’n Goeie baansyfer word nie verniet ’n albatros genoem nie. Suid-Afrika is die tuiste van menige wêreldberoemde gholfbane waarvan heelparty met ’n kuslyn in die agtergrond spog. ’n Gholfwegbreek teen die kus is ’n ervaring wat op elke gholfliefhebber se lysie moet wees. Buiten gholf, bied dié skilderdoek-dorpies langs Suid-Afrika se kus bied boonop baie ander aktiwiteite wat almal in die gesin kan besighou.

LekkeSlaap het ’n roete uiteengesit wat perfek is vir ’n gholfwegbreek teen die kus waar van die bekendste en luuksste gholfbane pronk. By hoeveel van hierdie bane het jy al gespeel? 

Hermanus, Overberg

Foto verskaf: Eric Collins

Ons skop ons lysie by die walvisdorp, Hermanus af. Die Hermanus Gholfklub spog al sedert 2006 met ’n 27 putjie-gholfbaan met ’n see-uitsig vanaf putjies 2, 6, 13 en 22 en vrylopende wild wat spelers aan die gholfbaan se buitewyke groet. Die nuwe uitbreiding (putjies 19 tot 27) singel om die landgoed wat deel van die klub vorm en trek ’n moderne baadjie aan met sierfonteine en klipagtige hindernisse om die moeilikheidsgraad aan te draai. Die bane is egter steeds geskik vir enige vlak afhangend waar spelers begin. Gholflesse word ook op die perseel aangebied.

Behalwe vir die Walvisseisoen en bekende wynroetes, sluit ander aktiwiteite in die area die Fernkloof Natuurreservaat in wat verskeie voetslaanpaaie bied, asook die Hermanuspietersfontein-markie waar plaaslike inwoners en internasionale besoekers hul hartstories sit en ruil. 

Daar is ’n string verblyf langs die Fernkloof-landgoed by die gholfbaan soos die Hermanus Lodge on the Green wat ’n uitsig oor die 25ste putjie het, of die vakansiehuis, Four Fernkloof

Kliek hier vir nog verblyfopsies in Hermanus.

Mosselbaai, Tuinroete

Pinnacle Point Lodge 31

Die wêreldberoemde Pinnacle Point Gholfbaan is menige male as die beste gholfbaan in Afrika bekroon. As ’n mens die branders só na-aan die baan hoor breek, sal jy kan verstaan hoekom. Sewe van dié baan se agtien putjies loop parallel met die kuslyn en spelers moet hul oog mooi in fokus hou om nie meegevoer te raak deur die uitsig rondom hulle nie. Na die tyd kan spelers in die luukse klubhuis met ’n 270°-uitsig oor die see ontspan. Die restaurant bedien topgehalte-maaltye en daar is ’n aparte spyskaart met heerlike disse waaraan kinders ook kan smul. Verder kan gaste die Pinnacle Point-landgoed se spa-geriewe soos ’n Jacuzzi en haarsalon benut. 

Pinnacle Point is tot Provinsiale Erfenisgebied verklaar oor sy asemrowende natuurskoon en landskappe. Gaan verken gerus die verskeie voetslaan- en bergfietsroetes in die area en moenie vergeet om ’n draai by die reeks grotte te maak wat sover soos 200 000 jaar terugdateer nie!

Verblyf in Mosselbaai is in verskeie opsies beskikbaar: van ’n huisie in die heuwels tot ’n plekkie met ’n stoep teen die see. Daar is ook ’n rits verblyf-opsies op die gholflandgoed wat gaste ’n voorry-sitplek en uitsig oor die gholfbaan en see bied. 

Kliek hier vir nog verblyfopsies in Mosselbaai.

Heroldsbaai, George

Oubaai Hotel Gholf & Spa

Waaraan dink jy as jy van hierdie omgewing hoor? Is dit die digte woude, die beeldskone berge of salige see-klanke op jou voorstoep? Ons het goeie nuus, Oubaai Gholfbaan bied al drie! Hierdie tradisionele baan is die eerste gholfbaan in Suid-Afrika wat volgens die Ernie Els-ontwerp uitgelê is met die kenmerkende sewentiende putjie wat spelers opdraande gee met sy afslaan na die “infinity green”. Die baan bestaan uit agtien putjies wat tussen die Indiese Oseaan en die Outeniekwaberge pronk en is geskik vir beginners tot kranige spelers.

Verder bied George talle natuurjuwele op die Tuinroete wat met kajakke, voetslaantekkies, fietse en vierwielmotorfietse verken kan word. Gaste kan hul neuse by die dorp se museums en aandenkingswinkeltjies insteek en gesinne met kinders kan die nabye plase soos die Redberry-plaas geniet waar hulle kan perdry en aarbeie pluk.

