Verblyf in Oudtshoorn: Lekke blyplekke vir groepe, paartjies en troeteldierouers

Nanje Lourens, 30 Januarie 2026

Leestyd: 7 minute
Verblyf in Oudtshoorn: Lekke blyplekke vir groepe, paartjies en troeteldierouers

Oudtshoorn is die hartjie van die Klein-Karoo geleë en een van Suid-Afrika se mees unieke reisbestemmings. Omdat dit vir die skilderagtige Karoo-landskappe, volstruisplase en bekoorlike kleindorpie-atmosfeer bekend is, is dit ’n gewilde bestemming vir gesinne, paartjies, groepe vriende en selfs troeteldierouers. Of jy nou op soek is na ’n groot plaashuis, ’n versteekte juweel of ’n troeteldiervriendelike kothuis, Oudtshoorn het verblyfopsies vir elke tipe reisiger. In hierdie gids het ons die beste plekke bymekaargemaak en wenke ingesluit oor wat om te sien en doen terwyl jy in die omgewing is.

Die uitsig by Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm.

Oudtshoorn is meer as net ’n tussenstop gedurende jou reis deur die Klein-Karoo; dis ’n bestemming met ’n mengsel van avontuur, kultuur en ontspanning. Reisigers hou daarvan, want:

  • Dis die volstruishoofstad van die wêreld: Besoek die rits volstruisplase en geniet insiggewende en vermaaklike volstruistoere.
  • Daar’s ongelooflike natuurskoon: Golwende Karoo-landskappe, dramatiese bergpasse en ongelooflike sterrekykgeleenthede maak dit ’n fotograaf se droombestemming.
  • Dis propvol geskiedenis en kultuur: Besoek die historiese geboue, museums en plaaslike feeste en kunsvlytmarkte.
  • Dit het ’n kleindorpie-atmosfeer: Kom ervaar die warm gasvryheid en ’n stadiger manier van dinge doen.
  • Dis heel jaar ideaal: In die lente en herfs is die weer matig en die skares minder, en in die winter is die lug helder en ideaal vir vir sterrekyk en buitelugaktiwiteite.
Die uitsig vanaf Landrani Luxury Lodge se gemeenskaplike swembad.

Oorweeg hierdie gewilde aktiwiteite in die omgewing en maak die beste gebruik van jou tyd hiér:

  • KKNK: Woon die Klein Karoo Nasionale Kunstefees by as jy in die herfs die dorp besoek.
  • Kangogrotte: Verken die indrukwekkende kalksteengrotte en leer oor die fassinerende geologie.
  • Volstruisplase: Voer volstruise, leer oor boerderypraktyke en neem unieke foto’s.
  • Cango Wildlife Ranch: Kom sien krokodille, leeus en ander wildspesies van nader.
  • Swartbergpas: Verken dié skilderagtige bergpas met ’n fiets of ’n voertuig om die asemrowende uitsig in te drink.
  • Plaaslike wynkelders en olyfplase: Bespreek ’n wyn- of olyfproesessie en koop ’n paar tuisgemaakte produkte om huis toe te neem.
  • Buitelugavonture: Daar is ’n rits stap-, 4×4- en natuurroetes in die omgewing.

Vir meer wenke, aktiwiteite en versteekte juwele kyk ’n bietjie wat ons alles aangevang het toe ons in Oudtshoorn gaan draai het.

Oudtshoorn bied ’n rits verskillende verblyfopsies en sal beslis iets hê wat aan jou behoeftes sal voldoen, ongeag waarna jy op soek is. Van selfsorgplaashuise tot luukse gastehuise, hiér is die beste opsies vir groepe, paartjies en troeteldierouers.

Reis jy saam met familie of vriende? Hierdie blyplekke bied ruimte, gerief en kuierareas wat perfek is vir groepe wat saam herinneringe wil skep.

Welgeluk Cottage is op ’n volstruisplaas net buite Oudtshoorn geleë en spog met twee kothuise met lugversorging vir ses gaste elk. Dit is ideaal vir groepe wat op soek is na rus, ruimte en ’n Karoo-uitsig. Daar is ruim leefareas en buitebraaigeriewe – ideaal vir ontspannende groepswegbreke.

Ravenscliff Villa en Ravenscliff White House is albei goeie opsies vir groter groepe wat op soek is na verblyf in die dorp. Met onderdakstoepe, braaigeriewe, skilderagtige uitsigte en omheinde tuine is dit perfek vir groepe familie of vriende met kinders wat op soek is na verblyf naby die dorp se geriewe.

Dié bekoorlike plaashuis bied ’n ontspanne omgewing op ’n volstruisplaas vir groepe wat die natuurskoon en ’n stil atmosfeer wil geniet. Natuurliefhebbers kan lekker gaan stap en fietsry, en op die uitkyk wees vir voëllewe en klein wildsbokke wat gereeld oral rondom die huis te sien is.

