Mens het nie ’n arme buitelander nodig om jou te vertel hoe divers Suid-Afrika is nie. Hopelik besef die meeste van ons dat Suid-Afrika voor in die ry gestaan het toe natuurskatte en verskeidenheid uitgedeel is. In hierdie blog word ons pragtige land se tipografie en streke ten toon gestel. So, maak jou sitplekgordel vas en hou jou oë wawyd oop!

Herman - Map

Tipografie:

Die Groot Platorand

Die platorand vorm ’n bergagtige “U” wat in Limpopo begin en in die suide van Namibië eindig. Die hoogste deel van die platorand is tussen 2000 en 3000 meter bo seespieël en staan bekend as die Drakensberge.

Die Sentrale Plato

Die gemiddelde hoogte van die sentrale plato is 1000 meter bo seespieël en sluit die hele Vrystaat in. Die meeste van die riviere in hierdie gedeelte van die land sluit by die Oranjerivier aan wat uiteindelik in die Atlantiese Oseaan in die weste uitmond.

Die Kusvlakte

Die kusvlakte is op sy nouste in die noordooste (60 km) en op sy breedste in die noordweste (meer as 250 km). Vanweë KwaZulu-Natal se hoë reënval is daar honderde riviere wat die oostelike kusvlakte deurkruis.

Die Kaapse Plooiberge

Hierdie interessante bergreeks is sowat 800 km lank en lê in ’n “L”-vorm wat by die Sederberge in die Wes-Kaap begin en by die Kougaberge en die Tsitsikammaberge naby George eindig. Die sandsteen en skalie waaruit hierdie berge bestaan, is meer as 350 miljoen jaar oud.

Die Kus

Suid-Afrika se kuslyn is 2 798 km lank en word elke dag ’n bietjie hoër uit die see gelig deur die struweling van tektoniese plate. In vergelyking met die meeste ander lande is ons kuslyn besonder glad en het ons baie min natuurlike hawens.

Streke:

Hoëveld

Die Hoëveld is die vrugbaarste gedeelte van die sentrale plato. Die Vrystaat en ’n gedeelte van Gauteng en Mpumalanga is in hierdie streek geleë wat hoofsaaklik oortrek is met grasveld.

Laeveld

Die Laeveld lê teen Botswana, Zimbabwe en Mosambiek, en sy gemiddelde hoogte bo seespieël is minder as 500 m. Voor die dae van malariapille en Tabard was dit onmoontlik om hierdie pragtige gedeelte van ons land te verken sonder om siek te word. Die tsetsevlieë het gelukkig die pad gevat, so die hitte en die muskiete is al wat die grootwildliefhebbers deesdae moet trotseer.

Bosveld

Rondom Nelspruit, in die suidelike deel van die Laeveld, verander die plantegroei in grasveld en verspreide bome en bosse. Die Bosveld beslaan sowat 350 km by 150 km en is besonder ryk aan minerale (platinum, chroom, koper, fluoor, goud, nikkel en yster).

Karoo

Die Swartberge verdeel hierdie halfwoestyn in twee dele: die Klein Karoo in die suide en die Groot Karoo in die noorde. Die Oranjerivier skei die Karoo en die Hoëveld in die noorde en in die suide eindig die Karoo aan die voorheuwels van die Outeniekwaberge.

KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal word in die weste en noordweste deur die platorand begrens en is deel van Suid-Afrika se “kusgordel”. Geografies bestaan die provinsie uit drie afsonderlike gedeeltes: die laagland langs die Indiese Oseaan, die heuwelagtige Middellande, die Drakensberge en die Lebomboberge.

Boesmanland

Die Boesmanland is die droë, binnelandse gedeelte van die Namakwaland (sien onder) suidwes van Springbok. Die Oranjerivier vorm die noordelike grens en die noordwestelike deel van die Groot Karoo vorm die suidelike grens. Die Boesmanland se grond is nie vrugbaar nie en die grondwater is brak. Maar die fauna en flora wat hier oorleef, het allerhande interessante oorlewingstrategieë ontwikkel.

Namakwaland

Dié droë landskap lê teen Suid-Afrika se noordwestelike kuslyn. As ’n mens in die lente die pad vat van die Boesmanland af see toe, word die wêreld al hoe mooier. Natuurliefhebbers kom elke September van heinde en verre om die Namakwalandse veldblomtapyt te bewonder. Hierdie wêreldbekende natuurwonder lê tussen die N7 en die see vanaf Vredendal in die suide tot by Springbok in die noorde.

See

Suid-Afrika lê soos ’n wig tussen die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan. Die Atlantiese Oseaan se koue Benguelastroom laat die Weskussers se tande klap as hulle probeer swem, maar die volop vis laat die hengelaars breed glimlag. En die Oos-Kapenaars en Natallers kan ure lank swem en die koraalriwwe bewonder te danke aan die Indiese Oseaan se warm Mosambiekstroom.

spacestreke

LekkeSlaap maak dit vir jou só maklik om blyplek in al hierdie streke op te spoor. Gaan hou ’n slag vakansie in ’n onbekende streek! Jou reis begin hier.