Wat is dan nou lekke’der as ’n glasie wyn langs die vuur? As dié vuur in die Bosveld is, natuurlik! Die geklingel van die ys in jou wynglas en die geknetter van die warm vlamme pas darem net perfek saam met die geluide van die bos ná die son saans gaan lê het. Daarom wys LekkeSlaap jou dié week waar jy die lekke’ste bosveldvure in die land sal raakloop.

Buffaloland Safaris – Nyati Pools Camp

Dié wildsplaas in Hoedspruit is net ’n hanetreetjie van die Krugerwildtuin af en daarom ideaal vir dié wat gedurende die dag ’n draai in die wildtuin wil gaan ry. Daar is ook ’n rits wildpesies op die plaas self, en dis nét so lekker om by die kamp te bly waar jy die wild sommer by die watergat voor die kamp kan dophou, of langs die vuurput met ’n glasie wyn kan uitspan. Die tente staan onder die bome op die Mazaiembangi-rivieroewer. Elke tent het 2 enkelbeddens en ’n privaat dek, en gaste deel gemeenskaplike badkamers.

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ingesluit: 1 wildrit
Geriewe: gemeenskaplike kombuis en badkamers

OuKlip Game Lodge

Dié lodge skuil in die Dinokeng Wildreservaat, sowat vyftig kilometer van Pretoria af. OuKlip Game Lodge spog met luukse selfsorgtente met hulle eie kombuise, privaat bomas en en suite-badkamers. Elke tent het ’n koningingrootte-bed en ’n slaapbank wat in ’n dubbelbed omskep kan word. Doen jouself ’n guns en geniet bedags ’n opwindende Groot 5-wildrit voor jy saans in jou privaat boma langs die vuur saam met familie en vriende agteroor kom sit. 

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: wildsplaas
Ingesluit: selfsorg
Geriewe: privaat kombuis, boma en badkamer

African Rock Lodge

Die African Rock Lodge is op die Hoedspruit Wildlandgoed, net dertig minute se ry van die Krugerwildtuin af geleë. Kom bly in een van hulle Deluxe- of Gesinseenhede met lugversorging, yskassies met verversings, tee- en koffiemaakgeriewe en privaat stoepe. Bedags kan jy ’n drankie vanuit die kroeg bestel of in die swembad afkoel, en saans saam met ander gaste om die vuur in die boma kuier. Die safari-toere en heerlike kookkuns is ook iets om oor huis toe te skryf!

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: lodge
Ingesluit: ontbyt
Geriewe: gemeenskaplike boma en braaigeriewe

Bushwillow Private Villa

Bushwillow Private Villa op die Hoedspruit Wildlandgoed is ideaal vir ’n gesin of ’n groep vriende wat nie omgee om gemeenskaplike geriewe te deel nie. Die huis het twee suites om van te kies ─ ’n Gesin-suite met twee slaapkamers en ’n badkamer, en die Premium-suite met een slaapkamer en ’n en suite-badkamer. Die suites lei albei na ’n gemeenskaplike kombuis en leefarea, en dan na buite waar julle luilekker om die vuur of in die swembad kan kuier.

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ingesluit: selfsorg
Geriewe: gemeenskaplike kombuis, braaigeriewe, boma en swembad

Warthog Lodge – Mabalingwe Nature Reserve

Die Mabalingwe Natuurreservaat buite Bela-Bela spog met twaalfduisend hektaar waar besoekers die eindelose uitsigte, uitstekende wild en kampvure onder die Afrika-sterrehemel kan beleef. Dié huis het slaapplek vir agt gaste en beskik oor drie slaapkamers, ’n badkamer, kombuis, leefarea en ’n opwaskamer. Bedags kan julle wild in julle eie wildritvoertuig gaan soek en daarna op die dek langs die swembad kuier. Saans is daar die geleentheid om ’n vleisie oor die kole te gooi soos die son in die verte verdwyn en julle nog ’n oog op die watergat kan hou waar wild soms gesig kom wys. Onthou net om die vensters en deure toe te hou wanneer julle nie daar is nie ─ die apies in die area maak graag amok!

