Dis naweek, die piekniekmandjie is gepak, die kinders bars uit hul nate van opgewondenheid en die son trek al water ─ waarheen nou? As jy nog nie seker is in watter rigting die motor se neus jou dié keer gaan lei om die kleinspan vir die dag besig te hou nie, beter jy hierdie blog lees. LekkeSlaap het beslis die kuur vir ’n kindervriendelike naweek-avontuur!

Daar is niks wat ’n kind kan bekoor soos ’n dag tussen die dierekoninkryk se wonderlike skepsels nie. Daarom het ons vyf van ons gunsteling-diereplase uitgesoek sodat jy nie hoef kop te krap oor hoe jy Boetie en Sussie dié naweek gaan vermaak nie. Moenie dink ons het van Ma en Pa vergeet nie ─ al dié plase is sorgvuldig uitgesoek sodat ouers en kinders hul dag behoorlik kan geniet!

Eseltjiesrus Donkey Sanctuary

McGregor, Wes-Kaap

Eseltjiesrus bied ’n veilige hawe aan behoeftige donkies net buite McGregor. In 2001 het drs. Johan en Annemarie van Zijl ’n nood raakgesien nadat hulle twee ernstig beseerde donkies ingeneem en na omgesien het. Nie lank daarna nie is Eseltjiesrus op die been gebring. Vandag is Eseltjiesrus meer as 25 donkies se tuiste en plaas ook gerehabiliteerde donkies by ander toevlugsoorde regoor Suid-Afrika. Eseltjiesrus bied ’n rehabilitasieprogram vir beseerde en mishandelde donkies, en staan altyd reg met raad en daad om die welsyn van donkies landswyd te bevorder. Dit is hulle missie om ’n liefdevolle, veilige tuiste vir dié diere te skep. Hiér word elke donkie se welstand hoog op prys gestel!

By Eseltjierus raak die pret ook nooit op nie. Besoekers kan saam met een van Eseltjiesrus se gidse by die donkies gaan kuier om meer oor dié slim diere te leer. Jy kan ook ’n tuisgemaakte ete by die restaurant geniet, ’n aandenking by die geskenkwinkel koop, en die een kilometer lange Adam’s Walk-staproete aanpak. Hou die kleinspan heeldag besig met Eseltjiesrus se lekker inkleurdoendinge en swartbordpret. Boeta sal beslis nie gou moeg raak vir Eseltjiesrus se donkiespeelgoed nie!

Lekker blyplekke naby Eseltjiesrus

Pony Cottage | Yellostone Cottages | Miss Milly Folly

Giraffe House

Stellenbosch, Wes-Kaap

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Ursula D. (@mrs_keykeys) on


Giraffe House is ’n pragtige diereplaas op die Ou Paarlpad net buite Stellenbosch en spog met ’n verskeidenheid diere wat enige klein kalant se oë sal laat rek. Van plaasdiere, springbokke en apies, tot krokodille, slange en interessante voëlsoorte ─ dié verskeidenheid sorg vir ’n dag propvol dierepret. Giraffe House streef egter daarna om ’n leersame omgewing te skep waar kinders nie net hul dag om baljaar nie, maar ook met kennis oor die diere verryk word. Gerry, Giraffe House se eie kameelperd, kom loer ook graag in en sorg vir tonne genot onder die kleintjies. Giraffe House se pragdiere sal Boetie en Sussie voorwaar in hul noppies hê!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Neil Vercuiel (@neilvercuiel) on

Terwyl die kleinspan die diere voer of hulle gô by die speelarea uit baljaar, kan Ma en Pa skoene uitskop en met hulle piekniekmandjie op die gras uitspan ─ Gerry sal ’n ogie oor die japsnoete hou. Giraffe House is definitief ’n naweektreffer vir ’n jong gesin met ’n gesonde avontuurlus!

