Dis nie net óns as Suid-Afrikaners wat dink ons land is ʼn wonderlike plek nie ─ die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) glo ook so! Ons mooie land spog met nie net een nie, maar agt Wêrelderfenisgebiede wat almal die besoek werd is. Natuurlik bring ons dit nie per toeval juis nóú onder jou aandag nie … Erfenisdag is om die draai! En wát is dan nou ʼn beter manier om dit te vier as om een van ons land se erfenis-skatte te besoek?

Bigstock.Hierdie pragtige deel van KwaZulu-Natal, wat voormalig as die St Lucia Vleilandpark bekend gestaan het, is in 1999 deur UNESCO as ʼn Wêrelderfenisgebied verklaar. iSimangaliso beslaan 13 aangrensende bewareas en is altesaam 234 566 hektaar groot. Dié park spog met een van die grootste riviermondingstelsels in Afrika en die kontinent se mees suidelike koraalriwwe, so dis natuurlik die tuiste van verskeie see-, vleiland- en savanne-spesies en ook ʼn verbysterende 521 voëlspesies!

As jy dié mosaïek van graslande, strande, woude, canyons, mere en savanne wil besoek, kliek hier vir verblyf in die omgewing.

Bigstock.Hierdie welbekende eiland is omtrent 11 km van Kaapstad af en tog was dit nie altyd ʼn eiland nie. Hierdie stuk land was duisende jare gelede nog deel van die vasteland, maar intussen het dit nie net weggedryf en ʼn eiland gevorm nie, dit is ook die plek waar ons eerste demokratiese president, Nelson Mandela, vir 18 jaar lank ʼn gevangene was. Die eiland was deur die jare ʼn kolonie vir melaatses, ʼn psigiatriese hospitaal, ʼn weermag- en opleidingsbasis in die Tweede Wêreldoorlog en natuurlik ʼn tronk. Robbeneiland dien as simbool vir Suid-Afrika se komplekse geskiedenis en die vordering wat ons sedertdien gemaak het.

As jy blyplek naby aan Robbeneiland soek, kliek hier. Vir ʼn opwindende, opvoedkundige toer van die eiland kan jy 021 409 5100 skakel.

Die Wieg van die Mensdom, dit wil sê die area tussen Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai, is die tuiste van een van die wêreld se grootste konsentrasies hominiedfossiele. Dis omtrent ʼn uur se ry van Johannesburg en Pretoria af en die dier-, plant- en hominiedfossiele strek oor 47 000 hektaar. Dít wat onder die Wieg van die Mensdom se grond lê, het ʼn ongeëwenaarde bydrae gelewer tot bevindings oor ons spesie se herkoms en daarom is dit bekroon met die titel van Wêrelderfenisgebied. Die nuutste vonds in die Wieg van die Mensdom, Homo naledi, is ook hierdie week op 10 September 2015 bekendgestel en dit werp nóg lig op ons oorsprong.

As jy ʼn draai by jou groot-groot-groot-groot-groot-groot-groot-grootoupa wil gaan maak, kliek hier vir verblyf of skakel 014 577 9000 vir meer inligting.

Bigstock.Die uKhahlamba Drakensbergpark is in die weste van KwaZulu-Natal teen die grens van Lesotho geleë en dis 243 000 hektaar groot. Die Drakensberge is die hoogste bergreeks in Afrika suid van Kilimandjaro, maar buiten die berge se natuurlike belang is die versameling rotskuns en -tekeninge in die park ook die grootste in Afrika. Die berge was vir meer as 4000 jaar die tuiste van die San en dis húlle wat ons kan bedank vir die rotskuns wat die Drakensberge versier.

Kliek hier as jy dié park, wat so uitsonderlik is dat dit ʼn Kulturele én Natuurlike Wêrelderfenisgebied is, wil besoek.

Bigstock.Mapungubwe is die nalatenskap van Suid-Afrika se eerste koninkryk wat in die Ystertydperk floreer het. Die oorblyfsels van hierdie koninkryk is in 1932 ontdek en wat dit só spesiaal maak, is dat dit die enigste ruïnes in die area is waar goud en goue artefakte opgegrawe is. Dit dien as bewyse dat hierdie koninkryk uiters gesofistikeerd was en handel gedryf het met eertydse beskawings soos China, Indië en Egipte. Mapungubwe is in die oop savanne van die Mapungubwe Nasionale Park geleë ─ daar waar die Limpopo- en die Shashe-riviere saamvloei. Dis nie net die tuiste van ʼn voormalige koninkryk nie, jy kan ook olifante, kameelperde, witrenosters, elande, gemsbokke, leeus, luiperds, hiënas en meer as 400 voëlspesies hier sien.

As jy hierdie sonderlinge stuk geskiedenis wil besoek (en sommer die Groot 5 ook wil sien!), kliek hier en skakel 015 534 7923/4 vir meer inligting.

Bigstock.

Die Kaapse Floraryk beslaan net 0,04% van die aarde se oppervlak en tog bevat dit ʼn indrukwekkende 3% van die aarde en 20% van die hele Afrika-kontinent se flora! Dit is een van die rykste areas wat biodiversiteit aanbetref en daarom het dit Wêrelderfenisgebied-status bekom. Die Kaapse Floraryk bestaan eintlik uit 8 bewareas wat vanaf die Kaapse Skiereiland tot by die Oos-Kaap strek: Tafelberg, De Hoop Natuurreservaat, die Boland se bergreekse, die Groot Winterhoek-bewarea, die Swartberge, die Boosmansbos-bewarea, die Sederberg-bewarea en die Baviaanskloof. Een van die bekendste dele van dié area is natuurlik die Kirstenbosch Botaniese Tuine ─ die perfekte plek vir Kapenaars om Erfenisdag deur te bring.

Lank, lank gelede … Oftewel 2 biljoen jaar gelede, het ʼn meteoriet met ʼn deursnee van 10 km ─ groter as Tafelberg ─ die aarde getref op die plek wat nou as die Vredefortkoepel bekend staan. Hierdie enorme meteoriet se impak het ʼn krater met ʼn deursnee van ongeveer 350 km gevorm. Daar is sowat 130 slagkraters in die wêreld en die Vredefortkoepel is onder die top-drie wat ouderdom en grootte aanbetref. Die binnekring van dié oeroue krater is vandag nog sigbaar tussen die golwende heuwels van Parys en Vredefort.

As jy in die krater wil gaan kuier, kliek hier of skakel 056 818 1814 vir meer inligting.

Bigstock.

Die Richtersveld strek oor 160 000 hektaar dramatiese berg- en woestynlandskap in die noordweste van Suid-Afrika. Dié streek behoort aan die Namas wat hier ʼn swerwersbestaan handhaaf en na baie jare van ontheemding uiteindelik die Richtersveld hul tuiste kan noem. Die Namas het ʼn uitstekende balans gevind tussen die voortsetting van hul herdersbestaan en die beskerming van dié eiesoortige omgewing, so die Richtersveld is ʼn voorbeeld van die prag wat samewerking tussen mens en natuur kan inhou.

Kliek hier as jy verblyf naby aan die Richtersveld soek en skakel Richtersveld Tours by 083 928 3571 vir meer inligting.

Watter een van ons land se Wêrelderfenisgebiede wil jy graag besoek?