Suid-Afrika se wonderskone landskap spog met talle riviere, damme en mere wat van die mooiste vakansiebestemmings bied waar jy vir ure lank kan tjoepry, visvang, roei, swem en die rustigheid langs die water kan geniet! LekkeSlaap het dertien lekker blyplekke langs die water uitgesoek, sodat jy ’n luilekker vakansie in die son en water kan geniet.

Moon River House, Pringlebaai

Pringlebaai staan as ’n rustige kusdorpie op die Suidkus Walvisroete bekend maar spog ook met ’n rivier waar julle ’n onvergeetlike wegbreek kan geniet. Moon River House is ’n luukse huis vir ses op die rivieroewer en elke kamer het ’n pragtige uitsig op die berg of oor die rivier. Dié ruim huis het sy eie jetty waar julle kan sonbaai en die lieflike uitsig geniet, ’n stoep met braaigeriewe en selfs ’n kaggel vir wanneer die weer nie saamspeel nie. 


Kaaimans River Cottage, Wildernis

Kaaimans River Cottage kan net via die rivier bereik word en is dus die ideale, afgeleë vakansiehuis teen die water waar julle gehaltetyd saam kan deurbing. Dié bekoorlike selfsorgkothuis teen die Kaaimansrivier is geskik vir agt gaste en maak van sonkrag en gas gebruik. Daar is ’n lekker onderdakstoep waar julle kan kuier en die uitsig oor die water geniet. ’n Kano word voorsien, so gebruik dit gerus om Kaaimanstrand, die geheime waterval en die unieke rivierklowe te verken. Die huis is ook troeteldiervriendelik, so Wagter kan ook saam op die rivier kom baljaar. 


Somerset Gift Getaway Farm, Swellendam

As jy vir ’n naweek van die stad wil ontsnap, is Somerset Gift Getaway Farm die ideale plek! Dié plaas net buite Swellendam bied ses huise van verskillende groottes langs die rivier. Elke huis is vir selfsorg toegerus en het ’n stoep, grasperk en braaigeriewe. Daar is ook ’n swembad in die fonteinmeer, Zipline, ’n klimraam vir kinders en julle kan met tjoeps of kano’s in die water baljaar. Troeteldiere is welkom indien dit vooraf gereël word. 


River Edge Akkommodasie, Breederiviervallei

Dié leiklip-rivierhuise is teenaan die Breederivier geleë en bied ontspanne verblyf in die natuur vir stadsjapies wat van die besige stad wil ontsnap. Julle kan na ’n rustige plattelandse atmosfeer tussen die berge uitsien, waar julle behoorlik kan rus. Hiér kan jy jouself gate uit geniet met al die aktiwiteite in die natuur en die rivier op jou drumpel! Daar is ook ’n Jacuzzi en braaigeriewe op die perseel, én jy kan vir Flaffie ook saambring indien dit vooraf gereël word. 


Star Dam Estate, Impendle

Star Dam Estate spog met vier ontwerpershuise vir groot groepe langs die water in ’n stil deel van die Darglevallei. Dié luukse huise kan saam of apart bespreek word en het elkeen ’n privaat jetty met toegang tot die water. Elke huis het ook ’n stoep met ’n uitsig oor die prentjiemooi omgewing. Behalwe vir al die lekker aktiwiteite op die water is daar ook begeleide perdritte en -toere met opgeleide perde op die plaas beskikbaar, én kranige bergfietsryers kan die talle roetes op die landgoed aandurf. Bring ook jou hengeltoerusting saam ─ die dam is ideaal vir kunsvlieghengel! 


Copperleigh Trout Cottage, Dargle

As jy lief is vir visvang is Copperleigh Trout Cottages op ’n beesplaas in Dargle net die plek vir jou! Die twee selfsorgkothuise bied onderskeidelik slaapplek aan twee en ses gaste, en het elkeen ’n uitsig oor die massiewe Maveladam. Die groter kothuis het ’n vuurput waar julle saans lekker onder die sterrehemel kan kuier en die kothuis vir twee is ideaal vir ’n romantiese wegbreek in die pragtige Midlands Meander. Bring gerus julle kano saam en bewonder die sonsondergang op die water! 


