Toeriste stroom elke jaar na Suid-Afrika om op verkenningstogte in die natuur te gaan ─ en dit wat hiér te sien is, is beslis iets om oor huis toe te skryf! Gelukkig hoef ons nie oor berge en dale te reis om onsself in die natuur te verlustig nie, want die berge is in ons land, reeds reg op ons voorstoep. Om tyd in die natuur deur te bring, is nie net ’n goeie manier om weg te kom van die gejaag van die alledaagse lewe nie, maar die vars lug verminder ook stres en verbeter jou slaappatrone ─ net nog ’n rede om uit die stad te ontsnap! Daar is bergstaproetes vir alle fiksheidsvlakke reg oor die land, en in dié blog wys LekkeSlaap jou ’n paar van ons gunsteling-bergstaproetes op tuisbodem.

Boesmanskloofroete

Wes-Kaap

Boesmanskloof
Die mooi Kaapse fynbos is oral. | Foto’s: Boesmanskloof – Die Galg Accommodation

Die Boesmanskloofroete is 14 kilometer lank en kronkel deur die Riviersonderendberge tussen Greyton en McGregor in die Wes-Kaap. Dié roete is meer geskik vir voetslaners wat fiks is en gewoond is aan stap, en kan binne een of twee dae gestap word, afhangende van stappers se fiksheidsvlakke en hoe lank daar by die verskeie watervalle en poele op die pad vertoef word. Dit is gewild onder stappers om die hele roete te voltooi en dan ’n aand in Greyton of McGregor deur te bring, en dieselfde roete weer die volgende dag terug te stap. Sodoende kan jy die natuurwonders wat jy dalk op die eerste dag gemis het, weer sien! Hou gerus jou oë oop vir die oorvloed Kaapse fynbos en wildspesies, soos duikers, klipspringers, dassies en muskeljaatkatte.

Verblyfopsies in Greyton en McGregor is volop en voetslaners kan kies in watter dorp hulle hiérdie gewilde staproete sal wil begin. In Greyton bied Ella’s ’n eko-swembad en lieflike braaigeriewe, sodat voetslaners heerlik kan ontspan voordat hulle die roete aandurf. Boesmanskloof – Die Galg Accommodation in McGregor is reg teen die begin- of eindpunt van die Boesmanskloofroete geleë en spog met ’n swembad op die perseel, asook ’n biblioteek en verskeie bordspeletjies.

Kliek hier vir meer verblyfopsies in Greyton en hier vir nog opsies in McGregor.

Koste: R960*
Moeilikheidsgraad: Middelmatig
Afstand: 28 km

______________________________

Chain ladder

KwaZulu-Natal

Chain ladder, Drakensberg
Moenie dat die lere jou afskrik nie, die uitsig is die moeite werd. | Foto: Witsieshoek Mountain Lodge

Moenie dat die lere op hierdie roete jou afskrik nie, dit is een van die gewildste staproetes in die Drakensberge! Dit is egter nie vir enigiemand met hoogtevrees nie en jy het senuwees van staal nodig om by dié lere op te klim. Al raad wat ons vir jou het, is om nie af te kyk nie! Daar is twee gedeeltes waar ’n kettingleer met ongeveer vyftig sporte gebruik moet word, en voetslaners kan tussen ’n leer met groot handvatsels en ’n leer sonder handvatsels kies. Diegene wat die lere aandurf, sal met asemrowende uitsigte oor die Tugela-rivier, die Amfiteater en die Tugela Gorge beloon word.

Dit neem ongeveer agt ure om hierdie 8,4 kilometer lange voetslaanroete te voltooi, so dit is belangrik om gerieflike slaapplek te bespreek, sodat jy van ’n behoorlike nagrus voor én ná die tyd verseker is. Daar is verskeie instansies naby die Chain Ladder-roete wat ’n welkome lafenis ná ’n dag vol verkenning sal bied. Witsieshoek Mountain Lodge het ’n restaurant wat ontbyt, middagete en aandete bedien, Goodhope Country Escape het lieflike braaigeriewe op die stoep, en by Mkomazana Mountain Cottages kan jy forelvang, bergfietsry en voëlkyk.

Kliek hier vir meer verblyfopsies in die Drakensberge.

Koste: R75 per persoon vir ’n dagpermit, R45 om die park binne te gaan*
Moeilikheidsgraad: Middelmatig tot moeilik
Afstand: 8,4 km

______________________________

Gamkaskloof – De Tronk en Die Hel

Wes-Kaap

Stap tussen die groenigheid om te ontspan. | Foto: Gamkaskloof – Sankie Marais

Die Gamkaskloofvallei is ’n Wêrelderfenisgebied en het ’n ryk geskiedenis met San- en Khoi-rotstekeninge en van die oudste geregistreerde plase in die land. Hierdie roete neem ’n paar dae om te voltooi en De Tronk, die eerste deel van die roete, is ongeveer 14 kilometer lank. Die Hel is 5 kilometer lank en word op die tweede dag aangedurf. Moenie dat die kort afstand jou flous nie ─ Die Hel is korter as De Tronk, maar dit is heelwat strawwer! Die laaste dag is daar verskeie opsies om van te kies om die roete te voltooi en jy sal weer sowat 14 kilometer stap, met rotspoele waar ’n mens lekker kan afkoel al langs die pad.

