Soos gesien op Maroela Media.

Ons land is propvol romantiese blyplekkies en hier by LekkeSlaap verstaan ons maar net té goed hoe moeilik dit kan wees om op net één te besluit vir daardie spesiale wegbreek saam met jou liefie. Miskien is julle huweliksherdenking een van die dae, of julle wil sommer net ’n slag gehaltetyd saam deurbring, ver van die stadsgedruis. Moenie bekommer nie, ons wys jou ’n gunsteling-opsie in elke provinsie, sodat jy nie té ver hoef te gaan soek vir jou volgende romantiese wegbreek nie.

Die Beloofde Land, Wes-Kaap

Klip kothuis wes-kaap
Salig op die Visserman-eenheid se stoep.

Die Beloofde Land spog met drie losstaande eenhede op ’n plaas naby Uniondale, en die Visserman-eenheid is ideaal vir ’n paartjie. Daar is ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, oopplan-kombuis en ’n sitarea wat na ’n stoepie met ’n uitstekende uitsig oor die Langkloofvallei lei. Julle kan die kaggel in die slaapkamer aansteek om die ergste kou te verdryf en op die plaas gaan stap, voëlkyk en hengel. Let op dat daar nie selfoonsein op die plaas is nie, so daar sal beslis geleentheid wees om gehaltetyd saam deur te bring.

Lookout Safari Lodge, Gauteng

game lodge gauteng
’n Romantiese Deluxe-chalet in die bos.

Kom geniet ’n unieke bosveld-ervaring in die Dinokeng Wildreservaat naby Hammanskraal waar die Groot Vyf te sien is. Dié Deluxe-chalets is ideaal vir julle romantiese wegbreek en het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, kombuisie en ’n sitarea met ’n TV. Julle kan ’n vleisie oor die kole by die gemeenskaplike braai-area gooi, op die dek ontspan en die wild dophou, of heerlik in die plonspoel afkoel ná ’n dag van wildkyk.

Dream Lodge, Noordwes

remote stay Noordwes
’n Kaggel en kerse in die Agama-kothuis.

Dié lodge skuil op ’n prentjiemooi plaas sowat twintig kilometer buite Magaliesburg en bied ’n rustige en romantiese toevlugsoord vir jou en jou wederhelf. Daar is twee losstaande kothuise sonder elektrisiteit wat wel sonkrag-geisers, kaggels en kerse het om ’n romantiese atmosfeer te skep. Ons beveel die Agama-kothuis aan wat bo-op ’n heuwel gebou is en met ’n uitstekende uitsig op die Magaliesberge spog. Die kothuis het ’n koningingrootte-bed, oopplan-badkamer, sitarea en ’n buitestort. Ontbyt en aandete is ook by die tarief ingesluit en word by die kothuis bedien ─ dís nou gerieflik!

Ikwanitsha Lodge, Oos-Kaap

glamping Oos-Kaap
’n Uitsig om oor huis toe te skryf.

Dis net sowat ’n uur se ry van Port Elizabeth af, en julle is by Ikwanitsha Lodge naby die Addo-olifant Nasionale Park. Dié lodge is op ’n 300 hektaar-perseel met sebras, volstruise en verskeie bokspesies geleë. Daar is vier chalets op stelte met asemrowende uitsigte oor die vallei, Boesmansrivier en die Zuurberg-voorheuwels. Elke chalet het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer, kombuisie en ’n onderdakdek met stoepmeubels waar julle lekker agteroor kan sit. Julle ontbyt is ingesluit en word by die boskroeg bedien waar ander eg Suid-Afrikaanse disse ook vir aandete bestel kan word.

The Farmers Cottage, Vrystaat

plaas wegbreek Vrystaat
Bring vir Pote saam plaas toe.

