Net sodra ’n mens van beurtkrag vergeet, vang dit jou onkant en maak dit seker jy is deeglik bewus van hoe afhanklik jy van Eskom se krag is ─ en dan, om dinge sommer net ’n titseltjie erger te maak, besef jy op die nippertjie jou selfoon se battery staan op 18%. Daar is egter ’n slim klompie mense daar buite wat vooruit dink, seker maak hulle is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en kan ten volle vir hulself voorsien. 

In dié blog wys LekkeSlaap jou ’n rits off the grid-blyplekke waar jy steeds van al jou huislike gerieflikhede, soos warm water, beligting en kookgeriewe verseker is, sonder om van elektrisiteit gebruik te maak.

Uitsig Cottages

Hemelrand en Gelukstroom is twee oulike tweeslaapkamer-kothuise op ’n plaas buite Ladismith, met ongeëwenaarde uitsigte op die Swartberge. Elke kothuis het ’n kombuis wat vir selfsorg toegerus is. Die ligte maak van sonkrag gebruik, en die geisers, yskassies en tweeplaatstofies gebruik gas. Julle kan ’n vuurtjie in die binnebraai of die vuurput buite aansteek, en in die rotsplonspoel ontspan wat met ’n donkie verhit kan word. Vir diegene wat nie kans sien om heeltemal van die wêreld te vergeet nie, is daar ’n aangewese kragprop wat spesifiek vir die laai van selfone gebruik kan word. Bring gerus jou stapstewels en bergfiets saam ─ daar is ’n hele rits plaaspaaie wat wag om verken te word!

Numbi Valley

Dié gastekothuis op ’n plaas buite De Rust bied volhoubare verblyf in twee slaapkamers. Die kothuis het ’n oopplan-sitarea en -eetarea, en ’n kombuis wat goed toegerus is vir selfsorg en van sonkrag en gas gebruik maak. Die kothuis lei na na stoep met ’n uitsig oor die organiese vrugte- en groentetuine en die privaat plonspoel. Gratis WiFi is wel beskikbaar en daar is verskeie vars, organiese produkte op die plaas te koop.

Platbos Log Cabins

Bespreek een van dié selfsorghouthuise in ’n vallei aan die hange van die Slanghoekberge naby Rawsonville. Elke houthuis langs die dam het twee slaapkamers en ’n uitsig op die omliggende berge, en maak van gas, sonkrag en batterye gebruik. Daar is ’n hele rits aktiwiteite in dié vallei, soos kunsvlieghengel, voëlkyk, stap, swem en bergfietsry. Let asseblief daarop dat jy ’n voertuig met  ’n hoë grondvryhoogte benodig om dié houthuisies te bereik.

Believers Destiny Getaway

Meerkat, BushCat en Vlakvark maak net van sonkrag en gas gebruik. Dié houthuisies buite Swellendam bied gehalteverblyf wat ideaal is vir gesinne en paartjies. Vlakvark is die groter huisie wat ideaal is vir ’n gesin, en ook die enigste een wat troeteldiervriendelik is. Meerkat en BushCat is weer albei ideaal vir paartjies. Al drie eenhede spog met houtvuur-warmbaddens en uitsigte op die omliggende berge, en wanneer julle nie in hierdie baddens ontspan nie, kan julle ook fietsry, stap en voëlkyk op die perseel. 

The Sanctuary Bush Retreat

The Sanctuary Bush Retreat is op ’n duin buite Sedgefield geleë, perfek vir paartjies en spog met ’n uitstekende uitsig oor die Karatararivier en Swartvleimeer. Die huis bied unieke, tegnologie-vrye verblyf in ’n eko-vriendelike dubbelverdiepinghuis wat uit vier skeepsvraghouers gebou is en net van sonkrag gebruik maak. Die gryswater van die stort word herwin en die toilet is ’n eko-kompostoilet. Wanneer gaste nie op die dek ontspan en die uitsig bewonder nie, kan hulle kyk hoeveel voëlspesies hulle op die perseel kan raaksien.

Olive Stone Farm and Cottages

Olive Stone Farm and Cottages bied selfsorgkothuise wat van klip van die plase rondom Montagu gebou is, stapafstand vanaf die winkels, supermarkte en restaurante in die dorp. Die kombuise is met gasstowe en -oonde toegerus en die kothuis maak van LED-ligte gebruik. Elke kothuis skuil tussen die olyfbome en spog met sy eie plonspoel vir daardie uiters warm Karoo-dae. Plaasmelk, olyfolie van die plaas se olyfbome, tee, koffie, suiker en eiers, wanneer dit beskikbaar is, word vir die eerste dag voorsien.

The Travelling Tortoise Retreat

Daar is verskeie houtchalets by dié oord buite De Rust. Die chalets is met herwinbare materiale gebou en maak van sonkrag gebruik om elektrisiteit en warm water te voorsien. Daar is ook ’n gasstoof en -oond en natuurlik ’n braai op elke chalet se dek. Bespreek The Angulate-, Geometric- of The Hinge Back-eenheid as jy graag in een van hulle houtvuur-warmbaddens wil ontspan, of die Padloper- en Jackals Den-eenheid as jy jou 4×4-vaardighede weer ’n slag wil toets. Bring sommer vir Ore saam ─ al die eenhede is troeteldiervriendelik!

Sea Shack

Sea Shack bied ’n unieke, omgewingsvriendelike glanskamp-ervaring op die randjie van die water in die Cape Columbine Natuurreservaat. Verblyf word in tien pragtige huisies aangebied, wat elkeen slaapplek vir twee het. Gaste maak dan van vier kleinhuisies met gas-geisers vir die storte en omgewingsvriendelike toilette gebruik. Daar is ook ’n gemeenskaplike boma, vuurput, kombuis en opwaskamer wat sonkrag en gas gebruik, en waar gaste saam maaltye onder die sterre kan voorberei.

Jacobuskraal Yzerfontein Farmhouse

Dié troeteldiervriendelike Weskushuis is op ’n erf van 10 hektaar in die Jacobuskraal-bewarea buite Yzerfontein geleë, en word deur sonkrag en gas aangedryf. Dit is die ideale huis vir ’n groot groep wat gehaltetyd in die natuur, saam met mekaar wil deurbring. Daar is vier slaapkamers, ’n binnebraai en ’n beskutte stoep met nog ’n braai waar julle lekker agteroor kan sit en ’n skemerkelkie kan geniet.

Bergen Dam Cottage

Bergen Dam Cottage is ’n pragtige, troeteldiervriendelike kothuis vir ses gaste aan die voet van die Soetmuisberg naby Bredasdorp, met ’n uitstekende uitsig oor die veld, dam en op die berg. Die kothuis is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en maak van gas, paraffienlampies en ’n donkie-geiser gebruik om warm water te voorsien. Julle kan lekker in die dam afkoel, stap, bergfietsry, voëlkyk en kanovaart, en by die melkery vir vars melk stilhou. As dit vooraf gereël word, kan kinders selfs ’n kitskursus by die melkery volg.

***

Sien jy nou ─ ons het nie vir Eskom nodig om behoorlik vakansie te kan hou nie! Bespreek een van dié oulike blyplekkies wat sélf krag en warm water voorsien, en vergeet weer vir ’n wyle van beurtkrag.

Hooffoto: Uitsig Cottages (LekkeSlaap)