Lekker blyplekke naby Giraffe House

Dirtopia Trail Lodge | Slaley Country House | Simonsberg Silo’s

Vredenheim Animal Farm

Stellenbosch, Wes-Kaap

Dié bekende landgoed in die hartjie van Stellenbosch spog deesdae nie net met hul bekroonde wyne nie ─ jy kan nou met die hele gesin vir ’n dag by Vredeheim kom kaperjol! Geniet ’n glasie wyn en ’n peuselhappie terwyl die kroos in die speelpark baljaar.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Ashleigh Arendse (@asharendse2013) on

Die hoogtepunt van ’n gesinsbesoek aan Vredenheim is natuurlik die plaasdiere: Van hoenders en hasies, tot koeie en bokke ─ ’n besoek aan Vredenheim sal die japsnoete dae lank laat gons.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Gasant Abarder (@gasantabarder) on

Boonop bied Vredeheim ’n besoek aan hul Big Cat Park en ’n trekkerrit op die plaas. Vredenheim hou ook kinderpartyjies, so as jy nog nie ’n idee vir Sussie se sewende verjaarsdag het nie, hoef jy geensins verder te soek nie. Met sakpastoegangsfooie en spesiale kindertariewe, kan jy nie anders as om jou kroos met ’n besoek aan dié bekoorlike plaas te bederf nie.

Lekke blyplekke naby Vredenheim Animal Farm

Sanddrif Guest Farm | Vredenheim Guesthouse | The Wild Mushroom Guest House

Flag Animal Farm

Durban, KwaZulu-Natal

 

 

 

View this post on Instagram

 

 

 

A post shared by Flag Animal Farm (@flag_animal_farm) on


Flag Animal Farm is een van die gunsteling-diereplase in KwaZulu-Natal, en met goeie rede. Dié plaas is in Durban geleë en was aanvanklik ’n leë lappie grond wat oor die afgelope 16 jaar tot ’n paradys vir plaasdiere omskep is. Sedert Flag Animal Farm se stigting 16 jaar gelede, is daar reeds 13 500 dierelewens gered. Dié passie vir dierebeskerming en -bewaring is tasbaar as jy by die plaashek inry.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Flag Animal Farm (@flag_animal_farm) on

Flag Animal Farm bied ’n ware plaaservaring waar gesinne vrylik tussen die diere kan rondloop. Die lys doendinge is eindeloos en sluit kinderkonserte, binne- en buitespeelareas, hindernisbane, trekkerritte en perdry in. Hulle bied nie net die geleentheid om die diere te sien nie, maar ook om op ’n veilige afstand meer van dié diere te leer. Kinders kan ponieritte geniet en help om die hoenders, eende, hasies, koeie, bokke, ganse en voëls met die hand te voer. By Flag Animal Farm is jy dus seker van ’n dag propvol pret en ’n verrykende ervaring wat die kleingoed nie gou sal vergeet nie!

Lekker blyplekke naby Animal Flag Farm

Rod’s View | Fairview Guesthouse | Tinley Manor Hil’s B&B

Imhoff Farm

Kommetjie, Wes-Kaap

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Adventure Clubs (@adventureclubsofficial) on


Imhoff Farm is ’n ouwêreldse kleinhoewe in Kommetjie aan die Kaapse kus. Dié bekoorlike plaas skep ’n plattelandse atmosfeer wat die hele gesin welkom heet. Die asemrowende uitsig, smaaklike kos, organiese varsprodukte, unieke winkels, strandritte en diere-ervarings maak Imhoff Farm ’n móét vir alle jong gesinne. Imhoff Farm se lys doendinge sal die klein kabouters goed besig hou. Besigtig die plaasdiere en besoek die slangpark, of hou ’n verfbal-oorlog en geniet ’n perdrit ─ Imhoff Farm bied pret te kies en te keur.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Imhoff Farm (@imhofffarm) on

Imhoff Farm verseker ook dat Ma en Pa bietjie deel in die opwinding terwyl die jongspan baljaar. Geniet ’n koppie boeretroos by die Free Range-koffiewinkel, vul jou wynvoorraad aan met ’n besoek aan die Old Cape-wynwinkel en verkyk jou aan die pragtige plaaslike kuns.

Lekker blyplekke naby Imhoff Farm

Greenways Beach House and Cottage | Slip Slops | Mountain Road Villa

Stof jou piekniekmandjie af en sorg dat Boetie en Sussie se plaassteweltjies mooi blink, want só ’n plaasuitstappie sal die klein kabouters nimmer vergeet! Weet jy van nog pret diereplase waar die kinders kan baljaar? Laat weet ons gerus!

Hooffoto: Bigstock