The Farmers Cottage is ’n pragtige selfsorg-plaaskothuis aan die verste punt van ’n kleinhoewe in Bethulie. Dié bekoorlike kothuis het ’n oopplan-uitleg en slaapplek vir twee gaste. Daar is ’n slaapkamer met lugversorging en ’n dubbelbed, ’n en suite-badkamer, ’n kombuis met ’n gasstoof en ’n leefarea met ’n kaggel en ’n TV. Buite is daar ’n lekker groot onderdakstoep met ’n etenstafel en braaigeriewe. Die erf is heeltemal omhein en troeteldiervriendelik, so julle kan ook vir Pote saambring!

Muluwa Lodge, Mpumalanga

glamping Mpumalanga
Rol die safari-tent se sykante op en drink die natuur behoorlik in.

Muluwa Lodge is in Witrivier geleë en hiér kan julle op die perseel wildkyk, voëlkyk, stap en swem. Die luukse safari-tente smelt soomloos saam met die natuurlike omgewing op die heuwel in en skep ’n rustige, intieme atmosfeer, so dit is perfek vir ’n romantiese wegbreek ─ en sluit ontbyt én aandete in! Elke tent het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, lugversorging, ’n kroegie vol voorraad en koffie- en teemaakgeriewe. Rol die tent se sykante af en raak rustig aan die slaap met die veld rondom jou ná ’n lang dag van wildkyk en verken.

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation, KwaZulu-Natal

boom huis Kwazulu-Natal
Laat jou boomhuis-drome uit jou kinderdae waar word.

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation bied romantiese boomhuis-verblyf op die prentjiemooi Midlands Meander. Daar is vier boomhuise wat elkeen slaapplek vir twee, ’n en suite-badkamer met ’n spa-bad en ’n asemrowende uitsig op die Drakensberge het. ’n Paar van die boomhuise het ook kaggels en privaat balkonne. Die inwonende sjef berei smullekker maaltye voor, en ontbyt en aandete is ingesluit, so kom skop jou skoene uit en laat jou boomhuis-drome uit jou kinderdae waar word.

Bundox Safari Lodge, Limpopo

glamping Limpopo Kruger wildtuin
Glanskamp-verblyf naby die Krugerwildtuin.

Dié safari-lodge op ’n klein bewarea naby Hoedspruit in die Laeveld is die ideale basis vanwaar julle die Krugerwildtuin of Blyderivierspoort kan verken. Elke permatent het ’n dubbelbed of twee enkelbeddens, ’n en suite-badkamer en ’n privaat stoep, én dit sluit ontbyt en aandete in. Die sentrale boskamp het ’n gemeenskaplike eetarea, kombuis, bomas, verhewe dekke, ’n sitarea en ’n swembad waar julle van die Laeveld-hitte kan ontsnap. As julle gelukkig is, sal julle ’n paar bokspesies op die staproete gewaar, anders kan julle ook ’n oggendwildrit bespreek en só wild gaan soek.

Blaaw Hoek, Noord-Kaap

remote Karoo cottage
’n Prentjiemooi, afgeleë Karoo-kothuis.

Met só ’n ongerepte landskap en uitstekende geleenthede vir sterrekyk is hierdie bekoorlike selfsorgkothuis absoluut ideaal vir ’n romantiese wegbreek in die Karoo. Die kothuis maak van sonkrag gebruik en het twee slaapkamers met dubbelbeddens, ’n badkamer met ’n pootjiesbad, ’n goed toegeruste kombuis, ’n sitarea met ’n kaggel, ’n buitestort, ’n onderdakstoep met sitplek en ’n plonspoel. Julle kan die plaas te voet of met ’n bergfiets verken voor julle saans terugkeer en ’n vleisie oor die kole in die vuurput gooi.

***

Nou maar toe, waarvoor wag jy? Bespreek nóú jou volgende romantiese wegbreek sodat jy en jou liefie weer gehaltetyd saam kan deurbring.

Hooffoto: Blaaw Hoek (LekkeSlaap.co.za)