Ontsnap uit die stadsgedruis en sit voet in die hoek vir ’n naweekwegbreek net buite Bloemfontein se stadsgrense. In hierdie blog is ons op soek na wegbreekplekke wat in die rustige landskappe rondom die “stad van rose” geleë is. Of jy nou na ’n knus kothuis in die dorp, ’n ongekunstelde gasteplaas-ervaring, ’n gesinsvriendelike oord langs die Vaalrivier, of ’n ruim huis vir ’n groter groep op soek is, hierdie gids is pasgemaak vir diegene wat ’n blaaskans nodig het en ’n blyplek soek waar mooi herinneringe saam met geliefdes gemaak kan word. Ja, net twee of drie uur se ry neem jou na ’n versameling bekoorlike naweekblyplekke waar die pas stadiger is en die natuurskoon wink — ’n perfekte resep vir ’n verkwikkende naweek weg.

Rosendal

Die Vrystaat se bes bewaarde geheim is die skilderagtige dorpie Rosendal. Dit skuil aan die rand van die Witteberge en is net twee uur se ry vanaf Bloemfontein. Rosendal was oorspronklik ’n plaasdorp en het sy ongerepte skoonheid, rustieke bekoring en asemrowende uitsigte behou. Die dorpie is ’n middelpunt vir kuns, voetslaan, avontuursport, perdry en rotskuns. Kom ontdek die historiese sandsteengeboue wat tot die dorp se unieke bekoring bydra en Rosendal ’n versteekte juweel maak.

The Rosendal Country Retreat

In die hartjie van die Oos-Vrystaat en aan die voet van die majestueuse Witteberge skuil The Rosendal Country Retreat — ’n bekoorlike toevlugsoord in dié ouwêreldse dorpie. Dié plaas was destyds ’n kaasplaas, maar is deesdae ’n fotograaf se droombestemming en ’n wegbreekplek waar kunstenaars en skrywers inspirasie uit die asemrowende natuurlike omgewing put.

Verblyf word in twaalf ten volle toegeruste selfsorg-eenhede gebied waar gaste heeltemal kan afskakel en herineringe saam met hulle geliefdes kan maak. Die gastehuis spog met ’n gemeenskaplike houtvuurwarmbad wat strategies geplaas is om die beste uitsig in Rosendal te bied en om saans die sterrehemel te bewonder. Vir buitelug-entoesiaste is die Schürwekop-staproete feitlik in die agtertuin en bergfietsryers sal talle roetes in die omliggende area vind wat voorsiening vir alle vaardigheidsvlakke maak. 

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 217,2 kilometer
Geriewe op die perseel: Jacuzzi, gratis WiFi en braaigeriewe
Aktiwiteite naby: voëlkyk, perdry, bergfietsry en stap

Shiloh

Kom ontdek rustigheid by Shiloh, ’n kontemporêre kothuis wat deur ’n bekende kunstenaar ontwerp is. Die naam beteken “plek van vrede” en dit is baie gepas, want hierdie selfsorgkothuis beloof ’n rustige wegbreek vir vier gaste. Die slaapkamer op die grondverdieping het ’n kaggel en ’n luukse bad en die tweede slaapkamer op die solder spog met ’n panoramiese berguitsig.

Shiloh se oopplan-leefarea bestaan uit ’n dubbelvolume-plafon en groot vensters en deure wat ’n onbelemmerde uitsig verseker en die natuur na binne nooi. Die kothuis bied toegang tot ’n onderdakdek met sitplek, ’n etenstafel, braai-area en ’n uitsig wat vir ’n rustige naweek weg sal sorg.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 217,2 kilometer
Geriewe op die perseel: braaigeriewe en gratis WiFi
Aktiwiteite naby: voëlkyk, perdry, bergfietsry en stap

Die Withuis

Ontsnap na die rustige skoonheid van Die Withuis, ’n selfsorgkothuis in die hartjie van die Rosendal. Die ruim eenslaapkamerkothuis is langs die dorpspark geleë en bied ’n asemrowende uitsig op die omliggende berge. Dit is ideaal vir ’n paartjie en beskik oor ’n oopplan-kombuis met moderne geriewe, insluitend ’n Nespresso-koffiemasjien, en ’n knus leefarea met ’n kaggel.

