’n Gesinsvakansie is altyd iets om na uit te sien, maar dis nie altyd so maklik om die jongspan besig te hou nie. Gelukkig spog ons land met ’n pragtige kuslyn, indrukwekkende reservate en asemrowende landskappe, en bied dit uitstekende geleenthede om die avontuurlike kant van Suid-Afrika saam met kinders te ervaar. LekkeSlaap het ’n paar kindervriendelike verblyfopsies wat aktiwiteite op die perseel bied nader geskraap ─ aktiwiteite só lekker dat Mamma en Pappa self ook daaraan sal wil deelneem!

’n Opwindende oord

Margate Beach Club
Margate Beach Club

Noem net “vakansie-oord” en ouers slaak al reeds ‘n sug van verligting, want hulle weet dat die pret híér nooit ophou nie. Oorde soos Margate Beach Club wat langs die see geleë is, het waterglybane, swembaddens en speletjieskamers, waar Blanco Guest Farm & Holiday Resort op ’n privaat natuurreservaat aan die voet van die Winterberge ’n putt-puttbaan het. By die bekroonde Swadini, A Forever Resort word jy met die Drakensberge se skoonheid omring en gesinne kan bootvaarte op die Blydedam geniet of ’n draai by die Krugerwildtuin maak wat net 75 kilometer ver is.

Kindervriendelike aktiwiteite_Oorde
Links: Swadini, A Forever Resort se lowerryke oord het ‘n verfbalbaan wat kinders en volwassenes kan geniet. Regs: Die speelarea by Margate Beach Club sorg vir eindelose pret en stimulering.

Prentjiemooi plaaswegbreke

Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm
Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm

Die gedagte van ’n rustige wegbreek weg van die stad se gejaag is genoeg om ’n glinster in jou oog te sit. Daar is darem niks soos om tyd op ’n plek deur te bring waar die pas van die lewe slegs deur die son, die reën en die diere rondom jou bepaal word nie. Boetie en Sussie se voete begin egter sommer gou weer juk. Gelukkig is aktiwiteite soos perdry en veevoer gewild by plaasverblyf. By die tentekamp Bulrivier Safaris kan kinders die plaasdiere voer, teikenskiet en aan begeleide perdritte deelneem. As jy jou plaaswegbreek by Fernhill Guest Farm net buite Knysna bespreek, kan die kleingoed selfs probeer om ’n koei te melk en die vriendelike perd en varkies besoek. In die Grootvoëlparadys, Oudtshoorn, bied Chandelier Game Lodge & Ostrich Show Farm tent-chalets waar wild gereeld kom groet. Indien jy die beste van beide wêrelde wil hê, bied Oppi Plaas by die See perdry met ’n uitsig oor die strand, miniatuur-donkies en -perdjies wat geborsel en getroetel kan word, én perdekoetsritte saam met ’n opgeleide bestuurder. 

Kindervriendelike aktiwiteite_Plaaswegbreke
Links: Oppi Plaas by die See. Regs: Fernhill Guest Farm

Buitelug-aktiwiteite vir almal

Misty Mountain
Misty Mountain

Wanneer jy ’n lekker vakansie beplan, is die laaste ding wat ’n mens wil hê dat almal die hele dag in die huis deurbing. Buitelug-aktiwiteite is van die maklikste maniere om jou kinders pê gespeel te kry, met soveel pret dat die hele gesin daaraan kan deelneem. By Wyndford Holiday Farm buite Fouriesburg en Areena Riverside Resort aan die begin van die Wildekus, kan gesinne Zipline, abseil, verfbal speel, boogskiet of kanovaar en ouers kan in die woud ontspan, terwyl die kinders in die boomhuise speel. Oakhurst Farm Cottages in Hoekwil het ’n hindernisbaan in die natuur waar kinders die dag kan deurbring en Misty Mountain bied begeleide vierwielmotorfietsritte. Cathedral Peak Hotel trek ‘n luukse baadjie aan waar ouers ’n spa-bederf kan geniet terwyl kinderoppassers die kinders met ‘n vermaakprogram, ’n speelarea en aktiwiteite soos ’n mini-avontuurgholfbaan, tennis, muurbal, begeleide vierwielmotorfietsritte, ‘n woud-arena vir verfbal en ’n trampolien besighou.

Kindervrindelike aktiwiteite_Buitelug
Links: Cathedral Peak Hotel. Regs: Oakhurst Farm Cottages.

Wonderlik in die winter

Klondryke Cherry Farm
Klondyke Cherry Farm

Sutherland, Ceres, Clarens en Hogsback is maar net ’n paar dorpe wat deur ’n mens se gedagtes flits as jy aan ’n sneeuwegbreek dink. Sutherland se begeleide sterrekyk-uitstappies is veral baie gewild. Jurg Wagener, eienaar van Sterland Guest Houses and Star Gazing in Sutherland, vertel graag besoekers van die Suidelike Halfrond se bekendste konstellasies en neem gaste na die teleskope om die glinsterende hemelruim van nader te bewonder.

“Die sterrekyk saam met Jurg was asemrowend, moenie dit misloop nie!”

– Só sê Soria oor hul Sterland-ervaring.

Die Matroosberg Privaat Natuurreservaat, sowat dertig kilometer buite Ceres, is sekerlik een van die bekendste sneeukykbestemmings in die Wes-Kaap. Klondyke Cherry Farm is ’n vrugteplaas wat appels, pere en kersies verbou en die plaas se ligging van 1200 meter bo seespieël beteken dat die plaas tydens die winterseisoene met ’n dik sneeukombers bedek word. Die jongspan sal hulle gate uit geniet ─ sneeumanne bou, sneeubal-gevegte hou en engelvorms in die sneeu maak. En wanneer die hande begin bewe, kan julle snoesig in een van die kothuise voor die knus kaggel opkrul. 

Kindervriendelike aktiwiteite_Winter
Links: Klondyke Cherry Farm sal kinders se verbeelding uitbrei met al die sneeumanne wat hul op die perseel kan bou. Regs: ‘n Prentjiemooi sterwiel op Sterland Boerdery se perseel, foto verskaf.

Los daardie digitale toestelle by die huis en beplan jou volgende gesinsvriendelike wegbreek met ’n program propvol pret vir die kleinspan op die perseel.

Hooffoto: Oakhurst Farm Cottages