit by die eienaars aan vir ’n toer van die buffels of bring gehaltetyd in die pod-eenheid deur — hoe dit ook al sy, Buff and Fellow Eco Cabins beloof ’n betowerende wegbreek!

Hide Away Cabin

Hide Away Cabin is in die hartjie van Rheenendal in Knysna op die betowerende Spurwing Plaas geleë. Die privaat houthuisie word deur welige groen woude omring en bied die perfekte wegkruipplek vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese toevlugsoord. Die driehoekhuisie het ’n knus dubbelbed, ’n badkamer met ’n stort, en ’n volledig toegeruste kombuisie met alles wat julle nodig het. Die leefarea lei na ’n stoep met braaigeriewe en daar is ’n plankpaadjie wat na ’n aparte dek met ’n vuurput en ’n etenstafel tussen die bome lei. Die huisie gebruik sonkrag sodat julle nie oor beurtkrag hoef te bekommer nie, so kom ontsnap in die natuur, hou die voëllewe en bosbokke dop, of kies koers na Knysna vir die dag wat net 19 kilometer ver is.

Nightjar Cabin The Farm Knysna

Kom ontdek die rustigheid van die natuur by Nightjar Cabin net buite Knysna se middedorp. Hierdie huisie is onafhanklik van die nasionale kragnetwerk, bied slaapplek aan twee volwassenes en het ’n oopplan-uitleg met ’n dubbelbed, ’n badkamer met ’n stort en ’n leefarea met ’n goed toegeruste kombuisie met ’n gasstoof en ’n knus rusbank en gratis WiFi. Daar is vuurput-braaigeriewe en ’n oulike koffiewinkel op die perseel wat heerlike maaltye teen ’n bekostigbare prys bedien. Geleenthede vir fietsry, velddraf of ’n potjie gholf is naby geleë en Knysna is net 10 minute se ry ver.

Cliffhanger Cottages

Die asemrowende hoogtes van Cliffhanger Cottages in Knysna is iets wat jy self moet kom sien! Verblyf word in drie selfsorg-eenhede op die rand van ’n krans bo ’n beboste vallei gebied en elke eenheid spog met ’n ongeëwenaarde uitsig op die majestueuse Outeniekwaberge. Die Cliffhanger Cottage is egter die ideale wegkruipplek vir paartjies wat lief is vir die natuur en ons beveel hom sterk aan. Die ruim eenslaapkamer-chalet het ’n koningingrootte-bed, ’n badkamer met ’n stort met ’n uitsig, en ’n oopplan-kombuis en -leefarea wat na ’n beskutte, privaat dek met draagbare braaigeriewe lei. Cliffhanger Cottages is in Rheenendalweg geleë en is net 15 minute se ry vanaf Knysna en ’n skilderagtige swemstrand.

Forest Valley Cottages is naby geleë en is net so ’n goeie keuse as jy op soek is na ’n oulike houthuisie wat in die woud versteek is.

Elephant Hide of Knysna Guest Lodge

Elephant Hide of Knysna Guest Lodge is ’n familiebestuurde lodge wat bo-op die Welbedacht-kranse net drie kilometer buite Knysna geleë is. Hierdie lodge fokus op natuurlike skoonheid en wys dit in die klip- en houtargitektuur wat ’n gemaklike, aardse gevoel uitstraal. Die pragtige suites het ’n Afrika-tema en spog met donsveerkussings, 100%-perkallinne en moderne geriewe, soos ondervloerse verhitting, WiFi, iPod-koppelstasies, lugversorging, TV’s met DStv, kroeg-yskassies en koffie- en teemaakgeriewe. Kom ontspan in die gastesitkamer, bewonder die uitsig vanaf die swembaddek, en smul aan jou ontbyt in die ontbytkamer of in jou eie kamer — en bring jou viervoetvriend saam op reis! Met veilige parkeerplek en ekstra dienste soos ’n lughawependeldiens, middagetepakkies, kinderoppassers en ’n wasgoeddiens, is Elephant Hide of Knysna Guest Lodge die toonbeeld van kaalvoetkeurigheid!

Edge of Eden

Edge of Eden bied luukse selfsorgverblyf wat heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk is in Wildernis in die hartjie van die Tuinroete. Die Milkwood-kothuis is die toonbeeld van ’n romantiese wegbreek en spog met ’n oopplan-uitleg, ’n koninggrootte-bed en ’n en suite-badkamer met ’n bad en ’n privaat buitestort. Die kombuis is ten volle toegerus, die leefarea spog met ’n kaggel en ’n TV met Netflix, en buite is daar ’n dek met sonstoele, ’n etenstafel en ’n houtvuur-warmbad met ’n asemrowende uitsig. Kom teug saam met jou wederhelf aan skemerkelkies in die warmbad en bewonder die nimmereindigende uitsig by Edge of Eden.

Silverlake Cabin

Silverlake Cabin is ideaal vir paartjies wat lief is vir die buitelewe en bied ’n selfsorgwegbreek met ’n ongeëwenaarde uitsig oor Island Lake, die Serpentinerivier en op die omliggende bergreeks in die rigting van Hoekwil. Die ruim houthuisie beskik oor ’n oopplan-uitleg en het ’n koningingrootte-bed, badkamer met ’n stort, ’n goed toegeruste kombuis en Franse deure wat na ’n groot dek met sonstoele, ’n kroegstoel-sitarea en ’n aparte braaidek lei. Jogamatte, swemhanddoeke, ’n haardroër en komberse word voorsien en die omsetterstelsel verseker ononderbroke gebruik van kragproppe, insluitend WiFi, tydens kragonderbrekings. Dit is gerieflik naby markte, wateraktiwiteite, voetslaanroetes, strande en die middedorp geleë en beloof ’n ontspannende basis vir dié wat die omgewing wil verken.