Mirari is ’n troeteldiervriendelike opsie stapafstand vanaf die dorp se toprestaurante en spog met ’n ingeboude braai, lieflike tuin en ’n swembad. Of jy nou saam met familie of vriende reis, dit is ’n gerieflike basis naby Oudtshoorn se hoofbesienswaardighede.

Paartjies wat wil ontspan en gehaltyd saam wil deurbring, sal mal wees oor hierdie skilderagtige opsies vir twee.

Landrani Luxury Lodge bied rustige plaasverblyf wat perfek is vir paartjies wat luukse verblyf in die natuur soek. Die lodge spog met ’n gemeenskaplike swembad en stylvolle selfsorgeenhede wat elkeen ’n berguitsig, ’n dek en ’n braai-area het.

Dié rustige kothuis op die Karusa-wynlandgoed is perfek vir ’n romantiese wegbreek en spog met ’n uitsig op die berge en oor die wingerd. Die oopplankothuis het ’n binnebraai, stoep en toegang tot die restaurant op die perseel en stap- en fietsroetes deur die Schoemanshoekvallei. As jy van hierdie kothuis hou, maar saam met jou gesien reis, spog hierdie plaas met nóg ’n kothuis vir ’n klein gesin van vier!

Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm net buite die dorp bied verblyf in houtkothuise en tent-chalets langs ’n privaat watergat met ontbyt ingesluit, berguitsigte, ’n restaurant op die perseel en onvergeetlike wild- en volstruiservarings in ’n skilderagtige Klein-Karoo-reservaat.

Soetdoring Selfsorg is ’n romantiese wegbreekplek vir paartjies op ’n dam se oewer in ’n rustige omgewing met ’n uitsig op die Outeniekwaberge. Die rustieke kothuise beskik oor kaggels, privaat stoepe met braaigeriewe en toegang tot die swembad by die nabygeleë gastehuis.

Berluda Farmhouse & Cottages bied luukse, troeteldiervriendelike kothuise met privaat braaigeriewe, spa-baddens en skilderagtige Karoo-uitsigte op ’n rustige volstruisplaas in die Schoemanshoekvallei. Hiér kan paartjies romantiese ontbyte, sonsondergangritte en unieke plaaservarings, soos die gewilde meerkattoere, geniet.

Reis jou viervoetkinders saam? Dié blyplekke verwelkom troeteldiere en maak dit maklik om Oudtshoorn saam te verken.

​​Aardts Cabins is ’n rustieke Karoo-wegkruipplek vir diegene wat saam met hul troeteldiere reis, net 14 km vanaf die dorp. Die klipkothuis word deur ’n ongerepte landskap en ’n sterrehemel omring en het ’n buitebraai, kaggel en ’n houtvuurwarmbad.

Kom ervaar AfriCamps Klein Karoo op ’n plaas net 10 minute se ry vanaf die dorp. Hiér is troeteldiervriendelike glanskamptente langs ’n groot dam, ’n speelarea vir die kinders, en wild soos kameelperde, koedoes en elande. Elke tent het ’n kaggel en ’n braai-area, twee tente het privaat warmbaddens, en die premiumtente bied ekstra privaatheid en ongelooflike uitsigte oor die bosveld.

Little Canaan Retreat is op ’n 46-hektaar-skaapplaas geleë en beskik oor off-the-grid-kothuise met privaat stoepe, ingeboude braaigeriewe en sonkrag. Hier sal julle rustige stapsessies, wildkyk en panoramiese uitsigte op die Swartberge en Rooiheuwelberge geniet.

Op ’n heuwel met ’n uitsig op die Outeniekwa- en Swartberge lê Le Petit Karoo met sy twee troeteldiervriendelike eenhede wat ideaal vir paartjies en gesinne is. Die gastehuis spog met staproetes, ’n swembad, braai-areas, speletjieskamers en ’n restaurant op die perseel.

Nie iets gesien wat aan jou behoeftes voldoen nie? Moenie bekommer nie – sien al ons troeteldiervriendelike blyplekke in Oudtshoorn hier.

Oudtshoorn is ’n veelsydige, verwelkomende bestemming met verblyfopsies vir elke tipe reisiger – van groepsuitstappies en romantiese wegbreekplekke tot troeteldiervriendelike verblyf. Met ’n skilderagtige landskap, unieke besienswaardighede en warm Karoo-gasvryheid is dit die perfekte plek vir jou volgende wegbreek.

Soek deur al ons Oudtshoorn-verblyfopsies op LekkeSlaap en begin sommer vandag jou Klein-Karoo-wegbreek beplan.

Hooffoto: AfriCamps Klein Karoo


Voel soos Karoo-royalty by De Zeekoe Guest Farm

Die top-10-blyplekke wat op jou wenslysie hoort

Blyplekke langs riviere en damme in die Wes-Kaap

App download page
© 2026 Tripco (Pty) Ltd. t/a LekkeSlaap.co.zaBepalings en VoorwaardesWerfkaart