Gamkaskloof – Sankie Marais in die Swartberg Natuurreservaat is die ideale kothuis om in te bly ná so ’n uitdagende ekskursie van drie dae lank. Gaste kan ook hiér die area verder verken en die verskeidenheid plantegroei, van die renosterveld tot die bergfynbos, beter leer ken.

Kliek hier vir meer verblyfopsies naby Gamkaskloof.

Koste: wissel deur die jaar*
Moeilikheidsgraad: Moeilik
Afstand: 45 km

______________________________

Hennops Hiking Trail

Gauteng

Hennops
Die uitsigte in Gauteng is nie te versmaai nie. | Foto: Rocky Hollow Guest Farm.

Die Hennops-staproete is naby Johannesburg en Pretoria geleë, en bied ’n keuse van vier verskillende roetes. Die langste roete neem ongeveer vier ure om te voltooi, en die kortste roete net ’n halfuur. Danksy die inheemse bome langs die Hennopsrivier is die voëllewe volop hier, so bring gerus jou verkyker saam.

Die park waarin die Hennopsroetes geleë is, het ook lieflike braaigeriewe en ’n swembad om by te ontspan vir dié wat langer wil vertoef voordat daar na die stad se gejaag teruggekeer word. Bergfietsryers kan ook van die roetes hiér aandurf. Vir dié wat meer roetes in die area wil beproef, is die Made On Earth- en Hoogland Health Hydro-roete ook lekker opsies. 

Kranige voetstappers kan sommer verblyf in Centurion bespreek en elke dag ’n ander roete op die proef stel! Ons stel voor jy klok by Akkommodasie op Die Plasie, ’n rustige kleinhoewe waar paartjies kan perdry in, of by Rocky Hollow Guest Farm waar daar ’n plonspoel, lapa- en sitarea en ’n bosboma met ’n vuurput is.

Kliek hier vir meer verblyfopsies in Centurion.

Koste: R100 per volwassene, R50 per skoolkind
Moeilikheidsgraad: Maklik tot gemiddeld
Afstand: 1,5 km tot 10 km, afhangend van die roete

______________________________

Golden Gate-staproetes

Vrystaat

Golden Gate
Die Golden Gate-berge is ikonies. | Foto’s: SANParks Highlands Mountain Retreat

Die Golden Gate Nasionale Park bied ’n groot verskeidenheid staproetes en het iets van alles vir elke fiksheidsvlak. Vir die dapper stappers is die Ribbok-roete ideaal. Dit strek oor 28 kilometer en neem twee dae om te voltooi. Kranige voëlkykers moet beslis hulle verkykers saambring en sal dalk skaars voëls, soos die baardaasvoël, kalkoenibis en witkruisarend op die roete gewaar. Die eerste dag se stap is 16 kilometer lank, maar stappers sal met die Ribbokspruit-waterval net 2,4 kilometer vanaf die oornaghut beloon word. Die tweede dag se roete is 12 kilometer lank en meer uitdagend, aangesien ’n mens meestal opdraand moet stap.

Vir dié wat nie twee dae aan ’n voetslaanroete in die Drakensberge wil afstaan nie, is daar ook ’n oorvloed korter staproetes om van te kies. Die Cathedral Cave- en Wodehouse-roete neem ongeveer vier ure om te voltooi, en Mushroom-, Eco-Ravine-, Boskloof-, Holkrans- en Brandwag Rock-roetes neem elkeen slegs sowat een uur om te voltooi. 

Dié wat elke roete wil baas raak, kan sommer lekker lank by blyplekke soos SANParks Highlands Mountain Retreat of SANParks Glen Reenen Rest Camp inklok. Highlands Mountain Retreat is 2 200 meter bo seespieël geleë en bied ’n asemrowende uitsig op die Malutiberge, en Glen Reenen Rest Camp skuil teen die voorheuwels van dié berge.

Kliek hier vir nog verblyfopsies in Golden Gate.

Koste: R195 om die Ribbok-roete te stap. Dagbesoekers wat die Golden Gate Nasionale Park besoek, moet ook ’n ingangsfooi van R59 per volwassene en ’n bewaringsfooi van R236 betaal.*
Moeilikheidsgraad: Maklik tot moeilik, afhangend van die roete
Afstand: 5 km tot 28 km, afhangend van die roete

______________________________

Kry jou ’n stapskoene en rugsak gereed en bespreek jou verblyf naby hierdie bergstaproetes ─ die rustigheid van die natuur roep jou!

Hooffoto: Witsieshoek Mountain Lodge (LekkeSlaap.co.za)

* Let asb. dat die tariewe soos uiteengesit in hierdie blog korrek was ten tyde van publikasie.