Nog verblyf met net so ’n mooi uitsig oor die Serpentinerivier is JustFor2 se oulike houthuisies.

Mountain Magic 2

Mountain Magic 2 in Hoekwil bied unieke verblyf in ’n opgeknapte vragskiphouer met ’n asemrowende uitsig oor die see in die verte. Dit is ideaal vir paartjies wat op soek is na ’n rustige wegbreek buite die stad en ’n beginpunt vanwaar hulle die natuurwonders van die Tuinroete kan besoek. Die slaapkamer het lugversorging en ’n koningingrootte-bed en die badkamer het ’n stort. Die leefarea spog met gratis WiFi, ’n goed toegeruste kombuis, insluitend ’n gasstoof, en ’n sitarea met ’n gemaklike rusbank. Die vragskiphouer lei na ’n stoep met ’n etenstafel, braaigeriewe en ’n betowerende uitsig. Wat die verblyf nog beter maak, is die buitestort en hangmat met ’n uitsig oor die vallei.

As jy op soek is na iets ’n bietjie anders as die gewone kothuis, is Treedom Villas and Vardos se swerwerwaens die ideale keuse vir jou romantiese wegbreek.

Treebia Self-catering

Begin julle romantiese wegbreek by Treebia Self-catering waar gemak en rustigheid saam werk om bekoorlike eenhede in ’n woud aan die buitewyke van die Piesangvallei in Plettenbergbaai te verseker. Die eenhede is naby winkels en restaurante geleë en bied die perfekte mengsel van rustigheid en toeganklikheid. Vir paartjies wat ’n intieme toevlugsoord soek, beveel ons die Milkwood-eenheid aan wat ’n ruim oopplan-woonstel vir twee is. Die slaapkamer het ’n koninggrootte-bed met luukse Egiptiese katoenlinne en ’n en suite-badkamer met ’n stort. Die kombuis is volledig toegerus en die sitarea het ’n knus L-vormige rusbank en ’n slim-TV met Netflix, Disney+ en Amazon Prime. Buite is daar ’n privaat stoep en tuin met ’n vuurput en Weber-braaigeriewe, wat ’n ideale plek is om saans onder die sterre te kuier.

Forest Song Farm

Forest Song Farm skuil in Harkerville in die rustige Fisanthoek-boerderygebied en is ’n perfekte toevlugsoord vir paartjies wat op soek is na rustigheid in die buitewyke van die Knysna-woud en die Tuinroete Nasionale Park. Die Hoopoe-kothuis is ideaal vir ’n paartjie en beskik oor ’n knus slaapkamer met ’n koningingrootte-bed en ’n badkamer met ’n stort. Die oopplan-leefarea spog met ’n hoë plafon en natuurlike lig en sluit ’n goed toegeruste kombuis en sitarea in wat na ’n houtdek met ’n asemrowende uitsig oor die Knysna-woud lei — perfek vir skouspelagtige sonsondergange. Op warm dae kan julle in die plonspoel afkoel en die braaigeriewe buite op die grasperk gebruik. Die kothuis bied direkte toegang tot die inheemse woud en stroompie waar daar ’n rits stap- en bergfietsroetes is om te verken én dit is naby die Harkerville-boeremark wat op Saterdae plaaslike produkte en kunsvlyt verkoop.

Lyk hierdie verblyf vir jou lekker, maar jy is eintlik op soek na ’n boomhuis? Dan is Moon Shine on Whiskey Creek se kothuise die perfekte keuse vir jou!

Luxury Shepherds Hut Retreat

Luxury Shepherds Hut Retreat bied unieke selfsorgverblyf op ’n plaas op die rand van die woud naby Harkerville. Die tiny home bied slaapplek aan twee gaste en het ’n koningingrootte-bed en ’n en suite-badkamer met ’n stort. Die kombuisie is goed toegerus en sluit ’n yskassie en ’n stoof in en dit lei na ’n stoepie met ’n etenstafel, draagbare braaigeriewe en ’n sitarea waar gaste die rustige omgewing kan bewonder. Met maklike toegang tot Plettenbergbaai en Knysna, kan gaste die plaaslike omgewing se ongerepte strande, skilderagtige staproetes, bekoorlike winkels en smullekker restaurante besoek. Hierdie piepklein huisie beloof ’n onvergeetlike, romantiese wegbreek.

***

Kom ontdek die Tuinroete se bekoorlike verblyf waar die liefde behoorlik sal blom. Van privaat eko-huisies met see-uitsigte tot luukse kothuise in die middel van die woud — die Tuinroete bied ’n rits toevlugsoorde vir twee waar paartjies herinneringe kan skep wat ’n leeftyd sal hou.

Hooffoto: Cliffhanger Cottages

Lees ook:

8 Wonderlike wegbreke vir jou wittebrood


11 romantiese blyplekke in die berge


Vakansiehuise op die Tuinroete