Springholm Cottages, Nottingham Road

KwaZulu-Natal se Middellande is vol prentjiemooi natuurtonele en Springholm Cottages se pragtige ligging sal jou sommer dadelik van die stad laat vergeet. Die plaas spog met verskeie kamers vir twee in die hoofhuis en selfsorgkothuise vir vier en ses gaste langs die meer. Al die eenhede is gerieflik ingerig vir ’n welverdiende wegbreek en julle kan ook op ’n vang-en-vrylaat-basis in die meer visvang, bring net jou eie visstok saam. Pieknieks kan ook op die perseel gereël word en daar is lieflike restaurante, brouerye en winkels om te besoek in die omgewing. 


The River Cottage, Potchefstroom

Ver van die stad se gedruis wag The River Cottage op die Vaalrivier se oewer op jou. Dié selfsorgkothuis is op ’n plaas sowat twintig kilometer buite Potchefstroom geleë en bied gerieflike verblyf aan ses gaste. Die groot stoep bied braaigeriewe waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi, terwyl julle die lieflike uitsig oor die rivier geniet. Daar is ook ’n massiewe grasperk waar die kinders kan speel of julle saam ’n piekniek onder die koeltebome kan geniet. 


Dam ’n Devine, Parys

Dam ’n Devine is op die Parys Gholflandgoed langs ’n dam geleë en is die ideale verblyf vir gholf- en waterliefhebbers. Dié luukse selfsorghuis is gerieflik ingerig vir ses gaste en die leefarea lei na ’n groot stoep met sitplek en braaigeriewe. Daar is ook ’n uitsig oor die dam en ’n swembad op die perseel. Visstokke, kano’s en ’n gholkarretjie word voorsien, so julle kan ure op die water deurbring, en kranige gholfspelers kan lekker op die gholfbaan rondrits. Hou tog ook ’n oog vir wild oop ─ hulle loop vrylik op die landgoed rond. 


Hermanus Cottage, Kroonstad

Hermanus Cottage is ’n bekoorlike kothuis in ’n omheinde wildkamp op ’n plaas naby Kroonstad. Die kothuis vir tien is ideaal vir ’n groot groep wat saam wil wegbreek en die natuurskoon wil geniet. ’n Verskeidenheid wild loop vrylik op die perseel rond, so julle sal sommer vinnig van die stad vergeet en die rustigheid van die omgewing geniet. Kom roei op die dam, swem, vang vis, en verken die omgewing per fiets. En onthou om vooraf reëlings met die eienaar te tref ─ dan bring jy sommer vir Wagter ook saam.  


Rus & Vrede on Vaal, Parys

As dit tyd is vir ’n rustige wegbreek langs die water is Rus & Vrede on Vaal net die plek wat jy moet besoek! Dié gastehuis naby Parys bied drie luukse kamers met slaapplek vir twee gaste elk, ’n uitsig oor die rivier en lieflike geriewe, insluitend ’n Nespresso-koffiemasjien. Kom sit agteroor op die terras of geniet ’n piekniek op die grasgroen grasperk op die oewer van die Vaalrivier. 


Makarios on the River, Boesmansriviermond

Makarios on the River skuil teen Nature’s Landing Eco Estate se koppe op die oewer van die Boesmansrivier en bied luukse verblyf met uitsigte wat jou asem sal wegslaan. Die boomryke ligging laat jou werklik afgesonder voel en skep ’n rustige atmosfeer. Dis ideaal vir ’n paartjie wat wil wegbreek en gehaltetyd saam wil deurbring, so julle kan lekker op die stoep sit en gesels, terwyl julle die uitsig oor die tuin en rivier geniet.


Full Circle Cottage, Kenton-on-Sea

Full Circle Cottage wag op jou, net ’n entjie vanaf die kus op ’n kleinhoewe op die oewer van die Boesmansrivier. Dié selfsorgkothuis bied onopgesmukte vakansieverblyf aan vier gaste waar julle lekker op die rivierdek kan kuier en die sonsondergang geniet of vanaf die jetty kan visvang. Kano’s, visstokke en staanroeiborde word voorsien, so julle kan vir ure lank in die water baljaar. Daar is ook verskeie roetes wat te voet of per fiets verken kan word, en julle kan vir Kolle ook saambring, want die kothuis is troeteldiervriendelik!


So, pak solank jou swemklere in en kry jou visstok gereed, want dis tyd om die stad vir ’n rustige vakansie langs die water te verruil! 

Hooffoto: Copperleigh Trout Cottages (LekkeSlaap)