Jou hond is jou beste vriend en jy kan jou nie indink om sonder Spottie met vakansie te gaan nie. Dis onmoontlik om hom of haar by die huis te los terwyl jy alte lekker op die strand gaan baljaar. Gelukkig hoef jy nie meer skuldig te voel nie ─ LekkeSlaap het ’n lys verblyf-opsies bymekaar gemaak waar jy en Wagter heerlik saam aan die Oos-Kaap se kus vakansie kan hou! 

Onthou net om altyd vooraf met die eienaar te reël dat jy wel troeteldiere saambring, sodat die nodige voorbereiding getref kan word. 

Cape St Francis Resort, Kaap St. Francis

Dié oord op die duine in Kaap St. Francis bied eenslaapkamerwoonstelle om die swembad en kothuise wat troeteldiervriendelik is. Klein tot mediumgrootte-honde word by die oord toegelaat. Die Village Break-kothuis met vier slaapkamers het ’n privaat tuin wat omhein is ─ ideaal vir Vlekkie om rond te hardloop. Die eenslaapkamerwoonstelle op die grondverdieping het grasperke, maar is nie omhein nie. Al die eenhede is gerieflik ingerig en met ’n strandtema versier. Daar is ook ’n swembad, braaigeriewe, ’n restaurant, winkel en spa-geriewe op die perseel, so jy hoef omtrent nêrens te ry nie. 

Cape St Francis Resort (Foto: LekkeSlaap)


Bay Dreamer, Port Elizabeth 

Bay Dreamer is byna op die water in Seaview en is die ideale huis as jy van die stoep af wil sien hoe dolfyne in die water baljaar en walvisse kapperjolle maak. Die tuin is omhein en jy moet asseblief vooraf reël as jy jou troeteldiere wil saambring see toe. Daar heers ’n rustige atmosfeer hier teen die see en gaste kan lekker in dié bekoorlike strandhuis ontspan.

Bay Dreamer (Foto: LekkeSlaap)


DeWetsRus, Keimond

DeWetsRus is ’n dubbelverdieping-selfsorghuis met ’n lekker groot dek met ’n reling om en ’n uitsig oor die rivier. Dié huis het slaapplek vir agt gaste, so jy kan jou familie én vir Flaffie saambring. Julle kan ure lank om die etenstafel op die onderdakbalkon sit en kuier en die pragtige uitsig geniet. Keimond het ’n lieflike vakansie-atmosfeer en daar is hope doendinge om te geniet. Jy en jou beste vriend kan op die strand balspeel of een van die staproetes saam aanpak! 

DeWetsRus (Foto: LekkeSlaap)


House on the Hill, Jeffreysbaai

House on the Hill is die ideale vakansiehuis in die gewilde vakansiedorp, Jeffreysbaai. Die huis het twee beskutte stoepe met binne- en buitebraaigeriewe. Die honde is dus heeltyd veilig en kan heerlik saamkuier. Daar is slaapplek vir tien gaste en die huis spog met ’n buitestort en selfs ’n sauna! Moenie vergeet om jou branderplank in te laai nie ─ Supertubes-strand is net om die draai!

House on the Hill (Foto: LekkeSlaap)


Elsa’s, Cintsa

Elsa’s is ’n lieflike vakansiehuis vir ses gaste met ’n omheinde erf in Cintsa, Oos-Londen. Dis lekker naby die strand en het ’n see-uitsig vanaf die dek. Die dek het ook ’n reling om, so jy hoef nie heeltyd jou oog op jou geliefde Skraffie te hou nie. Bring jou visstok saam en beproef ’n bietjie jou hengelvaardighede op die strand, of gaan swem in die lekker warm water.

Elsa's (Foto: LekkeSlaap)


The Sullies, Morganbaai

The Sullies is ’n droomvakansiehuis met ’n pragtige uitsig oor die strandmeer en reservaat in Morganbaai. Die huis is omhein vir honde, maar daar is nie ’n grasperk nie. Jy kan ure lank op die onderdakdek met gemakstoele en hangmatte ontspan. Daar is slaapplek vir tien gaste, so jy kan al jou vriende saamnooi! Die eienaars versoek dat gaste asseblief net honde saambring ─ geen katte nie. 

The Sullies (Foto: LekkeSlaap)


Tradewinds, St. Francisbaai

Tradewinds in St. Francisbaai is ’n groot grasdakhuis met slaapplek vir dertien gaste en baie ruimte om saam te kuier. Die onderdakstoep het buitemeubels en gasbraaigeriewe. Die eiendom is omhein en daar is ’n voortuin waar honde kan bene rek. Die eienaar het kos- en waterbakke vir honde in die huis, so jy kan net vir Rafels in die voertuig laai. 

Tradewinds (Foto: LekkeSlaap)


Kay’s Keia, Keimond

Kay’s Keia is die ideale troeteldiervriendelike verblyf vir ’n vakansie aan die Wildekus. Dié groot eiendom is omhein en is geskik vir honde van enige grootte. Katte is ook welkom. Daar is ’n groot dek met braaigeriewe en ’n uitsig oor die Groot-Keirivier. Die voortuin en agtertuin het grasareas en daar is nog braaigeriewe en ’n plonspoel op die erf. Die eienaar voorsien kos- en waterbakke, kussings en komberse vir jou vierpotige kinders. 

Kay's Keia (Foto: LekkeSlaap)


So, deel solank die goeie nuus met Ore dat julle saam met vakansie gaan! En sê vir ons hieronder waar jy nóg troeteldiervriendelike verblyf-opsies sal wil sien! 

Hooffoto: Bigstock