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ekstra: wildritvoertuig teen ekstra koste
Geriewe: kombuis, braaigeriewe, boma en swembad

Idwala View – Mabalingwe Nature Reserve

Dié afgeleë selfsorgwegbreekplek in die Mabalingwe Natuurreservaat bied uitstekende waarde vir geld en is ideaal vir ’n groot groep familie of vriende. Daar is vyf slaapkamers, ’n kombuis en ’n leefarea wat na ’n groot houtdek met ’n kroeg, sitarea en ’n swembad lei. Die beskutte boma is ’n paar treë van die huis af tussen die bosse geleë en verseker ’n egte Bosveld-braai. ’n Wildritvoertuig is teen ekstra koste per dag beskikbaar sodat julle op julle eie tyd die wild in die reservaat kan gaan soek. Hou maar hiér ook die vensters en deure toe sodat die apies nie in julle eetgoed kom krap nie.

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ekstra: wildritvoertuig teen ekstra koste
Geriewe: kombuis, braaigeriewe, boma en swembad

Kwa Maritane Bush Lodge

Kom herlaai jou batterye in een van Kwa Maritane Bush Lodge se luukse suites. Dié lodge skuil in die Pilanesberg Nasionale Park aan die voet van ’n twee biljoen jaar oue vulkaan waar die Groot 5 ook woon. Wanneer jy nie wild soek agterop een van die wildritvoertuie of langs die swembad uitspan nie, is daar is ’n spa, putt-putt-baan, muurklim-area en ’n tennisbaan op die perseel waar jy jou bedags kan besig hou, voor jy saans saam met die ander gaste aan ’n heerlike aandete smul wat in die boma onder die sterrehemel bedien word.

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: lodge
Ingesluit: ontbyt en aandete
Geriewe: gemeenskaplike swembad, boma, kroeg en restaurant

Kudu Lodge, Ditholo Wildlife Estate

Die Ditholo Wildlandgoed van eenduisend hektaar bestaan uit ongerepte, inheemse Afrika-woud en bied op ’n volhoubare wyse ’n tuiste vir die rits fauna- en flora-spesies in die gebied. Kudu Lodge is ’n selfsorghuis met vier slaapkamers wat elkeen sy eie privaat ingang, houtdek en ’n en suite-badkamer het. Die hoofarea van die huis spog met ’n oopplan-kombuis, -eetarea en -sitarea met ’n ingeboude braai, en lei na ’n houtdek met ’n swembad en ’n boma. Behalwe vir die feit dat jy jou eie wildritvoertuig kan huur, het die reservaat ook verskeie stap- en fietsroetes, ’n restaurant, kroeg en ’n spa op die perseel. 

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ekstra: wildritvoertuig teen ekstra koste
Geriewe: kombuis, braaigeriewe, boma en swembad

Rooibos Bush Lodge

Dié pragtige selfsorghuis op die Hoedspruit Wildlandgoed is deur groot Maroela-, Knoppiesdoring- en Loodhoutbome omring, so dis lekker beskut en privaat. Die huis spog met drie slaapkamers, ’n oopplan-kombuis en -leefarea en ’n groot stoep. Hiér kan jy lekker agteroor sit ─ of dit nou op ’n sonstoel langs die swembad, op ’n kampstoel langs die vuur in die boma, of op die gemaklike rusbanke in die leefarea is. Kom klink ’n glasie langs die vuur en hou jou oë oop vir duikers, vlakvarke en blouapies wat soms ’n draai by dié huis kom maak.

Kliek hier vir die tariewe.
Tipe verblyf: selfsorg
Ingesluit: selfsorg
Geriewe: kombuis, boma en swembad

Ek weet nie van jou nie, maar ek brand om nou langs een van dié bosveldvure ’n glasie te klink! Watter een lyk vir jou die lekke’ste? Laat ons weet hieronder.