’n Huweliksherdenking, ’n wittebrood, of gehaltetyd saam met ’n spesiale iemand ─ daar is altyd ’n goeie rede om ’n romantiese wegbreek te bespreek. En wat is beter as om met kabbelende water in die agtergrond tyd saam met jou geliefde deur te bring? LekkeSlaap.co.za het romantiese verblyf langs ’n paar riviere uitgesoek waar julle heerlik agteroor kan gaan sit en ontspan. 

Emily Moon River Lodge

Plettenbergbaai, Wes-Kaap

Emily Moon River Lodge_romanse langs die rivier

Dié eklektiese boetiekhotel is op die oewer van die Bitou-rivier en spog met luukse suites wat ’n Afrika-gevoel vasvang. Julle kan mengeldrankies op die ruim dek geniet terwyl julle die dag groet of voor die kaggel opkrul as die temperatuur daal. Die kombinasie tussen kunsvoorwerpe, versamelitems en die ongerepte natuur sal julle laat voel of julle na ’n ander realiteit ontsnap! 

Die hotel bederf gaste ook met smullekker disse, van tradisionele Karoo-rib en Bali Bowls tot buitengewone pizza-opsies vanuit die bekende Simon’s Restaurant. 

Bee-Eater Hideaway  

Douglas, Noord-Kaap 

Bee-Eater Hideaway_romanse langs die rivier

In hierdie gesellige huisie word jy met die Vaalrivier wat voor jou stoep verbyvloei wakker. Die minimalistiese oopplan-uitleg dra by tot die rustige gevoel van die omgewing en behalwe vir die natuurlewe wat hier en daar kop uitsteek, heers daar ’n romantiese, rustige en verlate atmosfeer. Daar is steeds WiFi en ’n TV vir diegene wat binnenshuis wil vertoef en kinders is ook welkom. En as jou voete ná te veel rustige dae begin jeuk, kan jy visvang en kanovaart op die rivier. 

Kruger Shalati – The Train on the Bridge  

Skukuza, Mpumalanga 

Kruger Shalati - The Train on the Bridge_romanse langs die rivier

Luukse, romantiese verblyf in ’n trein, op ’n brug én in die Krugerwildtuin klink dalk soos ’n droomwêreld, maar hierdie ikoniese eenhede laat drome waar word met ’n Wildtuin-ervaring soos nog nooit tevore. Dié trein is permanent op die Selatibrug bo die Sabierivier gestasioneer. Die opgeknapte koetskamers is net so mooi soos die uitsig oor die Sabierivier deur die glasmure. Julle sal omtrent soos koninklikes voel ná ’n naweek in hierdie bederf-eenhede! Die eenhede is in ’n Afrika-styl versier en het moderne afwerkings. Daar is ook ’n dek waarvandaan julle die krokodille, seekoeie, buffels en olifante kan dophou soos hulle verbyloop.

Hemel en Aarde Cottages 

Overberg, Wes-Kaap 

Hemel en Aarde Cottages_romanse langs die rivier

Met verblyf wat in die Hemel-en-Aarde-vallei geleë is, verwag ’n mens ’n ervaring wat juis dié twee elemente weerspieël. Dié vier selfsorgkothuise bied ’n hemel-óp-aarde-ervaring en dit skuil in die mooiste vallei met skilderagtige uitsigte oor die Onrusrivier en op die Babylonstorenberg. Die kothuise bied slaapplek aan twee tot ses gaste en drie van die kothuise het houtvuurwarmbaddens waarin gaste kan ontspan terwyl hulle die pragtige omgewing besigtig. Die Overberg is ook bekend vir sy ongelooflike wynroetes en walviskyk-geleenthede gedurende die walvisseisoen. 

Khamkirri 

Groen Kalahari, Noord-Kaap

Khamkirri_romanse langs die rivier

As jou idee van ’n romantiese wegbreek aktiwiteite en avonture insluit, is Khamkirri die perfekte bestemming langs die Oranjerivier. Behalwe vir die groot, tradisionele kampeerterrein, bied hierdie perseel in die Groen Kalahari ook privaat kampeerplekke met hul eie ablusieblokke, opwas-areas, lopende water, ’n braai en ’n area met skaduwee. Die nuwe, luukse houthuisies bied meer romantiese verblyf wat privaatheid verseker terwyl julle steeds aan al die aktiwiteite, soos riviervlotvaarte, kunsvlieghengel, sonsondergang-bootvaarte, lang wandelings en bergfietsritte kan deelneem. 

Okahirongo River Camp 

Kunene, Namibië

Okahirongo River Camp_romanse langs die rivier

Die feit dat hierdie tentekamp met ’n glansbaadjie takseer is, maak dit reeds ’n gewilde opsie vir romantiese verblyf, maar dis die uitsig oor die Kunenerivier vanaf die krans wat julle sal betower. Gaste word hier met die stilte en die alomteenwoordige natuurskoon van Namibië omring. Die minimalistiese argitektuur van die lodge dra ook tot die afgeleë gevoel en privaatheid van die ligging by. Bring die dag op die sonstoele deur, klink ’n glasie Suid-Afrikaanse wyn of smul aan die Italiaanse kookkuns wat hier bedien word.

Sibuya Game Reserve & Lodge 

Kenton-on-Sea, Oos-Kaap

Sibuya Game Reserve & Lodge_romanse langs die rivier

Meer verlate as ’n Groot 5-wildsplaas wat net deur ’n boot bereik kan word, is moeilik om te kry. Hierdie wildreservaat en lodge se uitsigte sal jou asem wegslaan, maar moenie bekommerd wees nie, ná ’n besoek aan hul lieflike spa sal jy gou weer jou tweede asem vind! Die perseel strek al langs die Kariegariviermond en bied privaat verblyf in alleenstaande eenhede wat met natuurelemente versier is om die landskap in jou huis in te nooi. Geriewe soos kaggels, swembaddens en buitestorte is ook beskikbaar.

Let op dat die Boslodge-eenheid die enigste met ’n kragnetwerk is en slegs vir volwassenes en kinders oor twaalf jaar geskik is. 

Sleep on the Banks of the Kaaimans River 

Tuinroete, Wes-Kaap 

Hoewel hierdie selfsorghuis tot agt gaste kan akkommodeer, bied die omgewing ’n rustige en romantiese atmosfeer wat ideaal is vir ’n romantiese wegbreek. Word wakker met die welige plantegroei wat teenaan jou venster klop, en gaan slaap met die klank van die Kaaimansrivier wat jou oordromme streel soos dit verby jou venster vloei. Die ruim huis spog met ’n balkon, ’n houtdek, ’n spa-bad en verskeie kamers waarin gaste kan ontspan. 


Kriewel jou vingers al om ’n romantiese wegbreek te bespreek? Waarvoor wag jy? Bederf jouself en jou geliefde met welverdiende alleentyd by een van hierdie romantiese bestemmings.

Hooffoto: Okahirongo River Camp