Pak solank julle tasse én kamptoerusting – ons het ’n paar lekker kampeerterreine in die Wes-Kaap vir julle volgende gesinswegbreek bymekaargemaak. Dié kampeerterreine het meer as genoeg aktiwiteite om die kleinspan ure lank te vermaak sodat Pa en Ma darem ook ’n kans kan kry om ’n bietjie te rus.

Enjo Nature Farm

Clanwilliam

Bedags kan gesinne die pragtige veldblomme inneem en ’n rits staproetes aandurf en saans kan julle saam die sterre bewonder en om die kampvuur kuier. Enjo Nature Farm skuil in die Biedouwvallei net buite Clanwilliam en hier kan julle tussen drie skaduryke kampeerplekke langs die rivier kies wat elkeen slaapplek aan vier gaste bied. Die kampeerterrein spog ook met braai-areas, kragpunte en ablusiegeriewe met warm water. Daar is ook perde op die plaas wat die kleinspan sal vermaak. Jy kan werklik jou héle gesin saambring – selfs jou viervoetkinders.

Clanwilliam

SANParks Wilderness Ebb-and-Flow Rest Camp

Wildernis

SANParks Wilderness Ebb-and-Flow Rest Camp is ’n sielsverkwikkende oase in Wildernis. Julle kan op die oewer van die Touwrivier kamp en karavane word ook toegelaat. Elke kampeerplek het plek vir ses gaste en daar is gedeelde ablusiegeriewe en wasmasjiene. Julle kan lekker in die rivier swem, kano vaar, voëlkyk (daar is vyf voëlskuilings op die rivier se oewer) en saans om die vuur kuier. Hier is ook ’n rits prentjiemooi staproetes wat julle kan verken – een roete eindig by ’n asemrowende waterval waar julle lekker kan afkoel.

Wildernis

ATKV Goudini Spa

Rawsonville

Hierdie bekende oord spog met verskeie swembaddens, ’n waterwurm, putt-puttbaan, tennisbane, pooltafels, speelparke en vlugbal wat die kleinspan vir ure sal vermaak. Daar is selfs stap- en fietsroetes, ’n spa en ’n buitegimnasium. Elke kampeerplek het slaapplek vir ses, ’n kragpunt en braaigeriewe sodat gaste lekker kan kuier. Ablusie-, opwas- en wasgoedgeriewe is beskikbaar om julle verblyf te vergemaklik. 

Rawsonville

Rivierzicht River Resort

Robertson

Ontsnap uit die stad se rep en roer na die rustige Rivierzicht River Resort in Robertson. Hierdie rusplek skuil tussen boorde reg langs die Breederivier. Elke kampeerplek bied slaapplek aan vyf gaste en het ’n afdakkie, elektrisiteit, ’n braaiplek, wasbak en ’n kraan. Hier is oorgenoeg aktiwiteite om die jongklomp heeldag besig te hou – visvang, perdry, kano vaar en swem. Bring die hele gesin en sommer vir Wagter ook!

Robertson

Saxon River Camp

Albertinia

By Saxon River Camp kan julle op die oewer van die Valsrivier kamp. Elke kampeerplek bied slaapplek aan ses gaste en het kragpunte en gedeelde ablusiegeriewe. Julle kan lekker in die rivier baljaar, kano vaar en lyn natmaak. Daar is selfs ’n Zipline oor die rivier en verskeie voetpaaie om te verken. Hier is geen selfsoonsein nie, so gaste kan werklik afskakel en gehaltetyd as ’n gesin geniet.

Albertinia

ATKV Hartenbos – Camping

Hartenbos

Hiér kan julle so te sê óp die strand kamp! Die gewilde oord spog met ’n binne- en buiteswembad, mini-gholf, trampoliens en selfs ’n speletjies-arkade – die jongklomp sal in die sewende hemel wees! Gaste kan tussen kampeerplekke met of sonder ’n see-uitsig kies en dit is ook naby die seefront en rivierfront. Elke staanplek het kragpunte en is vir ses gaste geskik. 

Boonop is dit die perfekte basis waarvandaan julle die Tuinroete kan verken en  julle kan ook die Kangogrotte van nader bekyk, Kaap St. Blaize-vuurtoring besoek en selfs ’n draai by volstruisplase in Oudtshoorn maak.

Hartenbos

SANParks Bontebok National Park

Swellendam

By SANParks Bontebok National Park kan julle langs die rustige Breederivier kamp en met die natuurskoon omvou word. Hiér kan julle lekker piekniek hou, swem, voetslaan en by die braai-area ’n tjoppie oor die kole gooi terwyl die kinders lekker rondhardloop. Daar is karavaan- en kampeerplekke met of sonder kragpunte. Elke kampeerplek is vir ses gaste geskik en daar is gemeenskaplike ablusiegeriewe.

Swellendam

***

Daar het julle dit nou! Laai solank die kinders in die kar en kies een van ons lekker kamppeerterreine waar julle nuwe herinneringe as ’n gesin kan gaan maak.

Hooffoto: ATKV Hartenbos – Camping


Lees ook:

Troeteldiervriendelike kampplekke in die Wes-Kaap

’n Kindervriendelike wegbreek in elke provinsie

Gesinsverblyf met kindervriendelike aktiwiteite op die perseel