In die ooste van ons land lê ’n draak uitgestrek van noord na suid, en net voor jy sy stert se punt bereik, is daar ’n dorpie wat in sy skadu pryk.

Underberg is die poort tot die Drakensberge en sy naam is te danke aan daar waar hy lê: onder die berg, of meer spesifiek, onder die 1 904 meter hoë Hlogoma-piek wat “plek van eggo’s” beteken. Hiér wei melkbeeste vreedsaam teen die berghange en in die winter word die omgewing in ’n sneeusprokie omskep. Jy kan jou byna verbeel jy is op die platteland in die Alpe!

Daar is soveel redes om hierdie skilderagtige deel van die Suidelike Drakensberge te besoek. LekkeSlaap het dit in ’n handjie vol punte opgesom!

Underberg is ’n kunsvlieghengel-mekka en jy moet beslis jou visstok, genoeg aas en ’n piekniekmandjie onthou, want die Umzimkulurivier se waters sal jou ure lank besighou. Daar is ook tientalle damme en mere in die omtrek, so jy hoef jou nimmer te kwel oor ’n tekort aan forel!

’n Donderstorm in die namiddag is ’n algemene verskynsel in die somer, daarom is die visse aktiewer in die oggend. Winternagte is weer yskoud en die middae is onbewolk ─ die beste tyd vir visvang is dan gewoonlik teen skemer wanneer die dag op sy warmste is.

LekkeSlaap spog met ’n hele rits puik bestemmings vir hengelaars. Hier is maar net ’n paar:

Valley Lakes

Valley Lakes bied toegang tot ’n rivier wat etlike kilometer strek en ’n 70 hektaar-meer vol reënboog- en bruinforel. Jy kan selfs reg voor jou kothuis lyn ingooi!

Giants Cup Wilderness Reserve

Dié skilderagtige bewarea is beslis die kern van die hengelbedrywighede aangesien die Giants Cup Forelkwekery meer as 90% van die omgewing se forel oplewer – sowat ’n miljoen visse per jaar! Verblyf in een van dié sonderlinge grasdakkothuise sal die hengelwegbreek net nog meer besonders maak.

Sani Valley Lodge

Sani Valley Lodge se pragtige eenhede is almal langs ’n reusagtige meer ─ een van die grootste privaat mere in Suid-Afrika. Forel kan op ’n vang-en-vrylaat-basis gehengel word en beginners is ook welkom. Kom huur gereedskap en laat die kenners toe om jou touwys te maak.

Umzimkulu River Lodge

Dié lodge is, soos die naam aandui, langs die Umzimkulurivier. Die rivier is net van September tot Maart oop vir forelhengel, maar jy kan heeljaar by die nabygeleë dam vang. En die klein dammetjie met baars is ideaal vir die jongspan.

Jy het waarskynlik al foto’s gesien van die pas wat soos ’n slang teen die Drakensberge se lowergroen hoogtes opseil. Dis nie iets uit ’n fantasieverhaal nie, maar ons eie Sanipas ─ die poort tot die Bergkoninkryk van Lesotho. ’n Besoek aan Underberg móét eenvoudig gepaard gaan met ’n daguitstappie teen die pas op.

Kingdom in the Sky het die roete klaar uitgewerk, so jy hoef bloot aan te meld vir die avontuur. Bring warm klere en jou paspoort, klim saam met ander geesdriftiges in ’n 4×4 en pak die opdraande tog aan. Aan die bopunt kan jy die innerlike met ’n bier versterk by Sani Top Chalet, die hoogste pub in Afrika!

Jy kan nie ’n besoek aan Underberg laat verbygaan sonder om die bergklippies onder jou stapskoene te hoor knars nie ─ die voetslaanmoontlikhede is legio! Stuart, ’n rotskuns-kenner, begelei besoekers graag op ’n drie uur lange bergklimtog na die Marching Men-boesmantekeninge. Jy kan ook die 4×4-rit van die hand wys en die Sanipas te voet aandurf.

Khotso Guestfarm is nét die plek om te bly as jy oor die landskap se berge en dale wil gallop. Hul perdry-ekspedisies wissel van ’n een uur lange rit vir beginners tot ’n voldag-avontuur vir gesoute ruiters. Dís nou ’n unieke manier om die Suidelike Drakensberge te verken!

Wintermaande word dié streek in ’n wit kombersie toegevou en kry die hoë bergspitse ’n lagie versiersuiker. Sneeubalgevegte is tog so ’n lekker tydverdryf tydens ’n gesinswegbreek.

Rondom die Paasseisoen gons die kontrei behoorlik en kom al wat leef en beef om die groot makietie by te woon – Splashy Fen, ’n buitelug-musiekfees op ’n plaas. Die musiek weerklink in die berglandskap se natuurlike amfiteaters, en die natuurskouspel van berg-uitsigte, kronkelende riviere en vlaktes word opgekikker deur stalletjies en vrolike klanke.

’n Man sou nogal kon honger raak na só baie aktiwiteite. Gelukkig is daar sommer ’n hele paar restaurante in die omgewing waar jy ook salig die kop kan neerlê.

Moorcroft Manor

Dié landgoed se restaurant het ’n uitsig op Lesotho se berge in die verte en is ’n gewilde kuierplek onder plaaslike inwoners én toeriste. Net die beste bestanddele vanaf die omliggende plase en klein besighede word vir sy heerlike disse aangewend.

Restaurant-ure:

Daagliks van 07:30 tot 21:00 – Die laaste bestellings word teen 20:30 geneem.

Kroeg: Jy kan jou laaste drankie teen 22:00 bestel.

The Old Hatchery

The Old Hatchery se restaurant is elke dag oop vir ontbyt, middagete en aandete, met vegetariese opsies én ’n kroeg. Jy kan soggens ontbyt nuttig met ’n uitsig oor die waterval en foreldam, saans ’n drankie geniet terwyl jy die son sien sak, en in die ysige wintermaande heerlik langs die gesellige klipkaggel ontdooi. Saterdae kan die hele gesin aan ’n heerlike Portugese Cubata onder ’n Bedouin-tent kom meemaak, en Sondae kan jy jou eie vleisie bring, saam met ander op die dek kom braai en die rustige musiek geniet.

Bushman’s Nek

Dié befaamde hotel, net ’n katspoegie van die Sanipas af, se restaurant heet The Bushpot. Nadat jy een van hulle heerlike kerries, pasteie of pizzas geëet het, kan jy aanskuif na die Pig and Pony-koffiewinkel op die buurplaas, New England, en ’n stomende koppie koffie en ’n skon geniet terwyl jy oor die Suidelike Drakensberge se groen weivelde tuur.

Underberg het nog baie blyplekke vir elke moontlike gier. Kyk ’n bietjie hier:

Selfsorg | B&B | Gastehuise en Hotelle | Kampplek

Underberg bied só baie te sien, te doen, te eet, en plekke om te bly ─ dis byna oorweldigend! As jy nog nie dié pragdeel van ons land verken het nie, moet jy dit sommer dadelik op jou emmerskoplysie sit ─ jy sal nie spyt wees nie!

Hooffoto: Bushman’s Nek (LekkeSlaap)