Dit is nie moeilik om te sien hoekom so baie mense keer op keer terugkeer na die Tuinroete nie. Dié roete strek van Stilbaai tot Stormsrivier en is een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika. Die Tuinroete kronkel deur die skouspelagtige natuurskoon, verby dorpies en spogstrande, en ek het onlangs die voorreg gehad om dié pragtige roete plat te toer.

Ons het in Milnerton, Kaapstad bymekaargekom, ons tasse in die bus gelaai en gou gaan kyk wat skuil agter die luukse Lagoon Beach Hotel se mure voordat ons vertrek het.


Dié moderne hotel is die enigste hotel in Kaapstad met direkte toegang tot die strand en spog met ’n wonderskone uitsig op Tafelberg ─ dit voel omtrent of jy met jou vingerpunte daaraan sal kan raak as jy ver genoeg strek. As hulle my die kans gegee het, sou ek die hele dag daar op die onthaaldek gesit het en my aan die uitsig vergaap het. Die uitsig is egter nie die enigste ding waarmee Lagoon Beach Hotel spog nie, dié hotel het ook die tweede grootste konferensiesentrum in die Moederstad met 13 konferensiesale waaruit sakelui kan kies. Daar is ook 2 kroeë en 3 wêreldklas-restaurante: The Brasserie, La Mizu Beach Bar en Wang Thai wat iets vir ieder en elk bied. As die koue Atlantiese see jou beendere te veel laat bibber, kan jy in een van die 3 swembaddens ontspan. Jou oefenprogram hoef ook nie by die venster uit te waai as jy hier inklok vir sake of vakansie nie, daar is ’n gimnasium met alles wat jy benodig. As jy lus is vir ’n bietjie bederf is Camelot Spa met die mooiste behandelingskamers ook op die perseel ─ hier sal jy dadelik van al jou sorge vergeet. Lagoon Beach Hotel het 200 gesofistikeerde en suite-slaapkamers waaruit jy kan kies en hulle bied ook ’n gratis pendeldiens na die KIKS, V&A Waterfront en Century City.

Toe ons by  De Denne Country Guest House stilhou het ons dadelik tuis gevoel. Hulle het ons ingenooi om bietjie uit die Karoo-koue te ontsnap en met verversings bederf voordat ons die plaas en die Highgate Volstruis Skouplaas gaan verken het. Met ’n glasie sjerrie in die hand en ’n heerlike happie in die ander het ek geluister hoe Rudi, die gasheer, ons welkom heet en meer van die plaas vertel. Dié werkende volstruisplaas strek oor 4000 ha en hulle boer onder meer ook met merinoskape en lusern. By Highgate Volstruis Skouplaas kan jy allerhande volstruisprodukte koop wat met die hand deur plaaslike inwoners van Oudtshoorn gemaak word. Verder kan jy ook die reuse volstruiseiers in die broeikas en die volstruise in die veld sien. Daar is ook heelwat ander aktiwiteite en besienswaardighede wat in die pasgemaakte toere ingesluit word, maar dit hang alles af van wat gaste wil doen en sien.

De Denne is ’n pragtige gastehuis en is al vir 10 jaar aan die gang. Louise, Johan en Rudi maak seker dat gaste altyd op hul gemak is. Louise hou ’n ogie in die kombuis en laat ek vir julle ’n ding vertel ─ die kookkuns is hemels! Heerlike, vars brood saam met jou sop, volstruissteak, aartappels, groenbone, malvapoeding of apple crumble met roomys ─ my mond water sommer weer. Johan, die volstruisboer, knoop ’n vriendelike geselsie aan en dit voel sommer gou of jy hierdie pragtige mense al jare lank ken. Rudi maak deur die loop van die aand seker dat jou glas nooit is leeg nie, en na ete staan hy reg met sy teleskoop om vir jou die skitterende sterre in die Karoo-naghemel te wys. 

Nadat jy in die gesellige restaurant gekuier het wag ’n warm, gemaklike bed op jou. Jy kan net jou kop neerlê en rus na die opwindende dag. Die unieke eenhede is fraai versier en toegerus met alles wat nodig is. Die volgende oggend staan die ontbyt-buffet gereed om vir jou krag te gee vir die avonture wat wag. Alles waaraan jy kan dink, word bedien: sap, koffie, tee, joghurt, vrugte, ontbytgraan, brood, kaas, muffins en heelwat meer. Gaste kan ook ’n warm ontbyt van die kombuis af bestel. Ek dink nie een van ons wou werklik op die bus klim om die pad na die volgende bestemming aan te pak nie, maar helaas. Ons waai toe maar totsiens met ons handgemaakte volstruisveer-sleutelhouers en droom van die dag wat ons weer kan terugkeer.

Ons moes nog twee mistige passe deurmaak voordat ons Wildernis, ons volgende bestemming en ook een van my gunsteling-plekke op ons mooie aardbol, sou bereik.

