Blyplekke langs riviere en damme in die Wes-Kaap

Nanje Lourens, 1 December 2025

Reading time: 7 minutes
Blyplekke langs riviere en damme in die Wes-Kaap

Soek jy verblyf in die Wes-Kaap met ’n pragtige uitsig oor die water? Om langs ’n rivier of ’n dam uit te span, is een van die mees ontspannende maniere om vakansie te hou. Van selfsorgkothuise tot privaat lodges bied hierdie blyplekke langs die water die perfekte kombinasie van gerief, natuur en avontuur, en dis ideaal vir paartjies, gesinne en vriende.

Die perfekte kombinasie tussen natuur en gerief

Die Wes-Kaap is met ikoniese riviere besaai, soos die Breede-, Goukou-, Kaaimans- en Olifantsrivier om maar net ’n paar te noem en elkeen word deur welige fynbos, majestueuse berge, pragtige landerye en magiese woude omring. Langs hierdie riviere en damme kan jy die buitelewe vanaf die oomblik dat jy wakker word, geniet. Só ’n rustiger en skilderagtige wegbreek laat reisigers jaar na jaar terugkeer.

Vakansies langs riviere en damme is veral ideaal vir:

– Roei en staanplankroei, met kalm waters wat perfek is vir beginners en kinders
– Swem in diep rivierpoele en skoon plaasdamme
– Visvang in riviere vol forel en op rustige damwalle
– Stap- en bergfietsroetes wat vir alle vlakke geskik is
– Voëlkyk en wildkyk wat natuurlik vir pragtige foto-geleenthede sorg
– Sterrekyk, veral by off-the-grid en omgewingsvriendelike verblyf buite die stad

Topverblyf langs riviere en damme in die Wes-Kaap

Kom ontdek die Wes-Kaap se bekoorlikste oewerverblyf, van knus kothuise tot afgesonderde lodges. Elke plek spog met ’n asemrowende uitsig, wateraktiwiteite en ’n rustige omgewing wat perfek is vir gesinne, paartjies of groepe wat op soek is na ’n onvergeetlike wegbreek.

Kransfontein

Stilbaai

Kransfontein lê op ’n olyfplaas langs die skilderagtige Goukourivier net buite Stilbaai en is ’n rustige plek vir paartjies, gesinne of vriende wat ’n uitsig oor die rivier op hul drumpel soek. Daar is ses bekoorlike plaasstyl-eenhede wat tussen twee en ses volwassenes akkommodeer. Elke eenheid beskik oor ’n privaat badkamer, toegeruste kombuis, WiFi, TV met sekere DStv-kanale, ’n gasbraai. Hiér sal julle luilekker aande op die stoep, sonnige dae op die rivieroewer en die ongelooflike rustigheid van die plaas geniet.

Somerset Gift Getaway Farm

Swellendam

Somerset Gift Getaway Farm skuil 16 km buite Swellendam en bied ’n idilliese wegbreek langs die rivier met troeteldiervriendelike verblyfopsies wat perfek vir paartjies, gesinne en groter groepe is. Kies tussen die knus Loerie Cottage, die oulike Little Bushbuck Cottage, of die ruim Manor House, wat slaapplek aan tien volwassenes en ses kinders bied. Al die eenhede beskik oor goed toegeruste kombuise, gerieflike leefareas, onderdakstoepe met braaigeriewe en toegang tot privaat houtvuurwarmbaddens. Aktiwiteite op die perseel sluit swem, roei, visvang, Zipline en skilderagtige staproetes al langs die rivier in en plaaslike winkels en restaurante is net ’n enjie se ry ver.

Kaaimans River Cottage

Wildernis

Kaaimans River Cottage kan slegs met ’n boot of kano bereik word en is een van die mees unieke verblyfopsies langs ’n rivier in die Wes-Kaap. Hierdie troeteldiervriendelike selfsorgkothuis in Wildernis bied slaapplek aan ses volwassenes, het ekstra spasie vir twee kinders in ’n solder en beskik oor ’n kombuis, kaggel en ’n groot dek met ’n uitsig oor die rivier. Julle kan met kano’s na die afgesonderde Kaaimansstrand roei of die ikoniese Kaaimanswaterval besoek. Hierdie natuurryke wegbreekplek is perfek vir gesinne en groepe wat avontuur, privaatheid en ’n onvergeetlike rivieruitsig soek.

Tides River Lodge

Malgas

Tides River Lodge skuil in Malgas ’n beskutte baai van die Breederivier en beskik oor vier selfsorghuise, insluitend die Boothuis vir twee, Cob Cottage vir ses, Heron House vir ses en Zebra Lodge vir nege — almal net ’n paar meter vanaf die rivieroewer en volledig met kombuise, stoepe, braaigeriewe, WiFi en warmbaddens toegerus. Julle kan bedags op die rivier roei, voëlkyk, fietsry, of die nabygeleë De Hoop Natuurreservaat verken. Dis die perfekte wegbreekplek waar gerief en natuurskoon pragtig gekombineer word.

Dalriada Cottage

Plettenbergbaai

As jy op soek is na ’n moderne en veilige blyplek wat pragtig langs die Keurboomsrivier geleë is, is Dalriada Cottage op ’n eko-landgoed ideaal vir paartjies of klein gesinne. Die kothuis is net 10 minute buite Plettenbergbaai en beskik oor drie slaapkamers, ’n solder en drie badkamers, asook ’n aparte buiteslaapkamer met ’n koninggrootte-bed en ’n en suite-badkamer. Daar is alles wat jy nodig het, insluitend ’n skottelgoedwasser, wasmasjien, DStv, ’n kaggel en ’n groot stoep, én visvang, bootry, swem en voëlkyk is baie gewild op die landgoed.