Die skuifdeur lei na ’n groot onderdakdek, ’n plaasstylplonspoel, ’n braai-area en sitplek. Die groot tuin is ook heeltemal omhein, so bring vir Buks saam — sy kan ook kom vakansiehou!

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 217,2 kilometer
Geriewe op die perseel: swembad, braaigeriewe, troeteldiervriendelik en gratis WiFi
Aktiwiteite naby: voëlkyk, perdry, bergfietsry, swem en stap

Parys

Parys is ’n bekoorlike dorpie in die Vredefortkoepel Wêrelderfenisgebied op die Vaalrivieroewer. Dit staan as een van die wêreld se oudste en grootste meteorietimpakterreine bekend en nooi besoekers om die fassinerende geskiedenis en geologiese wonder te kom verken. Die dorp spog ook met ’n rits interessante winkels en buitelug-avontuuraktiwiteite, wat dit ’n ideale wegbreekbestemming vir die hele gesin maak. Of dit die historiese landmerke is wat jou fassineer, of die opwindende aktiwiteite langs die Vaalrivier, Parys beloof ’n heerlike wegbreek vol kultuur, natuur en avontuur.

Crane Haven

Crane Haven is ’n keurige selfsorgvilla op die Parys Golf & Country Estate. Dié luukse villa spog met ’n panoramiese uitsig oor die tuin en rustige dam, en is ideaal vir ’n groepie vriende of familie. Die smaakvol ontwerpte villa bied slaapplek aan ses gaste en beskik oor drie slaapkamers en drie badkamers — perfek vir drie paartjies!

Die leefarea lei na ’n onderdakstoep met ’n buitesitkamerstel, ’n ingeboude braai en ’n yskassie vir drankies, asook ’n asemrowende uitsig oor die vallei. Julle kan ook in die swembad afkoel of van die groot grasperk gebruik maak en ’n piekniekkombers langs die dam oopgooi terwyl die son ondergaan.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 306 kilometer
Geriewe op die perseel: swembad, braaigeriewe, gratis WiFi en ’n restaurant by die gholfklub
Aktiwiteite op die perseel: swem, visvang, bergfietsry, voëlkyk

Breathe River Retreat

Breathe River Retreat is op die Vaalrivier se skilderagtige oewer, net 15 km buite Parys geleë en bied ’n toevlugsoord met die perfekte balans tussen rustigheid en natuurskoon. Die lodge bied verblyf in vyf losstaande eenhede en elke eenheid beskik oor ’n privaat badkamer, ’n toegeruste kombuisie, ’n leefarea met ’n TV en ’n binnebraai en ’n stoep met ’n tuin- of rivieruitsig.

Die lodge bied ’n rits gemeenskaplike ruimtes, insluitend drie braai-areas en ’n lapa met ’n volledig toegeruste kombuis, eetarea en binnebraai naby die rivieroewer. Die lapa dien as ’n gesellige bymekaarkomplek en die boma langsaan is die ideale plek vir ’n kampvuur onder die sterre. Die lodge is perfek vir gaste met kinders wat aan wateraktiwiteite soos visvang, swem en roei wil deelneem.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 306 kilometer
Geriewe op die perseel: swembad en braaigeriewe
Aktiwiteite op die perseel: visvang, voëlkyk, swem en stap

Ficksburg

Ficksburg is ’n bekoorlike dorpie aan die voet van die Imperaniberg, waar mielielande oor die landskap strek. Die dorp staan as die Kersiedorp bekend en hou jaarliks in November die oudste oesfees in Suid-Afrika, die Ficksburg Cherry Festival, wat sowat 30 000 besoekers van oraloor lok. Die dorp se argitektoniese bekoring is duidelik in die sandsteengeboue, maar is ook vir bergstaptogte, San-rotskuns en inheemse plantegroei gewild. Wildsplase en B&B-gastehuise is oor die platteland versprei en bied rustige verblyf aan diegene wat Ficksburg se skilderagtige omgewing kom verken.

