Dis alweer dáái tyd van die jaar – ja, trouseisoen het aangebreek. Dis amptelik tyd om maanskyn, rose en die liefde te vier en daarom het ons ’n rits verblyfopsies gekies waar dit beslis liefde met die eerste oogopslag sal wees! Of julle nou julle wittebrood in die berge, by die see of in die woud wil vier, trek jou geliefde nader en kom besoek een van ons romantiese wegbreke in die Wes-Kaap

Springsteen Cabins

Tulbagh

Kies koers na Tulbagh vir ’n romantiese wegbreek! Springsteen Cabins bied twee eko-vriendelike selfsorghuisies op ’n pragtige plaas. Elke sonkragaangedrewe huisie bied slaapplek aan twee gaste en het ’n onderdakstoep met ’n gasbraai en ’n houtvuurwarmbad. Die huisies se name is deur die sanger Bruce Springsteen geïnspireer en die verblyf sal nes sy lirieke jou hartsnare roer. Hiér kan julle wynproe, trekkerritte, staproetes en Saterdagmarkies in die omgewing geniet.

Aquila Private Game Reserve & Spa

Touwsrivier

Hierdie vierster-lodge in die suidelike deel van die Karoo bied ’n luukse en betowerende ervaring! Kies uit ’n verskeidenheid kamers en kothuise wat ideaal vir jou en jou geliefde is. Alle maaltye is by die tarief ingesluit en Aquila het ook twee skitterende swembaddens, elk met ’n swembadkroeg en ’n pragtige uitsig, asook ’n sigaarkroeg en ’n biblioteek. Hiér kan julle ’n opwindende wildrit bespreek en die Groot Vyf gewaar!

Little Acre Luxury Pods

Wolseley

Little Acre Luxury Pods bied unieke selfsorgverblyf wat tot jou hart sal spreek op Waverley Hill Organic Wines and Olive Estate net buite Wolseley. Daar is drie pod-eenhede wat elkeen slaapplek aan twee gaste bied en ’n lieflike houtdek het waar gaste ’n vleisie op die kole kan gooi, in die houtvuurwarmbad kan ontspan of die asemrowende berg-uitsig kan inneem. Daar is selfs ’n restaurant en wynproelokaal op die perseel en saans kan julle terugkeer en die sterre deur die glasplafon bewonder – kan dit enigsins meer romanties raak? 

Honeymoon Castle

Knysna

Honeymoon Castle skuil in Noetzie – ’n afgeleë en magiese strand in Knysna wat deur kastele omring word. Hierdie selfsorgwoonstel vir twee het ’n seetema en spog met ’n skilderagtige uitsig oor die blou branders. Daar is ’n koningingrootte-bed, kaggel, ’n terras met sonstoele en ’n verhitte plonspoel. Kom sonbaai op die sonstoele, sit in die plonspoel agteroor en stap al langs die strand saam met jou beminde.

Rocklands Eco Retreat

Clanwilliam

Rocklands Eco Retreat skuil tussen ongerepte berge in Clanwilliam en sal dadelik jou hart steel. Hierdie bekoorlike chalet bied ’n rustige oase waar jy lekker diep kan asemhaal en van die stadslewe kan vergeet. Hiér is ’n romantiese buitebad wat tussen die fynbos en rotse versteek is en jy en jou hartedief kan heerlik op die stoep langs die braaivleisvuur ontspan. Die chalet is in The Rocklands geleë wat ’n gewilde bestemming vir rotsklimmers is en daar is honderde roetes wat vir alle vlakke geskik is, so dit is ideaal vir avontuurlustige paartjies wat op soek is na ’n nuwe uitdaging. 

Avani Lodge Private Nature Reserve

Botrivier

Julle sal dadelik jul hart op Avani Lodge Private Nature Reserve verloor, want hierdie rondawels het beslis ’n romantiese flair en word deur berge en fynbos omring. Hiér is sewe eko-vriendelike rondawels wat elk van strooi en klei gebou is, slaapplek aan twee of meer gaste bied en met ’n houtvuurwarmbad spog waarvoor daar genoeg hout voorsien word. Bedags kan julle ’n heerlike wynproe by een van die rits wynplase in die omgewing geniet en saans kan julle ’n vuurtjie aansteek en saam die sterrehemel bewonder.

Aviary Hills Luxury Hideaway

Heidelberg

Ons weet julle kan nét van liefde en water leef, maar hierdie verblyf is elke sent werd. Aviary Hills Luxury Hideaway is ’n afgesonderde selfsorgkothuis net buite Heidelberg wat deur kanolavelde, bergreekse en voëllewe omring word. Hierdie intieme kothuis bied slaapplek aan twee gaste en het ’n koningingrootte-bed, ’n bad in die slaapkamer en ’n buitestort met ’n uitsig oor die bosveld. Daar is selfs bokke, volstruise en rooikatte om op die plaas te gewaar. Bordpeletjies en hout word voorsien om julle wegbreek nóg meer gesellig te maak. Gaste kan in die houtvuurwarmbad op die stoep ontspan, in die hangmat agteroorlê, of ’n vuurtjie in die vuurput aansteek. 

Hide Away Cabin

Knysna

Wat klink dan nou meer romanties as ’n huisie vir twee in Knysna se woud? Hide Away Cabin skuil op ’n plaas en verseker ’n uiters privaat wegbreek tussen die welige bome. Hiér word julle deur die natuur omhels en kan julle selfs perderitte bespreek, of sommer die voëllewe en, as julle gelukkig is, die bokkies vanaf die houtdek dophou. Daar is gasbraaigeriewe op die dek en ’n aparte vuurput waar julle saans ’n vuurtjie kan aansteek en na die naggeluide kan luister. Boonop gebruik hierdie driehoekhuisie sonkrag, so beurtkrag sal julle nie hiér pla nie. 

***

Wat klink dan nou meer idillies as een van hierdie wonderlike wittebroodbestemmings? Maak jou liefdesviering een vir die boeke met LekkeSlaap se onvergeetlike verblyfopsies. Die liefde mag dalk blind wees, maar hierdie prentjiemooi plekke sal jou weer laat sién!

Hooffoto: Springsteen Cabins op LekkeSlaap

Lees ook:

Die LekkeSlaap-span se Top-Valentynswegbreke

11 romantiese blyplekke in die berge

Sakpaswegbreke vir paartjies naby Gauteng

’n Wittebrood vir Elke Sak en Gier