Hoe klink ’n vakansie in Suid-Afrika se hoogste bergreeks vir jou? Die Drakensberge strek oor meer as 1000 kilometer en dis die hoogste én grootste bergreeks in Suid-Afrika. So hoekom verken jy nie dié wonderlike stukkie van Suid-Afrika te perd nie? Op die rug van ’n perd is daar geen motorruit om jou uitsig te belemmer nie en geen 4×4 wat jou beursie leegdrink nie. Ons almal weet dat dit nie juis in almal se tekkies sit om ver ente te stap en berge uit te klim nie. Op die rug van ’n perd kan jy die natuurskoon op jou gemak geniet en die wind in jou hare voel.

Die draak se hoogste pieke is Kleinberg in Lesotho (Thabana Ntlenyana), wat 3482 meter hoog is, en Mafadi in Suid-Afrika wat ongeveer 3451 meter bo die aarde uittroon. Die wonderwêreld van die bergreeks ontvou van die Stormberg by Dordrecht tot by Ben Macdhui naby Rhodes, en dan na Xalanga (plek van die aasvoëls), uNtunjinkala (krap se opening) en Giant’s Castle op die Lesotho-grens en Castle Rocks van Mount Fletcher.

Die berge was vroeër jare die tuiste van die San en die beste voorbeelde van rotskuns in Suid-Afrika, kom hier voor. Die Drakensberge skei die platorand in die Suid-Afrikaanse binneland van die laagliggende kusgebiede in die ooste. Sy ontstaan is te danke aan vulkaniese uitbarstings en die vroeë stories oor dié rotsagtige dele beweer dat vuurspuwende drake lank gelede hier nesgeskop het. Al is die grond vulkanies en die stories oor vurige drake volop, word die suidelike deel gereeld in wit getooi deur sneeu in die winter. Mis en reënval hou die Drakensberge reg deur die jaar groen, vrugbaar en wonderskoon.

Die sentrale gedeelte van die bergreeks spog met ’n hele aantal voetslaanpaaie wat toegang bied tot die rotskuns. Daar is ook baie bergpasse deur die Drakensberge ─  die Sanipas is die bekendste een.

Met jou voete in die stiebeuels en die teuels stewig in jou hande kan jy vinniger jaag oor die vlaktes as wat jy ooit kon droom. Te perd kan jy die hoogtes maklik bereik sonder ’n enjin wat kreun en daarna heerlik afkoel as die perd onder jou deur ’n rivier waad. Só ’n vakansie sal jou vernuwe ─ salig en rustig en heerlik.

Gaan ry dié vakansie perd by die volgende plekkies op LekkeSlaap se lekke lysie.

ATKV Drakensville is in Bergville, KwaZulu-Natal geleë en bied heerlike verblyf in die voorheuwels van die Drakensberg Amfiteater. Dié plekkie spog met asemrowende uitsigte en word omring deur geskiedkundige bakens. Daar is selfsorg- en B&B-opsies beskikbaar en jy kan die volgende besienswaardighede in die omliggende omgewing gaan besoek: die Basotho Kultuurdorp, rotstekeninge, die Falcon Ridge Raptor Centre en die Royal Nasionale Park. Daar is ook uitmuntende begeleide ponieritte, so as die kleinspan jou tot raserny dryf voor die einde van die vakansie, klop gerus by ATKV Drakensville aan!

 

Berghouse and Cottages bied manjifieke uitsigte oor die Noordelike Drakensberg se Pieke. Elke kothuis het ’n kaggel en dit is boonop net 3 ure se ry vanaf Johannesburg en Durban, lekker gerieflik in die middel. Op hierdie privaat landgoed kan die hele gesin die prag van die Drakensberge te perd geniet.

Cathedral Peak Hotel is ’n spoggerige 4-ster-instansie in ’n Wêrelderfenisgebied. Dié wonderlike blyplek bied ongeëwenaarde toegang tot die Drakensberge en tariewe sluit ontbyt, aandete en ’n middagtee in. Vir ’n meer opwindende perdrit na meer uitdagende dele van die bergreeks, kan jy die kinders by die opgeleide kinderoppassers op die perseel los en saam met jou geliefde op ’n wit perd die sonsondergang inry.

Drakensberg House is in die lieflike Champagne-vallei geleë. Hier kan jy heerlik saam met vriende en familie in absolute privaatheid kuier. Aangesien die huis ook in ’n Wêrelderfenisgebied geleë is, is daar ’n kans dat jy blouwildebeeste, duikers, blesbokke, tierboskatte, jakkalse en die Kaapse otter gedurende jou perdritte kan gewaar. Daar is roetes hier wat jou al die pad na die sandsteenkranse van die vallei sal neem asook die grasvlaktes aan die voet van die Cathkin-piek. Daar is ook ’n roete by Drakensberg House wat jou tot bo-op Champagne Castle se plato neem.  Dit duur nou wel 10 ure, maar dink net aan die uitsigte wat jy van daar bo af kan bewonder (3337 meter bo seespieël)!

The Cavern Drakensberg Resort & Spa is op ’n privaat bergreservaat met ongelooflike rustige verblyf in een van die mooiste dele van Suid-Afrika. Die oord is langs die Royal Natal Nasionale Park en die Amfiteater. Hier kan jy The Cavern, ’n oorhang wat 200 meter wyd en 60 meter diep is, te perd gaan verken! Daar is ook massiewe sandsteenhange, rotstekeninge, 213 voëlspesies, 150 boomspesies en ’n aantal wilde diere. As jy ’n perd- en natuurliefhebber is, is dié plekkie definitief vir jou gemaak!

Jy kan bly én perdry by al die bogenoemde plekkies, so dit vergemaklik jou vakansie omdat daar geen ekstra reëlings getref hoef te word vir die perdry-uitstappies nie. Al wat jy benodig is LekkeSlaap se lekke lys lêplekke en ’n avontuurlustige gees.

Laai die kinders en die tasse in jou motor en kies koers na die Drakensberge! Bespreek sommer nóú om teleurstelling te vermy. Daar is nog ’n hele paar plekkies beskikbaar vir Desember (ten tyde van die publikasie van dié blog). Kliek hier vir ons volledige lys instansies by die Drakensberge!

 

Hooffoto: jdavies2013 – BeFunky_P1120609 (Flickr)