Moolmanshoek Private Game Reserve

Moolmanshoek Private Game Reserve is in die hartjie van die Witteberge tussen Ficksburg en Bethlehem in die Vrystaat geleë. Hierdie reservaat, wat as gevolg van die skaars bergbamboes in die vallei as ’n natuurlike erfenisgebied erken word, strek oor 3300 hektaar ongerepte wildernis. Verblyf word in gerieflike en suite-slaapkamers met kaggels of smeulstofies in die pragtige sandsteen-lodge gebied. Hiér kan julle in die biljartkamer, biblioteek of die sonkamer met ’n asemrowende uitsig ontspan. ’n Stewige ontbyt word op die stoep met ’n uitsig op Visierskerfberg bedien, maar piekniekmandjies met heerlike eetgoed en smullekker driegang-aandetes is ook by die restaurant beskikbaar.

Moolmanshoek nooi jou uit om die uiteenlopende landskap op ontspannende wildritte, perdryritte, hardloop- en staproetes, en vang-en-vrylaatvisvang-uitstappies te verken. Met asemrowende berguitsigte, heerlike kookkuns en buitelugavonture, bied dié lodge iets vir elke lid van die gesin.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 204,1 kilometer
Geriewe op die perseel: gratis WiFi, restaurant, kinderoppasdiens en speletjieskamer
Aktiwiteite op die perseel: perdry, voëlkyk, wildkyk, stap, bergfietsry en baarsvang

Clarens

Clarens staan as die “Juweel van die Oos-Vrystaat” bekend en is ’n bekoorlike dorpie aan die voorheuwels van die Malutiberge. Dit is in 1912 gestig en na die dorpie Clarens in Switserland vernoem. Clarens se natuurskoon en pragtige uitsigte, saam met die matige klimaat, maak dit die ideale wegbreekdorpie buite die stad. Hiér is so baie om te sien en te ervaar, van kunsgalerye, oulike klerewinkels en buitelugaktiwiteite, tot brouerye en uitstekende restaurante. Kom kyk self!

The French Cottage

Dié oulike kothuis bied ’n privaat wegbreekplek op die historiese plaas Naauwpoort in Clarens. The French Cottage is net 15 minute se stap vanaf die dorpsplein en ’n perfekte toevlugsoord vir natuurliefhebbers wat op soek is na ’n rustige wegbreek naby die dorp. Die kothuis, wat met ’n bekoorlike Franse styl en die ikoniese Clarens-sandsteen spog, beskik oor drie slaapkamers en ’n oopplan-plaaskombuis en -leefarea met ’n gietystersmeulstoof en ’n uitsig oor die erf en op die omliggende berge.

Die kothuis bied ’n rustige wegbreek waar natuurskoon die bekoring van die Franse platteland ontmoet. Hiér het julle toegang tot staproetes met voëlkykgeleenthede, ’n fassinerende grot vol rotskuns en ’n magiese waterval!

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 285,5 kilometer
Geriewe op die perseel: braaigeriewe en gratis WiFi
Aktiwiteite naby: stap, bergfietsry en voëlkyk

St Fort Farm

St Fort Farm is ’n lieflike toevlugsoord in Clarens wat sedert 1964 deel van die Goldblatt-familie is en gaste met ope arms, warm gasvryheid en ’n vrygewige hart verwelkom. Die plaas se sandsteen-opstal is in 1913 onder die Sampioenrots en naby die Klein-Caledonrivier gebou en straal die kenmerkende Oos-Vrystaatse plaaservaring uit. Die opstal is opgeknap en vandag ’n luukse gastehuis met ses en suite-slaapkamers met pragtige plafonne en houtvloere.