Verblyf by die Oubaai Hotel Golf & Spa is luuks en die ideale bestemming vanwaar die bekende Tuinroete verken kan word. Vir diegene wat nie net ’n potjie gholf op hul vakansie-agenda het nie, kan hier kliek vir nog verblyfopsies in Heroldsbaai.

St. Francisbaai, Gqeberha

St. Francis Gholf Lodge

St. Francisbaai se gholfbaan word as ’n uitdagende baan beskou, omdat die uitleg ’n bietjie meer dinkwerk verg as ’n tradisionele baan. Die wind en weer maak putjies soos nommer twee ’n kopkrapper en spelers moet hul gholfstokke mooi kies. Hoe mooi die kuslyn in die agtergrond ook al is, spelers sal moet bontstaan dat daardie klein, belangrike, wit balletjie nie tussen die branders verdwyn nie. Daar is gelukkig ’n string bome wat beskerming bied, maar wanneer die agtien putjies voltooi is, is die feesviering net soveel groter. 

Dié eksklusiewe dorpie bied talle strandaktiwiteite soos swem, branderplankry, sweefski en lyfplankry. Daar is ook safariroetes, ’n pikkewyn-rehabilitasiesentrum en die Kaap St. Francis-vuurtoring wat gaste kan besoek.

Die St. Francis Gholf Lodge het ’n uitsig oor die eerste bof van die gholfbaan en is sentraal geleë vir ’n wegbreek in die Baai.

Kliek hier vir nog verblyfopsies in St. Francisbaai.

Southbroom, Suidkus

Coral Tree Colony B&B

Die Southbroom Gholfbaan is klein maar getrein en is maklik een van die gewildste gholfbane in KwaZulu-Natal. Sy uitleg behels fonteine, sandbanke, fauna en flora wat kenmerkend is aan die Suidkus. Die baan is redelik uitdagend en daar is twee moeilike kuslyn-putjies, maar plaaslike spelers, kranige spelers en besoekers keer egter elke keer terug om in dié prentjiemooi-omgewing gholf te speel. Die baan grens ook aan die Frederika Natuurreservaat wat vir ’n rustige atmosfeer sorg.

Verleng jou gholfwegbreek met ’n besoek aan KwaZulu-Natal se vele kenmerkende natuurreservate, kus- en groenroetes. Gaste kan te voet of per fiets verskeie dele van dié dorpie en die res van die Suidkus verken, of luilekker op die strand ontspan. Daar is ook aktiwiteite vir ander gesinslede soos ’n branderplankskool of ’n spa-wegbreek.

Die Coral Tree Colony B&B is die naaste verblyf aan die gholfbaan met ses en suite-dubbelkamers en uitsigte wat oor die gholfbaan se twaalfde en dertiende skoonveld strek. 

Kliek hier vir nog verblyfopsies in Southbroom.

Noordkus, KwaZulu-Natal

Prince’s Grant – Prince’s Gaze

Die Prince’s Grant Gholfbaan vorm deel van KwaZulu-Natal se Noordkus en word dikwels as dié provinsie se versteekte juweel beskryf. Die vyfster-baan is deel van die top-25-bane in Suid-Afrika en die top-5-kusbane in Suid-Afrika. Die baan bestaan uit agtien putjies en het ’n diverse uitleg wat dit geskik maak vir spelers van enige vaardigheidsvlak. Die kenmerkende putjie vyftien word vanaf ’n verhoogde bof na onder langs die Indiese Oseaan gespeel.

Die Prince’s Grant Gholfbaan is tussen bekende toeriste- en vakansiebestemmings soos Richardsbaai en Durban wat oneindige aktiwiteite aan besoekers bied. Behalwe die welbekende uShaka Marine World-pretpark, word gaste omring deur muurskilderye, musiek-optredes, kunsgalerye en opslaanmarkies wanneer hulle deur Durban wandel. 

Die area rondom die gholfbaan is egter rustig en ideaal vir diegene wat die stad se gejaag wil ontsnap. Daar is talle selfsorg-verblyfopsies op die gholfbaanlandgoed soos Prince’s Grant 147, Prince’s Grant Villa of Prince’s Grant – Prince’s Gaze wat ’n voorry-sitplek aan gaste bied met ’n uitsig oor die baan en oseaan.

Kliek hier vir nog verblyfopsies aan die Noordkus.


Stof daardie gholfstokke af en pen die vakansiedatums neer. Hierdie gholfwegbreke langs die kus is geskik vir nuwe én professionele spelers, maar almal droom om daardie gesogte kolhou te slaan, en selfs al is dié kolhou reguit water toe, word spelers bederf deur vakansie te hou in ’n skilderagtige bestemming.

Hooffoto: Oubaai Hotel Gholf en Spa