Vir die meeste mense is die Weskus sinoniem met vissershuisies, Paternoster se strand, kreef, branders wat op die rotse breek en skouspelagtige sonsondergange oor die Atlantiese Oseaan. Tog het ons onlangs uitgevind dat ’n paar van die Weskus se skatte ’n bietjie verder van die kus af lê … Ons het saam met West Coast Way en James Vos, skaduminister van toerisme, twee nuwe toerismeroetes aan die Weskus gaan verken, naamlik die West Coast Way Scenic Route en die West Coast Way Berg Route. Die voorsmakie was genoeg om ons te oortuig dat dié roetes minstens ’n naweek werd is!

Hier is ’n grafiese voorstelling van West Coast Way se 4 lieflike roetes teen die Weskus af:

Die twee nuwe roetes sal jou na die interessantste klein dorpies neem. Die fokus is dus nie noodwendig op die bestemming nie, maar juis op die juweeltjies wat jy langs die pad sal ontdek. Die West Coast Way Scenic Route begin in Malmesbury en loop deur die Riebeekvallei, Hopefield, Koringberg, Moorreesburg, Yzerfontein en Darling ─ so maak jou reg vir hope plattelandse plesier! Die West Coast Way Berg Route kronkel op sy beurt weer van die Bergrivier tot by die Sederberge. Dit begin in Velddrif en neem jou dan na Laaiplek, Port Owen, Dwarskersbos, Rocherpan Natuurreservaat, Elandsbaai, Aurora, Redelinghuys, Verlorenvlei, Piekenierskloof Mountain Resort, Citrusdal, Eendekuil, Porterville, Piketberg, Wittewater en uiteindelik tot by Goedverwacht.

Vir Kapenaars is dit ’n goeie idee om Eden on the Bay hul eerste stilhouplek te maak. Geniet ontbyt by een van die restaurante teen die see en neem ’n kiekie met die mooiste Tafelberg-agtergrond in die Kaap!

Sodra Tafelberg in jou truspieëltjie verdwyn en die fynbos plek maak vir koringlande, is jy op West Coast Way se Scenic Route in die Swartland. Ons het by Desert Rose Farm Stall, ’n entjie voor Piketberg, aangeklop vir ’n koppie boeretroos, varsgebakte brood, tuisgemaakte botter en konfyt. Terwyl ons daaraan gesmul het, het Martha van Wyk, die posmeester van Koringberg, ons meer van die area se interessante geskiedenis vertel. Daarna was James Vos aan die beurt. Hy het beklemtoon hoe belangrik toerisme vir klein dorpies soos dié se ekonomie is, en dat ’n inisiatief soos West Coast Way stadsjapies sal noop om die wonder van die platteland opnuut te ontdek en te koester.

Daarna het ons die skilderagtige Piekenierskloofpas aangedurf om die Berg Route amptelik by die Piekenierskloof Mountain Resort te open. Heerlike, plaaslike disse (insluitend Rooibos-koeksisters!), plattelandse gasvryheid en wonderskone uitsigte, was aan die orde van die dag … Ons kan Piekenierskloof Mountain Resort beslis aanbeveel, veral vir konferensies of besprekings vir groot groepe.

Na die pragtige uitsigte van die Piekenierskloofpas het ons gemik vir die bekoorlike dorpie, Darling. Evita Bezuidenhout is nie al een wat in dié dorpie tuisgaan nie, Darling is ook die tuiste van Darling Brew se proelokaal en brouery. Hier kon ons die dag afsluit met ’n interessante brouery-toer en ’n yskoue bier. Kliek gerus hier om te sien wanneer jy die proelokaal kan besoek.

Ons kon net by ’n paar van die dorpies op die Berg Route en Scenic Route stop, so ons brand om weer in die pad te val en al die plekkies deeglik te bekyk. Elkeen van die dorpe op die roete bied iets interessant, van Hopefield se Simply Bee-heuningplaas tot by Yzerfontein se 16 myl-strand.

Hooffoto: Pommegranate Kothuis in Citrusdal.