St Fort Farm nooi jou uit om ’n heilsame wegbreek te geniet waar gesinne, paartjies en vriende op die platteland gehaltetyd saam kan deurbring. Die plaas spog ook met staproetes en geleenthede om die unieke Clarens-sandsteenformasies, versteekte valleie en grotte te verken en kykies in die Basotho-kultuur te ervaar. Kom geniet die vreugdes van die natuur saam met die warm gasvryheid van ’n plaasgastehuis.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 285,5 kilometer
Geriewe op die perseel: troeteldiervriendelik, gratis WiFi en braaigeriewe
Aktiwiteite op die perseel: kunsvlieghengel, bergfietsry, stap en voëlkyk

The Stoke House

Ontdek die bekoring van Clarens se middedorp met selfsorgverblyf by The Stoke House. The Stoke House is in 2019 deur eienaars wat passievol oor die streek, bergfietsry en avontuur is, gestig en bied knus blyplek wat net ’n hanetreetjie vanaf die dorpsplein en die roetes in die Clarens-bewarea geleë is. Die hoofhuis, wat vier gaste akkommodeer, beskik oor twee slaapkamers, ’n ruim oopplan-leefarea en ’n stoep met ’n braai. Die ander twee eenhede, Tippie en Tomac, het elk slaapplek vir twee gaste, kombuisiegeriewe en buite-areas. Vir groepe van tot agt kan die hoofhuis en eenhede saam gehuur word.

Die Stoke House is ideaal vir diegene wat lief is vir die natuur en saam met hulle troeteldiere reis, want dit is troeteldiervriendelik! Dit bied ook maklike toegang tot bergfiets-, velddraf- en voetslaanroetes en die natuurskoon van die Malutiberge. Met só ’n sentrale ligging laat dit gaste toe om Clarens se restaurante, galerye en avontuuraktiwiteite te verken. As jy ’n knus, sentraal geleë blyplek met ’n buite-area vir jou troeteldiere soek, is The Stoke House ’n perfekte keuse!

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 285,5 kilometer
Geriewe op die perseel: troeteldiervriendelik, gratis WiFi en braaigeriewe
Aktiwiteite naby: kunsvlieghengel, bergfietsry, perdry, stap en voëlkyk

Gariepdam

Gariepdam is vir sy rustige atmosfeer, vars lug en asemrowende sterrehemel bekend en ’n gesogte bestemming vir toeriste reg oor Suid-Afrika. Met ’n verskeidenheid natuurreservate wat die dorp omring en die Gariepdam wat as die grootste dam in die land beskou word, is die fokus hier op natuur en watersport, en lok dit kranige hengelaars en bootliefhebbers. Stap op die Garieproete wat al langs die water kronkel en by skilderagtige uitkykplekke verbyloop, soos die 82,5 kilometer lange Oranje-Visriviertonnel en brûe wat uitsigte oor die Oranjerivier bied. Kom ontspan in Gariepdam en ervaar die bekoring van die Bo-Karoo.

Waschbank River Lodge

Ontsnap na die rustigheid van Waschbank, ’n lodge op die Oranjerivier se oewer in Gariepdam. Waschbank River Lodge is nie net die perfekte oornagbestemming vir moeë reisigers nie, maar ook ’n ideale wegbreekplek, ver van die stadsgedruis. Die B&B-kamers en selfsorg-eenhede bied bekoorlike uitsigte oor Suid-Afrika se grootste rivier.

Die lodge se restaurant dra tot die ervaring by en bedien tradisionele, smullekker tuisgemaakte maaltye wat aan jou ouma se kombuis herinner. Daar is ’n rits aktiwiteite op die perseel wat gaste in staat stel om hulself in die natuurskoon rondom die lodge te verdiep, maar daar is ook ’n verskeidenheid aktiwiteite in die omgewing wat damwaltoere, sonsondergangbootritte, staptoere en geskiedkundige toere insluit. Klop by Waschbank River Lodge aan vir ’n onvergeetlike vakansie langs die skilderagtige Oranjerivier.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 225,3 kilometer
Geriewe op die perseel: braaigeriewe, gratis WiFi, kroeg, restaurant en kinderoppasdiens
Aktiwiteite op die perseel: visvang, voëlkyk, wildritte en bergfietsry

Fouriesburg

Fouriesburg is ’n dorpie wat deur die majestueuse Malutiberge omring word en net 10 kilometer vanaf die Lesotho-grens geleë is. Die dorp langs die Klein-Caledonrivier spog met ’n tipiese Oos-Vrystaatse bekoring — golwende heuwels, uitgestrekte vlaktes en baie sonskyn. Die dorp het ook ’n klomp historiese juwele, soos die 1893-sandsteenkerk, die blokhuis en President Steyn-huis, asook unieke San-rotskuns. Fouriesburg nooi jou uit om te kom verken, hetsy te voet op die Brandwater-staproete of aktiwiteite soos roei en perdry in die Meiringskloof Natuurreservaat.