Asher Riverside Cottages

Bonnievale

Asher Riverside Cottages spog met vier ruim kothuise met uitsigte oor die Breederivier en op die Langeberge, elk met slaapplek vir agt volwassenes. Elke kothuis beskik oor twee slaapkamers, ’n solderkamer, twee badkamers, ’n volledig toegeruste kombuis, ’n kaggel, DStv, ’n groot stoepe met braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad. Dit is ideaal vir gesinne en groepe vriende! Al die eenhede bied maklike toegang tot aktiwiteite in die rivier en Bonnievale se wynplase.

Platbos Log Cabins

Slanghoekvallei

Platbos Log Cabins is in ’n stil vallei aan die hange van die Slanghoekberge versteek en bestaan uit die Kliphout-, Geelhout– en Olienhout-kothuis. Elke kothuis bied ’n knus off-the-grid-wegbreek met slaapplek vir ses volwassenes in twee slaapkamers en ’n solderkamer. Daar is ook ’n badkamer, goed toegeruste kombuis, eetarea en ’n dek met sitplek en braaigeriewe. Die ligging is bekend vir kunsvlieghengel, staproetes deur fynbos na watervalle, bergfietsry en swem in die dam. Let asseblief daarop dat ’n voertuig met hoë grondvryhoogte aanbeveel word.

Dam House Cottage

Franschhoek

Op die oewer van ’n rustige dam by Wildeberg Wines sal jy vir Dam House Cottage kry wat absoluut ideaal vir paartjies is wat op soek is na ’n rustige Franschhoek-wegbreek. Hierdie oopplan-, moderne kothuis het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, goed toegeruste kombuis met ’n skottelgoedwasser en ’n sonnige dek met braaigeriewe en ’n uitsig oor die water. Die kothuis word deur fynbos en wingerd omwing en is ’n rustige, luukse toevlugsoord naby wêreldklas-restaurante en -wynlandgoedere.

Uitsig Cottages

Ladismith

Uitsig Cottages bied rustige plaasverblyf net buite Ladismith met asemrowende uitsigte op die Swartberge en gebruik slegs sonkrag en gas. Beide Hemelrand en Gelukstroom sluit twee slaapkamers, volledige badkamers, toegeruste kombuise, binne- en buitebraaigeriewe en privaat houtvuurwarmbaddens in. Dit is ’n perfekte wegbreekplek vir ’n klein gesin of paartjies wat mal is oor bergfietsry, stap, swem en stil aande om die vuur.

Goedemoed Reflect

Montagu

Goedemoed Reflect is ’n romantiese oopplan-kothuis op ’n rustige plaas 16 km buite Montagu. Die kothuis het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, kombuisie, kaggel en ’n houtvuurwarmbad met ’n uitsig oor die dam en op die berge. Dit is ontwerp vir paartjies wat uit die stad wil ontsnap en hulle batterye behoorlik wil laai. Julle kan sonbaai, op die dek ontspan en die onbelemmerde uitsig indrink, of in die dam swem om lekker af te koel.

Black Eagle Lodges – The Lodge

Caledon

The Lodge is ’n omgewingsvriendelike plaashuis langs ’n stil dam buite Caledon. Die huis het slaapplek vir ses volwassenes en twee kinders en beskik oor drie slaapkamers, twee badkamers, ’n solder, ’n toegeruste kombuis, ’n klipkaggel en ’n bomabraai-area. Daar is ook ’n houtvuurwarmbad wat saam met die afgeleë ligging op die plaas, die sterrehemel en bekoorlike plaasatmosfeer dié huis ideaal vir familie- en vriendegroepe maak.

The Trout Pod

Prince Alfred Hamlet

Dié oulike kothuis is op ’n krans met uitsig oor die Olifantsrivier geleë en dis ’n droombestemming vir kunsvlieghengelaars en natuurliefhebbers. The Trout Pod naby Prince Alfred Hamlet is off-the-grid, bied slaapplek aan vier volwassenes in twee en suite-slaapkamers en beskik oor ’n kombuis, ’n houtvuurwarmbad, ’n stoep met braaigeriewe en toegang tot ’n natuurlike swempoel in die rivier. Daar is nie ’n TV, WiFi of sein nie en dít laat jou toe om totaal en al te herlaai en jou tyd op voëlkyk, swem en forelvang te gebruik.

Bespreek jou ideale waterwegbreek in die Wes-Kaap

Die Wes-Kaap bied onvergeetlike verblyf aan paartjies, gesinne en vriende wat op soek is na ’n wegbreek op die oewer van ’n rivier of ’n dam. Bespreek vandag, ontspan, verken en word wakker met die natuur op jou voorstoep.

Hooffoto: Tides River Lodge

Lees ook:

Aktiwiteite in Durban teen R100 of minder

Topbestemmings buite Kaapstad, Johannesburg en Durban

Bobaasboswegbreke: 7 pragtige verblyfopsies in Marlothpark

App download page
© 2025 Tripco (Pty) Ltd. t/a LekkeSlaap.co.zaSite MapTerms & Conditions