Dié boetiekhotel se naam sê alles! Al die vensters strek van die vloer af tot by die plafon en die uitsigte oor die eindelose Indiese Oseaan word pragtig omraam. Al die suites, die restaurant en die spa spog met see-uitsigte en die deurlopende see-tema skep ‘n salige atmosfeer – hier kan jy net ontspan! Elke suite is noukeurig versier en toegerus, en die versoeking was groot om sommer net in die gemaklike bed te bly lê en na die see te tuur. Die oopplan-badkamers is net so sierlik ingerig en die beeldskone uitsigte word hier voortgesit. Ons het in die restaurant aan ‘n heerlike verskeidenheid happies gesmul: van geroosterde salm tot Sjinese rolletjies, vrugtesosaties, souttertjies en vars uitgedrukte lemoensap.

Met die mooi see-uitsigte in ons gedagtes en lekker kos in ons magies het ons die pad na die Sonskynkus aangepak.

Ongelukkig kom ons toe op ’n reënerige wintersdag by Paxton Hotel in Port Elizabeth, die Vriendelike Stad aan.  Die uitsig oor Algoabaai en die hawe was darem steeds sigbaar deur die mis. Ons is vriendelik verwelkom deur die portiere van die luukse hotel wat vier jaar in ’n ry as die beste kommersiële hotel in Suid-Afrika aangewys is. Die kamers is netjies en die badkamers is ten volle toegerus met alles wat jy nodig sal hê. Nadat ons die hotel se konferensielokale verken het, het ons gaan aansit vir ’n heerlike aandete. Die Paxton Hotel se beroemde lasagne was op die spyskaart, en nou verstaan ek waaroor almal so gons ─ dit was heerlik! Die volgende oggend bedien hulle ’n smaaklike ontbyt wat so groot was dat dit ons al die pad terug Knysna toe vol gehou het.

Dié pragtige herehuis is letterlik teen die Knysna-strandmeer geleë en kyk in die rigting van die Knysna Koppe. Elke aspek van St James of Knysna is beeldskoon! Die ingang, die kamers, die kroeg, die restaurant, die tuin en beslis die uitsig. Daar is 15 ruim kamers en suites met antiekware, gemaklike meubels en privaat badkamers. Die George Rex-suite het ’n bederfbad vir twee en ’n ingeboude sauna vanwaar jy daardie wonderskone uitsig kan bewonder. Met ’n glasie sjampanje in die hand het ons nader beweeg vir die heerlike happies wat die sjef liefderik voorberei het. Daar was iets vir almal: steurgarnale, slaai, lasagne, hoender, varsgebakte brood en nog baie meer. En die poedingtafel was net so divers: ’n kaasbord, ingelegde groenvye, neute, melktertjies, suurlemoenskuimtert, karameltertjies en ’n dekadente drielaag-moussekoek. Hulle het omtrent uitgehaal en gewys. Ons het toe nog so bietjie in die sonnetjie sit en bak en die uitsig bewonder voordat ons na ons laaste bestemming vertrek het.

Blackwaters River Lodge is in die Goukamma-rivier se kromming tussen Knysna en Sedgefield geleë en dit was die perfekte eindbestemming vir dié lieflike toer. Elmay en Paul het ons met ope arms verwelkom en ek het gevoel soos ’n kind wat jare later terugkeer na haar ouerhuis. Ons bagasie is op ’n sleepwa gelaai en na ons kamers gekarwei terwyl ons ’n glasie port of sjampanje in die gastesitkamer geniet het. Van die toerlede het vir spa-behandelings gegaan en ander het dadelik weggespring met die opwindende doendinge wat op die perseel beskikbaar is. Blackwaters is die enigste gaste-lodge in die Suid-Kaap met sy eie Mashie-gholfbaan en gaste kan ook met kano’s op die rivier vaar (tot 14 km stroom-op), swem in die rivier en voëlkyk. Wat meer wil jy hê?

Na die lang dag op die pad en die prettige aktiwiteite waarmee hulle ons besig gehou het, was dit tyd vir ete in die ongekunstelde Earth and Fire Restaurant. Die sop het ons koue lywe vinnig warm gemaak en die weg gebaan vir die hoofgereg van hoenderpastei of lamstjops met groente en nagereg van pannekoek met bessiesous en roomys of kaaskoek. Ons het so lekker gekuier dat ons tot in die vroeë oggendure in die gastesitkamer gesit en bordspeletjies speel het. Toe almal uiteindelik die volgende oggend ontwaak, het die ontbyt-buffet al staan en wag. Alles van roereiers, worsies, spek, boontjies, brood, kaas, joghurt, vars vrugte, muffins, koffie en tee. Sjoe, dit was ’n mondvol.

As die bus vir my weggery het, sou ek glad nie gekla het nie! Blackwaters is werklik ’n betowerende plekkie so tussen die groen-groen bome en bosse, die landskap van die Tuinroete wat liefhebbers so goed ken.

Het jy al ’n toer deur die Tuinroete aangepak? Watter roete het jy gevolg en watter plekke het jy besoek? Ons hoor graag van jou!