Fairview Estates

Fairview Estates bied plaasverblyf naby Fouriesburg op die grens van die Vrystaat en Lesotho. Hierdie landgoed bied ’n plattelandse wegbreek en bestaan uit plase met Bonsmara-beeste, Appaloosa-perde en alpakkas. Verblyf is in drie opsies beskikbaar — die Twin Towers, De Rust Farm Cottage en die Damn Caravan. Al drie is pragtig ingerig met geriewe soos elektriese komberse, olieverwarmers en wit perkallinne. Wat De Rust Farm Cottage spesiaal maak, is sy houtvuurwarmbad, maar alle gaste het toegang tot die gemeenskaplike swembad wat met fonteinwater gevul word.

Fairview Estates gee jou en jou geliefdes die geleentheid om julle in die plaaslewe te verdiep. Bergfietsry, voetslaan en historiese terreine, soos ’n sandsteengrot uit die Boereoorlog, is net ’n paar van die aktiwiteite wat hiér op jou wag. Met oop spasies en die sagte gedruis van plaaslewe in die agtergrond, bied Fairview Estates die perfekte naweekwegbreek met alles wat jy nodig het om jou batterye te herlaai.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 251,4 kilometer
Geriewe op die perseel: swembad, troeteldiervriendelik, braaigeriewe en gratis WiFi
Aktiwiteite op die perseel: baarsvang, bergfietsry, swem en voëlkyk

Wyndford Holiday Farm

Wyndford Holiday Farm bied bekostigbare gehaltevakansieverblyf in Caledonspoort naby Fouriesburg. Die verblyfopsies wissel van Switserse-styl-chalets tot luukse dubbelkamers, rondawels en gesinssuites, en die plaas se ryk geskiedenis, wat uit die 1920’s dateer, word in die unieke bekoring van elke kamer weerspieël. Wyndford verseker ’n sorgelose ervaring met tuisgekookte maaltye wat teen ’n ekstra fooi gereël kan word, sodat gaste ’n blaaskans van die daaglikse roetine kan geniet.

Die plaas se afgesonderde ligging beteken dat daar geen plaaslike selfoonsein is nie — ’n ware toevlugsoord van die alledaagse gewoel. Wyndford maak voorsiening vir almal en bied aktiwiteite wat vir alle ouderdomme geskik is, van perdry en begeleide staptogte tot Zipline en tjoepry. Kinders kan ook die boomhuise verken, tafeltennis speel, of sommer net op die plaas rondloop. Of jy nou op soek is na ontspanning of avontuur, Wyndford Holiday Farm beloof ’n verkwikkende naweekwegbreek vol onvergeetlike oomblikke en herinneringe.

Afstand vanaf Bloemfontein: sowat 251,4 kilometer
Geriewe op die perseel: gratis WiFi, swembad en wasgoeddiens
Aktiwiteite op die perseel: bergfietsry, swem en tennis

***

Nou ja, waarvoor wag jy? Dié lieflike bestemmings is elkeen meer as net ’n naweekwegbreek, dis ’n plek waar jy rus in die natuurskoon kan vind. As jy op soek is na ’n toevlugsoord buite Bloemfontein se gewoel, kliek hiér en bespreek ’n naweekwegbreek wat beloof om jou siel te verkwik en jou geliefdes te bederf.

Hooffoto: Shiloh op LekkeSlaap.co.za

Lees ook:

Naweekwegbreke buite Gqeberha
Lekke naweekdorpies buite Durban
Lekke naweekdorpies buite Kaapstad
Naweekdorpies naby Gauteng