As die druk van die alledaagse lewe swaar op jou skouers rus, is daar een antwoord om jou van dié las te verlig: Dis tyd om plaas toe te gaan! Daar is darem niks soos om ’n bietjie van die stad te ontsnap en tyd op ’n plek deur te bring waar die pas van die lewe stadiger is en jou skedule slegs deur die son, die reën en die diere rondom jou se tyd bepaal word nie. LekkeSlaap wys vir jou tien plase om na te ontsnap as dit tyd is om vars plaaslug in te asem en ’n koppie koffie te geniet terwyl die plaasaktiwiteite rondom jou aan die gang is.  

De Melkportaal Cottage, Bredasdorp

Gesinne met stadskinders wat ’n bietjie die lewe op ’n plaas wil beleef, sal mal wees oor hierdie kothuis op ’n melkplaas. Hiér kan julle stap, bergfietsry, voëlkyk en op kanovaarte gaan. Kinders kan ook inskryf vir ’n kits-kursus oor die melkboerdery. Die kothuis met plek vir vier volwassenes en ’n kind is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk, so beurtkrag sal nie hier ’n probleem wees nie. Troeteldiere is ook welkom op die plaas, so die héle gesin kan ’n wegbreek op die plaas geniet, insluitend Snuffels!

Rondomskrik, Swartland

Indien julle op soek is na ’n egte plaaservaring, sal julle ’n wegbreek hiér geniet. Op Rondomskrik kan julle die plaas te voet verken, voëlkyk in die vleilande of met plaastake, soos die voer van hoenders en lammers, help. Daar is plek vir twee volwassenes en twee kinders. Dit is ook sentraal geleë om besienswaardighede in omliggende dorpe soos Hopefield, Moorreesburg, Darling, Langebaan, Yzerfontein en Saldanha te besoek.

Waterkloof Guest Farm, Klein-Karoo

Hierdie plaas is aan die voet van die Swartberge en dateer uit 1870. Daar word met volstruise, beeste, skape, angorabokke en groentesaad geboer en wild loop vrylik saam met die plaasdiere op die plaas rond. Julle kan stap, draf, fietsry en die bergfiets- en staproetes verken. Voëlkykers sal ook die groot verskeidenheid voëlspesies wat hier te siene is geniet. Die ware Klein-Karoo moet op ’n plaas beleef word, en hier kan gaste net dit doen!

Paardekloof Plaas, Tuinroete

Hierdie skaapplaas is tussen Willowmore en Oudtshoorn en bied ’n toevlugsoord aan gaste wat op soek is na ’n plek om af te skakel van die alledaagse gejaag. Die eenhede het plek vir vier gaste en bied privaatheid. Julle kan alte lekker op die stoep of by die braai-area kuier. Die plaas bied baie ruimte vir kinders om rond te hardloop en te speel en daar is lusern, bale en skape op die plaas.

Kruisrivier Guest Farm, Kaapse Wynlande

Op hierdie plaas in die Breederiviervallei kan julle op die stoepe ontspan en by die buite-braaigeriewe kuier. Daar is plek vir vier gaste en die kombuis is ten volle toegerus. Daar is verskeie aktiwiteite soos visvang, bergfietsry, en swem in die dam om te geniet. Voëlkykers sal mal wees oor hierdie plaas, aangesien daar meer as 180 voëlsoorte hier voorkom. Daar is ook verskeie diere om te sien, soos skilpadspesies, springbokke, elande, swartwildebeeste, rooihartbeeste en steenbokke. Julle kan die verskeie staproetes verken en indien daar vooraf reëlings getref word kan julle ook jul vierwielmotorfietse saambring. 

Seweweekspoort Op-die-Plaas Kamp, Seweweekspoort

Kom geniet ’n kamp- én plaaservaring hiér in die Seweweekspoort! Dié plaas bied kampeerplek naby ’n dam, onder lieflike bloekombome. Elke staanplek het plek vir vier gaste en die gemeenskaplike ablusiegeriewe het warm water. Julle kan bedags koeie melk, saam met die boer ry om na beeste en skape te kyk en in die plaasdam swem ─ dit klink na die ideale plaaswegbreek! Bring jou bergfiets en 4×4 saam om die plaas so ook te verken. 

Old Balgowan Farm Cottages, Balgowan

Hierdie plaas is in die hartjie van die Midlands Meander. Daar is twee damme waarop julle lekker met bote en kano’s kan vaar. Julle kan ook piekniek hou, visvang, stap en die beeste en vriendelike plaasdiere besoek. Hiér word verblyf in selfsorgkothuise vir vier of twee gaste aangebied wat elkeen ’n privaat stoep en braaigeriewe het. Elke kothuis het ook ’n privaat stoep en pragtige uitsigte oor die plaas.

Ons Karoo Plaas, Kaapse Roete 62

Kom geniet die rustigheid en stilte van die vallei op hierdie plaas. Die omgewing het ’n ryk geskiedenis met betrekking tot die Anglo-Boereoorlog en die Vloedmuseum van die 1981-vloed in Laingsburg. Verblyf word in selfsorg-glanskampe, rugsakreisigerslosies en by kampeerplekke aangebied. Daar is ’n leefarea met winkeltjies, sowel as ’n pool-tafel en ’n kaggel. Op warmer dae kan julle in die plaasdam afkoel.

Hillston Farm, Karoo

Hiér kan julle na hartelus sterrekyk en fotograwe sal mal wees oor die fotogeleenthede op hierdie plaas. Daar is meer as 100 voëlspesies te sien, insluitend die bloukorhaan. Verblyf word in ’n huis vir agt gaste en ’n kothuis vir ses gaste aangebied. Die plaas spog ook met ’n swembad met ’n uitsig en julle kan Karoo-kooklesse met ’n Cordon Bleu-sjef bywoon. Julle kan ook op ’n historiese toer van die Boere-oorlog-blokhuis op die perseel gaan. Dit is nou ’n lapa en die barakke is in ’n skeerskuur omskep. Die rivier en koppies op die plaas kan ook verken word.

Kinmel Guest Farm, Rhodes

Dié plaas aan die voorheuwels van die Suidelike Drakensberge bied die mooiste uitsigte oor die omgewing. Verblyf word in twee aparte selfsorg-chalets aangebied, wat elk plek vir agt gaste het. Julle kan kunsvlieghengel in die Bellrivier wat deur die plaas kronkel en propvol forel is. Hierdie plaas is naby besonderse bergpasse wat verken kan word. Dit is aan die voet van die Naude’s Nek-pas en twintig kilometer vanaf die Tiffindell Ski-oord en die hoogste piek in die Oos-Kaap, die Ben McDhui-heuwel. Voël- en dierelewe is volop en die skaars baardaasvoël kan soms hier gesien word.

Waarvoor wag jy? Die plaaslewe roep! En met lente om die draai is dit die perfekte tyd om ’n bietjie uit die stad weg te breek.

Hooffoto: Hillston Farm op LekkeSlaap.co.za